• No results found

2.6 Die ordes van die simulakrum

2.6.3 Die orde van produksie

Die orde van produksie strek, volgens Baudrillard (1983:92, 96-97; 1998 [1976]:137), vanaf die negentiende-eeuse Industriële Revolusie tot en met die gevorderde verbruikersamelewing wat in die twintigste eeu ontwikkel. Dié tydperk is gebaseer op kommersiële waardesisteme wat deur gebruikswaarde en wisselwaarde onderhou word, soos deur die Marxisme uitgewys is (kyk 2.2). Hiervolgens word tekens se waarde deur monetêre waarde (met ander woorde geld) bepaal.

Buiten die bogenoemde kommersiële waardesisteme, word die negentiende-eeuse Industriële Revolusie gekenmerk aan ʼn vooruitgang in meganiese tegnologie. Na aanleiding hiervan het meganiese tegnologie die massaproduksie van objekte moontlik gemaak deur die ontwikkeling van reeksproduksielyne. Dié vooruitgang van produksie dien as vertrekpunt vir Baudrillard (1983:94-95) se ondersoek na tekens in die orde van produksie. Die ontwikkeling van reeksproduksielyne het beteken dat die vermeerdering van tekens (vanuit die orde van nabootsing) nog meer toegeneem het in die orde van produksie, omdat produksielyne die produksie van nóg meer tekens toegelaat het. In samehang hiermee kan identiese kopieë deur middel van massaproduksie van objekte deur reeksproduksielyne geproduseer word. Baudrillard (1983:96-97) argumenteer dat die opkoms van identiese, gekopieerde objekte ʼn nuwe reeks tekens teweegbring, wat tekens se bevrydingsproses voortsit. Tekens in die orde van produksie hoef nie nageboots te word nie omdat hulle reeds deur reeksproduksie nageboots is. Tekens in die orde van produksie verskil nie van die oorspronklike nie, anders as in die orde van nabootsing. Deur die produksie van identiese gekopieerde tekens word die verskil tussen die oorspronklike en kopie vernietig. Sodoende word dié tekens bevry van hul sodanige gekondisioneerde verpligting om na die voorafbepaalde oorspronklike te verwys. Dit is egter belangrik om steeds te beklemtoon dat, alhoewel die tekens bevry word van ʼn voorafbepaalde

waarde, tekens in die orde van produksie steeds na ʼn sogenaamde oorspronklike verwys.

Voortvloeiend uit bogenoemde het die vooruitgang van meganiese tegnologie die gevolg dat identiese kopieë (wat na mekaar as die oorspronklike verwys) ook van handgemaakte objekte geproduseer kan word. Na aanleiding hiervan word handgemaakte objekte deur meganies-geproduseerde objekte vervang. Gevolglik argumenteer Baudrillard (1983:94-95) dat mens en masjien gelyk aan mekaar gemaak word tydens die orde van produksie. Hiermee bedoel hy dat masjiene wat deur meganiese tegnologie ontwikkel word, die potensiaal het om mense as die primêre produsent van objekte te vervang. Voortvloeiend hieruit word meganiese masjinerie die oorsprong van objekte, eerder as die mens. Hieruit blyk dit dat massaproduksie en masjinerie (eerder as die mens) die oorsprong van tekens in die orde van produksie word, waaruit tekens in ʼn eindelose siklus na mekaar as die oorspronklike verwys, omdat die mensgemaakte oorspronklike deur ʼn meganies-geproduseerde oorspronklike vervang word. Ingevolge hiervan word tekens se betekenis afhanklik van meganiese produksie as oorsprong en kan hulle geen betekenis buite die produksielyn genereer nie.

