• No results found

Bespreking van die relevante rekeningkundige standaarde van toepassing op die franchisefooie

Hoofstuk 3: Die rekeningkundige hantering van franchisefooie en die moontlike skakeling met die inkomstebelastinghantering daarvan

3.2 Die rekeningkundige hantering van franchisefooie

3.2.3 Bespreking van die relevante rekeningkundige standaarde van toepassing op die franchisefooie

Dit word aan die hand gedoen dat die aanvangsfranchisefooi aan die definisie van ʼn bate

voldoen terwyl die deurlopende franchisefooi aan die definisie van ʼn uitgawe voldoen.

Hierdie onderskeie items moet dienooreenkomstig deur middel van ʼn spesifieke

rekeningkundige standaard verantwoord word in die rekeningkundige rekords van die franchisehouer. Die toepaslike rekeningkundige standaard ten opsigte van die deurlopende franchisefooi word eerste bespreek, gevolg deur die rekeningkundige standaard van toepassing op die aanvangsfranchisefooi.

3.2.3.1 Rekeningkundige standaard van toepassing op die deurlopende franchisefooi

Ingevolge paragraaf 94 van Die Raamwerk vir IFRS moet ʼn uitgawe as sodanig

verantwoord word in die entiteit se wins of verlies in die Staat van Omvattende Inkomste.

Daar is ʼn aantal standaarde waaronder die deurlopende franchisefooi as ʼn uitgawe erken

behoort te word, onder andere die standaard oor hure, IAS 17, en die standaard oor

ontasbare bates, IAS 38. Die feit dat die deurlopende franchisefooi ʼn uitgawe is, maak

geen wesenlike verskil in hoe dit vir rekeningkundige doeleindes hanteer moet word nie. Geen verdere bespreking oor hierdie punt word dus verlang nie. Van groter belang is egter die rekeningkundige standaard wat van toepassing sal wees op die aanvangsfranchisefooi. Die bespreking daaroor word dienooreenkomstig in meer detail gedoen.

3.2.3.2 Rekeningkundige standaard van toepassing op die aanvangsfranchisefooi

Die aard van die bate wat tot stand kom met die betaling van die aanvangsfranchisefooi is van kardinale belang in sover daar besluit moet word watter rekeningkundige standaard

van toepassing sal wees. Die aard van die bate kan onder andere roerend, onroerend, monetêr, nie-monetêr, tasbaar, ontasbaar, liggaamlik of onliggaamlik wees. Ondersoek moet dus ingestel word na die aard van die bate wat tot stand kom wanneer die aanvangsfranchisefooi betaal word.

Dit word aan die hand gedoen dat ʼn ontasbare bate tot stand kom met die betaling van die

aanvangsfranchisefooi. Die relevante rekeningkundige standaard wat in so ʼn geval

toegepas moet word is IAS 38 “Intangible Assets” (hierna genoem “IAS 38”). ʼn Tersaaklike

bespreking van IAS 38 is dus noodsaaklik om hierdie stelling te staaf. Om die

aanvangsfranchisefooi as ʼn ontasbare bate ingevolge IAS 38 te verantwoord, moet die

fooi aan beide die definisie en erkenningskriteria van ʼn ontasbare bate ingevolge IAS 38

voldoen (eie beklemtoning).

IAS 38, paragraaf 8, definieer ʼn ontasbare bate as ʼn identifiseerbare, nie-monetêre bate sonder enige fisiese substansie (of vorm). (vertaal) (eie beklemtoning). Paragraaf 9 van IAS 38 verskaf ʼn lys van bates wat moontlik aan die definisie van ʼn ontasbare bate kan

voldoen. Hierdie lys is egter nie allesomvattend nie.

Een van die items wat egter gelys word is ontasbare hulpbronne wat deur die entiteit

bekom word ingevolge ʼn franchise ooreenkoms. Items, insluitend; intellektuele eiendom,

lisensies, inligtingstelsels, kennis, handelsmerke, bemarkingsregte en markaandeelhou- ding kan bekom word ingevolge hierdie franchise-ooreenkomste.

Die aanvangsfranchisefooi moet dus eerstens identifiseerbaar wees om aan die vereistes van die definisie te voldoen (Vorster et al., 2010:873). Ingevolge paragraaf 12 van IAS 38

is ʼn bate identifiseerbaar indien dit:

(a) skeibaar is, met ander woorde, dit moet daartoe in staat wees om geskei te word van die entiteit om dit sodoende afsonderlik te kan verkoop, oor te dra, te verhuur,

te lisensieer, of verruil te kan word individueel of saam met ʼn verwante kontrak; of

(b) voortspruit uit ʼn kontraktuele of ander wettige reg, ongeag of daardie regte

oordraagbaar of skeibaar is van ander regte en verpligtinge van die entiteit.

