• No results found

kinders INHOUDSOPGAWE

2.8 Intervensieprogramme om oorgewig en obesiteit aan te spreek

2.8.3 Eenkomponent-intervensieprogramme

Verskeie studies op die gebied van oorgewig en obesiteit by kinders fokus slegs op een komponent om die voorkoms daarvan aan te spreek (Boon & Clydesdale, 2005:519). Drie eenkomponent- intervensiestrategieë is in die literatuur geïdentifiseer om kinderobesiteit te voorkom en te behandel, naamlik fisieke aktiwiteit, voedingsvoorligting en gedragsmodifikasie en vervolgens sal hierdie aspek meer breedvoerig bespreek word.

2.8.3.1 Fisieke aktiwiteit

Fisieke aktiwiteit speel ‘n belangrike rol in die voorkoming en behandeling van oorgewig en obesiteit by kinders (Graf et al., 2006b:218). Dit blyk dat oefening lei tot ‘n toename in vetoksidasie en dat oefening die verlies van vetvrye massa en die gepaardgaande afname in metaboliese tempo voorkom (Graf et al., 2006b:216).

Boon en Clydesdale (2005:519) se oorsigstudie oor obesiteit-intervensies vir kinders en adolessente bevat die resultate van vier fisieke aktiwiteitsintervensies. Twee van die studies is deur dieselfde navorsers op sewe- tot 11-jariges uitgevoer. Die proefpersone wat deel gevorm het van die eksperimentele groep is blootgestel aan fisieke aktiwiteit (vyf dae per week vir vier maande) in die vorm van weerstandsoefeninge (20 min) en spele (20 min). Die eksperimentele groep se vetvrye massa het betekenisvol toegeneem en hul vetmassa en ook hul liggaamsvetpersentasie het betekenisvol afgeneem in vergelyking met die kontrolegroep. ‘n Derde studie is oor ‘n twee-jaar tydperk uitgevoer op 11-jarige Japannese kinders. Aan die einde van die eerste jaar het die liggaamsvetpersentasie van die meisies en die seuns onderskeidelik met 31% en 40% gedaal met verdere kleiner dalings na afloop van dietweede jaar. Die vierde studie was ‘n skoolgebaseerde oefenprogram vir 292 voorskoolse kinders wat voor die aanvang van die dag se klasse gestap (15 min) en in die middae gedans het (drie dae per week vir 20 min). Die intervensieprogram het geen betekenisvolle effek op die voorkoms van obesiteit gehad nie, alhoewel ‘n afnemende tendens voorgekom het. DeStefano en medewerkers (2000:61) het ten doel gehad om die effek van ‘n aerobiese- en weerstandsprogram (12 weke, twee dae per week, 30 minute per sessie) op die liggaamsamestelling van 15 obese seuns (nege- tot 12-jaar oud) met ‘n gemiddelde LMI van 31.8kg/m2 en ‘n gemiddelde liggaamsvetpersentasie van 41% te bepaal. Na afloop van die drie maande het die seuns ‘n gemiddelde gewigsverlies van 1.5kg getoon, terwyl hul totale liggaamsvet met 4.1kg verlaag en hul vetvrye massa met 2.6kg verhoog het wat ‘n afname van 10% in liggaamsvetpersentasie tot gevolg gehad het. ‘n Studie wat gepoog het om die effek van Pilates op die liggaamsamestelling van 11-jarige meisies te bepaal se resultate toon dat die LMI persentiel van die intervensie groep afgeneem het (3.1 eenhede) terwyl dié van die kontrolegroep toegeneem het (0.8 eenhede) (Jago et al., 2006:178). Alhoewel die studie verskeie beperkinge gehad het waaronder ‘n klein steekproef (30 meisies) en ‘n kort tydsduur (vier weke) toon dit

die meisies die Pilates aktiwiteite geniet het (4.4 op ‘n skaal van 1 tot 5) en die klasse gereeld bygewoon het (75% bywoning). ‘n Betekenisvolle verlaging in LMI van meisies is na 12 weke gevind in ‘n dansgeoriënteerde oefenprogram (drie dae per week vir 50 minute) vir 10- tot 13-jarige seuns en meisies (Flores, 1995:189).

Dit blyk dus dat fisieke aktiwiteit ‘n noodsaaklike rol speel in die voorkoming en behandeling van oorgewig en obesiteit en dat die tipe intervensie sowel as die intensiteit en duur van die aktiwiteit belangrik is. Uit die voorafgaande studies blyk dit dat tydperke van 12 weke en ‘n frekwensie van drie tot vyf keer per week nodig is om beduidende veranderinge te bewerkstellig.

