• No results found

5.2 ’n Oorsig van die gebruik van sosiale media in Suid-Afrika In hierdie afdeling is daar hoofsaaklik staat gemaak op aanlyn bronne vir statistieke

5.3. Aanloklikheid van sosiale media vir adolessente

5.3.1 Eksperimentering met Identiteite

Gengler (2011) van extension.umn.edu sê dat die ontwikkeling van identiteit, wat die hoofdoel van adolessensie is (Jung, 1971 in Clark ,2001: 48 & Kelcourse, 2004: 229), definitief ’n rol speel in die aanloklikheid van sosiale media vir adolessente. Sosiale media- platforms, soos Facebook, word nie net deur adolessente gesien as ’n effektiewe en vinnige manier om op passiewe en aktiewe manier te kommunikeer nie, maar as ’n ekstensie van hulself. Sosiale mediaplatforms bied aan adolessente ’n ruimte waarbinne hulle met hulle identiteit kan eksperimenteer. Oor die algemeen stem navorsers saam dat die internet aan die gebruiker onskatbare geleenthede bied om te eksperimenteer met identiteit (vb. Katz & Rice, 2002: 315; Smith & Kollock, 1999: 27). Valkenburg et al. (2005: 384) vat bogenoemde navorsing goed saam en sê dat daar drie praktiese redes is waarom adolessente sal kies om d.m.v. sosiale media te eksperimenteer met hulle identiteit. Eerstens kan gebruikers van die sosiale media kies watter deel van hulle fisiese voorkoms hulle wil beklemtoon, wil wegsteek of verander in die voorstelling en verteenwoordiging van hulleself wanneer hulle aanlyn sosialiseer. Tweedens is die anonimiteit, of gedeeltelike anonimiteit van

75

internet-gebaseerde kommunikasie ’n motivering om meer gewaagde aspekte van hulleself aanlyn te openbaar omdat die potensiële gevolge anders of minder dreigend kan wees as die gevolge in verhoudings wat van lyn af bestaan. Laastens skep die gebruik van sosiale platforms ook gemeenskappe wat geïsoleerd is van gemeenskappe waarin die adolessent in die werklikheid hom- of haarself bevind. Hierdie aanlyn en geïsoleerde gemeenskappe vra egter nie dieselfde graad van verbintenis en verantwoording as werklike gemeenskappe nie en maak die adolessent, of enige ander gebruiker, vry om te eksperimenteer met sy/haar identiteit.

Alhoewel hierdie praktiese eienskappe van sosiale media verantwoordelik kan wees vir die populariteit van sosiale media by adolessente, is daar egter ook sielkundige behoeftes wat deur die gebruik van sosiale media bevredig kan word. Valkenburg et al. (2005: 383) het in hulle navorsing oor adolessente se neiging om die internet te gebruik in hulle eksperimentering met identiteit gevind dat daar drie hoof sielkundige motiverings is: selfverkenning (om uit te vind hoe ander sal reageer), sosiale kompensasie (om skaamheid te oorkom) en sosiale fasilitering (om die formasie van verhoudings te fasiliteer). Lerner & Steinberg (2009: 324) skryf ook oor die rol van sosiale media binne die sosialisering van adolessente en sê dat adolessente se gebruik van sosiale media ook identiteit formasie insluit. Waar hierdie navorsing egter verder gaan is in die stelling dat die vryheid van keuse wat adolessente binne sosiale media het, baie meer is as die vryheid wat hulle het binne ander instellings soos skole, families, gemeenskappe en selfs die kerk. Hierdie vryheid stel hulle in staat om platforms, aktiwiteite, inligting en kommunikasiemediums te kies wat die beste by hulle identiteit, smaak en voorkeur pas en lei dan so tot ’n groot mate van self-sosialisering. Die potensiaal vir self-sosialisering gee aan die adolessent geleentheid om ’n verskeidenheid bronne te soek wat sy behoefte vir selfverkenning, sosiale kompensasie en sosiale fasilitering (Valkenburg et al., 2005: 383) binne die eksperimentering met identiteit kan bevredig. Hierdie bespreking kan egter nie verder gaan sonder om meer omvattend oor die konsep van identiteit te praat nie.

76 Identiteit vs. self

Navorsers soos Brinthaupt & Lipka (2002: 1), Harter (1999: 20) en Hogg et al. (1995: 255) is van mening dat, alhoewel die konsep van ’n individuele ‘self’ en ’n individu se identiteit verwant is aan mekaar, daar tog ’n verskil is. Identiteite verskil in verskillende verhoudingsmatige kontekste soos familie, portuurgroep en skool. Dit beteken dat identiteit verbind word aan die individu se vermoë om volgens sosiale verwagtinge, norme ’n waardes op te tree, soos verwag in die verskillende situasies waarin hy/sy hom- of haarself mag bevind. Valkenburg et al. (2005: 384) gebruik die definisie van Finkenauer et al. (2002: 2) wanneer hy die konsep van identiteit definieer: “Identity represents the aspect of the self that is accessible and salient in a particular context and that interacts with the environment.” ’n Individu met ’n sin van self en gepaardgaande en gekompartementaliseerde identiteite, neem deel aan ‘n sosiale lewe deur “self-presentation”.

