• No results found

Een van die faktore hierbo vermeld wat aanduidend is van konsolidasie, is populêre legitimiteit. Dit is dus belangrik om ag te slaan op wat die rol van die gemeenskap in konsolidasie is. Hierbo het die rol van die burgerlike gemeenskap ook dikwels in die begrip van konsolidasie ter sprake gekom. Hier kan gevolglik verwys word na die gemeenskap, die mense, die burgery, die burgerlike gemeenskap, ens. Dit is op ʼn sekere vlak nie beperkend hoe hierdie terme afgebaken word nie, aangesien daar ʼn besliste oorvleueling is wat ons ook weer terugverwys na die bespreking van demokrasie in Hoofstuk 2 en 3.

Diamond (1994) bespreek die rol van die burgerlike samelewing met betrekking tot demokratiese konsolidasie uit ʼn liberaal-demokratiese perspektief en gee in hierdie bespreking aan die burgerlike gemeenskap ʼn organisatoriese karakter. Die bespreking vertoon egter wel ʼn dualistiese karakter deurdat die burgerlike samelewing wel by implikasie aan “the people” en meer spontane opwellings van die demokratiese impuls gekoppel word. Maar dit is moontlik juis hierdie ongeorganiseerdheid van die breër burgerlike gemeenskap wat Diamond as ʼn apologeet van die liberale demokrasie genoop laat voel om orde en organisering aan die verskynsel te wil bied. Terselfdertyd is hierdie verskynsel aanduidend van die kontestasie wat op vele vlakke in die demokrasie na vore tree, ook intern binne die gemeenskap en tussen die gemeenskap, instellings en die owerheid.

Diamond (1994:5) meen dat die burgerlike gemeenskap van die samelewing in die algemeen onderskei kan word deurdat dit burgers betrek wat kollektief in die openbare ruimte optree om hul idees, passies en belange uit te druk, idees uit te ruil, gedeelde doelwitte te bereik, eise teenoor die staat te stel en amptenare verantwoordbaar te hou. Schmitter (1992:426)40 verwys daarna dat: “Citizenship…is

not confined to voting periodically in elections. It also can be exercised by influencing the selection of candidates, joining associations or movements, petitioning authorities, engaging in ‘unconcentional’ protests, and so forth”. Die burgerlike gemeenskap is dus ʼn tussenruimte tussen die staat en die private ruimte, wat individuele belange, sakebelange en ook politieke pogings om beheer oor die staat oor te neem, uitsluit. Die burgerlike samelewing beperk dus die mag van die staat, maar legitimeer ook staatsgesag wanneer laasgenoemde binne die oppergesag van

109 die reg gesitueer is. In hierdie begrip van die burgerlike samelewing is ʼn aantal sake vir hierdie studie van belang, soos die kollektiwiteit van optrede, die stel van eise en die verantwoordbaarheidskwessie. Hierdie sake kan ook, myns insiens, verbind word met populêre soewereiniteit, die demokrasie soos in hierdie studie verstaan en soos, in die volgende hoofstukke sal blyk, die uitlewing hiervan binne wykskomitees en protes in die plaaslike regeringsfeer.

Verder kan die beperking van staatsgesag, myns insiens, ook met die bespreking van plaaslike regering in Hoofstuk 2 verbind word waar na plaaslike regering as ʼn teenpool van mag teenoor sentrale regering verwys is. Dit kan gevolglik geargumenteer word dat, behalwe die magsteenpool wat plaaslike regering as staatsorgaan in die demokrasie kan wees, die plaaslike wisselwerking met die burgerlike gemeenskap hierdie magsteenpool kan versterk en ook verdere bewys kan lewer van die nodigheid van die wisselwerking van verteenwoordigende en deelnemende demokrasie.

Wat egter weer beklemtoon moet word, is dat Diamond (1994:5) en andere (sien byvoorbeeld Gill, 2000 hierbo) die burgerlike samelewing dikwels organisatories verstaan as verskillende organisasies en instellings wat agiteer vir menseregte, vryheid van spraak, ens. Die posisie wat in hierdie studie ingeneem word, is eerder breër van aard en om nie die burgerlike samelewing in te bind in organisatoriese vorm nie, maar eerder die moontlikheid voor te hou van ʼn vaagheid op die grense van organisatoriese indelings en die breër gemeenskap. Dit sal duidelik blyk uit die bespreking van wykskomitees en protes dat aan die kenmerke hierbo genoem, voldoen word, maar dat in die konteks van dit wat in hierdie studie bestudeer word, die “klassieke” liberaal demokratiese begrip van die burgerlike samelewing nie so noupassend is nie.

