• No results found

HOOFSTUK 2: DESKRIPTIEF-EMPIRIESE PERSPEKTIEWE OP

2.3 DESKRIPTIEWE PERSPEKTIEWE OP DIE BELANGRIKHEID VAN

Ná 1994 se demokratiese verkiesing in Suid-Afrika staan die manifestering van sosiale onreg nog steeds soos ʼn paal bo water (Ipsos, 2018; StatsSA, 2018; Van der Westhuizen & Swart, 2015:732). Onvervulde verwagtings en teleurgestelde hoop is kenmerkend van plaaslike gemeenskappe. Praktyke wat sosiale samehorigheid sou bevorder en die diep vlakke van ongelykheid moes verwyder, het nooit gerealiseer nie (Clarke & Bassett, 2016:183). Ontnugtering en gevoelens van frustrasies oor onregverdigheid en ongeregtigheid borrel oor (Van der Westhuizen & Swart, 2015:738).

Sedert 2004 is daar gedurig gewelddadige protesaksies landwyd en in sommige gevalle het hierdie opstande tot gevolg dat beheer oor townships verloor word (Alexander, 2010:37). Die outeur beskryf hierdie verskynsel as ʼn rebellie van die armes (Alexander, 2010:37). Selfs die geloofsgemeenskap word deur uitdagings gekonfronteer rakende hul posisie ten opsigte van al die protesoptogte hetsy dit massaprotes, straatoptogte of openbare mediaprotes is (Van Helden & Krüger, 2017:20–22). Mertens (2015:3) argumenteer dat emosies wat oorloop en “gevoelens van frustrasies” aantoon dat daar nie genoegsame oplossings gevind word nie.

Om hierdie frustrasies wat oorborrel te verstaan, is dit nodig om sosiale ongeregtigheid in terme van die verskeie vorme van ongelykhede te belig. Dit sluit in ongelykhede op die terreine van rykdom, toegang tot gesondheidsorg, behuising, onderwys, ekonomiese hulpbronne, kosbeskikbaarheid, magstrukture, ontspanning, omgewing, maatskaplike strukture en verhoudings en direkte of indirekte uitbuiting van groepe op grond van ras, geslag, seksualiteit, etnisiteit, nasionaliteit of gestremdheid (Mertens, 2016:16). Pieterse

31

(paragraaf 1.1.1.) belig juis die ernstige negatiewe gevolge van die uitkringende armoedesiklus wat die Suid-Afrikaanse samelewing van menswaardigheid beroof. Die kerk (geloofsgemeenskap) word gevolglik opgeroep om die status quo van onreg te breek deur dit aan te spreek, ongeag ras, kleur en dogma (Cilliers, 2013:15).

In paragraaf 2.2. is De Cruchy se beklemtoning van geregtigheid bespreek wat veral gebaseer is op historiese realiteite sedert 1994. Thesnaar (2008:60) benadruk die aktiwiteit van gelowiges en geloofsgemeenskappe deur die uitdagings verbonde aan die langtermynproses van herstellende geregtigheid uit te lig. Hierdie proses behels dat die oortreder en die benadeelde sowel as die gemeenskap in ’n interaktiewe verhouding die visie op versoening sal huldig sodat genesing en heelheid as bestanddele van ʼn betekenisvolle lewe sal realiseer (Thesnaar, 2008:60).

Die begrippe “genesing” en “versoening” veronderstel ʼn konstruktiewe dinamika deurdat die les (narratief) van die geskiedenis so aangewend word dat herstel op reflekterende wyse nagestreef word. Thesnaar (2008:67) argumenteer verder dat herstellende geregtigheid die potensiaal het om die siklus van ryk en arm, benadeelde en oortreder, te verbreek.

Prakties-teologiese navorsing wil daarom diensbaar wees om die soort handelinge in die kerk en die samelewing te ondersoek wat daarop gerig is om die spanningsvelde verbonde aan die heelword (genesing) en die implikasie daarvan vir menswaardigheid van naderby te ondersoek. Vanuit die prakties-teologiese hoek kan dit as ’n hermeneuties-kommunikatiewe proses beskou word waarin vergifnis ʼn fokuspunt is.

Hierdie genesingsproses in die plaaslike gemeenskap het die potensiaal om positiewe energie los te maak tot voordeel van die hele samelewing (Thesnaar, 2008:71). Die proses van herstellende geregtigheid benodig ʼn raamwerk wat verpligtinge en reëls insluit in die aanspreek van die uitdagings (Thesnaar, 2008:67–70).

