• No results found

HOOFSTUK 2: DESKRIPTIEF-EMPIRIESE PERSPEKTIEWE OP

2.4 DESKRIPTIEWE PERSPEKTIEWE OOR PERSOONLIKE,

2.4.2 Die vyf dimensies van morele denke

2.4.2.1.1 Deskriptiewe perspektiewe oor die ingebeelde dimensie

Hierdie ingebeelde dimensie fokus op die lewenswyses van gemeenskapslede wat hul agtergrond sowel as moontlike redes vir morele optredes insluit (Browning, 1996:105). Mense se optredes word bepaal deur die kultuur waaruit hulle kom.

Die kultuur van ʼn nasie word gevorm vanuit die nasie se verhale, reëls en simbole. Teen hierdie agtergrond kan “spanningsvolle” situasies belig word (Browning, 1996:121). Spanningsvolle situasies plaas die kerk se rol in die vestiging van geregtigheid in ʼn negatiewe lig. Die volgende punte vestig die aandag op die huidige negatiewe rol van godsdiens gepaardgaande met kultuur in Suid-Afrikaanse gemeenskappe, naamlik:

 Sommige kerke in plaaslike gemeenskappe stoei nogsteeds met versoening gebaseer op rassisme (Maluleke, 2007:53). Hierdie versoeningsvraagstuk veroorsaak dat die gemeenskap die kerk se teologiese integriteit bevraagteken (Maluleke,2007:44–46).

Bevindings vanuit ʼn studie oor Christelike rassetoleransie in die Suid-Afrikaanse samelewing sowel as die Verenigde State toon aan dat beide lande deur dieselfde uitdagings gekonfronteer word. Die studie het bevind dat ongeveer twee derdes erediensdeelnemers sterk rasse-vooroordeel uitspreek in vergelyking met ongeveer die helfte van niekerklike respondente. Met ander woorde, rasseverdraagsaamheid word bely terwyl onverdraagsaamheid beoefen word. Hierdie bevinding toon gevolglik dat die gaping tussen die beginsel en praktyk teenstrydig is met wat die Bybel leer (Smith, 2015:8).

Hierdie probleem dui daarop dat die geloofsgemeenskap hulp benodig in die vestiging van geregtigheid wat versoening bewerkstellig. Spanningsvelde heers dus tussen die letter en die toepassing van die Woord in die praktyk (Boesak, 2015:18). Boesak (2015:18) is van mening dat hierdie spanningsvelde verwyder sal word as die geloofsgemeenskap nuwe optredes uitleef.

 ʼn Verdere spanningsituasie vir die geloofsgemeenskap (kerk) in die vestiging van geregtigheid is die onvermoë van Suid-Afrikaanse kerke in die vestiging van ware omgee en koinonia (Boesak, 2015:18). Boesak (2015:18) benadruk die rede vir die afwesigheid van koinonia as dat kerke nie die vermoë het om geregtigheid te

41 laat seëvier nie. Die nood van armes en verdruktes word geminag. Kerke in Suid- Afrika sukkel om arm gemeenskappe, veral in stede, te verstaan terwyl betrokkenheid vanuit die geloofsgemeenskap juis ʼn behoefte is. Kerke kan bydra tot armoedeverligting en ontwikkeling van gemeenskappe (Swart & De Beer, 2014:4,11).

Vanuit kwalitatiewe navorsing word afgelei dat armoede gemeenskappe direk raak en dat oplossings verkry vanuit spanwerk tussen kerke en owerhede voorgestel word (Verster, 2012:40). Ander vorige kwalitatiewe navorsing het ook daarop gewys dat 62,1% respondente meen die kerk moet by die nood van die gemeenskap betrokke raak (Botes, 2016:43), in teenstelling met slegs 25,4% wat ervaar dat die kerk wel betrokke is by onder meer arm mense (Botes, 2016:42). Die armoedegaping tussen mense word groter en wyer, ongeag kleur. Wit en swart word albei geraak. Ries en Hendriks (2013:7) is daarom van mening dat die grootste probleem met armoede nie soseer by ’n gebrek aan hulpbronne lê nie, maar eerder by ’n gebrek aan ware koinonia vanuit die geloofsgemeenskap met hul naaste. Gelowiges moet na mekaar leer uitreik, asook na hul naaste.

