• No results found

1.4 Oriëntering en probleemstelling

1.4.2 Probleemstelling

1.4.2.5 Kerkkrimping in die tradisioneel Afrikaanse kerke

Warrren (2005:161) wys in sy boek Die doelgerigte kerk daarop dat Jesus tydens sy bediening groot skares gelok het. Met die vermeerdering van die brood was net die mans 5000. Sy gevolgtrekking is dat ʼn Christusgesentreerde bediening steeds skares sal lok. Blanchard (2007:52) se mening is: “If you want to know why your people are not performing well, step up to the mirror and take a peek.” Blanchard koppel swak resultate direk aan swak leierskap. Hoewel dit nie altyd die geval is nie (vgl. 1.4.2.1, p. 5), kan swak resultate ook dikwels aan swak leierskap gekoppel. Een van die redes is dat leiers nie die beeld van Christus se leierskap genoegsaam vertoon nie. Een van die doelwitte van hierdie navorsing is om die kenmerke van die leierskap van Christus te identifiseer sodat die soekendes weer na die kerk toe sal stroom.

In die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) het die aantal lidmate oor die afgelope tien jaar drasties gedaal (Coetsee, 2011:22). De Klerk en Van Helden (2011:477) meen dat kerkkrimping onder Afrikaanssprekende kerke as verskynsel sedert 1980 sterk na vore begin

10

kom het en teen 1990 het dit ʼn onomkeerbare tendens in Suid-Afrika geword. Hulle noem ʼn gebrek aan leierskap as een van die redes vir die tendens.

Die sake wat in bogenoemde vyf onderafdelings bespreek is, is enkele aspekte wat die unieke rol van die predikant as geestelike leier aandui en wat die behoefte na meer leiding oor leierskap beklemtoon. Hierdie verskillende aspekte van die probleemstelling dui aan dat die volgende kernprobleme van die predikant se leierskap in die gemeenteroeping nog nie wetenskaplik ondersoek is nie:

• In die sakewêreld word baie klem gelê op die visie wat ʼn leier van ʼn sakeonderneming moet hê. Covey (1989:98) verwys soos volg daarna: “Begin with the end in mind”. Is dit moontlik dat die predikant so ʼn visie kan vorm vir sy leierskap in die roeping van die gemeente? Hoe moet so visie bepaal, bestuur en gerealiseer word?

• As gevolg van die sonde sal daar voortdurend ʼn sondige kultuur/tradisie onder ʼn groep mense ontstaan. Briner en Pritchard (2008:28) verduidelik: “A leader has respect for traditions, but he has a greater respect for people. If a tradition is valid and helpful, however, a leader will use the tradition to help accomplish his goal.” Hoe kan ʼn predikant deur goeie leierskap ʼn nuwe kultuur/tradisie skep of ʼn ou kultuur/tradisie so benut dat hy die doel wat Christus vir sy kerk stel, sal verwesenlik? Hoe word daar tussen ʼn bruikbare en onaanvaarbare kultuur/tradisie onderskei? Baie tradisies in die kerk kan selfs tot nadeel van die kerk se groei wees.

• ʼn Belangrike aspek van leierskap hou in dat mense die leier moet vertrou. Maxwell (2004:15) meen dat vertroue uiters noodsaaklik is in die proses om ʼn verhouding in stand te hou. Indien mense jou nie vertrou nie, sal hulle jou nie volg nie. Die vraag is of hulle gebrek aan vertroue daaraan te wyte is dat jy nie Christus se beeld as leier volg nie. Wat moet ʼn leier se siening wees van verhoudings wat vertroue skep?

• Vir Maxwell (2005:97) is konflik in hierdie lewe onvermydelik. ʼn Goeie kerkleier moet weet hoe om, na die voorbeeld van Christus, konflik en konfrontasie in ʼn gemeente te hanteer. Dit is ʼn onmisbare vermoë van die leier wat die beeld van Christus wil vertoon.

