• No results found

Die aanloop tot onderhandelinge of die sogenaamde “talks about talks”

DIE UITVOERENDE OORGANGSRAAD EN DIE EERSTE DEMOKRATIESE PARLEMENT VAN DIE REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA, 1994

6.2 Die aanloop tot onderhandelinge of die sogenaamde “talks about talks”

Volgens Mike Louw2, senior amptenaar by die Nasionale Intelligensiediens (NI),

het die vele gesprekke tussen ‘n verskeidenheid van Suid-Afrikaners en die ANC, onder andere met die sogenaamde Dakar-groep3, veral na 1985 nie veel bygedra tot politieke

veranderinge in Suid-Afrika nie, maar, “tended to prolong the government’s own initiative”.4 Volgens hom was dit egter ‘n groep akademici en kerkleiers van die

Potchefstroomse Universiteit van Christelike Hoër Onderwys wat onwetend die

1https://omalley.nelsonmandela.org/omalley/index.php/site/q/03lv03445/04lv04015/05lv04016/06lv0403 9/07lv04041.htm [geraadpleeg op 14 Februarie 2019].

2 Mike Louw en Maritz Spaarwater, Hoof van Operasies van die Nasionale Intelligensiediens, het op 12 September 1989 met Thabo Mbeki en Jacob Zuma in Lucerne, Switserland, vergader in wat as die eerste amptelike kontak tussen die Suid-Afrikaanse regering en die verbanne ANC beskou kan word. Daarna is nog drie vergaderings op neutrale plekke gehou, met die laaste vergadering op 7 Augustus 1990. Persoonlike korrespondensie, M. Louw – F. Hugo, 13 Junie 2003.

3 Die Dakar-beraad het in Julie 1987 in Dakar, Senegal, tussen ’n groep Suid-Afrikaners en leiers van die ANC plaasgevind. Hierdie groep het hoofsaaklik bestaan uit Afrikaanse skrywers, joernaliste, sakemanne en politici.

182 Nasionale Intelligensiediens (NI) gehelp het deur sterk morele argumente ten opsigte van ‘n inklusiewe politieke bedeling te opper. Louw het verklaar: “nobody but the total insane could write off the very conservative Potchefstroom group as communists”.5 Die eerste

vergadering tussen Nelson Mandela, die prominenste ANC-leier in die gevangenis, en die regering, verteenwoordig deur die NI, het op 25 Mei 1988 plaasgevind nadat Niel Barnard, Direkteur-Generaal van die NI, PW Botha oortuig het dat hierdie historiese stap nie langer uitgestel kon word nie. 6

F.W. de Klerk is op 14 September 1989 as staatspresident verkies na die bedanking van P.W. Botha. Op 2 Februarie 1990 kondig De Klerk tydens sy parlementêre openingsrede aan dat die verbod op verskeie verbode bevrydingsorganisasies en individue met onmiddellike ingang opgehef sou word.7 Hy het dit gestel dat die NP tydens

die algemene verkiesing wat op 6 September 1989 gehou is ‘n mandaat van die kiesers ontvang het om die land op ‘n pad van ingrypende verandering te plaas en dat slegs ‘n onderhandelde verstandhouding tussen die verteenwoordigende leiers van die hele bevolking blywende vrede kon verseker.8

Die tydperk van onderhandelinge vir ‘n nuwe politieke bedeling tussen 1990 en 1994 was uitdagend vir alle deelnemers aan die proses. Die ANC en die Inkatha- Vryheidsparty (IVP) moes aan die verwagtinge van miljoene swart mense voldoen, waarvan sommiges radikaal en ander meer gematig en realisties was. Swart mense het geen politieke regte gehad nie en was angstig om hierdie regte af te dwing. Die NP- regering moes die land aanhou regeer, terwyl geweld deur die ANC, IVP en elemente binne die veiligheidsmagte toegeneem het. Die NP moes ook blanke steun vir die onderhandelingsproses behou, ten spyte van die somtyds ekstreme optredes, uitsprake en eise van die ANC en ander politieke organisasies. Dit moes die beste moontlike grondwetlike skikking probeer beding ten spyte van die feit dat die party se magsbasis in hierdie tydperk gekwyn het.9

5 Persoonlike korrespondensie, M. Louw – F. Hugo, 13 Junie 2003. 6 Ibid.

7 Hansard, Volksraad, 2 Februarie 1990, kolomme 11 tot 15. 8 Hansard, Volksraad, 2 Februarie 1990, kolom 1.

9 I. Aucamp en J. Swanepoel, Einde van ’n groot party, ’n Vrystaatse perspektief op die (N)NP, Morrison- Funded, Johannesburg, 2007, p.13.

