• No results found

Demokrasie en plaaslike regering in internasionale konteks

3. PLAASLIKE REGERING

3.4 Demokrasie en plaaslike regering in internasionale konteks

In hierdie afdeling sal oorsigtelik aan die manifestasie van demokrasie in plaaslike regering in verskillende staatlike kontekste aandag geskenk word. Dit is voor die handliggend dat demokrasie op verskillende wyses in verskillende wêrelddele sal manifesteer aangesien dit sekerlik aan spesifieke geskiedenisse asook eiesoortige politieke kultuur verbind kan word. Wat hierdie afdeling betref, word gefokus op die VSA konteks (die VK is reeds hierbo na verwys), waarna opmerkings met betrekking tot plaaslike regering in Europa gemaak sal word. Hierdie groeperings

58 verteenwoordig dan die Noordelike of hoofstroom posisie. ʼn Bespreking van Suid- Amerika bied dan die teenwig hiertoe met betrekking tot die artikulasie van ʼn Suidelike of alternatiewe posisie. Die oogmerk in hierdie internasionale kontekstualisering is nie om plaaslike regering as stelsel in verskillende wêrelddele te bespreek nie, maar bloot om internasionale kontoere met betrekking tot demokrasie en plaaslike regering te trek.

3.4.1 Demokrasie en plaaslike regering in die VSA konteks

Wolman (1996:159) dui aan dat: “The bedrock of American local democratic theory is that the role of the local government is to reflect the will of the people, and that direct individual participation in local government is the best means of achieving this end”. Hy dui verder daarop dat Thomas Jefferson se idee van die soewereiniteit van die individu die beweegkrag agter Amerikaanse munisipale regering is. Jefferson het inderdaad ʼn wykstelsel gepropageer waarin wyke klein genoeg sou wees om elke burger in staat te stel om wyksvergaderings by te woon en persoonlik op te tree. Jefferson word deur Wolman (1996:159) aangehaal as dat: “These wards, called townships in New England, are the vital principles of their governments, and have proved themselves the wisest invention ever devised by the wit of man for the perfect exercise of self-government and for its preservation”.

De Tocqueville (soos aangehaal deur Wolman, 1996:160), beskryf ook New England plaaslike regering soos volg:

“In the township, as well as everywhere else, the people are the source of power; but nowhere do they exercise their power more immediately. In America the people form a master who must be obeyed to the utmost limits of possibility...in the townships, where the legislative and administrative action of the government is nearer to the governed (than at state level), the system of representation is not adopted. There is no municipal council; but the body of voters, after having chosen its magistrates, directs them in everything that exceeds the simple and ordinary execution of the laws of the state”.

Wolman (1996:160) meen verder dat die individuele deelname wat vir Jefferson en De Tocqueville so van belang was, geregverdig word deur ʼn fundamentele kenmerk van republikanisme, te wete dat alle gesag by die mense resorteer: die mense moet

59 dus heers. In die konteks van hierdie studie sou dit aan die konsep van populêre soewereiniteit gelyk gestel kon word.

Hierteenoor staan die pluralistiese visie waarvolgens “local democracy consists of the expression of and conflict among diverse views and values held by contending groups attempting to shape local government decisions to meet their ends, with all- important groups having the ability to gain access to and exercise some degree of influence over decision-makers...In the context of representative rather than direct democracy, the relevant unit of participation shifted from the individual to the group and focussed concern on the representation of interests of various groups through local government” (Wolman, 1996:160-161). Wat hier egter duidelik blyk, is ʼn klemverskil met die pluraliteit wat, myns insiens, byvoorbeeld in Suid-Afrika waarneembaar is. Die Amerikaanse pluraliteit verteenwoordig groepbelange wat waarskynlik eintlik elite-belange is, veral aangesien dit ʼn element van beskikbaarheid van bronne vir groepmobilisering inhou. Die pluraliteit in Suid-Afrikaanse konteks sou veel eerder ʼn pluraliteit binne die gemeenskap inhou, wat dan weer nader aan die republikeinse ideaal staan.