Diamond (1994) bespreek ʼn aantal demokratiese funksies van die burgerlike samelewing, soos die beperking van mag van demokratiese regerings en hy stel dit dat: “Indeed, a vibrant civil society is probably more essential for consolidating and maintaining democracy than for initiating it” (1994:7). Hy beklemtoon ook die belang vir deelname deur te verwys na: “...a rich associational life supplements the role of political parties in stimulating participation, increasing the political efficacy and skill of democratic citizens, and promoting an appreciation of the obligations as well as the

110 rights of democratic citizenship” (1994:7-8). ʼn Verdere funksie wat aangetoon kan word, is die artikulasie van belange wat in die institusionele konteks uitgesluit word, soos ook die van vroue en minderhede, waarby, myns insiens, gevoeg kan word ekonomiese uitsluiting by wyse van armoede en werkloosheid. Dit geld ook in demokrasieë soos Suid-Afrika, waar bevryding ʼn fokus op insluiting gehad het, maar waar die instellings van die staat en politieke partye oor tyd ʼn neiging blyk te vertoon wat weer op uitsluiting en elitisme neerkom, terwyl die druk toenemend met betrekking tot ekonomiese insluiting en die aanspreek van armoede toeneem. Diamond (1994:8) meen dat: “Only with sustained, organised pressure from below, civil society, can political and social equality be advanced, and the quality, responsiveness, and legitimacy of democracy thus be deepened”. Hierby sou ekonomiese gelykheid ook gevoeg kon word.

Daar is vroeër genoem dat die fokus van studies met betrekking tot konsolidasie dikwels van makro-aard is, maar Diamond (1994:8-9) beklemtoon die belang van die plaaslike. Hy stel dit dat: “Civil society provides an especially strong foundation for democracy when it generates opportunities for participation and influence at all levels of governance, not least the local level. For it is at the local level that the historically marginalised are most likely to be able to affect public policy and to develop a sense of efficacy as well as actual political skills. The democratization (en ook, myns insiens, demokratiese konsolidasie) of local government thus goes hand in hand with the development of civil society as an important condition for the deepening of democracy...”.

Die mense-gedrewenheid, of die gesetelheid van konsolidasie in die burgery blyk dus duidelik uit hierdie klem op die burgerlike gemeenskap en in verband met die begrip van demokrasie wat in hierdie studie toepassing vind.

4. GEVOLGTREKKING

In hierdie hoofstuk is die konsep van demokratiese konsolidasie bespreek ten einde ʼn verwysingspunt te ontwikkel waaraan demokrasie geanker kan word. In ʼn staat soos Suid-Afrika, as ʼn nuwe demokrasie, is die volhoubaarheid van demokrasie nog nie ʼn voldonge feit nie. Ook dan in die lig van die twee aspekte in die konteks van die plaaslike regeringsfeer, naamlik wykskomitees en protes, wat in hierdie studie

111 bespreek word, is dit nodig om dit aan ʼn begrip van konsolidasie te meet ten einde die volhoubaarheid van demokrasie te bepaal.

Hierdie hoofstuk het ʼn aanduiding gegee van die ontwikkeling van die konsep demokratiese konsolidasie waaruit dit geblyk het dat konsolidasie nie op ʼn eenvoudige wyse, byvoorbeeld deur die “two-turn-over”-toets, bepaal kan word nie, maar dat dieperliggende kwessies ter sprake is, wat met die begrip van demokrasie en ook die wisselwerking daarvan met die gemeenskap verband hou. In wese is dit ʼn gekontesteerde konsep. Wat ook onderliggend hiertoe is, is die wedersydse afhanklikheid van die institusionele konteks (soos vergestalt in die minimalistiese begrip van demokrasie en ook konsolidasie) en ook die substantiewe konteks (soos vergestalt in die betrokkenheid van die gemeenskap en die inbedding van demokratiese waardes ten einde konsolidasie moontlik te maak). In hierdie verband kan ook weer terugverwys word na die Figuur 2.3 aan die einde van Hoofstuk 2.

Daar is ook in hierdie hoofstuk aandag geskenk aan ʼn breër begrip van die burgerlike gemeenskap ten einde die substantiewe aard van demokratiese konsolidasie asook die verbandhoudendheid daarvan in die konteks van plaaslike regering waar die wisselwerking met die gemeenskap veral na vore tree, te beklemtoon.

Met inagneming van bogenoemde het dit duidelik geblyk dat ʼn aantal spesifieke aanduiders van demokratiese konsolidasie op plaaslike regering toegepas kan word. Veral ter sprake is:

 populêre legitimiteit;

 verspreiding van demokratiese waardes;

 instellings van meganismes van direkte demokrasie;  verligting van armoede; en

 neutralisering van anti-stelsel akteurs.

