• No results found

Dubbellewens: ’n uitlewing van die simulakrum binne die hiperwerklikheid

2.6 Die ordes van die simulakrum

2.6.5 Dubbellewens: ’n uitlewing van die simulakrum binne die hiperwerklikheid

Volgens Baudrillard (1983:146) het die ontstaan van die hiperwerklikheid te make met die vernietiging van die representasie in die orde van simulasie en die vervanging van die oorspronklike werklikheid deur ’n gesimuleerde werklikheid. Representasie vanuit die orde van nabootsing bied ʼn interpretasie van die werklikheid. Die industriële representasie vanuit die orde van produksie veronderstel ʼn universele sisteem van gelykheid omdat identiese kopieë ontstaan. Hierteenoor ontstaan die gesimuleerde werklikheid en, uiteindelik, die simulakrum in die orde van simulasie, wat altyd reeds gereproduseer is. Dié “werklikheid” wat reeds deur die sisteem gereproduseer is, is die hiperwerklikheid. Tydens die verloop van die ordes van die simulakrum word die verskil tussen die kopie en die oorspronklike in gedrang gebring (deur die sistematiese verdubbeling van die oorspronklike werklikheid en die geleidelike bevryding van die teken). Wanneer die hiperwerklikheid – binne die simulakrum – verwerklik word, word dié verskil tussen die kopie en die oorspronklike totaal uitgewis. Die hiperwerklikheid is nie ʼn blote kopie van ʼn objek of die werklikheid nie, omdat die hiperwerklikheid reeds gereproduseer is en dit self voortdurend herhaal. Sodoende gaan die hiperwerklikheid die oorspronklike werklikheid vooraf (Baudrillard;1998 [1976]:145).

Baudrillard (1998 [1981]:166-167) verduidelik die bogenoemde konseptualisering van die hiperwerklikheid aan die hand van Jorge Luis Borges (1899-1986) se fabel On the

exactitude of science. Kortliks handel dié fabel oor kartograwe wat ʼn kaart

geproduseer het as ʼn identiese kopie van hul koninkryk, wat bo-oor die koninkryk geplaas is. Baudrillard veronderstel dat On the exactitude of science ʼn gelykenis vir die konsep van die hiperwerklikheid kan wees. In teenstelling tot Borges (1975:131) se weergawe van die fabel, argumenteer Baudrillard dat dit nie die oorspronklike terrein is wat die kaart voorafgaan nie, maar – uit die oogpunt van die generasies wat op die kartograwe volg – gaan die kaart die oorspronklike terrein vooraf. Dus gaan die kopie die oorspronklike vooraf. Die opvolgende generasies is slegs bewus die gekopieerde kaart en is nie bewus van die oorspronklike koninkryk wat onder die kaart bestaan nie. Gevolglik stel Baudrillard dat die idee dat die kaart en terrein – oftewel

die oorspronklike werklikheid en die kopie – se afsonderlike bestaan beëindig word. Sodoende word die kaart ʼn “nuwe werklikheid” – ʼn hiperwerklikheid.

In lyn met Borges se fabel, kan die kaart as ʼn teken van die werklikheid gelees word omdat die kaart na die oorspronklike werklikheid verwys. Soos reeds beredeneer, word tekens in die orde van simulasie gelyk aan die oorspronklike werklikheid – net soos die kaart en die koninkryk gelyk is aan mekaar. Binne die hiperwerklikheid word tekens van die oorspronklike werklikheid vervang met die simulakrum, met die gevolg dat die werklikheid verdubbel word. Dié verdubbeling van die sogenaamde werklikheid gee voor om tekens te hê wat die werklikheid uitwys. Dié tekens is dus blote simulakra. Die hiperwerklikheid is die taktiese, leefbare hallusinasie van die oorspronklike werklikheid. In dié verband word die hiperwerklikheid as ʼn sensoriese, taktiese weergawe van die werklikheid ervaar, alhoewel dié ervaring van die werklikheid eintlik ’n simulakrum is. Dit is egter belangrik om in ag te neem dat die hiperwerklikheid nie net ʼn blote fiktiewe of denkbeeldige ruim is wat buite die werklikheid ontstaan nie. In die hiperwerklikheid vind ʼn ineenstorting van die werklikheid en die denkbeeldige ruim plaas deur die simulakrum. Die denkbeeldige is dus nie meer ʼn droom of fantasie nie, maar eerder ʼn hallusinasie van die idee van ’n werklikheid. Hiervolgens word representasie in gedrang geplaas en uiteindelik vernietig, omdat niks in die hiperwerklikheid voorgestel kan word nie. Om uit die krisis van representasie te kom moet die hiperwerklikheid in pure herhaling opgesluit word (Baudrillard, 1983:142). Die hiperwerklikheid transendeer representasie omdat dit heeltemal binne ʼn simulakrum vorm vind (Baudrillard, 1983:146-147). Volgens Baudrillard is die huidige, gevorderde verbruikersamelewing se bestaan hiperwerklik wat inhou dat alle dimensies van die samelewing – polities, sosiaal, histories en ekonomies –die dimensie van die hiperwerklikheid inkorporeer. Dit hou in dat ons daagliks in ’n “estetiese” hallusinasie van die sogenaamde “werklikheid” leef, wat as die werklikheid ervaar word, maar eintlik ’n simulakrum is.

