• No results found

HOOFSTUK 2: DESKRIPTIEF-EMPIRIESE PERSPEKTIEWE OP

2.1 INLEIDING

Die mens is geskape na die beeld van God (Imago Dei). Die beeld van God gee dus aan mense menswaardigheid (Koopman, 2017:377; Vorster, 2015:61; Wolterstorff, 1987:78). Die bewustheid van menswaardigheid, asook ʼn sensitiwiteit vir die gedagte, is iets wat eie aan ʼn plaaslike kerk (geloofsgemeenskap) se kognisie moet wees, juis omdat dit ʼn logiese gevolg is van die belewing van die geloofsgemeenskap.

Met die begrip “menswaardigheid” word gelykwaardige behandeling van alle mense

bedoel. Daarom word optrede teenoor die mensdom op hierdie fondament gebou

(Koopman, 2017:377). Geen lewensterrein of samelewing kan gevolglik van die morele wet uitgesluit word dat alle mense as geskapenes menswaardig behandel moet word nie (Vorster, 2016:4).

Deelwees van ’n geloofsgemeenskap impliseer ook ʼn diepgewortelde besef van mense se verantwoordelikheid teenoor mekaar. Aan die hand van Wolterstoff (1981:78) se beklemtoning van die gemeenskap, is die welwees van die samelewing sowel as die opbou van die gemeenskap vanuit ʼn Christelike perspektief onontbeerlik. Op voetspoor hiervan toon Vorster (2016:1-9) aan dat samewerking vir die vestiging van

menswaardigheid die begrip “common good” insluit.

Smit (2017:64–65) is besorg oor hoe dié “common good” bedien kan word en moontlik kan realiseer in die Suid-Afrikaanse uitdagings waarby die geloofsgemeenskap sowel as die samelewing ingesluit is. In die nadere omlyning van hierdie aangeleentheid, is dit eerstens van belang om te bepaal wat mense se begrip van “common good” is. Die begrip “common good” of “gemeenskaplike goedheid” verwys na dit wat voordelig of goed is vir die meeste lede van ’n gegewe gemeenskap4 (Smit, 2017:64).

25 In die soeke na hierdie tipe samelewing maak Farrel (2018:517) gebruik van Plato se twee kante van geregtigheid, naamlik:

a. Geregtigheid as ’n deug (karaktereienskap) van die mens, met ander woorde, die harmonieuse ordening van die mens se siel.

b. Geregtigheid as ʼn deug van sosiale instellings, met ander woorde, die toepaslike en harmonieuse ordening van die samelewing.

Die uitdaging is gevolglik die toepassing van geregtigheid deur elke individu tot voordeel van elkeen self sowel as tot voordeel al die lede van die gemeenskap kollektief. ʼn Gesamentlik poging word benodig om as totale gemeenskap ’n regverdige maatskaplike samelewing te skep (Farrel, 2018:517). Met ander woorde, die ideale gemeenskap is ʼn plek waar alle mense mekaar respekteer sowel as waar lede mekaar beskerm met behulp van gepaardgaande wette5. Wedersydse vertroue word dus gebou as ʼn gevolg van regverdigheid en geregtigheid (Farrel, 2018:517).

Farrel (2018:518) is daarom van mening dat die vestiging van ʼn regverdige samelewing rolspelers benodig wat ʼn kultuur bevorder bevorder, spesifiseer en beskerm met die oog op regverdige optredes. Die vertrekpunt vir ʼn regverdige samelewing behels daarom dat alle betrokkenes dieselfde verstaan van die omvang van regverdigheid het. Indien die beginsel vasgestel is en almal ooreenstem, kan elkeen sy eie rol vertolk.