Dieselfde nuanse word gevind by Vorster (2004:286) insake die rol van die kerk, naamlik die kerk se taak as ʼn profetiese gemeenskap. Die kerk het die verantwoordelikheid om as ʼn “waghond” na die belange van die samelewing in geheel om te sien.

32 Vanuit die kerk se vertrouensposisie en welwillenheid kan daar vir gemeenskapslede geleenthede geskep word om hul narratiewe te deel in die soeke na oplossings (Thesnaar, 2008:67–70). Die gedagte van kommunikatiewe handelinge, asook die belang van narratiewe in die skep van heelheid en van vertolking, kom sodoende op die voorgrond te staan. Brunsdon (2015:1) beklemtoon juis die pastorale proses vanuit bevrydende verhale en die versterking van deugde.

Magezi (2016:1–7) belig ʼn area in die Afrika-konteks wat pastorale sorg en begeleiding indringend benodig, naamlik die geestelike oorsake van ongeluk en genesing. ’n Digotomie bestaan tussen Christelike waardes en die praktyk. Christelike waardes word bely indien daar geen probleme of bedreigings is nie. Die oomblik as siekte of bedreiging egter toeslaan, word ander waardes uitgeleef, soos die raadpleeg van goddelike waarsêers en towenaars as oplossings vir onheil en siekte. Afrika se geskiedenis veroorsaak dat die geloofsgemeenskap in hul benoudheid tradisionele genesingspraktyke opsoek. Hierdie optredes word in die geheim (gewoonlik snags) gedoen om nie in konflik met die waardes van die kerk te kom nie.

Met ’n pastorale proses wat na die verkryging van wysheid streef, het die narratiewe benadering baie potensiaal. Die kern van hierdie voorgestelde pastorale proses lê in die ontdekking van bestaande wysheid vanuit raadgewers se lewens. Die ideaal is om met mense se lewensverhale te werk. Hul stories gee die geleentheid om op ’n onopsigtelike manier te ontdek waar mense hulself bevind, hetsy dit ’n goeie of slegte plek is. Hierdie proses ontbloot die probleemversadigde verhale, asook die unieke uitkomste waarop die pastorale proses op ’n positiewe manier kan reageer (Brunsdon, 2015:6). Geleentheid word gegun om nuwe stories op ’n sterk fondament te bou. Hierdie stories word vanuit die praktyk en die wysheid van die Bybel gedekonstrueer (Brunsdon, 2015:7). Bestaande wysheid vanuit mense se verhale gee dus geleentheid vir stories van hoop.

Met die feit in ag genome dat Suid-Afrika ’n land van uiterste paradokse is, soos onder andere die realiteit van ryk en arm wat as bure saamleef en tegelykertyd in twee realiteite verkeer, beklemtoon De Wet en Kruger (2013:9) egter die nodigheid vir die kerk om haar profetiese rol op te skerp. Die fokus moet veral op die etiese dimensie wees in ʼn honger en dors na geregtigheid.

33 Een van die realiteite in huidige samelewings is die klein groepie wat al hoe ryker word en ʼn groter groep wat al hoe armer word (Tolmie, 2016:6). Dreyer (2015b:1) verduidelik verder dat, vanuit die geskiedenis van die kerk, talle voorbeelde van onchristelike optredes, magsmisbruik en geweld deurlopend na vore kom. Die misbruik van mag word toegeskryf aan ʼn integriteitsprobleem en ʼn afwesigheid van diensbaarheid. Hierdie nasionale ideale, politieke programme, rassisme, geweld, asook militante optredes wat moreel geregverdig word, benadeel die kerk se openbare beeld (Dreyer, 2016:1).

In aansluiting by bogenoemde, bepleit Dreyer (2016:4) en Boyd (2005:5) drastiese veranderinge in “kerkwees”. Stilswye deur die kerk kan nie langer aanvaar word nie. Stilbly kom immers daarop neer dat verkeerde en onmenswaardige optrede gekondoneer word. ’n Konstruktiewe en daadwerklike benadering wat die konkreetheid van dade teen politieke, ekonomiese en morele wreedhede insluit, word dringend benodig (Dames, 2017:3). Teenoor die uitkringende en destruktiewe aard van rassisme en xenofobie staan die uitkringende aard van geregtigheid en versoening wat streef na ’n konstruktiewe teenwoordigheid in die samelewing (Pillay, 2017:4).

