• No results found

4. NAVORSINGSONTWERP EN METODOLOGIE

4.3 Betroubaarheid en geldigheid van die bevindings

Wanneer daar na die geldigheid en betroubaarheid van kwalitatiewe navorsing verwys word, verskil dit van dié van kwantitatiewe navorsing. Kwalitatiewe navorsing lewer inligtingryke eerder as numeriese data (Creswell, 2009:190). Kwalitatiewe navorsing word gesien as buigbaar en sonder enige streng riglyne en dit het tot gevolg dat die geldigheid en betroubaarheid dikwels in twyfel getrek word. Om die geldigheid en betroubaarheid van hierdie studie te verseker, is oorwegend gebruik gemaak van Lincoln en Guba se model (Lincoln & Guba, 1985:300-317). Hierdie model identifiseer vier aspekte van geldigheid en betroubaarheid vir kwalitatiewe navorsing. Dit behels geloofwaardigheid, toepaslikheid van die bevindings, navorsingskonsekwentheid en bevestigbaarheid. Elkeen van hierdie aspekte word vervolgens bespreek.

4.3.1 Geloofwaardigheid

Hier gaan dit oor die betekenis en waarde van die bevindinge binne die konteks van die studie.

Die geloofwaardigheid van hierdie studie is verseker deur verlengde betrokkendheid met die deelnemers, triangulering en voortdurende kontak met my studieleier.

Nadat die deelnemers vir die eerste keer ontmoet is, is daar voortdurend kontak behou. Die invul van die vraelyste het in groepe plaasgevind waar die deelnemers enige onduidelikhede met my kon uitklaar. Dit is gevolg deur onderhoude waar ek op ‟n meer persoonlike vlak met elke deelnemer betrokke was. Ek het laastens die deelnemers ontmoet toe ek die leerders se meetkundeboeke gaan haal het vir fotostatering.

In hierdie studie verleen die veelvuldige bronne van data in die vorm van vraelyste, semi-gestrutureerde onderhoude en dokumentanalise (meetkundeboeke) hulle tot

91

triangulering (Creswell, 2009: 191). Die data wat só ingesamel is, het tot gevolg gehad dat die navorsingsvrae (kyk 4.2.5) beantwoord kon word.

My studieleier is op ‟n gereelde basis gekontak wat verder die geloofwaardigheid van die studie verseker het.

4.3.2 Toepaslikheid van die bevindings

Toepaslikheid verwys na die mate waarin die bevindings in ander kontekste, omstandighede en groepe toegepas kan word.

Kwalitatiewe navorsing impliseer nie dat die data veralgemeen kan word nie, maar fokus eerder op die toepaslikheid of oordraaglikheid daarvan. Volgens Lincoln en Guba (2000:298) is dit soms moontlik om die bevindinge van ‟n spesifieke kwalitatiewe ondersoek binne ‟n ander konteks toe te pas. Ek het in hierdie studie gepoog om aan die vereiste van toepaslikheid te voldoen deurdat ek van ‟n doelgerigte gerieflikheidsteekproeftrekking gebruik gemaak het (Teddlie & Yu, 2007:77). „‟n Demografiese beskrywing van die deelnemers is verder gedoen en ‟n volledige beskrywing van die resultate van hierdie studie is gegee.

4.3.3 Navorsingskonsekwentheid

Die konsekwentheid van die bevindings verwys na die mate waarin die bevindinge konsekwent bly, indien die studie binne dieselfde of soortgelyke konteks herhaal word. Ek het in hierdie studie, om aan hierdie vereiste te voldoen, gepoog om die navorsingsmetode sowel as die data wat ingesamel is, so volledig moontlik te beskryf (kyk 4.2, 5.2 en 5.3).

4.3.4 Bevestigbaarheid

Die navorser moet ‟n mate van neutraliteit behou tydens die navorsingsproses. Die ingesamelde data mag nie deur die navorser se persoonlike persepsies, motiverings, vooroordele en emosies beïnvloed word nie.