 Gepaardgaande met die verarmingsprobleem, is daar ʼn tendens dat diegene wat jonk, arm en werkloos is nihilisties9 in hul benadering tot die lewe is. Hierdie nihilisme veroorsaak gevolglik dat baie van die goeie inisiatiewe tot opbouing van gemeenskappe in Suid-Afrika verwerp word (Maluleke, 2007:54).

ʼn Verdere kultuuruitdaging wat in die kerk uitspeel, is dat taal as ʼn skeidingsinstrument gebruik word. Taal is belangrik in die skep van ʼn “behoort-

aan”-etos. Taal kan mense verwelkom of verjaag.

Vanuit die Suid-Afrikaanse geskiedenis skep sekere woorde stigma en diskriminasie. Mense ontvang ʼn negatiewe boodskap wat negatiewe emosies

wakker maak en uitsluiting kommunikeer. Taal kan uitsluiting of ʼn gevoel van

waarde aan ras, klas, geslag en seksualiteit kommunikeer. Dit kan sinchronies gebruik word as ’n ontwikkelende instrument vir menslike bevryding in plaas van diachronies as ’n instrument van oorheersing en ondergeskiktheid, soos met die gebruik van woorde soos “meester” of “slaaf”.

9 ’n Nihilis is iemand wat nie buig vir gesag nie, iemand wat geen beginsel sommer op goeie geloof

42 Die geloofsgemeenskap kan begelei word om die taalinstrument op maniere te gebruik wat betekenis aan mense toeskryf (Naidoo, 2015:85). Die nodigheid bestaan dus vir die geloofsgemeenskap om deur taal ingelig en getransformeer te word tot die sentrale oortuigings van God se omgee vir geregtigheid (Koopman, 2010:241). Huidige plaaslike uitdagings in gemeenskappe as gevolg van rassekonflik, soos onder andere xenofobie, toon juis die krag van woorde in

haatspraak wat uitsluiting kommunikeer. Daar is gevolglik ʼn behoefte vir

versamelwoorde wat Suid-Afrikaners kan saambind (Naidoo, 2015:85).

 Laastens word die nodigheid vir maatskaplike samehorigheid in plaaslike gemeenskappe beklemtoon. Samehorigheid versus “buitestaanders” word as “ʼn kruitvat van plofbare verhoudings” beskou (Naidoo, 2015:85).

Navorsing op dagloners wat sonder hul gesinne in plaaslike gemeenskappe werk soek en werksaam is, toon aan dat gemeenskapslede deur hierdie groep bedreig voel. Dagloners word as “onsigbaar” of as ʼn “irritasie” beskou. Hierdie groepering word geraak deur ʼn groeiende maatskaplike ongeregtigheid, ʼn groterwordende armoede, ongelykheid en ongeskooldheid en soek daarom werk in ander gemeenskappe weens hul desperate, werklose omstandighede.

Die kerk (geloofsgemeenskap) aan die ander kant word gekonfronteer met die nodigheid vir ware omgee vir alle mense. Hierdie omgee behels ʼn medemenslikheid vanuit die begrip “gasvryheid”. ʼn Etos van behoort (“belonging”) word benodig. Alles wat gedoen word, moet vanuit ’n spiritualiteit van insluiting plaasvind. Daar moet uitgereik word na mense wat anders is met die uitsluitlike doel om hulle te laat behoort (Naidoo, 2015:85). Die uitdaging is dus om die geloofsgemeenskap te begelei en deel te maak van die oplossings in plaaslike gemeenskappe vanuit maatskaplike samehorigheid en gasvryheid.