• No results found

van verhoudingsgerigte jeugbediening 3.1 Inleiding

3.3 Teologiese grondslag van verhoudingsgerigtheid

3.3.2 Die inkarnasie van Jesus Christus

As die verbondsmatige verhouding van God met die mens die fondament van die teologiese begronding van verhoudingsgerigte jeugbediening is, moet die inkarnasie van Jesus Christus as die hoeksteen van die teologiese grondslag vir verhoudingsgerigte jeugbediening gesien word

Die inkarnasie van Jesus Christus as deel van God se verbond met die mens is ’n besondere openbaring. Dit dien as normatiewe bron en sleutel wat ons help om die belangrikheid van verhoudings in ons benadering tot die jeug te beklemtoon. Deur die lens van die verbond wat God met die mens gesluit het, ons ryk Christelike tradisie en die Bybel as normatiewe bron (Hendriks, 2004: 29), kan ons verstaan waarom die inkarnasie belangrik is: die inkarnasie gaan nie oor invloed nie, maar oor teenwoordigheid (Root, 2007: 79). So lank terug soos die 1980’s kan die invloed wat

38

die inkarnasie in die benadering tot pastoraat het waargeneem word in die werk van Anderson (1984: 239-240). Die kerk het natuurlik in die verlede baie verskil oor die die aard van die inkarnasie, maar Anderson (1984: 240) sê dat die benadering tot pastoraat vry is van hierdie verskille. Die gebruik van die inkarnasie as teologiese vertrekpunt binne pastoraat, lewer dieselfde resultate in jeugbediening: die inkarnasie vereenselwig die pastor met die teenwoordigheid van Christus of, in die geval van jeugbediening, die jeugwerker met die teenwoordigheid van Christus. In meer onlangse literatuur oor pastoraat kan gesien word hoe die inkarnasie steeds ’n invloed het in ons verstaan van bediening. Gula (2010:18) beskryf hoe God nie net opgeleide pastorale versorgers gebruik om na die mens te kom nie, maar dat daar eindelose mediators is wat opgeneem word in God se koms na die mens. Voorbeelde wat hier genoem kan word is die manier hoe familie en vriende diegene bystaan wat deur moeilike tye gaan en sê dat hierdie juis die sakramentele aard van die inkarnasie is.

Die tipe verhoudings wat Root (2007: 79) voorstel en bespreek vind byval by die opmerkings wat beide Gula (2010: 18) en Anderson (1984: 240) maak t.o.v. pastoraat. Vir Anderson (1984: 240) gaan verhoudings ook oor meer as net die vermoë om ’n ander persoon te beïnvloed en hy noem dat die gebruik van die inkarnasie gewoonlik op drie konsepte rus: die inkarnasie as gebeurtenis, die inkarnasie as paradigma en die inkarnasie as beginsel. Die inkarnasie eis dus eerstens van ons om ’n relevante en kontemporêre verteenwoordiging van ’n historiese gebeurtenis te wees. Die pastor, of jeugwerker, moet daarom die teologiese taal van ons geloof gebruik om hierdie historiese gebeurtenis te vertaal vir die hede. Tweedens vra die inkarnasie as paradigma dat ons, veral in terme van sorg, ons werk sien as die beliggaming van God op aarde deur Jesus Christus. Gula (2010: 18) voeg by dat pastorale werkers en selfs net vriende en familie hulle teenwoordigheid by dié wat hulp nodig het moet interpreteer en verstaan as God se teenwoordigheid tussen mense wat God nodig het. Die gebruik van die inkarnasie as paradigma hou die werk van die pastor, of jeugwerker, gefokus op die bediening en werk van God. Derdens is dat die inkarnasie meer as ’n paradigma en ’n historiese gebeurtenis; dit is die beginsel en vertrekpunt vir ons verstaan van ’n opgestane Jesus wat steeds teenwoordig is op aarde en steeds na die mens kom en met die mens in verhouding is. Die werk van Anderson (1984: 239-240) en Gula (2010:18)

39

ondersteun Root (2007: 79) se stelling dat die doel van verhoudings die teenwoordigheid van Jesus Christus is. Root (2013: 270) gebruik die werk van Bonhoeffer (in Clifford ed., 2005: 47-75) om verhoudings te beskryf: verhoudings waar persone saam en vir ander is, is die ruimte waarin God se transendente teenwoordigheid in die wêreld bekend gemaak word. Daarom is verhoudings nie net toerusting wat gebruik moet word om ’n ander persoon te beïnvloed nie, maar eerder die ruimte waarin een persoon deel in iemand ander se eksistensiële belewenis. Hierdie belewenis sluit ’n ander persoon se lyding in, en soos ons die “plek” van ’n ander deel (Stellenvertretung) staan ons saam met Christus in die lewe van die ander persoon.

Christus het nie mens geword om ons te beïnvloed en te oortuig om in Hom te glo nie, maar om te verander wat menswees beteken. Hy kom om te wys wat dit beteken om die lewe voluit te leef in en deur verhoudings, soos Hy en Sy Vader in verhouding is (Roberts, 2010: 5). Die inkarnasie gaan oor teenwoordigheid en beskikbaarheid en nie oor beïnvloeding nie. Root (2007: 92) vul hier aan deur te sê dat die kruis en opstanding van Jesus net so belangrik is soos Jesus se lewe as mens. Die mens het meer as eenvoudige solidariteit nodig, die mens het solidariteit nodig wat lei tot transformasie. Daarom moet verhoudingsgerigte bediening nie net die inkarnasie van Christus reflekteer nie, maar ook die kruis en opstanding van Jesus. Jesus wys dat ons nie net op ’n baie werklike manier die geïnkarneerde, gekruisigde en opgestane God in mens tot mens verhoudings ontmoet nie, maar dat die mens geskep is vir sulke transformatiewe verhoudings. Hierdie transformatiewe verhoudings waarvan Root (2007: 85) praat word egter al hoe meer skaars in ’n wêreld wat al hoe meer individualisties en gefragmenteer word.

Farley (2011: 155) skryf dat die draaipunt van die Christengeloof die inkarnasie van Jesus Christus is wat volledig mens geword het. As ons werklik getrou wil wees aan inkarnasionele teologie moet ons ’n kombinasie van refleksie en aksie gebruik. Farley (2011: 135) stel dit dat inkarnasieteologie in diens van die mens staan. Inkarnasionele teologie wil die mens op ’n holistiese manier bedien deur teologiese refleksie en transformerende aksie. In die konteks van verhoudingsgerigte jeugbediening beteken dit dat ons opgeneem en ingeskakel moet word in hierdie verhoudingsmatige handelinge van God met kinders en jongmense met die wete dat God hom verbondmatig tot handelinge met en deur hulle verbind het (Nel, 1999: 9).

40

Hierdie inskakeling in die handelinge van God met kinders en jongmense en met die wete dat God hom verbondsmatig tot handelinge met en deur hulle verbind het, het praktiese implikasies vir die manier waarop verhoudings benader en verstaan word, veral in ’n verhoudingsgerigte jeugbediening.