• No results found

Feministiese beskouings van outobiografie

HOOFSTUK 2: ’N OORSIGTELIKE BESKOUING VAN OUTOBIOGRAFIESE

2.3 Feministiese beskouings van outobiografie

Paul Jay (1987:49) bespreek hoe ʼn feministiese benadering tot die studie van outobiografiese literatuur waardevol kan wees deurdat dit kan help om die tradisionele opvattings van wat die “self” en “selfkennis” vorm, te ontrafel en hoe dit deurdringend kan fokus op ʼn outobiografiese teks se neiging om kontemporêre ideologiese formasies te reflekteer en te beliggaam. Jay (1987:50) stel verder die algemene doel van ʼn feministiese ondersoek van outobiografie as ʼn analise van die representasie van vroue in outobiografiese literatuur (insluitend hoe vroueskrywers hulself representeer en die moontlike redes daarvoor); ʼn analise van verhoudings tussen vroue en tussen mans en vroue30 soos wat dit in outobiografiese tekste

uitgebeeld word; ʼn ondersoek na die kenmerkende soorte van outobiografiese werke wat deur

30 Ook die vrou se ander interpersoonlike verhoudings, soos met kinders, ouers, ander familie,

vroue geproduseer word; en ʼn analise van die funksie van die skryf van outobiografiese werke deur die vrou, ten opsigte van die vroueskrywer.

2.3.1 Die representasie van die vroulike self in outobiografiese poësie

Martha Moulsworth, ʼn middeljarige middelklas vrou van Engeland, was in 1632 die eerste vrou wat in Engels ʼn outobiografiese gedig geskryf het.31 Dié gedig, “The memorandum of Martha

Moulsworth”, is van die eerste voorbeelde van die problematiek wat aan die kern van hierdie keuse van genre vir ʼn vroueskrywer van daardie tyd lê. Die skryf van poësie was ʼn gendergebonde kwessie en is geassosieer met manlike kreatiwiteit. ʼn Vrou wat poësie skryf se optrede is gesien as ʼn gebaar van wederregtelike besitname van ʼn onmiskenbare manlike diskoers. In ʼn sekere sin is Moulsworth se keuse van genre – poësie sowel as outobiografie – ʼn dapper een, aangesien dit implikasies inhou vir die manier waarop sy haarself voorstel in haar gedig. Sy sou haarself noodgedwonge moes uitbeeld as iemand wat voldoen aan die tradisionele en tydgenootlike beskouing van vroulikheid. Hierdie ideologiese inperking laat die leser bevraagtekenend staan teenoor die mate waarin die gedig die leser toelaat om die “ware” self van Moulsworth te sien. Dit is vanselfsprekend dat enige tekstuele weergawe van die self ʼn sekere graad van inperking inhou en nie ten volle ʼn mimetiese refleksie kan wees nie; die outeur sal altyd deur haar doel en begeertes tydens die skryfproses gedronge voel, met die implikasie dat die opvatting van die skryf van die self as ʼn direkte en outentieke uitdrukking van identiteit opsigself gebrekkig is (Tancke, 2009:13-14).

Tancke (2009:14) voer aan dat bogenoemde problematiek gesien kan word as besonder uitdagend wanneer die verslag van ʼn lewe in poëtiese vorm weergegee word. Dit wil voorkom asof daar konflik bestaan tussen die idee om die self te skryf en die genre van poësie. Tancke (2009:14) haal ter stawing van haar argument vir David Booy (2002:5) aan:

[T]he very process of writing necessarily entails a reconstruction of experience and a construction of the self. This is particularly apparent in certain kinds of text, where the form the writing takes is clearly different from regular language use. […] [With poetry] we are particularly aware that [the authors] have constructed versions of their experience, that these are “artificial” fashionings of the self.

31 Ander vroeë outobiografiese geskrifte deur vroue is byvoorbeeld geskryf deur die Duitse Hildegard

von Bingen (1098-1179), die Belgiese digter en mistikus uit die dertiende eeu, Hadewijch, asook Anna Bijns (1493-1575), en die Spaanse Teresa van Avila (1515-1582).