2.8.3.2 Voedingsvoorligting en dieetaanpassings

Wat die dieetkomponent van obesiteitsintervensies betref, dui navorsers aan dat spesifieke areas aandag moet geniet as dit kom by die voorkoming en behandeling van oorgewig en obesiteit naamlik, die bevordering van borsvoeding, beperking op versoete drankies, verhoogde inname van vrugte en groente, die eet van ontbyt, gesinsmaaltye wat tuis geeët word, ‗n afname in uiteet, verlaagde inname van energiedigte voedsels en die toepassing van ouderdomgepaste porsiegroottes (Stephens & Summar, 2008:140). ‘n Studie deur Simonetti et al. (1986:169) wat op drie- tot nege-jariges uitgevoer is, toon ‗n 12.2% verlaging in obesiteit en ‗n 12.1% verlaging in oorgewig na afloop van 12 maande se blootstelling aan media wat gesonde eetgewoontes aanspreek. Hierteenoor het die kontrolegroep geen betekenisvolle veranderinge getoon nie. Die ―verkeersligdieet‖ word in verskeie studies gebruik om die inname van kalorieë by oorgewig en obese kinders te beperk (Steyn, 2005:542; Alexy et al., 2006:203; Singhal et al., 2007:1261; Mason et al., 2008:339). Die dieet is gebaseer op die voedselpiramiede en beskryf voedsel as groen (byvoorbeeld brokoli en aspersies), geel (byvoorbeeld botterskorsies en mielies) of rooi (byvoorbeeld rooivleis). Kinders kan ―gaan‖ met groen voedsels met ‘n lae vet-, suiker- en kalorie inhoud, ―versigtig wees‖ met geel voedsels wat meer kalorieë bevat, maar tog noodsaaklik is vir gesondheid en ―stop‖ met rooi voedsels hoog in vet en suiker met ‘n hoë kalorie inhoud. Navorsing toon ‘n verlaagde inname van rooi voedsels, ‘n verlaagde voorkoms van oorgewig en ‘n verlaagde hunkering na suiker by kinders wat die ―verkeersligdieet‖ gevolg het (Moran, 1999:861).

Navorsers op die gebied van kinderobesiteit is dit egter eens dat ‘n gewigsverliesdieet wat makro- nutrientinname beperk, as die laaste uitweg gesien moet word in die behandeling van oorgewig en obesiteit en dan ook net in erge obese kinders (Steyn, 2005:541; Bennet & Sothern, 2009:154). Hierdie standpunt word ondersteun deur die bevinding van onlangse navorsing dat dieetbeperkings ‘n betekenisvolle voorspeller vir die aanvang van ―binge eating‖ by kinders is (Allen et al., 2008:445). Dieselfde navorser het verder in verband hiermee gevind dat obese kinders betekenisvol meer geneig is tot ―binge eating‖ as oorgewig en normale gewig kinders (Allen et al., 2008:442). Bennet en Sothern (2009:154) het ‘n oorsig verskaf van die invloed van makronutriënt-beperkte diëte soos ondersoek deur

verskeie navorsers.‘n Vergelyking van ‘n lae GI-dieet met ‘n energie-beperkte, lae vet dieet in obese adolessente (13- tot 21-jaar) het na afloop van ‘n ses maande intervensie en ‘n ses maande opvolgperiode ‘n betekenisvolle afname in vetmassa en LMI by proefpersone in die lae GI-groep in vergelyking met die lae vet-groep getoon. ‘n Ondersoek na die effek van lae koolhidraat- teenoor lae vet diëte het getoon dat eersgenoemde tot ‘n groter gewigsverlies as lae vet diëte lei (Bennet & Sothern, 2009:154).

2.8.3.3 Gedragsmodifikasie

Die doel van gedragsmodifikasie intervensieprogramme vir kinders is eerstens om ongewenste gewoontes (inname van voedsel met ‗n hoë vetinhoud, sedentêre aktiwiteite) te verlaag en tweedens om verlangde gewoontes (lae vet dieet, deelname aan sport) te verhoog (Limbers et al., 2008:172). Dit blyk dat gedragsmodifikasieprogramme wat op eet- en oefengewoontes fokus tot betekenisvolle verbeteringe in liggaamsamestelling, fisieke fiksheid en psigososiale voordele vir obese kinders lei en verskeie risikofaktore insluitend insulienvlakke, lipiedprofiel en bloeddruk verlaag (Epstein et al., 2007:383). Alle antropometriese veranderlikes (LMI, trisepsvelvou, middelomtrek, middel-heup verhouding) het betekenisvol afgeneem na ses maande se lesse wat gepoog het om die sedentêre gedrag van laerskoolleerlinge te verlaag deur die aantal tyd wat aan televisie kyk spandeer word, te verminder (Robinson, 1999:1565). Gepaardgaande verlagings in die aantal ure spandeer aan televisie kyk en die aantal maaltye wat voor die televisie genuttig is, is ook deur die navorsers gevind. Dit blyk verder dat die sukses van gedragsmodifikasie intervensies by kinders afhanklik is van die betrokkenheid van hul ouers (Jerum & Melnyk, 2001:607; McGarvey et al., 2004:1494).