Hiervolgens argumenteer Baudrillard (1983:96-97, 137) dat die oorspronklike werklikheid vloeibaar word – die orde van produksie produseer ʼn tipe werklikheid: ʼn eggo of spieël van die oorspronklike werklikheid deur meganiese reproduksies. Dié metaforiese spieël reflekteer ’n gesimuleerde werklikheid, eerder as die oorspronklike werklikheid. Omdat tekens in die orde van produksie na reeksproduksie as oorsprong verwys, blyk dit dat tekens in die orde van produksie afwesigheid van die oorspronklike werklikheid versluier. Hiermee word bedoel dat die werklikheid as oorspronklike in die orde van produksie versluier word deur gekopieerde tekens wat hulself as die oorspronklike voorhou. In samehang hiermee verander die waarde van tekens in die orde van produksie omdat die betekenis van tekens afhanklik is van mekaar as oorsprong (omrede hulle geen betekenis buite die produksielyn het nie). Hiervolgens is tekens se waarde afhanklik van produksie en die potensiaal wat ’n teken het om geproduseer te word.

Baudrillard (1998 [1981]:170) assosieer die orde van produksie met die derde fase van die beeld – beelde wat die afwesigheid van die werklikheid versluier. Hy bring

beelde in die orde van produksie in verband met Walter Benjamin (1892-1940) se ondersoek na die effek van reproduksie op kuns. Benjamin (2006 [1936]:19-22) stel dat die kunsproduksie deur reproduksie vervang word, waarvolgens die finale uitkoms van die gereproduseerde objek of kunswerk verander na gelang van die reproduksie van identiese kopieë. Laasgenoemde hou verband met die bogenoemde tekens, waaruit identiese kopieë deur reeksproduksie geproduseer word, wat die verskil tussen die oorspronklike en kopie vernietig. Bogenoemde vooruitgang in tegnologie tydens die Industriële Revolusie het nuwe maniere om beelde te produseer na vore gebring – byvoorbeeld fotografie en drukkuns – wat die produksie van identiese kopieë van kunswerke moontlik maak. Die skep van beelde in die derde fase van die beeld verander van klassieke produktiwiteit (soos te sien in die orde van nabootsing) na reproduksie van eenderse kopieë van beelde. Hiervolgens verander die waarde van dié tipe kunswerke omdat dit aan meer mense beskikbaar word, teenoor een kunswerk as ʼn kopie van die oorspronklike werklikheid in die vorige fases van die beeld. Tegnieke soos fotografie en drukkuns om beelde eindeloos te reproduseer dra by tot die vervaging tussen die kopie en die oorspronklike beeld. Alhoewel die verskil tussen die kopie en die oorspronklike verminder, bly daar ʼn verwantskap tussen die kopie en die oorspronklike in die orde van produksie.

Ter samevatting: in die orde van produksie blyk dit dat die waarde van tekens op kommersiële waardesisteme gebaseer is. Vanweë die ontwikkeling van meganiese produksielyne word gekopieerde tekens, wat identies aan mekaar is, deur masjinerie geproduseer. Hiervolgens word die mens as oorspronklike skepper deur masjinerie vervang en die produksielyn word die oorsprong van tekens. Ingevolge hiervan verwys tekens na mekaar as die oorspronklike. Na aanleiding hiervan veronderstel Baudrillard dat werklikheid as oorspronklike versluier word in die orde van produksie omdat tekens hulself as die oorspronklike voorhou. In dié verband word die waarde van tekens deur die reproduksie van kopieë bepaal, waarvolgens tekens se betekenis deur hul verhouding met mekaar gegenereer word – eerder as deur die teken se verbintenis met die oorspronklike. Waarop dit neerkom, is dat tekens bevry word om na die oorspronklike te verwys omdat die oorspronklike werklikheid in dié orde versluier word. In die hieropvolgende orde van simulasie word die bevryding van tekens om na die oorspronklike te verwys voortgesit tot op die punt waar tekens nie meer na die

oorspronklike verwys nie, maar eerder na ’n gesimuleerde weergawe van die oorspronklike. Die volgende gedeelte van die hoofstuk rig die ondersoek na die orde van simulasie, waartydens die simulakrum ontstaan.