Gibbs (2013:12) redeneer verder dat die kerk voor die uitdaging staan om haar interne agendas eenkant te sit en op die “common good” vir almal te fokus. God se koninkryksvisie maak die geloofsgemeenskap verantwoordelik vir eie handelinge sowel as dié van die gemeenskap (Kruger, 2015:6).

Dreyer (2015b:1) meen dat mense sedert 1910 die institusionele kerk in groot getalle verlaat het. Verward en skepties ná oorloë, armoede, natuurrampe, ekonomiese resessies en die misbruik van tegnologie, is die huidige boodskap deur die kerk, volgens kritiese mense, nie relevant genoeg om lidmate te behou nie (Dreyer, 2015b:1; Gibbs, 2013:12).

Vanuit hierdie agtergrond beklemtoon Mertens (2015:3) die nodigheid vir verdere

raamwerke wat transformasie sal bevorder in terme van gemeenskapsontwikkeling.

Chapman en Spong (2003:2) is van mening dat verdere navorsing benodig word in die spesifieke wisselwerking van geregtigheid, versoening en die strewe na vredevolle naasbestaan in gemeenskappe.

34 Kruger en De Wet (2015:2–5) verduidelik dat prediking benodig word in die effektiewe konfrontering van onmenslike magte en hul onderliggende invloed op post-apartheid Suid-Afrikaners. Die lewende teenwoordigheid van die gekruisigde en opgestane Here is nodig vir die verbryseling van die “Suid-Afrikaanse afgode”. Dit sluit in die huidige Suid- Afrikaanse “neoliberale makro-bestuursbeleid”7 met toenemende arbeidsverwante proteste as ʼn uitvloeisel daarvan (Kruger & De Wet, 2015:2).

Onderskeiding is nodig om die bose invloed te identifiseer wat in plaaslike gemeenskappe werksaam is. Sonder dat die geloofsgemeenskap dit besef, word die magte verhef tot afgode en word eie begeertes belangriker as God se wil vir elkeen van sy geskapenes (Kruger & De Wet, 2015:1).

ʼn Verdere area wat die teenwoordigheid van God benodig, is die Suid-Afrikaanse middelklas se “koorsagtige pogings” om hulself in ’n gemaklike “eerstewêreld enklawe” te isoleer (Kruger & De Wet, 2015:1). Die mens se voorspoed en pogings om hulself, asook hul kulturele identiteit teen die aanval van buite te beskerm, word “’n afgodediens” wat al hoe meer gevestig word (Kruger & De Wet, 2015:3).

Die beeldspraak van die sogenaamde “White Talk” (besorgdheid oor hul eie voorregte) as ’n middel waardeur wit mense hulself binne ’n Afrika-konteks probeer posisioneer, vervreem hulle van mede-Suid-Afrikaners (Kruger & De Wet, 2015:2). Indien dié mag verbreek kan word, kan die geloofsgemeenskap ʼn rimpel-effek van geregtigheid tot versoening in hul plaaslike gemeenskap ontketen (Kruger & De Wet, 2015:1).

Kruger en De Wet (2015:4) toon aan dat negatiewe magte – wat soos ʼn ideologie werksaam is en soos ʼn obsessie deur selfbehoud gedryf word – kan ontstaan in situasies waar mense ervaar dat hul welstand en voorspoed bedreig word. Sulke ideologieë kan egter vernietigende gevolge hê juis omdat die oorsprong fundamenteel verkeerd is. Mense wat buite die onmiddellike kring beweeg, word as bedreigend en anders beleef. Die outeurs is van mening dat ʼn ideologie wat in ʼn selfdienende afgodery gewortel is, die

7 Die neo-liberalisme, ook bekend as hedendaagse vryemarkkapitalisme, het homself sedert die 1970’s tuisgemaak in die mentaliteit van die meeste mense, insluitend dié van leiers van samelewingsinstellings en van regeringspersone. As denkwyse of mentaliteit het dit alle fasette van die hedendaagse lewe deursuur (Van Der Walt & Wolhuter, 2017:281–309).

35 potensiaal het om diskriminasie, vervreemding en vernietigende kragte in die menslike samelewing te ontlok. Mense word dus as voorwerpe van ekonomiese bedreiging beskou in plaas van medegeskapenes en as deel van die geloofsgemeenskap.

