• No results found

Suid-Afrika

5.2. Cillié se standpunte ten opsigte van Die berymde Psalms saam met die

5.2.3. Die Geneefse psalmmelodieë

Die invloed wat sy eertydse leermeester, F.W. Jannasch, asook sy moeder deur middel van hul liefde en waardering vir die Protestantse kerklied op hom uitgeoefen het, kan dwarsdeur Cillié se loopbaan as kerkmusikus waargeneem word. Vir Cillié moes die kerklied te alle tye beantwoord aan die eise van soberheid en eenvoud en moes dit diep ernstig en God-gerig wees. Juis om hierdie rede beskou Cillié die Geneefse melodieë as “ideale en onopvallende draers van die woorde van die psalms” (Cillié, ongepubliseerde artikel b:5).

Gedurende die negentiende eeu het daar egter herhaalde kere voorstelle voor die Kaapse Sinode gedien rakende die sogenoemde “onsingbaarheid” van baie van die Geneefse melodieë (Cillié, 1969a:8). Die problematiese aspekte wat hiertoe aanleiding gegee het, word in die volgende saamgevat:

(i) Teenoor die kerkmodi wat gebruik is in die jare toe hierdie melodieë hulle ontstaan gehad het (1539–1562), word tans van majeur- en mineurtoonsoorte gebruik gemaak.

(ii) Marot en Beza het by baie van hulle berymings van die psalms 'n redelike lang versvorm gekies.

(iii) Aangesien herhalings nie altyd voorgekom het nie, was die melodie soms baie ingewikkeld (Cillié, 1969a:8).

Alhoewel spronge oor die algemeen vermy is en die melodie-omvang binne perke bly, soos bo vermeld, het die gewoonte mettertyd ontstaan om die psalms slepend en met ewe lang note te sing, in plaas van veerkragtig met kort en lang note soos hulle in die tyd van die Kerkhervorming uitgevoer is (Cillié, 1944b:41).

Cillié was dus bewus daarvan dat daar problematiese aspekte in die Geneefse melodieë aanwesig was, wat dit vir die gemiddelde lidmaat moeilik singbaar gemaak het. Tog het sy geloof in die krag van hierdie melodieë as draers van die Woord van God en sy onblusbare hoop dat hierdie liedere meer inslag by gemeentelede sou vind, hom sekere voorstelle aan die hand laat doen.

Vanweë die modale aard van die melodieë was die kerkmodi dwarsdeur die Middeleeue en tot na die tyd van die Kerkhervorming in die sestiende eeu, die grondslag van die kerkmelodieë (Cillié, ongepubliseerde artikel b: 10–11). Aangesien Klassieke en Romantiese musiek op slegs 2 toonreekse gebaseer is, nl. majeur en mineur, het die vroeë psalmmelodië, 'n groter verskeidenheid van karakter gebied. Die ouer liedere was bedoel was om eenstemmig, sonder enige begeleiding, gesing te word. Uit geskrifte soos dié van die digter Constantijn Huygens, blyk egter dat dié manier van psalmsang in die erediens mettertyd nie meer geslaagd was nie. Cillié (ongepubliseerde artikel b:10–11) meld egter

dat, solank as wat die gemeentes klein was, die sang sonder leiding kon slaag. Met 'n toename in getalle, en met die vergadering van gemeentes in groter ruimtes, het onbegeleide gemeentesang steeds meer problematies geword.

Ofskoon orrelbegeleiding op hierdie vraagstuk 'n antwoord kon bied, het dit weer die problematiek van die keuse van harmonisasie na vore gebring. Cillié (ongepubliseerde artikel b:10–11) noem dat orreliste in Nederland min of meer “stylgetrou” probeer bly het, met ander woorde in meerdere of mindere mate van modale harmonisering gebruik gemaak het, maar dat in Suid-Afrika melodieë volgens majeur- en mineurtoonlere geharmoniseer is. Alhoewel die immigrasie van 'n hele aantal goed opgeleide Hollandse orreliste na Suid-Afrika baie gedoen het vir die herlewing van die modale harmonieë, spreek Cillié die vrees uit dat 'n forsering van modale begeleiding moontlik die gemeentesang nadelig kon beïnvloed. Hy sluit by die suiwere beginselstandpunt in hierdie saak aan wanneer hy noem dat die psalms eenstemmig, ongeharmoniseerd en sonder begeleiding gesing behoort te word. Daarin is geen sprake van harmonie nie. Die oomblik wanneer die psalms geharmoniseer en met begeleiding gesing word, al geskied dit op welke wyse, word van die suiwer standpunt afgewyk. Deurslaggewend vir Cillié bly egter die vraag na die vorm waarin gemeentes die psalms die beste sing. Hy het geglo dat die ou kerkmodi eers algemene musiektaal moes word, voordat mense die streng modale toonaarde sou aanvaar (Cillié, ongepubliseerde artikel b:10–11). Aangaande die harmonisasie van die Geneefse psalmmelodieë doen Cillié (ongepubliseerde artikel b:15– 16) aan die hand dat stroperige, chromatiese harmonieë vermy moet word.

'n Tweede aspek wat aandag verdien het en waarteen Cillié sterk standpunt ingeneem het, was die verwarring oor die ritmiese uitvoeringspraktyk van die Geneefse melodieë. Cillié (ongepubliseerde artikel b:16) het sterk daarvoor gepleit dat die ritmiese uitvoeringspraktyk in ongelyke nootwaardes dwarsdeur die Afrikaanse gereformeerde kerke aanvaar en beoefen sou word. Voorts was hy 'n voorstander daarvan dat die vorms wat vir die verskillende psalms aanvaar sou word, so na as moontlik aan die oorspronklike moes wees, sonder dat gemeentes met te veel ingewikkelde patrone gekonfronteer sou word. Ten gunste van die wisselende nootwaardes het Cillié (ongepubliseerde artikel c:8–10) daarop gewys dat “dit 'n mens in staat stel om meer verse in dieselfde tyd te sing, sonder dat die indruk van gejaagdheid geskep word”. Hy was daarvan oortuig dat mense die psalms veel hartliker en ook makliker kan sing met ongelyke nootwaardes en het ook gemeen dat die plegtigheid daardeur verhoog kon word.

Die werkbaarheid en standhoudendheid van Cillié se standpunte aangaande bogenoemde blyk duidelik uit die feit dat daar in die Liedboek van die Kerk (2001) heelwat Geneefse melodieë behoue gebly het, wat steeds met lus deur baie gemeentes gesing word. Enkele voorbeelde hiervan is Psalms 25, 66 en 42.