• No results found

4. NAVORSINGSONTWERP EN METODOLOGIE

4.2.4 Data-insameling

In hierdie gevallestudie is vereis dat ek in diepte ‟n groep individue se klaskamerpraktyke, kennis en oortuigings verken. Ek het die data met behulp van ‟n verskeidenheid wyses ingesamel (kyk Figuur 4.1).

Daar is eerstens oop-einde-vraelyste deur die deelnemers voltooi. Ek het daarna onderhoude met die deelnemers gevoer en leerders se meetkunde- boeke is ingesamel en gefotostateer. Figuur 4.1 gee ‟n voorstelling van die data- insamelingsproses wat ek in hierdie studie gevolg het.

81

4.2.4.1 Oop-einde-vraelys

Ek het my data-insamelingsproses begin deur die deelnemers vraelyste (kyk Bylaag E) te laat voltooi. Ek het oor verskeie redes besluit om met hierdie manier van data- insameling te begin: Deur baie oop-einde-vrae te vra, kon onderwysers rustig besin oor hul antwoorde. Ek is self ook ‟n wiskunde-onderwyser en ek hou daarvan om eers ‟n bietjie te dink voor ek ‟n antwoord (veral woorde) op papier neerlê. Dit help

DATA-INSAMELINGSPROSES

Oop-einde-vraelys deur onderwysers voltooi

Sem-igestruktureerde onderhoud met elke onderwyser afsonderlik

Op grond van vraelyste is onderhoude gevoer.

Insameling van meetkunde- boeke van leerders

Nadat die Euklidiese meetkunde voltooi is, is een graad 10, 11 en 12 boek gefotostateer

82

ook om jou antwoorde neer te skryf om sodoende te sien dat dìt wat jy geskryf het, ìs wat jy regtig bedoel. Verder kan die antwoorde op die vraelys maklik ontleed word, dit is verder ‟n goedkoop wyse van data-insameling en ek kon dit in ‟n relatief kort tyd insamel.

Ek het die vraelyste (kyk Bylaag E) gedurende die tweede kwartaal aan al 20 deelnemers gegee om te voltooi. Ek het na al vyf die deelnemende skole gegaan op ‟n tyd wat vir hul geleë was. Die metode van data-insameling was ʼn groep- administrasie (kyk 1.3.1.4) van die vraelyste by elk van die deelnemende skole.

Die vraelys het uit 24 vrae, wat geslote én oop-einde-vrae bevat, bestaan. Vraag 5 tot vraag 18 is aangepas uit ʼn vraelys wat gebruik is in ʼn vorige studie deur Adnan en Zakaria (2010:159). Die doel en tipe van elke vraag word in Tabel 4.1 weegegee.

Tabel 4.1 : Die tipe en doel van elke vraag in die vraelys

VRAAG TIPE VRAAG DOEL VAN VRAAG

1 tot 4 Geslote Om meer te wete te kom

van elke deelnemer se agtergrond, naamlik jare onderwyservaring en kwalifikasies.

5 tot 20 Eerste deel van vraag geslote en tweede deel van vraag oop-einde.

Om insig te kry rakende elke deelnemer se oortuigings ten opsigte van wiskunde sélf en verder oor die onderrig en leer van wiskunde.

19 tot 24 Oop-einde Om meer te wete te kom

in verband met elke deelnemer se kennis en klaskamerpraktyk.

83

Hoewel dit redelik maklik was om die invul van die vraelyste te administreer, was daar tóg ‟n paar struikelblokke daaraan verbonde. Die vraelys is baie lank en die deelnemers het teen die einde van die invul daarvan soms baie kort antwoorde gegee. Verder het al die deelnemers nie die vrae op dieselfde wyse verstaan nie. Dié probleme is egter oorkom met die opvolgonderhoude. Dit was ook moeilik om al die deelnemers op dieselfde tyd bymekaar te kry; noukeurige beplanning was nodig.

Ten spyte van die probleme wat ondervind is met die vraelyste, is waardevolle en betekenisvolle inligting ingewin om die deelnemers se klaskamerpraktyke, oortuigings en kennis ten opsigte van die leer en onderrig van Euklidiese meetkunde te ondersoek.

4.2.4.2 Onderhoude

Die doel van kwalitatiewe onderhoude is om die wêreld vanuit die oë van die deelnemers te sien en sodoende meer te wete te kom van die deelnemers se optredes, oortuigings en sieninge (Nieuwenhuis, 2007:87).

Semi-gestruktureerde individuele onderhoude is met deelnemers vanaf die einde van die tweede kwartaal tot in die vierde kwartaal gevoer. Dit was tydrowend om met elk van die 20 deelnemers onderhoude te voer, maar waardevolle inligting vir die doeleindes van die studie is ingewin. Die antwoorde op die vrae is neergeskryf soos elke deelnemer dit beantwoord het.

Die onderhoude het ten doel gehad om enige onduidelikhede, wat vanuit die vraelyste voorgekom het, uit die weg te ruim en om meer te wete te kom van die deelnemers se klaskamerpraktyk, oortuigings en kennis. Die antwoorde op die vraelys se vrae is met elke deelnemer sorgvuldig bespreek. Alle addisionele vrae en antwoorde wat uit die onderhoude voorgekom het, is ook getranskribeer. Oop-einde- vrae is deurentyd gevra om te verhoed dat deelnemers net „n ja- of nee-antwoord gee.

Hoewel die response op die vrae in die vraelyste waardevolle inligting bevat het, was die onderhoude baie belangrik om sekerheid oor sekere response te verkry. Die onderhoude het in die doel geslaag om meer te wete te kom van die deelnemers se

84

oortuigings ten opsigte van die aard, onderrig en leer van wiskunde (in die besonder Euklidiese meetkunde), hul wiskundekennis (in die besonder Euklidiese meetkunde) en laastens hul klaskamerpraktyke.

4.2.4.3 Die insameling van meetkunde boeke

Die finale wyse van die data-insameling was om die Euklidiese meetkunde-boeke van elke deelnemer in te samel. Deelnemers is gevra om die meetkunde- boek van ‟n graad 10-, 11- en 12- leerder van hul keuse aan my te gee. Ek het die boeke aan die einde van die derde kwartaal en begin van die vierde kwartaal ingesamel, aangesien Euklidiese meetkunde eers in die derde kwartaal onderrig word (DBE, 2011:26-48). Die Euklidiese meetkundewerk in elke boek is gefotostateer en toe weer aan die deelnemers terugbesorg. Die leerders se ouers het ook toestemming hiertoe verleen. Ek het hier van die veronderstelling uitgegaan dat die boeke en/of lêers, soos deur die onderwyser geselekteer, al die klaswerk- en huiswerk- aktiwiteite, toetse, eksamens en ander take sou bevat wat die onderwyser aan haar/sy leerders gegee het. Die inligting wat só ingesamel is, het ten doel gehad om die vlak van kognitiewe eise wat die onderwysers aan leerders gestel het, asook onderwysers se klaskamerpraktyke en gebruik van tegnologie te reflekteer.