• No results found

Ander geïnstitusionaliseerde vorme van openbare deelname

3. INSTITUSIONEEL MEER BEPERKTE VORME VAN DEELNAME

3.2 Ander geïnstitusionaliseerde vorme van openbare deelname

Alhoewel die fokus van hierdie studie op wykskomitees val, word dit belangrik geag om kortliks aandag te gee aan ander geïnstitusionaliseerde vorme van openbare deelname in plaaslike regering, waarna ook hierbo verwys is. Dit veral teen die agtergrond van artikel 16 van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels, 2000 waar dit in subartikel 1 gestel word dat:

“A municipality must develop a culture of municipal governance that complements formal representative government with a system of participatory governance...”.

125 In die konteks van hierdie subartikel word verder spesifiek verwys na die prosesse wat vervolgens bespreek sal word en as komplimentêr tot wykskomitees beskou kan word.

3.2.1 Geïntegreerde ontwikkelingsbeplanning

Mathekga (2006:98) verwys daarna dat: “Theoretically, the importance of community incorporation is well captured in the legislative framework, hence the government’s idea of ‘integrated development planning’ which states that ‘local government must be committed to work with citizens and groups within the community to find ways to meet their social, economic and material needs and improve the quality of their lives”.

Reddy (2010:71) beklemtoon ook die Geïntegreerde ontwikkelingsbeplanning (GOP)-proses en meld dat die GOP plaaslike prioriteite belig en verseker dat beskikbare hulpbronne effektief in dienslewering aangewend word. Ingevolge die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels, 2000 moet ʼn prosesplan vir die opstel, aanvaarding en hersiening van die GOP opgestel en die plaaslike gemeenskap gekonsulteer word alvorens dit aanvaar word. Die GOP verteenwoordig dus geïnstitusionaliseerde deelname met gestruktureerde skakeling en ʼn openbare forum vir die bespreking van veral diensleweringskwessies.

3.2.2 Prestasiebestuurstelsel

Samelopend met die geïntegreerde ontwikkelingsbeplanningsproses is die munisipale prestasiebestuurstelsel. Daar word van elke munisipaliteit verwag om ʼn plaaslike stelsel in ooreenstemming met sy bronne en omstandighede te ontwikkel, aan prioriteite, oogmerke, indikatore en teikens wat in die GOP vervat is, gehoor te gee en, ook belangrik, om ʼn kultuur van prestasiebestuur binne sy strukture te bevorder met die beklemtoning van “efficiency, effectiveness and accountability”. Daar word ook voorsiening gemaak vir gemeenskapsbetrokkenheid en interne belanghebber-betrokkenheid by die daarstel van sleutel prestasie-aanwysers (KPI’s – key performance indicators) (Reddy, 2010:73). Van belang in die konteks van hierdie studie is die beginsel van verantwoordbaarheid, deurdat die gemeenskap en by implikasie populêre soewereiniteit daardeur erken word. In hierdie sin dra dit dus by tot die onderskraging van deelnemende demokrasie.

126

3.2.3 Kontraktering van dienslewering

Dienslewering hoef nie alleen deur staatsinstellings behartig te word nie. Ander partye kan hierby betrek word. Hierdie terrein bly ʼn onontginde moontlikheid om (plaaslike) demokrasie te verdiep en moontlike oplossings te bied vir die geweldige probleme wat deur Suid-Afrika met betrekking tot dienslewering, werkloosheid, armoede en selfs die ontwikkeling van ʼn kollektiewe bewussyn as gemeenskap ervaar word. Reddy (2010:74) verwys daarna dat: “Local direct involvement can be positive and beneficial, in rural and low-income communities in particular”.

Die munisipaliteit bly in beheer van dienslewering as diensleweringsgesag, maar ʼn afsonderlike diensverskaffer kan aangestel word. Hierdie benadering kan bydra tot die handhawing van standaarde, billikheid van tariewe, ens. Terwyl dit die druk van die munisipale owerheid verlig ten opsigte van die lewering van dienste waarvoor kundigheid in die openbare sektor moontlik te kort skiet. Verder is dit uiteraard ʼn ruimte waar die gemeenskap betrek kan word en wat tot (minstens) beter begrip in die arena van dienslewering kan lei.

Maar dit is inderdaad die probleme wat munisipaliteite self in die gesig staar, soos gebrek aan kapasiteit, kundigheid, ens., wat ook deur ander potensiële diensverskaffers ervaar word, ook die wat gemeenskapsgebaseerd is. Bykomend hiertoe kan die sake wat reeds algemene woordeskat geword het in die bestuurskonteks, soos die nodigheid om geïntegreerd te werk, leierskap, ens. bydra tot die verdieping van elemente van demokrasie indien ʼn “collabaritive capacity” (Reddy, 2010:74) geskep word.

3.2.4 Munisipale begroting

Munisipale begroting vereis ook ʼn deelnemende proses en wetgewing in hierdie verband vereis dat met die gemeenskap gekonsulteer word. In hierdie proses is daar dus ruimte vir samewerking ten einde die behoeftes van die gemeenskap te identifiseer en prioritiseer. Die begrotingsproses bied ook ʼn ruimte vir die onderrigfunksie van plaaslike demokrasie, indien weer op Mill, waarna in vorige hoofstukke verwys is, ag geslaan word. Inderdaad dui Reddy (2010:82) ook aan dat hy “civic education” as ʼn uitdaging vir plaaslike regering sien en stel dit dat: “…local communities are not au fait with their civic obligations. Local democracy is a new concept. Proportional representation voting has had a negative effect on the system, as councillors are accountable only to their political parties”.

127 Ter afsluiting van hierdie bespreking kan dit gestel word dat dit ten doel was om die instelling van wykskomitees kortliks as ʼn institusionele vorm van deelname met bepaalde funksies te bespreek en kontekstualiseer. Teen die agtergrond van die tipologie van deelname vroeër in hierdie hoofstuk kan ook aangevoer word dat wykskomitees ʼn posisie op die rangleer van deelname beklee wat in reikwydte tog beperk en afgebaken is. Dit is duidelik dat daar ʼn verbintenis tot openbare deelname is, maar dat die omarming van ʼn vennootskap of verbond met die gemeenskap beperk word deur die wipplank ry tussen plaaslike regeerkundigheid (“governance”) en plaaslike demokrasie, enersyds, en verder met betrekking tot die funksies van wykskomitees wat nie as sover tot ʼn soort magsdeling strek nie.

Die geïntegreerdheid van deelname in plaaslike regering word deur ander prosesse soos die GOP en die munisipale begroting ondersteun en om hierdie rede is kortliks hierna verwys. Die funksies van wykskomitees, soos hierbo na verwys, het dan ook op hierdie komplimentêre prosesse betrekking.

Wykskomitees as instelling vertoon dus ʼn onvervuldheid in terme van die belofte van deelname deurdat dit institusioneel en funksioneel beperkend is as ʼn betrekkingsruimte tot die eenkantigheid van verteenwoordigende demokrasie.