In die Amerikaanse konteks reken Wolman (1996:161) dat die idee van deelname deel bly van pluralisme, maar dat die klem vanaf individuele na groepsdeelname verskuif het, waarskynlik in die konteks van belangegroepe. Wat van belang is in hierdie opsig, is dat die Amerikaanse begrip van plaaslike regering dan ook hierdie tweekantigheid van demokrasie in plaaslike regering vertoon, wat ook die samekoms van hierdie twee idees van demokrasie in die “nuwe wêreld” aantoon. Die Amerikaanse plaaslike regering reflekteer dan, myns insiens, die dualiteit tussen byvoorbeeld die demokrasie van Madison en Jefferson, net soos dit ook vandag in die nasionale Amerikaanse politieke stelsel gereflekteer word. ʼn Verdere gedagte met betrekking tot deelname wat oorweeg moet word, is dat deelname in die VSA in die lig van die republikeinse ideaal anders sal uitval as byvoorbeeld die idees van deelname in die konteks van iemand soos J.S.Mill. Mill staan in die konteks van ʼn Britse verteenwoordigende politieke stelsel, terwyl die republikeinse idee eerder ʼn Europese verbintenis het.

Benewens die demokratiese element van plaaslike regering is die diensleweringsaspek van plaaslike regering, net soos in Brittanje en Suid-Afrika, ook

60 pertinent deel van die Amerikaanse begrip van plaaslike regering. Dit blyk egter duidelik vanuit Wolman (1996) dat hierdie aspek van plaaslike regering ʼn meer sakegedrewe of tegnisistiese model volg as wat dit byvoorbeeld in Brittanje die geval sou wees.

3.4.2 Demokrasie en plaaslike regering in die Europese konteks

Vroeër in hierdie hoofstuk is verwys na die klassieke Europese begrip ten opsigte van demokrasie en plaaslike regering. Maar ook in Europa is die debat en kontestasie hieroor aktief en het etlike hervormings die afgelope dekades reeds plaasgevind ten einde die verhouding tussen plaaslike regering en demokrasie aan te spreek. Pilet, Steyvers, Delwit en Reynaert (2005:618) beklemtoon dat die bedoeling van plaaslike regeringhervorming in Europa ʼn noue verband het met die normatiewe vraag van ʼn verdiepte plaaslike demokrasie. Sedert die 1970’s het druk op Westerse demokrasieë toegeneem vanweë ʼn verskuiwing vanaf konvensionele vorme van deelname na onkonvensionele vorme van deelname, in die konteks van ʼn groter aandrang op burgerlike deelname aan politieke besluitneming. Dit word duidelik deur Pilet et.al. (2005:618) gestel dat die “traditional representative scheme is no longer perceived as sufficient”. (Vergelyk ook Rossanvallon hierbo).

Denters en Klok (2005:78-79) dui verder byvoorbeeld aan in die Nederlandse konteks het die New Public Management-doktrine ook sy weg gevind na plaaslike regering, met die implikasie dat – wat die diensleweringskomponent betref – ʼn skeiding tussen die plaaslike regering en die diensverskaffer ontstaan het, sowel as ʼn meer prestasiegebaseerde diensleweringsregime. Met betrekking tot die demokratiese element verwys Denters en Klok (2005:79-80) daarna dat:

“The introduction of ‘interactive governance’ in many municipalities has the potential for more fundamental changes in municipal democracy. The term interactive governance refers to modes of public decision-making in which governments to varying degrees allow for direct participation of interested citizens and other stakeholders (social organizations, business firms and public independent boards) in decision-making processes. In many municipalities these interactive schemes are combined with a neighbourhood approach, which in some cases also implies the delegation of power to decide over some neighbourhood facilities and a small budget to an association of

61 neighbourhood residents. The more radical experiments also allow for a substantial degree of citizen involvement in making decisions that have important implications for the neighbourhood”.