Baudrillard (1981) gebruik die Amerikaanse gevorderde verbruikersamelewing en die pretpark Disneyland as voorbeelde van hoe die samelewing in ʼn hiperwerklikheid vasgevang is. Baudrillard (1998 [1981]:171-172) stel dat al die ordes van die simulakrum in Disneyland verstrengel is. Met sy analise van Disneyland vestig hy die aandag op die parkeerterrein van die park en die Verenigde State van Amerika, eerder

as die park self. Hy belig die kontras tussen Disneyland en die parkeerterrein buite die park. Die verbeeldingryke en fiktiewe park verskuil die hiperwerklike aard van Amerika wat Disneyland omring. Volgens Baudrillard bestaan Disneyland om Amerikaners en besoekers aan dié pretpark te laat glo dat Disneyland die fiktiewe illusie is en dat die area wat Disneyland omring, werklik is. Ten einde sy argument te staaf, stel Baudrillard (1983:24) dat Disneyland die wêreld is waarteen die hiperwerklikheid gedefinieer word. Disneyland moet, met ander woorde, ʼn misterieuse fantasie ryk wees, om die hiperwerklike aard van die omringende Amerikaanse kultuur te verskuil. Hieruit argumenteer Baudrillard dat die area wat Disneyland omring – Amerika en die huidige samelewing – hiperwerklik is (Gane, 2010:96).

Baudrillard (1983:115-119) ondersoek die visuele kunste binne die hiperwerklikheid. Kuns in die hiperwerklikheid vorm deel van die reeds genoemde vierde fase van visuele kuns. Ek het reeds genoem dat Baudrillard stel dat die huidige samelewing toenemend meer digitaalgedrewe word in die orde van simulasie, wat inhou dat kuns ook digitaal gereproduseer word. Deur reproduktiewe kunsmediums, soos fotografie, digitale beelde, videokuns en nuwe-mediakuns, vind die noukeurige verdubbeling van die werklikheid vorm. Die werklikheid word deur dié mediums in gedrang geplaas, deur die kopiëring van die oorspronklike werklikheid van een medium na ʼn ander. Met ander woorde, die voortdurende kopiëring van die werklikheid het die gevolg dat die werklikheid as oorspronklike vernietig word (Baudrillard, 1998 [1976]:144-145). Gevolglik word die werklikheid – tydens die proses van reproduksie in die eersgenoemde kunsmediums – nie bloot iets wat gereproduseer kan word nie, maar wat reeds gereproduseer is (Gane, 2010:96). Die bogenoemde beteken dat die werklikheid ineenstort deur die kortstondige verdubbeling daarvan deur reproduktiewe digitale mediums (soos foto’s en advertensies) en deur dié mediums word die hiperwerklikheid onderhou (Baudrillard, 1983:141-142).

Wat individue wat binne die hiperwerklikheid “leef” aanbetref, konseptualiseer Baudrillard (2001 [1999]:89-97) die gedagte van “dubbellewens”. Hy verduidelik die idee van dubbellewens deur na ʼn gevallestudie van Jean Claude Romans (geb. 1954) te verwys. Romans was ʼn mediese student wat sy eksamens gedruip het. In plaas daarvan om die eksamens oor te skryf, het Romans in die huwelik getree, kinders is uit die huwelik gebore en hy het homself as ʼn suksesvolle dokter voorgehou en

pasiënte behandel. Romans het wat Baudrillard ʼn “parallelle lewe” noem, geleef. Baudrillard stel dat hierdie gebeurtenis binne die terme van gesimuleerde verhoudinge gelees moet word, met ander woorde as ʼn gebeurtenis in die orde van simulasie. Romans (in Baudrillard, 2001 [1999]:92) het beweer dat hy nie kan verduidelik hoe hy die simulasie, wat hy van homself geskep het, onderhou het nie. Baudrillard (2001 [1999]:92) stel dat die rede hiervoor is omdat die simulasie selfvervullend word (soos ʼn profesie) deur voortdurende herhaling in die hiperwerklikheid. Baudrillard verduidelik dit soos volg:

... this time the simulation worked too well, and he blamed them for not having managed to unmask him, for not having be able, over a lifetime, to see through him.... for turning him into a veritable simulation machine (Baudrillard, 2001 [1999]:89).

Deur sy dubbellewe te ver-werklik, het Romans ʼn werkende en leefbare simulakrum van homself geskep wat in ’n hiperwerklikheid “uitgeleef” is. Individue, soos sy familie, vriende, kolegas en pasiënte het dié hiperwerklikheid as die oorspronklike ervaar omdat hulle ook geglo het dat dit wat hy voorhou om te wees “werklik” is.

Na aanleiding hiervan blyk dit dat die simulakrum en, inbegrepe, die hiperwerklikheid individue die geleentheid bied om ʼn dubbellewe van hulself te skep wat ʼn simulakrum van hulself is. Dié dubbellewe het egter die potensiaal om ʼn individu se oorspronklike identiteit te vervang. Gevolglik hou dié simulakrum nie net bloot die vernietiging van die oorspronklike werklikheid in nie, maar skep dit ook die geleentheid vir individue om hul eie oorspronklike identiteit te vernietig deur ’n simulakrum van hulself te skep wat in ’n hiperwerklike ruimte “uitgeleef” word.