Booy motiveer egter nie genoegsaam waarom poësie soveel meer as ander genres, soos byvoorbeeld die prosa, hierdie problematiek op die spits dryf nie. Argumentsonthalwe kan dit gemotiveer word aan die hand daarvan dat poësie oor die algemeen in taal geskryf word wat tradisioneel die verste verwyder staan van alledaagse taalgebruik. Tancke (2009:14) gebruik bogenoemde argument meer ter stawing van haar volgende argument as wat sy daarmee opsigself iets wil bewys. Sy dui aan dat die argument dat daar konflik bestaan tussen die idee om die self te skryf en om die self in die genre van poësie te skryf, netsowel op sy kop gedraai kan word. Haar motivering setel in die feit dat poësie – vanweë die poësie se potensiaal om uiterlik koherent voor te kom, maar terselfdertyd lae van betekenis te kan genereer – sigself juis daartoe kan leen dat daar wel ʼn mate van selfuitdrukking moontlik is. Sy voer verder aan dat die poësie in die ideologiese klimaat waarin vroulike selfuitdrukking met agterdog bejeën is, as’t ware kan dien as ʼn beskermende skild vir die vroulike skrywer om haarself te kan artikuleer – soos in die geval van Martha Moulsworth – onder die beskermende mantel van die uitdrukking van die self as literêre kunswerk.

Daar kan binne die Suid-Afrikaanse konteks ʼn parallel getrek word tussen bogenoemde geval en die digter Elisabeth Eybers. Sy debuteer in die 1930’s, in ʼn era waar die Suid-Afrikaanse samelewing deur patriargie oorheers is, en word die eerste vrouedigter wat gepubliseer en gekanoniseer word. Eybers gebruik egter dikwels die derdepersoonsspreker in haar poësie, ook dié poësie wat as outobiografies gelees kan word, en dit kan moontlik geïnterpreteer word as ʼn beskermende meganisme in die uitdrukking van die self in ʼn sekere ideologiese klimaat. Voorbeelde hiervan is onder meer die twee outobiografiese Eybersgedigte “Ontheemde” (Onderdak, 1968) en “Digteres as huisvrou” (Einder, 1977), beide in die derdepersoon geskryf:

Ontheemde

Haar man het haar nie sonder rede ontslaan, haar vader het gewag en later doodgegaan, haar kinders volg elkeen sy eie baan, daar is geen tuiste om na terug te gaan. ‘Vermoedelik vatbaar vir bereddering.’ Gediplomeerde indelers noteer

‘die nuweling spartel nog’ – en gaan probeer. Maar sy’t haar eie baaierd saamgebring.

Digteres as huisvrou

Altyd ʼn besem iewers teen ʼn muur, maaltye nooit op die gepaste uur. Agendalose dae waardeur sy leeg,

hardnekkig en skaars doelbewus beweeg. Strykgoed wat moedeloos oor ʼn stoelrug hang, gebare sonder afloop of aanvang.

Ou briewe onbeantwoord, deurmekaar, papiere en pille in één laai opgegaar. Dankbaar om haar in jou groot hart te strek en tog verknog aan haar klein skulpomtrek. O ordenende teëvoeter, wees

gewaarsku, stuur haar liewer na haar lees. (Eybers, 2004:401)

In die geval van “Ontheemde” is dit duidelik dat die gedig outobiografies gelees kan word in terme van bekende biografiese inligting rondom Eybers se lewe, soos dat sy hierdie gedig geskryf het nadat sy na Nederland verhuis het (“daar is geen tuiste om na terug te gaan”) en ook nadat haar huwelik beëindig is (“Haar man het haar nie sonder rede ontslaan”). Die rede waarom Eybers kies om in die derdepersoon na haar outobiografiese self te verwys, mag hier verband hou met haar gevoel van ontheemding. Sy is nie slegs ontheem ten opsigte van haar omgewing nie, maar beeld selfs haar verwydering van haarself uit, “sy’t haar eie baaierd saamgebring”.

