• No results found

Die bydrae van verskeie rolspelers om doeltreffende inklusiewe onderwys te

inklusiewe onderwys te verseker

Wanneer ’n skool se bestuurspan begin om inklusiewe modelle te implementeer, is samewerking tussen opvoeders, ouers en ander professionele persone ’n kritiese voorvereiste vir sukses. Fullan in Wood (1998: 182) gaan sover om te sê dat die graad en sukses van onderwysverandering tot insluiting afhang van die mate waarin opvoeders met mekaar kan saamwerk. Volgens Villa en Thousand in Wood (1998: 181) lê die krag van spanne in hulle vermoë om die unieke vaardighede van talentvolle opvoeders te laat saamvloei, om positiewe gevoelens van interafhanklikheid te koester, om kreatiewe probleemoplossingsvaardighede te ontwikkel en om mekaar en hulleself as persoonlik verantwoordelik te beskou vir opvoedkundige verantwoordelikhede. Skoolbestuurders moet gevolglik effektiewe spanwerk fasiliteer.

Spanwerk kan egter moeilik wees vir persone wat in hulle professionele opleiding geleer is om onafhanklik te werk. In die verlede is spesiale opvoeders op ’n eiesoortige wyse opgelei om leerders op ’n sekere wyse te hanteer. Die fokus tydens opleiding van algemene opvoeders was inderdaad verskillend. Volgens Rainforth, York en MacDonald in Wood (1998: 182) kan ’n groep opvoeders nie in ’n span saamwerk alvorens bestaande organisatoriese strukture, rolle en verantwoordelikhede nie aangepas is nie. Skoolbestuur moet dus verandering aan organisatoriese strukture en werksomskrywings aanspreek. Dit vereis ook ’n evolusionêre verandering in opvoeders se denkwyse en gedrag.

Dettmer et al., in Wood (1998: 182), wys daarop dat die belangrikste element om samewerking te verseker die uitklaring van die onderskeie rolle is. Totdat opvoeders hieroor duidelikheid verkry en gemaklik raak met konsepte soos konsultasie en samewerking, asook die funksionering as vennote in ’n span, sal wantroue en verwarring heers. Skoolbestuurders moet die graad van samewerking tussen rolspelers voortdurend monitor om vordering te verseker (Villa & Thousand 2004: 21).

Skoolbestu ur moet deeglik kennis neem van onderskeie rolle wat die volgende rolspelers te vervul het in ’n inklusiewe skool.

3.4.1 Ondersteuningspanne

Elke skool moet ’n span saamstel om inklusiewe onderwys by die skool te bevorder. Die span kan onder andere uit die volgende persone bestaan (DfES 2003: 9):

q ’n Koördineerder wat die daaglikse reëlings binne die skool rakende spesiale

onderwysbehoeftes ko ördineer;

q ’n Opvoedkundige sielkundige, verbonde aan die distrik, wat saam met die skool en ouers werk om leerders te evalueer en steun beplan;

q ’n Leer-steunassistent, met ander woorde ’n opvoeder wat steun aan leerders en aan opvoeders verskaf rakende spesiale onderwysbehoeftes; en

q Ouers, dit wil sê die versorgers van leerders met spesiale onderwysbehoeftes.

Die doel van die institusionele ondersteuningspan is om alle betrokkenes, soos opvoeders, ouers en leerders, te ondersteun en waar nodig probleme te verwys na ander persone of instansies (RSA 2001 : Art. 4.3.6.1).

3.4.2 Beheerliggaam

Volgens die Suid-Afrikaanse Skolewet (RSA 1996b: Art. 20(1)) moet die beheerliggaam van ’n skool die belange van die skool bevorder en verseker dat die skool gehalte onderrig aan alle leerders van die skool moet verskaf. (Sien ook 2.4.3 .) Die beheerliggaam is verantwoordelik vir die skoolbestuur en is dus onder andere verplig om aandag te gee aan skoolbeleid rakende die volgende (DfES 2003: 5):

q Die skoolbeleid rakende spesiale onderwysbehoeftes;

Hoofstuk 3: Inklusiewe onderwys: Bestuursimperatiewe 57

q Die toekenning en aanwending van fondse vir spesiale -onderwysbehoeftes.

Deur die skoolbestuur, opvoeders en ander personeel te ondersteun in die uitvoering van hulle professionele funksies (RSA 1996b: Art. 20(1)) kan die beheerliggaam bydra tot die suksesvolle implementering van inklusiewe onderwys .