Ter aansluiting by bogenoemde liefdeloosheid, meen Vorster (2014:12) dat die kerk in die Suid-Afrikaanse samelewing nie genoegsaam geregtigheid najaag of aan die mense van Suid-Afrika toon dat God vir die samelewing omgee nie. Die invloed van sekularisme in die kerk maak die funksionering van die kerk kragteloos. Waardes verskuif en gevolglik is kerkbywoning, kerklidmaatskap en Bybelse waardes soos die instelling van die huwelik nie meer belangrik nie. Die kerk het haar stem as morele agent in die samelewing verloor. Die uitdaging is gevolglik hoe die kerk weer as ʼn invloedryke rolspeler haar plek in die samelewing kan inneem (Vorster, 2014:12–14).

Die laaste area wat sosiale geregtigheid belangrik maak, is die moontlike rol wat kerkleiers kan speel in die konfrontasie van “onmenslike magte” en hul onderliggende strukture op post-apartheid (Kruger & De Wet, 2015:3). Die outeurs is van mening dat “bevoorregte posisies as afgod” die geloofsgemeenskap ontneem van die vreugde om die lewens van hul medemense te verryk en verhoog die potensiaal vir onverdraagsaamheid en haat. Kerkleiers het ʼn rol om te vertolk in die skep van ʼn rimpel- effek van geregtigheid (Kruger & De Wet, 2015:5).

Thesnaar (2014:6) is van oordeel dat betrokkenheid deur die geloofsgemeenskap plaaslike gemeenskappe kan opbou en herstel. Die geloofsgemeenskap het die geleentheid om relevant en betrokke by die herstel van onreg te wees. Hierdie betrokkenheid betoon God se ware omgee.

Praktiese teologie het juis as fokus die aanspreek van hierdie spanningsvelde. Die kerk (geloofsgemeenskap) word benodig om ʼn omgee-liefde vanuit konkrete dade te demonstreer. Vanuit hierdie liefdesdade kan die “common good” (algemene welsyn) in plaaslike gemeenskappe gevestig word (Koopman, 2017:369). Koopman (2017:369) is verder van mening dat die volgende drie beginsels as bepalende riglyne kan dien om dade van goedheid (geregtigheid) tot ʼn rimpel-effek te laat funksioneer. Hierdie beginsels benodig egter ʼn gesamentlike proses vanuit die burgerlike samelewing sowel as die geloofsgemeenskap. Die drie beginsels behels:

36  Profetiese optredes wat geregtigheid sal bevorder;

 Optredes wat genesing sowel as versoening sal bevorder; en

 Praktyke wat verantwoordelike vryheid sal modelleer (Koopman, 2017:379–381). Forster (2015:5) vind aansluiting by Koopman (2007:369) se argument dat Christene betrokke moet wees in die herstel van geregtigheid. Forster (2014:5) fokus op die rol van protes en benadruk die betekenis van die woord. Die Latynse woord prōtestārī is die oorsprong van die woord “protes”. Die woord beteken egter om in die openbaar, prō (na of vir) testārī te verklaar. Die geloofsgemeenskap word dus geroep om te protesteer, om te getuig, oral waar God se hoop gesien word, asook waar hoop afwesig is. Hierdie protes kan geskied vanuit aanbidding, in die liturgie, in diens aan die samelewing of deur optredes in die publiek. Forster (201:5) beklemtoon gevolglik vanuit die woordbetekenis die nodigheid vir die geloofsgemeenskap om te protesteer en sodoende God se hoop in die wêreld te belig.

Vanuit die betekenis van protes word die teenwoordigheid van die kerk (geloofsgemeenskap) gevolglik bevraagteken. Nel (2015:87) benadruk die probleem dat Suid-Afrikaners gereeld in groot getalle vergader vir aanbidding, maar die praktyk bewys dat Christelike onderrig slegs ’n marginale invloed op die geloofsgemeenskap se “persoonlike lewe” het.

Hierdie spanningsvelde het onder andere tot gevolg dat die uiterlike strukture van die institusionele kerk kwyn (Dreyer, 2016:11; Gibbs, 2013:ix). Barna (2005:36) argumenteer vanuit verskeie navorsing dat die plaaslike kerk as “hoop vir die wêreld” eintlik geen hoop simboliseer nie. Hierdie wending in “kerkwees” dwing die kerk gevolglik na introspeksie en die soeke na nuwe strategieë, veral in haar huidige funksionering (Dreyer, 2015b:1; Lategan, 1999:407; Viola 2008:15).

2.4 DESKRIPTIEWE PERSPEKTIEWE OOR PERSOONLIKE, KULTURELE EN