“Digteres as huisvrou” is ʼn welbekende metapoëtiese Eybersgedig. In die metapoëtiese aard van die gedig setel ook die potensiaal om die gedig outobiografies te kan lees. Volgens De Lange (2010) beeld die gedig ʼn tweespalt uit – om beide die digterlike en huislike wêrelde te bewoon – wat die poësie van vrouedigters32 interessant maak. Hy voer aan dat in die geval

van die Eybersgedig dit die huisvrou is wat lomp is terwyl die digteres vaardig is. Dit word verder beklemtoon deur die vorm van die gedig, soos De Lange (2010) dit noem, “die netjies rymende koeplette”. Weens die tradisionele sosiale konteks wat vereis dat ʼn vrou ʼn goeie

32 De Lange (2010) noem ook die vrouedigters Antjie Krog en Sylvia Plath wat dié tweespalt in hulle

huisvrou moet wees, kan die moontlikheid gestel word dat Eybers haarself om hierdie rede distansieer deur die gebruik van die derdepersoonspreker.

2.3.2 Die doel van ʼn feministiese ondersoek na outobiografiese tekste

Soos genoem beskryf Jay (1987:50) een van die doelstellings van ʼn feministiese ondersoek na outobiografie as ʼn analise van verhoudings tussen vroue, en tussen mans en vroue, soos wat dit in outobiografiese tekste uitgebeeld word. In hul resensie van Bella Brodzki en Celeste Schenck se versameling essays, Life/lines: Theorizing women’s autobiography (1988), skryf Patricia Madoo-Lengermann en Jill Niebrugge-Brantley (1990:134) dat dié versameling sterk daarop gesteld is om die verhouding tussen die lewe en die literatuur te laat geld. Daar word klem gelê op die vroulike skrywer van outobiografiese tekste se uitgangspunt om nie gerig te wees op die voorstelling van haar lewe as eksemplaries, as ʼn weerspieëling van die era waarin sy bestaan, nie.33 Die vroulike outobiograaf het ook nie hiervolgens die doel voor oë om as

individu haar lewensprestasies te verhaal nie, maar plaas die fokus eerder op ʼn erkenning van “the real presence and recognition of another consciousness” (Brodski en Schenck, 1988:22). In aansluiting by Jay (1987:50) stel Brodski en Schenck (1988:22) dat die vroulike outobiograaf haar verhaal relasioneel ontvou – in terme van reaksies teenoor eggenote, mans, God, die natuur, kritici, vriende, kinders, tyd – om ʼn buitengewone gevarieerde doel te bereik. ʼn Ander doelstelling wat Jay (1987:50) daarstel, hou soos hierbo genoem verband met ʼn ondersoek na die kenmerkende soorte outobiografiese werke wat deur vroue geproduseer word, en ʼn analise van die funksie van die skryf van outobiografiese werke deur die vrou. In terme van dié doelstellings van ʼn feministiese ondersoek na outobiografiese tekste kan die siening van Patricia Meyer Spacks (1972:5) ook betrek word. Sy stel dat daar meer ooreenkomste is tussen werke wat in terme van die vroulike gedefinieer kan word, as wat daar verskille is. Spacks (1972:35) stel haar modus van kritiek voor in The female imagination:

What is a woman to do, setting out to write about women? She can imitate men in her writing, or strive for an impersonality beyond sex, but finally she must write as a woman: what other way is there? Examining the problems women reveal in imaginative writing, she [die leser] will necessarily uncover her own. The students in my course concluded, at the end of the semester, that there were few generalizations, if any, to be made about the forms and techniques of women’s writings, but many about “women’s problems”. Through all literary genres […] women demonstrate their approaches to the solving of those problems. The same consciousness of difficulty presents itself over and over.

33 Madoo-Lengermann en Niebrugge-Brantley (1990:134) beklemtoon dat hierdie tipe gerigtheid

Dit gaan dus nie vir Spacks (1972:35) oor die analise van outobiografiese tekste met die doel om bepaalde afleidings te kan maak oor die vorm en tegniek (of selfs funksie) van die geskrifte van vroue nie. Wat eerder geneem kan word uit ʼn ontleding van hierdie tekste, is die feit dat daar gemeenskaplike kwessies is wat blyk uit die tekste geskryf deur vroue. In my studie word die klem geplaas op een so ʼn kwessies, naamlik die representasie van relasionaliteit in die outobiografiese tekste van vroue.