Gevolglik is dit belangrik om te begryp dat mense vanuit ʼn bepaalde reg leef en daarom

word geregtigheid toegepas volgens wat in hul harte gegraveer is. Hierdie besef bring ’n

bepaalde oriëntasie by gelowiges mee. God roep juis die geloofsgemeenskap om daagliks hul liefde vir God en hul naaste teenoor alle mense uit te leef (Vorster, 2004:107-

111). Vorster (2004:96-97) noem hierdie nuansering van liefde die uitlewing van die etiek

van die Tien Gebooie.

In navolging hiervan beklemtoon Moltmann (1993:216) verder die belangrikheid van etiese gevolge in die mens se beeldskap van God. Die mens beeld deur sy verhouding met God, asook sy verhouding met mense, God se waardes uit. Die lewe wat God aan die mens skenk, noodsaak dat daar ʼn morele verantwoordelikheid teenoor mekaar is.

26 Hierdie verantwoordelikheid behels dat mense mekaar met respek en liefde behandel.

Indien alle mense met liefde en respek behandel word, realiseer geregtigheid binne alle

menslike verhoudings. Met inagneming van die besef van die mens se versoening in Christus en die mens se posisie as Imago Dei (beeldskap), ontvang die mens die vermoë om die geregtigheid van die koninkryk te soek (Vorster, 2004:93-95).

Die koninkryksperspektief en die belangrikheid van geregtigheid is ʼn verdere aspek wat direk verband hou met die problematiese praktyk wat ondersoek word. Geregtigheid van die koninkryk behels dat God die mens as verhoudingsmatige wese geskape het. Die mens is nie geskape om alleen te funksioneer nie, maar om relasioneel vanuit verhoudings by mekaar betrokke te wees (Grentz, 2000:115).

Hierdie betrokkenheid by mekaar se nood en omgee veroorsaak gevolglik dat mense in die ywer vir geregtigheid vir mekaar konkrete hoop bring. Hoop is nie ’n teoretiese konsep nie. Hoop het ʼn indikatiewe karakter, maar die imperatief hieraan verbonde behels dat dit deels gewek word waar mense mekaar menswaardig behandel. Hierdie sigbare uitleef van menswaardigheid gee dus hoop vir ’n beter lewe in die huidige Suid-Afrikaanse konteks (Vorster, 2014:166). Vorster (2014:164) omskryf hoop as die proses van herstellende en vernuwende betrokkenheid in die wêreld van onreg en onderdrukking volgens die kontoere van die Christelike sosiale etiek.

Ganzevoort en Roeland (2014:93) meen dat etiek oor die morele optrede van mense handel. Die kerk het ʼn verantwoordelikheid om in kerkwees konkrete voorbeelde te wees van die funksionering van ’n morele gemeenskap (Vorster, 2014:157).

Vorster (2014:161) benadruk daarom die nodigheid vanuit die etiek vir sigbare en konkrete dade wat die samelewing kan vernuwe aan die hand van Christelike waardes. Christelike etiek kan hoop bevorder, veral op die gebied van menseverhoudings wat aspekte soos onder andere rassisme, seksisme en xenofobie insluit (Vorster, 2014:166).

Betrokkenheid in die samelewing moet juis ten doel hê om die rimpel-effek van geregtigheid te bewerkstellig (Koopman, 2017:369). In die verwesenliking van bogenoemde aspek, meen Koopman (2017:369) dat doelgerigte, gestruktureerde, beplande en aanhoudende aktiewe betrokkenheid in die samelewing van kernbelang is.

27

ʼn Deskriptief-empiriese ondersoek oor die noodsaaklikheid van geregtigheid in die Suid-

Afrikaanse konteks blyk noodsaaklik te wees. Die doel hiermee is nie om ʼn blote

opsomming van literatuur te bied oor navorsing wat met hierdie fokus verband hou nie.

Die fokus is om aan te dui wat in die problematiese praktyk aan die gang is sodat daar

nie in teorievorming oorvereenvoudig word nie. Browning (1996:134) omskryf die doel van ’n beskrywende hoofstuk as die verwerking van vrae vanuit die deskriptiewe perspektiewe.

