• No results found

Die publikasie Waar kom ons Afrikaanse Gesange vandaan? (1982)

Suid-Afrika

5.6. Die publikasie Waar kom ons Afrikaanse Gesange vandaan? (1982)

Soos reeds genoem onder 1.1.2. en 3.1., het Cillié deur sy openbare lesings en sy geskrifte in tydskrifte en dagblaaie 'n onberekenbare rol gespeel ten opsigte van Gereformeerde kerkmusiek in Suid-Afrika. Dit was egter deur sy publikasie Waar kom

ons Afrikaanse Gesange vandaan? dat Cillié, ná 'n leeftyd se navorsing oor hierdie

onderwerp, 'n monumentale werk oor die herkoms van die Afrikaanse gesange die lig laat sien het.

Toe Cillié aan die begin van 1977 aangestel is as dosent in Kerkmusiek in die Departement van Musiek aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, was een van sy opdragte 'n publikasie wat die agtergrond van die gesange bespreek.14 Omdat die liedere verteenwoordigend is van die Christelike kerk sedert sy ontstaan tot op die huidige, het die studie hom in aanraking gebring met 'n groot verskeidenheid digters en komponiste

en moes hy kennis neem van geestelike en teologiese strominge om die liedere ten volle te begryp (Cillié, 1982c:7). By elk van die 353 gesange word die naam van 'n persoon gegee wat na Cillié se beste wete verantwoordelik was vir die Afrikaanse teks, hetsy as hersiener, vertaler, of oorspronklike digter en in sekere gevalle word meer as een naam verskaf.

In die eerste deel word 'n bondige, dog feiteryke oorsig gegee van die geskiedenis en ontwikkeling van die gewyde en kerklied van die Bybelse tye af, deur die vroeë kerk heen, die Middeleeue, laat-Middeleeue en Kerkhervorming tot by die verskyning van die Afrikaanse Psalm- en Gesangeboek van 1937/1943 en daarna die Psalm- en Gesangeboek van 1976/1978 (Botha, 1983:8).

Strydom (1983:33) evalueer die historiese gedeelte as bondig, maar baie insiggewend vir persone vir wie die geskiedenis van die kerklied deur die eeue tot op hede onbekend is. Volgens Strydom gaan die hoofstuk oor die Bybel en musiek egter mank aan teologiese begronding en is dit jammer dat daar enkele teologies-aanvegbare stellings gemaak word:

Dit is tog nie waar dat die Skrif 'n afwysende houding inneem teenoor die beeldhoukuns (of dan enige ander kunsvorm) nie. Dit is nie die bedoeling van die tweede gebod nie (p11). Wat maak ons dan met die gerubs wat op God se bevel op die versoendeksel van die ark aangebring is (Ex 25: 17–22)? Ek dink dit hou gevare in om die goddelike oorsprong van die 150 Ou Testamentiese Psalms te wil aflees uit die universaliteit waarmee hulle die mensdom aanspreek (p14). Dán het alles wat die mensdom universeel aanspreek 'n goddelike oorsprong – en dit kan tog nie! Die goddelike inspirasie van die Skrif / Psalms is slegs 'n saak van en vir die geloof.

Ten opsigte van die Nuwe Testament ag Strydom (1983:33) dit as 'n leemte dat die rol wat die evangelis Lukas gespeel het om vir die kerk van die eeue van sy belangrikste

ekumeniese liedere in sy Evangelie deur te gee, nie vermeld word nie. Strydom gee toe dat die genoemde tekortkominge baie te doen het met die “beknoptheid” waarmee die historiese stof aangebied word, maar hy sou 'n meer tendensieuse en minder atomistiese werkswyse wou sien.