3.4.3 Ouers

Ouers moet ingelig wees ten opsigte van hulle verantwoordelikhede . Van geboorte af moet die ouers hulle kinders grootmaak met liefde en menswaardigheid, as deel van ’n gemeenskap en nie in isolasie nie. Dit is veral van toepassing op gestremde kinders. Ouers is ook verantwoordelik vir die dissiplinering van hulle kinders en die ontwikkeling van aanvaarbare gedrag sodat hulle die dissipline in die skool aanvaar. Ouers moet probeer om sover moontlik die nodige kommunikasievaardighede (praat, luister, sing) in die kind te ontwikkel (DANIDA 2003: 8; RSA 1995: Art 4(3)).

Volgens DANIDA (2003: 8) is daar baie spesifieke rolle wat die ouers kan speel om leerversperring te verminder. Dit is belangrik dat ouers ingelig is ten opsigte van hulle regte binne wetgewing en beleid. Ouers moet ter wille van hulle kinders as aktiviste en waghonde optree deur seker te maak dat verouderde praktyke uitgeskakel word; aan te dring op voldoende fasiliteite en diens; en seker te maak dat kinderregte beskerm word en ongeoorloofde praktyke gerapporteer word (DANIDA 2003: 8).

Ouers moet opvoeders ondersteun. Opvoeding is ’n gedeelde verantwoordelikheid en ouers moet volgens DANIDA (2003: 9):

q Redelik wees in wat hulle van opvoeders verwag;

q Voldoende met die opvoeders kommunikeer;

q Die kind se mediese en ander geskiedenis aan die opvoeder kommunikeer;

q Toesien dat opdragte tuis voltooi word ; en

q Die kind ondersteun om voor te berei vir skool.

Ouers moet besluite neem wat in die beste belang van hulle kindersis. Een besluit wat by ouers berus, is die kwessie van onderrigtaal. Professor Kader Asmal, voormalige Minister van Onderwys, het erken dat die taalbeleid van skole steeds probleme veroorsaak aangesien ouers dikwels ’n skool waar Engels die onderrigtaal is kies, ongeag of die kinders die taal magtig is (Jones 2001: 3 ).

Ouers van kinders met gestremdhede moet ’n ondersteunende netwerk vorm deur by plaaslike en nasionale groepe te affilieer en skakeling met professionele persone en instansie s te verseker (DANIDA 2003: 9).

Ouers moet inklusiewe onderwys openlik steun deur (DANIDA 2003: 9):

q Positief te wees oor hulle kinders en hulle potensiaal;

q Positief te wees oor inklusiewe onderwys en gestremde persone;

q Inligting met ander in die gemeenskap te deel; en

q Deel te neem aan georganiseerde inisiatiewe sodat negatiewe houding jeens

gestremdheid kan verander.

Daar moet goeie kommunikasie tussen ouers en die skoolbestuur wees. Ouers moet die vrymoedigheid hê om hulle kwellings met die skoolbestuurslede te bespreek. Die skoolbestuur moet sorg dat duidelikheid verkry word rakende behoeftes van leerders en ouers. Die ouers moet die versekering kry dat die skool daartoe verbind is om alle leerders se behoeftes te akkommodeer en dat elke leerder belangrik is. In gesprekke met ouers moet die skoolbestuurslede soveel moontlike spesifieke detail inligting kry, wat kan verseker dat die fokus kan wees op beter dienslewering aan almal. Ouers se deelname aan besluitneming is van die uiterste belang en skoolbestuurslede moet in gesprek met ouers tree om behoeftes/talente te identifiseer (Sullivan 2001: 221, 223 & 226).

3.4.4 Spesialiste

Volgens Villa en Thousand, in Wood (1998: 193), kan een persoon nie effektief die diverse opvoedkundige, sosiale en psigologiese behoeftes van ’n heterogene groep leerders effektief aanspreek nie, en daarom moet die talente van algemene en spesiale opvoeders gesamentlik aangewend word tot voordeel van alle leerders.

Die opvoedkundige steundienste moet ’n sleutelrol speel. Aanvullend tot die institusionele ondersteuningspan moet elke distrik ’n ondersteuningspan hê wat uit persone van die provinsiale distrik en hoofkantoor sowel as spesiale skole bestaan. Die primêre funksie van die distrikspan sal wees om programme te evalueer, effektiwiteit te diagnoseer en aanpassings voor te stel. Deur onderrig, leer en bestuur te ondersteun, sal die kapasiteit in onderwysinrigtings gebou word om erge leerprobleme te herken en

Hoofstuk 3: Inklusiewe onderwys: Bestuursimperatiewe 59

aan te spreek asook om ’n spektrum van leerbehoeftes te akkommodeer (RSA 2001: Art. 2.2.2.2).