In samehang met hierdie aanduiders is die voorwaardes wat Linz en Stepan formuleer en hierbo na verwys van belang. Daar bestaan dus ʼn kompleks van aspekte wat oorweeg moet word wanneer ʼn oordeel oor demokratiese konsolidasie

112 gemaak wil word. Verder van belang is die idee van ʼn normatiewe gesag wat dit wat konsolidasie is of impliseer, aanneem. Die begrip (of betekenis) van konsolidasie word die leidmotief van die demokrasie, of wat dit behoort te wees. Hier is ook, gegewe die kompleksiteit van hierdie verskynsel, sprake van ʼn geleidelike konsolidering. Encarnación (2000:495) verwys na Sklar wat meen dat die benadering moet wees: “that we abandon the concern with pinpointing the precise moment when democracy becomes consolidated and worry more about its progress...as a political system that emerges gradually in fragments or parts and that is capable of becoming more inclusive, responsive and accountable”.

Hierdie kompleks van aspekte staan in ʼn wedersydse verhouding tot mekaar en tot ondersteuning van populêre soewereiniteit, soos Olukushi hierbo na verwys. Deur oorweging te gee aan die aanduiders en voorwaardes waarna in hierdie hoofstuk verwys word, binne ʼn konteks van ʼn proses van konsolidasie en binne die groter begrip van die aard van demokrasie, soos veral teen die einde van die vorige hoofstuk geblyk het, en waarin die konvensionele verhouding van demokratiese konsolidasie met liberale demokrasie gekontesteer word, sal hierdie studie in die volgende hoofstukke met demokratiese konsolidasie in gesprek tree ten einde ʼn posisie ten opsigte van konsolidasie van demokrasie in Suid-Afrika te artikuleer. In Hoofstuk 3 is aangetoon dat die strydende Idee van Demokrasie met die strydende Praktyk daarvan verband hou. Dit word in Figuur 4.1 aangedui.

Implementering van Idee

Effek van Praktyk

Figuur 4.1 Demokrasie: Strydende Demokrasie Die strydende Idee van Demokrasie Die strydende Praktyk van Demokrasie Wykskomitees en Protes

113

•Die plaaslike burgery omarm demokrasie op ’n assosiatiewe aktiewe wyse.

•Die plaaslike burgery verlang ’n burger-gerigte benadering van die regering se kant af. (Dit beteken dat van die regering

verantwoordbaarheid, beskerming, billike hantering, basiese dienste, deursigtigheid en verligting van armoede verwag word.)

In Figuur 4.2 word die analitiese raamwerk van hierdie studie, soos spruit uit hierdie hoofstuk, uiteengesit. Soos aangedui in Hoofstuk 3 is demokrasie as Idee en Praktyk ʼn strydende proses en dit geld ook vir die plaaslike sfeer. Die afloop van hierdie stryd kan demokrasie konsolideer as die burgery in die Idee en Praktyk se stryd demokrasie op ʼn assosiatiewe wyse omarm en ’n burger-gerigte benadering van die regering se kant af verlang. (Dit beteken dat van die regering verantwoordbaarheid, beskerming, billike hantering, basiese dienste, deursigtigheid en verligting van armoede verwag word.)

Implementering van Idee

Effek van Praktyk

Figuur 4.2 Plaaslike demokrasie: ʼn Strydende proses Die strydende Idee van Demokrasie Die strydende Praktyk van Demokrasie Wykskomitees en Protes

114

HOOFSTUK 5

WYKSKOMITEES AS VORM VAN DEMOKRATIESE DEELNAME

1. INLEIDING

Die oogmerk van hierdie hoofstuk is om die geïnstitusionaliseerde plaaslike deelnameproses te analiseer. In hierdie hoofstuk word een vorm van deelname aan die demokrasie in die plaaslike regeringsfeer binne die konteks van vereistes van demokratiese konsolidasie beskryf, geanaliseer en geëvalueer. Die fokus van hierdie hoofstuk val dus op wykskomitees, wat een van die sentrale elemente van hierdie studie vorm, soos in die inleidende hoofstuk aangetoon. Daar is wel ʼn aantal ander deelnameprosesse wat binne die institusionele betrekkingsruimte van belang is, soos die geïntegreerde ontwikkelingsbeplanningsproses en munisipale prestasiebestuur. Ter wille van volledigheid en ter beklemtoning van die deelnemende aard van plaaslike regering sal daaraan ook kortliks aandag geskenk word. Hierdie bespreking word gekontekstualiseer deur ʼn tipologie van deelname wat dit moontlik maak om die relatiewe impak en belangrikheid van veral wykskomitees te oorweeg. Die fokus op wykskomitees word verdiep deur die gebruikmaking van etlike studies wat reeds onderneem en gepubliseer is en die instelling van wykskomitees ondersoek.