Voorts is Strydom (1983:35) van mening dat daar soms te veel ruimte aan minder belangrike gebeure en feite afgestaan is. Hier word genoem die lang aanhalings oor Luther se hoë waardering van musiek. Strydom vra na 'n meer diepsinnige en omvattende hantering van dinge wat wesenlik van belang was in die ontwikkeling van die kerklied, soos die rol van die geestelike volkslied as spontane geloofsuiting, die piëtisme en rasionalisme om enkele voorbeelde te noem. Volgens Strydom sou sodanige hantering ook lig vanuit die geskiedenis kon werp op huidige probleme betreffende die kerklied. In die tweede deel van hierdie publikasie word volledige besonderhede oor die 353 gesange in die Afrikaanse Psalm- en Gesangboek van 1976/1978 gevind. Onder die nommer van die lied en die eerste reël van die teks, word 'n identifikasie van die melodie gegee. In die geval van die Duitse en Engelse melodieë is dit die name wat aan die melodieë in Duitse en Engelse versamelings respektiewelik gegee word. Cillié (1982c: 45) noem dat dit orreliste sal help om gepaste koraalverwerkings in buitelandse versamelings op te spoor. Dan volg kruisverwysings na ander liedere in die Psalm- en Gesangboek van 1976/1978 wat op dieselfde melodie gesing word. Oorspronklike digters, vertalers en komponiste se name en datums – sover bekend – word verskaf. Die besprekings van die teks en die melodie by elke lied bevat soms biografiese

besonderhede van die digters, vertalers of bewerkers en van die komponiste en / of persone wat die melodieë aangepas het (Cillié, 1982c:45). Vir Strydom (1983:35) is die groot waarde van die boek geleë in Deel II:

By die bespreking van die oorsprong van die tekste en melodieë word 'n magdom uiters belangrike, nuttige en interessante gegewens op 'n baie onderhoudende wyse aangebied. Die meeste daarvan lees soos 'n storie! Pittige mededelings maak die skeppers van (selfs ou) kerkliedere vir die leser tot mense van vlees en bloed (vergelyk byvoorbeeld die gegewens oor S S Wesley by Ges 333). In die 493 bladsye wat hierdie deel beslaan, kry ons gesange (bekendes en onbekendes) vir 'n mens nuwe betekenis en word 'n nuwe liefde daarvoor gebore. Dit is net jammer dat die twintigste-eeuse Suid-Afrikaanse medewerkers tot die gesange bietjie afgeskeep word in die opsig dat daar weinig biografiese materiaal oor hulle gegee word. Die groot hoeveelheid gegewens wat die skrywer aan die leser gee, spreek deurgaans van diepgaande navorsing, wetenskaplike deeglikheid en feitelike juistheid.

Onder die opskrif “Uitvoering” het Cillié (1982c:45) by elke gesang aanduidings geplaas om die onervare orrelis van hulp te wees “en te verhoed dat hy in die groef verval om al sy liedere en strofes in die erediens op dieselfde manier te speel”. Strydom (1983:35) beskou hierdie aantekeninge as waardevol, indien 'n mens in gedagte hou dat dit 'n uiters relatiewe en subjektiewe saak is, waarby aspekte soos die betrokke orrelis, die besondere kerkgebou, die beskikbare instrument, asook die bepaalde gemeente en erediens-situasie ter sprake is.

Die publikasie is deur Botha (1983:8) as volg geresenseer:

Die boek kan sonder vrees vir teëspraak beskryf word as nog 'n pioneerspublikasie in Afrikaans. Vir die vakgebied Himnologie as sodanig, vir studente in die praktiese teologie en die kerkmusiek, vir leraar, orrelis, sangleier, ja ook vir die meelewende kerklidmaat, is hierdie boek van groot waarde – en vir prof. Gawie Cillié 'n persoonlike monument.

Ten spyte van bepaalde kritiese voorbehoud en die feit dat Cillié se sienings betreffende die Afrikaanse Gereformeerde kerklied oor die algemeen minder akkommoderend en

enger was as standpunte wat tans heers, het hy deur middel van sy openbare lesings, sy geskrifte in tydskrifte en dagblaaie, asook talle publikasies, 'n belangrike rol ten opsigte van die ontwikkeling van die Gereformeerde kerkmusiekgeskiedenis in Suid-Afrika gespeel. Sy liefde vir die Protestantse kerklied, sy deeglike navorsing oor die historiese verloop daarvan, asook navorsing oor die eienskappe waaraan die kerklied moet voldoen om waardige draer van Gods Woord te wees, het hom binne die tydvak van sy lewe as outoriteit op die gebied gevestig – iemand wat 'n uiters betekenisvolle bydrae gelewer het om mense bewus te maak van die noodsaaklikheid daarvan om die Gereformeerde kerklied-erfenis in Suid-Afrika te bewaar.

HOOFSTUK 6