In ʼn oorsig van neigings in plaaslike demokratiese regering dui Denters en Rose (2005:258-259) ook aan dat in die Europese state daar onder bespreking en in afweging van verteenwoordigende demokrasie en nuwe modelle van deelname, die plaaslike verteenwoordigende demokrasie wel ʼn krisis beleef, byvoorbeeld in Frankryk ʼn afname in kieseropkoms en swakker posisie van partye; in Italië ʼn afname van kieseropkoms; so ook in Nederland met wat beskryf word as ʼn krisis in plaaslike partye, ens. Wat die modelle van deelname betref, blyk die beskrywing in hierdie oorsig in die algemeen die instelling van konsultasie met die burgery, pogings om die burgery se betrokkenheid te verhoog en nuwe inisiatiewe te behels. Die opmerklike is dus die afname in die aanvaarding van die verteenwoordigende konteks, maar die tentatiewe aard van deelnemende aksies.

3.4.3 Demokrasie en plaaslike regering in die Suid-Amerikaanse konteks

Silva en Cleuren (2009:3) dui aan dat daar sedert die 1980’s ʼn beweging vanuit die geledere van die Latyns-Amerikaanse linksgesindes was om ontnugtering met verteenwoordigende demokrasie in meer deelnemende praktyke te kanaliseer, veral met betrekking tot plaaslike regering. Die ontwikkelinge in Latyns-Amerika moet ook gesien word in die konteks van kritiek teen die neo-liberalisme, die Noord-Suid debat en ook die soeke na alternatiewe teen die agtergrond van ʼn koloniale en/of ondemokratiese verlede.

Verskeie inisiatiewe het onstaan om die mense in deelnemende konteks te betrek. Brasilië bestaan ook vandag in ʼn konteks waar ʼn outoritêre verlede opgevolg is deur demokratisering en ʼn grondwet wat ruimte skep vir plaaslike regerings om nuwe benaderings aan te neem ten einde openbare deelname toe te laat. ʼn Bekende voorbeeld in hierdie verband is die deelname in die munisipale begrotingsproses in veral Porto Alegre in Brasilië, en Wampler (2012a:1) meen selfs dat Brasiliaanse munisipaliteite die afgelope twee dekades aan die voorpunt van demokratiese innovering is. In verband met die deelnemende begrotingsproses word die argument gevoer dat dit tot ʼn afname van patronaat en korrupsie gelei het terwyl die herverdeling en verbetering van munisipale dienste ook plaasgevind het. Verder

62 word daar ook aangevoer dat daar ʼn direkte skakel tussen deelnemende begroting en ʼn afname in armoede in Brasilië bestaan (Seale, 2012:8). Sien ook Wampler 2012(b) en Anon (2012a) met betrekking tot verwysings na die Porto Alegre- gevallestudie.

Wampler (2012a en 2012b) dui aan dat die basiese beginsels van deelnemende begroting gefokus is op die beloning van burgerlike mobilisasie, bevordering van gesprekvoering, hervorming van administratiewe prosedures, institusionalisering van deursigtigheid en as skakel tussen burgers en aktiviste en regeringsamptenare dien. Daar word na die voordele wat aangedui word in terme van deelnemende begroting verwys as ʼn verdieping van beleids- en politieke legitimiteit en versterking van demokrasie, verbeterde fokus van projekte om die behoeftes van die burgery aan te spreek, die betrokkenheid en bemagtiging van burgers deur die deelnemende prosesse en ook verminderde korrupsie in implementering en die skepping van ekonomiese geleenthede vir plaaslike sakebedrywighede. Hierdie beginsels skou duidelik terug op wat reeds vroeër oor demokrasie en plaaslike regering gesê is in terme van die verhouding tussen regering en die mense, ook in wese die waardes van demokrasie en die diensleweringsfunksie van plaaslike regering.