183 Die strydende partye se eerste amptelike kontak na die ontbanning was vanaf 2 tot 4 Mei 1990 in Kaapstad. Na afhandeling van die gesprekke is die Grootte Schuur- Minuut aangeneem ingevolge waarvan die regering en die ANC hulself tot vreedsame onderhandelinge verbind het. Daar is ook ooreengekom dat ‘n werkgroep bestaande uit beide partye binne drie weke voorstelle oor die vrylating van politieke gevangenes moes maak; dat voorlopige vrywaring aan alle terugkerende lede van die ANC gegee sou word; dat die regering veiligheidswetgewing sodanig sou wysig dat normale politieke aktiwiteite kon begin; dat die noodtoestand so gou moontlik opgehef moes word; en dat kommunikasieweë tussen die regering en die ANC geskep moes word ten einde geweld te voorkom.10

Hierdie ooreenkoms is opgevolg deur die Pretoria-Minuut op 6 Augustus 1990 waartydens die basis gelê is vir die begin van samesprekings oor ‘n nuwe grondwet. Na die ondertekening van die Pretoria-minuut het daar egter meer as ‘n jaar verloop voordat amptelike samesprekings tussen die regering en die ANC begin het. Daar was hoofsaaklik drie redes waarom daar nie onmiddellik met die samesprekings begin is nie, naamlik onsekerheid oor presies wat die ANC bedoel het met ‘n verklaring dat hulle die gewapende stryd opgeskort het; ‘n verskil van opinie oor die prosedure wat gevolg moes word om ‘n nuwe grondwet op te stel; en beskuldigings deur beide die Suid-Afrikaanse regering en die ANC dat die ander party vir die voortslepende geweld in die swart woonbuurtes verantwoordelik was.11

Die derde ooreenkoms was die DF Malan-Akkoord wat op 12 Februarie 1991 onderteken is en ingevolge waarvan ooreengekom is dat die ANC hom daarvan sou weerhou om aanvalle met behulp van wapens en plofstof uit te voer; om mense en materiaal onwettig die land binne te bring; om die skep van ondergrondse politieke strukture te beëindig; om verklarings wat geweld aanmoedig te staak; om dreigemente van gewapende geweld te staak; en om op te hou om militêre opleiding aan mense binne

10 Minutes, Meeting between a delegation of the government of the Republic of South Africa and a delegation of the African National Congress, Grootte Schuur Estate, 4 May 1990, pp.46-48.

184 die landsgrense te verskaf. Die ANC was egter nie bereid om sy militêre vleuel, Umkhonto we Sizwe, te ontbind of die wapens in hulle besit in te handig nie.12

Die parlement het sedert 1992 begin om voor te berei vir die nuwe demokratiese politieke bedeling wat na 27 April 1994 tot stand sou kom. Mnr Hennie Smit, hoofsweep van die parlement, het in 1993 aan die hoof gestaan van ‘n komitee wat die parlementêre reëls en orders verander het vir die nuwe parlementêre stelsel.13 Een van die belangrikste

wysigings was die manier waarop wetgewing deur die parlement gevoer is. Voor 1993 het die regering bloot aan die speaker aangedui dat ‘n debat geskeduleer moes word om wetgewing te oorweeg. Geen wetgewing kon teen die einde van die parlement se tydsduur meer direk vanaf die regering deur die parlement oorweeg word nie. Dit moes deur ‘n parlementêre komitee oorweeg word sodat elke lid van die parlement die geleentheid kon kry om insette te lewer. Hierdie beginsel sou deur die nuwe parlement na 27 April 1994 herbevestig word. Dit het die lede van die parlement die geleentheid gegee om dit te doen waarvoor hulle verkies is, naamlik om die wetgewer van die land te wees.14