Bevestigbaarheid is vir die doeleindes van hierdie studie verseker deurdat ek van triangulering gebruik gemaak het en dat die gevolgtrekkings, interpretasies en aanbevelings deeglik oorweeg is (Bitsch, 2005:86).

92 4.4 Etiese oorwegings

Ten einde aan die etiese maatreëls te voldoen, is toestemming van alle deelnemende partye verkry, die identiteit van die deelnemers is beskerm en die deelnemers het vrywillig aan die navorsing deelgeneem, soos wat deur onder andere Fraenkel en Wallen (2008:55) as vereistes vir navorsingsetiek gestel word.

4.4.1 Toestemming

Daar is eerstens etiese klaring van die Etiekkomitee van die NWU verkry alvorens met die empiriese ondersoek begin is.

Daarna is daar ook toestemming verkry van die Oos-Kaapse Onderwysdepartement, deelnemende skole se hoofde, wiskunde-onderwysers en ook die ouers of voogde van betrokke leerders wat hul boeke en/of lêers beskikbaar gestel het. In die toestemmingsbriewe is die doel van die studie en die prosedures wat gevolg sou word ten opsigte van die data-insamelingproses, deeglik verduidelik.

4.4.2 Vrywillige deelname

Die deelnemers is verseker dat hulle in enige stadium aan die navorsing kon onttrek. Daar was aanvanklik sewe skole wat ingestem het tot deelname aan hierdie studie, maar twee daarvan het onttrek sonder enige probleme.

4.4.3 Vertroulikheid

Die deelnemers se identiteit is nie voor, tydens of ná die navorsing aan enige iemand bekend gemaak nie. Om die deelnemers se identiteit te beskerm, is soos volg ‟n letter en ‟n getal aan elke deelnemer toegeken: skool A se vier deelnemers: A1, A2, A3 en A4; skool B se sewe deelnemers : B1, B2, B3, B4, B5, B6 en B7; skool C se ses deelnemers: C1, C2, C3, C4, C5 en C6; skool D se twee deelnemers: D1 en D2 en Skool E se een deelnemer: E1.

Daar is dus in hierdie navorsing gepoog om aan die volgende etiese kriteria te voldoen, soos deur Fraenkel en Wallen (2008:55) uiteengesit: die navorsing het nie teen enige deelnemer gediskrimineer nie, die identiteit van die deelnemers is beskerm, die deelnemers is volledig ingelig presies waaroor die navorsing gehandel

93

het en die data wat ingesamel is, is as vertroulik hanteer sodat geen individue se integriteit geskaad is nie.

4.5 Samevatting

In hierdie hoofstuk het ek die navorsingsontwerp en metodologie vir hierdie studie beskryf. Die studie is vanuit ‟n konstruktivistiese-interpretivistiese paradigma gedoen waar ek as navorser subjektief betrokke was. Die navorsingsontwerp was ‟n kwalitatiewe, verkennende gevallestudie. Die deelnemers aan hierdie studie was 20 VOO wiskunde-onderwysers van vyf stedelike skole, drie staatskole en twee privaatskole in die Oos-Kaap. Data-insamelingsmetodes wat gebruik is, is die invul van ‟n vraelys deur elke deelnemer en die voer van ‟n onderhoud met elke deelnemer en die insameling van graad 10-12 se Euklidiese meetkunde-boeke, verskaf deur die deelnemers. Daar is gepoog om inligting ten opsigte van die deelnemers se klaskamerpraktyke, oortuigings oor die aard van wiskunde, oortuigings oor die leer en onderrig van Euklidiese meetkunde en die kennis van deelnemers in te win. Gerigte inhoudsanalise is gebruik om die data te analiseer. Die betroubaarheid en geldigheid van die studie is verder bespreek en laastens is die etiese oorwegings ten opsigte van die studie bespreek.

In Hoofstuk 5 word die interpretasie en navorsingsresultate van die studie weergegee en bespreek.

95

HOOFSTUK 5: KENNIS, OORTUIGINGS EN KLASKAMERPRAKTYKE VAN VOO

WISKUNDE-ONDERWYSERS MET BETREKKING TOT MEETKUNDE-

ONDERRIG