In hierdie hoofstuk word dit dan ten doel gestel om op deskriptief-empiriese wyse aan te toon hoe die geloofsgemeenskap begelei kan word om insig te kry in plaaslike gemeenskappe se gesindhede. As uitvloeisel van die metodologiese insigte van Browning, word die problematiese praktyk rakende geregtigheid allereers op beskrywende wyse ondersoek. Die doel is om vas te stel wat aangaan (vgl. ook Osmer, 2008:4).

Heyns en Pieterse (1990:14) verduidelik dat praktiese teologie die hartklop van die kerk reflekteer. Hiermee word bedoel dat reflekterende navorsing gedoen word oor die deskriptiewe perspektiewe vanuit die kerk sowel as die handelinge van die geloofsgemeenskap in die samelewing. Die teorie en praktyk word op hermeneuties- interaktiewe wyse behandel, asook die verhouding waarin hulle met mekaar staan (Heyns & Pieterse 1990:26–34). Heyns en Pieterse (1990:34) noem die verhouding tussen die teorie en die praktyk ʼn bipolêre spanningsverhouding.

Browning (1996:72) brei verder hierop uit deur te sê dat die soeke na oplossings vanuit hierdie spanningsvelde teologiese refleksie benodig. Heyns en Pieterse (1990:34) verduidelik vervolgens dat daar nie te min spanning in die onderlinge verhouding tussen teorie en praktyk mag wees sodat hulle van mekaar sal vervreem nie, maar daar moet ook nie te veel spanning wees dat teorie en prakyk mekaar sal bedreig nie.

In die beskrywende fase van hierdie ondersoek word godsdienstige, kulturele en persoonlike oortuigings beskryf waaruit godsdienstige gebruike ontstaan. Hierdie handeling het ten doel om nie net die huidige situasie weer te gee nie, maar ook om nuwe horisonne en spanningsvelde in teorievorming te belig.

28 Die sleutelvraag vir hierdie studie na aanleiding van Browning se model is gevolglik: Wat behels die huidige praktyk rakende die toepassing van geregtigheid in Suid-Afrika?

Die volgende aspekte rakende die begrip “geregtigheid” sal in dié hoofstuk aan die orde gestel word, naamlik:

 Beskrywende perspektiewe rakende die belangrikheid van sosiale geregtigheid;  Beskrywende perspektiewe oor persoonlike, kulturele en godsdienstige

oortuigings rakende geregtigheid;

 ʼn Beskrywende studie oor die rol van die kerkleier in die begeleiding van die geloofsgemeenskap tot die rimpel-effek van geregtigheid; en

 ʼn Beskrywende, kwalitatiewe empiriese ondersoek na die toepassing van die begrip “geregtigheid” in die Mathjabeng plaaslike munisipaliteit (Vrystaat).

2.2 DESKRIPTIEWE PERSPEKTIEWE OP DIE BEGRIP “GEREGTIGHEID”

In hoofstuk 1 is Floor (1981:26) se definisie van geregtigheid gebied. Volgens hom het geregtigheid, as geregtigheid van God se koninkryk, ’n tweevoudige betekenis, naamlik: Geregtigheid is iets wat aan die mens toegereken word waardeur die mens weer in die regte verhouding tot God kom, maar dis ook ’n wyse van reg handel volgens die wil van God (Floor, 1981:26). Anders gestel sou gesê kon word dat geregtigheid wel te make het met ’n lewenswyse van omgee vir ander mense en dat ’n verbintenis ten opsigte van regverdigheid en dit wat reg is, van belang geag word.

