• No results found

Cillié se bydrae tot volksmusiek

6.1. Cillié se betrokkenheid by die FAK

6.1.2. Bydrae tot publikasies van die FAK

• Die FAK-Volksangbundels (1961, 1979)2

Cillié het skeppend meegewerk aan die hersiening van beide die 1961 en 1979 FAK- Volksangbundels (Smith, 1981:16). Die eerste FAK-Volksangbundel het in 1937 verskyn (Van der Merwe, 1979:2). Die FAK het teen 1954 besluit om 'n hersiene uitgawe van die

FAK-Volksangbundel van 1937 uit te gee (Bothma, 1986:95). Dr. W. du P. Erlank het

twee name van persone wat kon help met die keuring van die ou en die nuwe liedere vir die hersiene Nuwe FAK-Sangbundel (1961) aan die FAK genoem, naamlik Philip McLachlan en Gawie Cillié (jr.) (Bothma, 1986:99).

2 Verwys na Bylae A en B vir komposisies en verwerkings deur Cillié wat in die FAK-Volksangbundels

Van den Berg (1986:10) noem dat, benewens die belangrike hulp wat Cillié ten opsigte van musiekverwerkings en tekswysigings verleen het, hy dikwels die pleitbesorger was vir die behoud van 'n lied. Waar dit die hersieningskomitee se beleid was om liedere wat in onbruik geraak het, wat baie selde gesing is, of om die een of ander rede nooit werklik inslag gevind het nie, te vervang of te skrap, was dit Cillié wat gepleit het vir die hersiening van musiek en/of woorde, veral waar die lied 'n interessante oorsprong of storie gehad het.

Namens die Uitvoerende Komitee van die FAK is Cillié ook gevra om 'n bedrag vas te stel waarvolgens vergoeding toegestaan kon word aan persone wat in opdrag van die FAK liedere vir die hersiene bundel twee- en driestemmig verwerk of getoonset het (Bothma, 1986:106). Cillié het self ook melodieë met gewyde woorde geskep vir die hersiene uitgawe. In opdrag van die Musiekkommissie het hy Afrikaanse liederwysies met gewyde woorde, in vierstemmige bewerking, uitgesoek vir opname in die hersiene

Nuwe FAK-Sangbundel (1961) (Bothma, 1986:121). Met die uitsondering van die musiek

van die liederwysie vir Psalm 130, wat reeds in die 1931-uitgawe van die Halleluja- bundel opgeneem is en waarvan die vierstemmige bewerking deur wyle prof. P.K. de Villiers gedoen is (Grové, 1982: 20), is al die melodieë deur homself opgeteken. In nege uit die elf gevalle is woorde geneem uit die Die berymde Psalms saam met die

Evangeliese Gesange (1937/1943). Die elf liedere was Psalm 6, Psalm 38, Psalm 126,

Psalm 130, Psalm 138, Gesang 27, Gesang 83, Gesang 84, Gesang 179, Lied van die

In 1960 was die hersiene Nuwe FAK-Sangbundel gereed vir die drukproses (Bothma, 1986:128) en vir die ingebruikneming daarvan is groot volksfeeste vir September 1960 in elke dorp en stad beplan. Ten opsigte van die reëlings vir die fees in Stellenbosch moes Cillié die leiding neem. Die idee was dat kore en soliste moes deelneem, terwyl 'n teks wat as dialoog en saambindende faktor tussen die liedere moes dien, vir elke afsonderlike dorp of stad geskep sou word. Mnr. Otto Jaekel van die Nasionale Boekhandel Beperk was so geesdriftig oor die publikasiemoontlikhede wat die Nuwe FAK-Sangbundel uit die beplande sangfeeste sou put, dat hy geen beswaar daarteen gehad het dat 'n paar van die liedere daaruit reeds vroeër in afgerolde vorm aan plaaslike verenigings beskikbaar gestel kon word nie. Hierdie afgerolde bundeltjie is Liedjies uit die Nuwe Volksangbundel genoem. Uit Cillié se hand het Dis heerlike lente (nr. 257, p. 358) hierin verskyn (Bothma, 1986:129–130). Tydens die sestiende tweejaarlikse FAK-kongres wat op 11–16 Julie 1962 in Durban gehou is, het Cillié namens die kongres dank uitgespreek teenoor die musiekkommissie vir die verskyning van die hersiene bundel (Bothma, 1986:136).

