• No results found

HOOFSTUK 4: DIE TEORETISERING VAN GENDERRELASIES

4.2 ʼn Inleiding tot feminisme en gender in die werk van Judith Butler

4.2.1 Judith Butler in gesprek met Simone de Beauvoir

4.2.1.5 Die liggaam as situasie

Transendensie moet begryp word in terme van die liggaamlike. Beauvoir se siening van die liggaam as situasie stel volgens Butler (1986:45) ʼn alternatief voor vir die genderpolariteit van manlike ontliggaamde bewustelikheid en vroulike liggaamlike verknegting. Butler (1986:45) bespreek die meervoudige betekenis van Beauvoir se stelling dat die liggaam ʼn situasie is:

As a locus of cultural interpretations, the body is a material reality which has already been located and defined within a social context. The body is also the situation of having to take up and interpret that set of received interpretations. No longer understood in its traditional philosophical senses of “limit” or “essence”; the body is a field of interpretive possibilities, the locus of a dialectical process of interpreting anew a historical set of interpretations which have become imprinted in the flesh. The body becomes a peculiar nexus of culture and choice, and “existing” one’s body becomes a personal way of taking up and reinterpreting received gender norms. To the extent that gender norms function under the aegis of social constraints, the reinterpretation of those norms through the proliferation and variation of corporeal styles becomes a very concrete and accessible way of politicizing personal life.

Antjie Krog se gedig “ek staan op ʼn moerse rots langs die see by Paternoster” (1995:66) is reeds as ʼn voorbeeld gebruik in die voorafgaande twee hoofstukke en kan hier betrek word. Krog ontken nie die liggaamlike in hierdie gedig nie; sy neem inteendeel ten volle besit daarvan. Dit is egter interessant om die toonaard en taalgebruik van die gedig te interpreteer aan die hand van hierdie idee dat transendensie verstaan moet word in terme van die liggaamlike. Die argument kan gevoer word dat Krog in hierdie gedig die liggaam in transendensie plaas en transendensie in die liggaam, indien daar in ag geneem word dat Krog die liggaamlike opeis, maar dit ook beskryf in ʼn gewelddadige taal72 en dikwels met verwysings

na wat tradisioneel gesien kan word as tekenend van ʼn man se liggaam (byvoorbeeld “my bo- beenspiere bult”), asook as transendentale eienskappe wat aan die man gekoppel word, (byvoorbeeld aggressief, uitdagend). Die versreël “my bekken smyt die aangeleerde gelate knak uit haar uit” dui eksplisiet op die ontkenning van ʼn bestaande gendernorm en dit is duidelik dat Krog in hierdie gedig gendernorme herinterpreteer en persoonlik weergee. In teenstelling met die manier waarop Krog dit in haar gedig illustreer, betrek Ingrid Jonker ook die liggaamlike in “Ek herhaal jou” (Rook en oker, 1963),73 “Op alle gesigte” (Rook en

oker, 1963)74 en “Plant vir my ʼn boom, André” (Kantelson, 1966).75

72 In afdeling 4.3 word die taalgebruik in “ek staan op ʼn moerse rots langs die see by Paternoster”

bespreek.

73 Jonker, 2004:50 74 Jonker, 2004:47 75 Jonker, 2004:124

Ek herhaal jou

Ek herhaal jou

sonder begin of einde herhaal ek jou liggaam Die dag het ʼn smal skadu en die nag geel kruise

die landskap is sonder aansien en die mense ʼn ry kerse terwyl ek jou herhaal met my borste

wat die holtes van jou hande namaak

Desember 1959

Jonker se “Ek herhaal jou” is veel meer bevestigend van bestaande gendernorme as Krog se “ek staan op ʼn moerse rots langs die see by Paternoster”. In “Ek herhaal jou” dui versreëls soos “herhaal ek jou liggaam” op die bestaande gendernorm dat die vrou as sekondêr tot die man bestaan en dit kan selfs in verband gebring word met die Bybelse idee dat die vrou uit die man geskape is. Die laaste drie versreëls van die gedig bevestig weer die idee dat die vrou se liggaamlikheid die man se liggaamlikheid namaak (“herhaal”). In dié reëls word seksualiteit bykomend tot liggaamlikheid aangeraak. Die suggestie bestaan egter dat die vrou se seksualiteit, verteenwoordig deur “my borste”, in diens staan van die man se liggaam, “wat die holtes van jou hande namaak”. “Ek herhaal jou” beeld bestaande en tradisionele gendernorme uit en is dus tekenend daarvan dat ʼn herinterpretasie van gendernorme deur ʼn vrou nie noodwendig sal inhou dat tradisionele gendernorme teëgegaan word nie. ʼn Herinterpretasie en/of persoonlike interpretasie van gendernorme kan ook akkoord gaan met bestaande gendernorme.

Die argument kan ook gevoer word dat die persoonlike interpretasie van gendernorme in die geval van die twee bogenoemde digters verskil as gevolg van die tydsgees waarbinne die digters die gedigte geskryf het. Krog was in die 1990’s veel meer bewus van die feminisme, wat moontlik ook haar interpretasie van gendernorme kon beïnvloed. Daarteenoor skryf Jonker in die 1950’s in ʼn ouer idioom wat gedeeltelik toegeskryf kan word aan die feit dat Jonker nie dieselfde vlak van bewustheid van feminisme en genderproblematiek in haar verwysingsraamwerk het as wat Krog byvoorbeeld het nie.

4.2.1.6 Slot

Butler (1986:48) sluit haar gesprek met Beauvoir af deur laasgenoemde se teoretisering hoog op prys te stel:

Her conceptualization of the body as a nexus of interpretations, as both “perspective” and “situation”, reveals gender as a scene of culturally sedimented meanings and a modality of inventiveness. To become a gender means both to submit to a cultural situation and to create one, and this view of gender as a dialectic of recovery and invention grants the possibility of autonomy within corporeal life that has few if any parallels in gender theory.