‘Self-Presentation’ en self-verteenwoordiging

“Self-presentation” is volgens Gilbert (1998: 680) die manier waarop ’n individu inligting en beelde van die hulself aan ander openbaar. Jones & Pittman (1982) in Tenenbaum & Eklund (2007: 152) bespreek verskillende strategieë breedvoerig wat individue volg tydens “self-presentation”: Die ‘ingratiator’ wat hom- of haarself so aantreklik as moontlik wil laat lyk, die ‘intimidator’ wat vrees en vertroue in hom- of haarself wil bewerkstellig en laastens die ‘self-promoter’ wat ander van sy vaardighede wil oortuig. Vir hierdie studie gaan hierdie strategieë nie verder bespreek word nie en slegs gebruik word om aan te dui dat sosiale media die adolessent geleentheid bied om enige van hierdie strategieë vrylik te volg in hulle “self-presentation”. Koroleva et al. (2011: 1) beskryf dieselfde konsep met ’n ander naam: ‘self-verteenwoordiging’. Hulle stel dit egter ook dat adolessente deur die gebruik van sosiale media die unieke moontlikheid het vir selektiewe self verteenwoordiging wat nie in die werklikheid bestaan nie of baie skaars is. Daarom sal adolessente probeer populêr en belangrik lyk deur soveel as moontlik vriende te maak op platforms soos Facebook en hulle begeerlike eienskappe te beklemtoon op hulle aanlyn aanwesigheid.

77

Deur die proses van ‘self-presentation’ of self verteenwoordiging, het die adolessent die potensiaal, moontlik gemaak deur die gebruik van sosiale media, om verskillende gekompartementaliseerde identiteite te skep vir verskillende verhoudingsmatige kontekste. Die taak en doel van adolessensie is egter die vind van een identiteit as outonome self (Kelcourse, 2004: 229).

Van verskillende gekompartementaliseerde identiteite na een self

Die proses van adolessensie, wat vroeër in hoofstuk 4 bespreek is, is egter nie die aanhoudende skep van nuwe identiteite vir verskillende kontekste nie, maar die vorming van die individu as ’n outonome persoon wat verantwoordelikheid kan neem vir hulle lewe. Valkenburg et al. (2005: 384) het ’n ander aanslag as navorsers soos Kelcourse (2004: 229) wanneer dit kom by die taak van adolessensie. Waar sommige navorsers gebruik maak van die konsep van ‘individuation’ om die taak van adolessensie te verduidelik, sê hulle dat die eksperimentering met identiteite en ‘self- presentation’ van groot belang is tydens die fase van adolessensie. Vir hulle word adolessensie gekarakteriseer deur ’n toename in gekompartementaliseerde identiteite wat verskil in verskillende verhoudingsmatige kontekste soos dit nodig mag wees. Eintlik beskryf Valkenburg et al. (2005: 384) en Kelcourse (2004: 229), die taak van adolessensie op dieselfde manier, alhoewel dit op verskillende maniere gedoen word. Valkenburg et al. (2005: 384) haal die werk van Josselson (1994: 12) en Marcia (1993: 13) aan wanneer daar in hulle navorsing gestel word dat die taak van adolessensie die transformasie van hierdie gekompartementaliseerde identiteite is in ’n geïntegreerde verstaan van hulself.

Die feit dat sosiale media deel uitmaak van adolessente se lewens kan nie ontken word nie, maar die gevolge wat die gebruik van sosiale media op die lewens van adolessente het, is nie altyd maklik om te bepaal nie. Later in hierdie studie sal daar geskryf word oor die moontlike impak wat die gebruik van sosiale media op een aspek van adolessente se lewens het, naamlik verhoudings, maar vooraf moet daar kortliks opmerkings geskryf word oor die moontlike gevaar van adolessente se eksperimentering met identiteit d.m.v. sosiale media.

78

Moontlike gevaar van adolessente eksperimentering met identiteit d.m.v. sosiale media

Die groot vryheid binne die gebruik van media lei egter ook dikwels tot ’n botsing tussen die adolessent se gedrag en die sosiale verwagtinge van die adolessent se onmiddellike omgewing. Omdat die boodskappe wat adolessente deur media en sosiale media ontvang, anders of in teenstelling kan wees met die verwagting van die onmiddellike omgewing, soos die skool, kerk, familie, waarin die adolessent hom- of haarself bevind wanneer hy/sy nie aanlyn is nie, kan daar moontlik wrywing bestaan tussen adolessente en gesagsfigure soos ouers, onderwysers en sekerlik ook jeugwerkers. Hierdie stelling van Lerner & Steinberg (2009: 234) herinner aan Clark (2001: 56) se stelling wat vroeër gemaak is, dat adolessente in vroeë adolessensie met verskillende identiteite eksperimenteer wat kan lei tot wrywing binne die familie. Adolessente is meer vatbaar vir sosiale groepsdruk as ouer generasies en daarom sal adolessente doen wat die meerderheid gebruikers van hulle ouderdomsgroepe as aanvaarbaar vind en dit tel dan ook vir die kies van vriende ens. op Facebook. Koroleva et al. (2011: 1) waarsku ook gereeld teen die gevare van eksperimentering op sosiale media en sê: “Die begeerte om die self te verteenwoordig lei gereeld daartoe dat adolessente geweldige groot gedeeltes persoonlike inligting bekendmaak wat die moontlikheid vir privaatheid bedreigings inhou, soos ‘stalking’ en identiteitsdiefstal.”