• No results found

van verhoudingsgerigte jeugbediening 3.1 Inleiding

Hoofstuk 4: Die prominensie van verhoudings tydens adolessensie

4.2.1 Adolessensie in ontwikkelingsteorie

Soos reeds genoem, word baie krediet aan Stanley Hall (1904) gegee vir die identifisering en bestudering van adolessensie. Hall (1904) was egter nie die enigste sielkundige met ’n ontwikkelingsteorie nie, maar Hall (1904) het reeds in die 1920’s sy agtergrond in sielkunde gekombineer met Darwin se teorie van ontwikkeling en evolusie (Clark, 2001: 45). Hall (1904) se konsep van adolessensie was die sleutelelement van sy ontwikkelingsteorie: die mens moet ook ’n ontwikkelingsproses deurgaan soortgelyk aan Darwin se evolusionêre proses by die mens. Hall (1904) verwys dan natuurlik na adolessensie. Hierdie teorie is egter nie deur Hall (1904) se portuurgroep aanvaar nie, maar het die deur oopgemaak vir ander ontwikkelingsnavorsers uit die veld van sielkunde om nuwe teorieë te skep wat nie sou staatmaak op Darwinisme nie. Teen die vyftigerjare het persone soos Erik Erikson (1959), in Travers (2006: 42), reeds ’n verband gesien tussen sielkunde en ander sosiale faktore binne die ontwikkelingsfase van adolessensie. Tans word adolessensie met ’n multidissiplinêre benadering verstaan a.g.v. die komplekse aard van die adolessensieproses. Clark (2001: 45) sê dat, soos daar verskille in kultuur is, moet daar nie net van die sielkundige faktore binne die ontwikkeling van die mens kennis geneem word nie, maar ook van die verskillende sosiologiese faktore. Clark (2001: 45) noem dat Santrock (1990: 28-29) ’n redelike aanvaarbare definisie van adolessensie gee: adolessensie is die periode van lewe tussen kindwees en volwassene-wees. Dit is ’n proses wat ongeveer begin tussen die ouderdom van tien en dertien en eindig tussen die ouderdom van agtien en twee-en-twintig, alhoewel dit moeilik is om te definieer wanneer adolessensie eindig. Daar word ook gesê dat adolessensie in biologie begin en in kultuur eindig.

Voor daar verder in hierdie studie oor adolessensie as ’n konsep in ontwikkelingsteorie geskryf word, is dit nodig om hierdie bogenoemde stelling van Santrock (1990: 28-29) kortliks te bespreek. Met hierdie laaste stelling is dit nodig om te noem dat die begin van adolessensie gekoppel word aan sekere merkers van biologiese ontwikkeling, soos puberteit. Alhoewel meeste navorsers in die veld van ontwikkelingsteorie saamstem dat adolessensie met puberteit as ’n spesifieke proses in biologiese ontwikkeling begin, dit steeds moeilik is om presies vas te stel wanneer hierdie proses presies begin. Clark (2001: 45-46) noem dat adolessensie gewoonlik gekoppel word aan die begin van puberteit. Sosiologiese navorsers het

53

egter waargeneem dat die aanvang van puberteit moeilik is om vas te stel en selfs vroeër begin as dertig jaar terug. Ratcliff & Davies, (1991: 430) noem dat navorsers nie noodwendig almal saamstem oor die aantal jare wat die aanvang van puberteit geskuif het nie, maar dat mense vandag definitief vroeër as in die verlede met puberteit begin. Clark (2001: 46) sê dat, omdat die begin van adolessensie gekoppel is aan die begin van puberteit, ons daarom ook kan aflei dat die psigologiese proses van adolessensie ook vroeër as in die verlede begin. Hy som dit as volg op: Die aanvang van adolessensie word dus gekenmerk deur ’n fisiologiese (het betrekking op die fisiese funksie van die liggaam) gebeurtenis (puberteit), maar word oor die algemeen beskryf en bespreek as ’n psigologiese (het betrekking op die denke en gedrag) en sosiologiese (het betrekking op verhoudings en menslike interaksie) gebeurtenis. Daarom word die ontwikkelingsaspek van adolessensie oor die algemeen beskryf af ’n psigo-sosiale fenomeen.

Hoewel die beginpunt van adolessensie in biologiese ontwikkeling is, is die eindpunt makliker verstaanbaar i.t.v. kultuur. Clark (2001: 46-47) sê dat dit altyd maklik was om die verskil tussen kinders en volwassenes waar te neem, maar dat dit baie moeilik is om presies vas te stel waar die skeidingslyn tussen adolessent en volwassene is. Coon & Mitterer (2006: 133) sê dat daar in die verlede duidelike merkers was wat ons kon help om die verskil tussen kindwees en volwassene-wees te sien. Hierdie merkers was in die vorm van opvoeding en opleiding om sekere volwasse rolle in te neem of in rituele wat die kind aan die gemeenskap bekendstel as ’n volwassene. Clark (2001: 47) sê dat ons egter vandag juis die fase van adolessensie beskou as die merker wat aandui dat ’n persoon nou nie meer ’n kind is nie. Die probleem is egter dat daar nie ’n duidelike eindpunt in hierdie proses is nie, omdat selfs die media en kommersiële wêreld die idee van adolessensie idealiseer, begeerlik maak en so lank as moontlik probeer uitrek. Skrywers soos Smith (2007: 115) en Marohn (2013: 91) skryf oor adolessensie as ’n uitvindsel van ons samelewing en sê dat volwassenes probeer vir so lank as moontlik adolessente bly en adolessente geen insentief meer het om die proses na volwassenheid te beëindig nie omdat daar nooit aan hierdie uitvindsel ’n einde gegee is nie.

Om na adolessensie te kyk soos Clark (2001: 41-60) dit uitwys, help ons om te besef dat ons gereeld Dean (2001: 35) se “wat gaan aan?”-vraag moet vra. As adolessensie nou vroeër as ooit begin, kan dieselfde benadering tot jeugbediening

54

nie gevolg word om kinders van laer ouderdomme te bedien nie. Ons benadering moet aangepas word omdat kinders op vroeër ouderdomme begin met die proses van adolessensie en nie seker is wanneer hierdie proses moet klaarmaak nie. Nie net het die begin en eindpunt van adolessensie geskuif nie, maar die sosiale faktore wat die fase van adolessensie beïnvloed, soos die koms van sosiale media, verskil ook van generasie tot generasie.

Om ons gesprek oor adolessensie in die veld van ontwikkelingsteorie voort te sit, sal daar nou verwys word na die taak van adolessensie en die rol wat verhoudings binne hierdie proses speel.