Onderwysinrigtings moet ook hulle eie ondersteuningspanne in plek kry. Die primêre funksie van die spanne sal wees om ’n behoorlik gekoördineerde leerder- en opvoederondersteuning in plek te kry. Hierdie diens sal die leer- en onderrigproses ondersteun deur leerders, opvoeders en die inrigting se behoeftes te identifiseer en aan te spreek. Waar nodig en toepaslik moet die ondersteuningspanne aangevul word deur kundiges van die plaaslike gemeenskap, distrikondersteuningspanne en hoëronderwysinstellings. Die distrikondersteuningspan sal alle nodige steundienste verleen aan hierdie institusionele ondersteuningspanne (RSA 2001: Art. 2.2.2.3).

3.4.5 Ander leerders

Volgens Griffith, Cooper en Ringlaben (2002: 1) moet die ander leerders ook voorberei word op die insluiting van gestremde leerders in ’n algemene klas en moet ’n plan van aksie opgestel word om die situasie so danig te hanteer dat die leerders in die klas geïntegreer word. Volgens TeacherNet (2003b: 1) moet leerders leer om verskille in mense te respekteer, ander se gevoelens en menings in ag te neem, en die gevolge van stereotipering, diskriminasie en rassisme besef.

Katz in Griffith et al. (2002: 2) stel ’n holistiese benadering voor om leerders en opvoeders voor te berei, en wys vier dimensies uit wat aangespreek moet word, naamlik:

q Kennis: Die leerders moet inligting ontvang oor die tipe gestremdheid van die nuwe leerder en wat die implikasies van die gestremdheid vir die leerder is.

q Vaardighede: Leerders moet die vaardighede aanleer om met die nuwe leerder te kan kommunikeer en saam te werk.

q Ingesteldhede: Hier word veral verwys na die manier waarop mense reageer en hulle ingesteldheid teenoor ’n saak. Katz in Griffith et al. (2002: 3) wys daarop dat daar ’n verskil is tussen die vaardigheid om te kommunikeer en die wil om te kommunikeer. Leerders moet aangemoedig word om hulle ingesteldheid teenoor gestremde leerders só te verander dat hulle isolasie van so ’n leerder teëwerk.

q Emosies of gevoelens: Leerders kan aanvanklik ongemaklik voel by ’n leerder met ’n fisiese gestremdheid. As hulle egter genoeg kennis aangaande die gestremdheid het, die vaardigheid ontwikkel om met die leerder saam te werk en ’n positiewe

ingesteldheid teenoor die leerder het, sal meer positiewe gevoelens teenoor die gestremde leerder ontwikkel. Die belangrikheid van ’n opvoeder se positiewe voorbeeld in dié verband kan nie oorbeklemtoon word nie (Griffith et al. 2002: 3)

Deur alle betrokkenes, en veral ander leerders, op dié wyse voor te berei, word ’n bydrae gelewer tot die suksesvolle implementering van inklusiewe onderwys.

3.4.6 Die gemeenskap

Die Ministerie van Onderwys moet die publiek inlig rakende inklusiewe onderwys en veral ouers van kinders wat leerversperrings ervaar en nie tans in die skoolstelsel is nie, inlig en opvoed. Openbare aanvaarding en steun vir insluiting is noodsaaklik. Negatiewe stereotipering moet blootgelê word en die beleid moet onvoorwaardelik aanvaar word om die stelsel te laat werk (RSA 2001: Art. 2.2.7.1 ; RSA 2001 : Art. 2.2.3.2). Skoolbestuurders kan bydrae tot die gemeenskap se steun vir inklusiewe onderwys, deur veldtogte te hou en inligting te verskaf.

Gemeenskappe kan ’n verdere rol speel deur steungroepe te vorm. Western Cape Forum for Inclusive Education South Africa is ’n netwerk van ouers, opvoeders en ander belangstellendes wat in 1995 gestig is om steun te verleen (EENET 2002: 1). Hulle verleen hulp in ’n diverse gemeenskap vanaf hoë-middelklas gesinne tot dié wat in plakkerskampe woon. ’n Voorbeelde van steun wat reeds deur dié groep verleen is, was om ’n welaf ma wat ’n fasiliteerder huur om haar gesiggestremde kind by te staan, te advise er om Braille-lesse vir die kind, die fasiliteerder en haarself te organiseer. Die groep het ook ’n program geloods om opvoeders en ouers van ’n skool in die plakkerskamp te sensitiseer sodat ’n sekere fisies gestremde kind toegelaat kon word tot die plaaslike skool eerder as om hom heeldag tuis te laat sit (EENET 2002: 2).

Laastens kan skoolbestuurders kundiges in die gemeenskap nader om waar nodig, hulp en steun te verleen.