Die hersiene en verbeterde uitgawe van die Nuwe FAK-Sangbundel, bekend as die FAK-

Sangbundel, het in 1979, die feesjaar van die FAK, verskyn (Bothma, 1986:138). Die

FAK se Musiekkommissie, waaronder Cillié, het opgetree as redaksiekomitee van die bundel. Hierdie kommissie het vanaf 1974 tot 1978 aan die vernuwing van die bundel gewerk (Bothma, 1986:141).

Figuur 15:3 Die Musiekkommissie van die FAK rondom Anton Hartman se klavier waar hul

besig was met die afronding van die FAK-Sangbundel (1979). Van links na regs verskyn Chris Lamprecht, Philip McLachlan, Dirkie de Villiers, Gawie Cillié, Dolf van den Berg, Anton Hartman (voorsitter), John Pauw, Pierre Malan en Pieter van der Westhuizen.

• Die bundel Goud in die mond (1969)

Die bundel, Goud in die mond, bevat 15 koorstukke, almal verwerkings van bekende Afrikaanse liedjies 4. Al die verwerkings is vir praktiese doeleindes gemaak, hoofsaaklik

vir die Stellenbosse Studentesangfeeste. Gevolglik is die bydraes almal deeglik op die proef gestel en dikwels uitgevoer. Hartman resenseer die bundel as bevattende betreklik maklike en heel moeilike koorstukke. Die omvang van al die verskillende stemme is binne redelike perke gehou, die harmonieë konvensioneel, dog verbeeldingryk en daar is min werklik moeilike intervalle om te sing. As die aantreklikste eienskap van die bundel noem Hartman (1969:1–2) die verbeeldingryke, vernuftige en soms humoristiese aard van die verwerkings. Die stemme is melodies en ritmies onafhanklik en elke stem bevat interessante bewegings, sodat die melodie nie slegs vir die soprane gereserveer word nie. Die mans word veral begunstig met interessante partye. Stemme boots mekaar dikwels na en terwyl een stem die melodie sing, illustreer die ander stemme die teks. Ritmes word soms verskuif en gesinkopeer, die tempo verander soms onverwags (maar volgens Hartman (1969:2) met goeie rede en goeie effek) en die toonaard wissel soms.

• Die FAK- Kerkkoorboek (1968)

In die voorwoord tot die sewende druk van hierdie publikasie, bedank prof. H.B. Thom Cillié vir die bewaring van musiekwerke uit prof. F.W. Jannasch se versameling. Hy noem voorts dat Cillié hiermee 'n bydrae gelewer het waardeur die kulturele lewe van die Afrikaner blywend verryk is (Thom soos in Cillié, 1968b:i). Prof. Jannasch het vir sy kerkkoor op Stellenbosch 'n uitgebreide repertorium van koorstukke, geskik vir gebruik tydens die erediens en met feesgeleenthede, opgebou. Baie van die koorstukke is uit Duits vertaal, terwyl party eie komposisies was. Met hierdie publikasie is sewe stukke uit die Jannasch-versameling deur die FAK aan kerkkore beskikbaar gestel (Cillié, 1968b:i). Thom meld in sy verwelkomingswoord as voorsitter van die FAK by die kongres gehou op 30 September 1957 te Stellenbosch, dat die bundel baie gewild was. Die eerste oplaag (April 1957) was binne vyf maande uitverkoop (Bothma, 1986:110).

• Kantate: Die aarde behoort aan die Here (1968)

Hierdie kantate is in 1968 deur die FAK uitgegee. In die voorwoord tot kantate, skryf prof. H.B. Thom (Cillié, 1968c:ii), voorsitter van die FAK, onder andere:

Die behoefte aan kantates in Afrikaans is in ons kultuurlewe al dikwels gevoel. In die lig hiervan is dit seker nie vreemd dat dit veral die FAK is wat hom van die behoefte, asook van die noodsaaklikheid dat daarin voorsien word, bewus geword het nie. Hierdie kantate hou terdeë rekening met die vermoë van ons gemiddelde kerkkore, en ook met die tradisie van ons Afrikaanse kerkmusiek.