• Geloof en morele waardes het ʼn regstreekse invloed op die manier waarop ʼn leier leiding behoort te gee (Barna, 2010:155). Die probleem word steeds groter omdat die morele waardes van die wêreld al hoe meer verander. Briner en Pritchard (2008:64) merk op: “Leaders are called to faithfulness more than they are called to success.” Daarom noem Paulus ook ʼn reeks morele waardes waaraan die leiers van ʼn gemeente moet voldoen (1 Tim. 3). Indien die leier van ʼn gemeente nie hoë morele waardes het nie, kan hy nie

11

verwag dat die mense wat hy lei, hoë morele waardes sal hê nie. ʼn Situasie kan ontstaan waarin hulle hom sal verag. Dit is dus noodsaaklik om die basiese morele waardes vas te lê waarvolgens ʼn predikant ʼn gemeente moet lei.

• Kritiek is een van die onaangename aspekte van leierskap. Hawkins (2001) gebruik die treffende voorbeeld van die volk Israel wat ontevrede was oor die tekort aan water in die woestyn. Hulle kla by Moses, hulle leier, asof hy hulle in die situasie laat beland het en hy iets daaraan kan doen. ʼn Leier van ʼn gemeente moet weet hoe om kritiek te hanteer, want selfs in die hantering van kritiek is hy besig om ʼn voorbeeld te stel. Hoe hanteer ʼn leier kritiek na die voorbeeld van Christus?

• God self gee groot gesag aan kerkleiers. In Matteus 16:19 sê Jesus dat die sleutels van die koninkryk van die hemel aan kerkleiers gegee word. Hulle is dus by magte om die koninkryk oop of toe te sluit. Hierdie gesag moet met groot verantwoordelikheid gebruik word. Hoe hanteer ʼn leier die gesag wat aan hom verleen word in die gemeente se roeping?

Uit die probleemstelling met sy verskillende fasette is dit baie duidelik dat daar ʼn behoefte bestaan dat die rol van die leierskap van ʼn predikant in die gemeente se roeping wetenskaplik ondersoek moet word.

Die oorkoepelende navorsingsvraag kan soos volg verwoord word:

Hoe kan die Afrikaanssprekende predikant van die tradisioneel Afrikaanse kerke van Reformatoriese oorsprong, meer spesifiek van die GKSA, ʼn effektiewe en verantwoordelike leier in die gemeente se roeping wees?

Op grond van die uiteensetting van die probleme hierbo is ʼn studie oor die effektiewe en verantwoordelike leierskap van ʼn predikant in die gemeente se roeping van die uiterste belang. Dit is noodsaaklik dat predikante die omvang en aard van leierskap moet verstaan sodat hulle effektiewe en verantwoordelike herders kan wees van die kudde waaroor God hulle aangestel het.

Alhoewel ouderlinge ook leiers van die gemeente is, word hierdie studie tot die leierskap van predikante beperk, aangesien die predikant van ʼn gemeente as die de facto-leier van ʼn gemeente gesien word (Grobler & Van der Walt, 2008:738). Indien ʼn predikant ʼn goeie leier is, sal sy goeie leierseienskappe ook deurspoel na die ouderlinge van die gemeente. Verder word die studie beperk tot Afrikaanssprekende predikante van gemeentes van Reformatoriese oorsprong (met die klem op predikante van die GKSA). Die redes daarvoor is eerstens om ʼn

12

empiriese dieptesnit moontlik te maak en tweedens omdat kerkkrimping veral in die Afrikaanssprekende kerke van Reformatoriese oorsprong voorkom.

Na aanleiding van bogenoemde uiteensetting kom die probleemstelling van hierdie studie op die volgende kritieke vraag neer:

Hoe die Afrikaanssprekende predikant leiding gee deur middel van effektiewe en verantwoordelike leierskap in die gemeente se roeping?

1.5 Die primêre vraag en sekondêre navorsingsvrae