Vanuit die beskrywende navorsing is die primêre fokus om ʼn indruk te skep van hoe verskeie outeurs die veelkantigheid van geregtigheid (veral in die Suid-Afrikaanse samelewing) omskryf, naamlik:

 De Gruchy (2002:200) beklemtoon dat daar duidelikheid oor die reikwydte en betekenis van die begrip “geregtigheid” moet bestaan. Die outeur fokus egter vanuit die Suid-Afrikaanse uitdagings, asook die sentrale teoretiese argumentasie, die aandag op herstellende geregtigheid. Hierdie vorm van geregtigheid behels die benadering wat deur die Waarheids-en-Versoeningskommissie ná 1994 gevolg is. Herstellende geregtigheid sluit nie ander vorme van geregtigheid uit nie, maar poog eerder om problematiese areas te herstel (De Gruchy, 2002:202). Die outeur se verduideliking gee ʼn mooi beeld hiervan, naamlik:

29

God’s justice, power and love are revealed in the fact that the just dies for the unjust, thereby justifying and embracing the ungodly... (De Gruchy, 2002:203–204).

De Gruchy (2016:14) verbind die ywer vir geregtigheid aan ʼn ekumeniese, profetiese en publieke ekklesiologie. Die outeur pleit dat die kerk kairos-oomblikke sal herken en bemerk ʼn ontoereikenheid van die kerk deur die eeue heen om ʼn stem teen ongeregtigheid te wees, asook ’n traagheid om op beslissende oomblikke te reageer.

 Keller (2010:5) benader die spanningsveld deur aan te toon dat geregtigheid

uiterlik gemeet kan word aan die manier waarop mense mekaar in die samelewing behandel. Alle mense, as geskapenes na God se beeld, moet met waardigheid behandel word. Indien mense nie menswaardig behandel word nie, ontaard dit in

die probleem van ʼn skending van geregtigheid. Menswaardigheid en die

beeldskap van God hang gevolglik nou met mekaar saam (Aina, 2016:97–98; Danaher, 2010:134; McGeorge, 2016:18–19; Vorster, 2004:93–94).

 Boesak (2015:13–32) se beskouing van geregtigheid hou rekening met die konkrete lens van rassisme. Die geskiedenis van koloniale verowering en die onreg van apartheid in Suid-Afrika was gebaseer op ’n ontkenning van die menswaardigheid van Afrika-mense. Boesak toon aan dat die oorsprong van rassisme in Suid-Afrika moontlik voortspruit vanuit die Europese humanisme wat ’n skeptisisme en bevraagtekening van die menslikheid van die mense in Afrika getoon het (Cloete, 2016:38–39). Boesak (2015:31) maak ʼn appél op die kerk (geloofsgemeenskap) om as agent in die vestiging van geregtigheid op te tree en sorg te dra dat alle mense menswaardig behandel word.

 Chipken en Meny-Gibert (2013:3) het namens die RAITH6-stigting navorsing oor die konsep van sosiale geregtigheid gedoen en hul omskryf dit as ʼn situasie waar regverdige verdeling van voordele in die samelewing behoort te geld.

In Suid-Afrika word sosiale geregtigheid dus beskou as ’n ingewikkelde samehorigheid tussen ekonomiese geregtigheid, openbare deelname en sosiale samehorigheid. Sosiale geregtigheid maak moeite met goedere waaraan die samelewing waarde heg – die verdeling sowel as die toekenning daarvan.

30 Beginsels, prosedures, norme en reëls bepaal verskillende vorme van besluitneming. Hierdeur word basiese regte asook vryhede van individue en groepe beskerm. Hierdie beskerming maak voorsiening dat alle mense met waardigheid en respek behandel word, nie net deur owerhede nie, maar ook deur burgers in die samelewing.

Die klem word geplaas op naasteliefde in Suid-Afrikaanse gemeenskappe waar oplossings gevind moet word vir die aanspreek van huidige Suid-Afrikaanse ekonomiese uitdagings gekoppel aan die skending van menswaardigheid.

2.3 DESKRIPTIEWE PERSPEKTIEWE OP DIE BELANGRIKHEID VAN SOSIALE