Dit word aan die hand gedoen dat die aanvangsfranchisefooi wel identifiseerbaar is vir

Die kontrak neem die vorm van ʼn franchise-ooreenkoms aan en die betaling van die

aanvangsfranchisefooi bring sekere regte en verpligtinge vir die franchisehouer tot stand. Daar word dus aan die identifiseerbaarheid vereiste voldoen.

Tweedens moet die ontasbare bate onder die beheer van die entiteit wees (Vorster et al., 2010:873). Paragraaf 13 van IAS 38 beskryf beheer as die entiteit se vermoë om die toekomstige ekonomiese voordele wat voortspruit uit die onderliggende bate te beheer en toegang daartoe te beperk. Hierdie vermoë om die toekomstige ekonomiese voordele, wat toeskryfbaar is aan die onderliggende ontasbare bate, te beheer is normaalweg die

resultaat van wettige regte wat bekom is en terselfdertyd afdwingbaar is in ʼn hof. Mark-

en tegniese kennis kan toekomstige ekonomiese voordele tot gevolg hê. ʼn Entiteit sal

daardie voordele beheer indien die vertroulikheid van daardie kennis beskerm word deur die ooreenkoms waaruit dit voortspruit. Wat betref die toekomstige ekonomiese voordele toeskryfbaar aan die betaling van die aanvangsfranchisefooi, kan daar met sekerheid gesê word dat die franchisehouer hierdie voordele beheer. Die franchisehouer het ingevolge die franchise-ooreenkoms wettige regte bekom wat hom onder andere op die brandstof- en handelsvoorraadverkope geregtig maak. Die reg om die betrokke petroleum- maatskappy se mark- en tegnologiese kennis te gebruik vorm dikwels deel van die franchise-ooreenkoms. Hierdie reg word normaalweg deur middel van vertroulikheids- klousules, vervat in die franchise-ooreenkoms, beskerm. Die aanvangsfranchisefooi voldoen gevolglik ook aan die beheervereiste van die definisie.

Derdens moet daar toekomstige ekonomiese voordele toeskryfbaar wees aan die onderliggende ontasbare bate (Vorster et al., 2010:873). Daar is reeds genoem dat die toekomstige brandstof-en handelsvoorraadverkope toeskryfbaar aan die betaling van die aanvangsfranchisefooi, hierdie toekomstige ekonomiese voordele vergestalt. Die ekonomiese voordelevereiste van die definisie word dus bevredig.

Vir die aanvangsfranchisefooi om te kwalifiseer as ʼn ontasbare bate moet daar verder ook

aan die erkenningskriteria, soos vervat in paragraaf 21 van IAS 38, voldoen word. Die

erkenningskriteria vereis dat ʼn ontasbare bate slegs erken sal word indien:

(a) dit waarskynlik is dat verwagte toekomstige ekonomiese voordele toeskryfbaar aan die onderliggende bate na die entiteit sal vloei; en

ʼn Franchise word slegs deur ʼn petroleummaatskappy toegeken, indien deeglike

marknavorsing, kontantvloeiprojeksies en verkope vooruitskattings uitgevoer en finansiële begrotings opgestel is. Die franchise moet dus ekonomies voordelig wees vir beide die

franchisegewer en franchisehouer. Indien ʼn franchise dus toegeken word en die

franchisehouer betaal die aanvangsfranchisefooi is dit hoogs waarskynlik dat toekomstige ekonomiese voordele na beide partye tot die franchise-ooreenkoms sal vloei. Daar word per implikasie aan die eerste vereiste van die erkenningskriteria voldoen. Die aanvangsfranchisefooi se koste kan betroubaar gemeet word aangesien die bedrag van die fooi uiteengesit word in die franchise-ooreenkoms. Die fooi voldoen dus aan die tweede vereiste van die erkenningskriteria.

Uit bostaande bespreking van IAS 38 word die stelling gestaaf dat die

aanvangsfranchisefooi ʼn ontasbare bate vir rekeningkundige doeleindes verteenwoordig

aangesien daar aan beide die definisie en erkenningskriteria van ʼn ontasbare bate, soos

vervat in die bepalings van IAS 38, voldoen word. Die moontlike skakeling tussen die rekeningkundige hantering van die franchisefooie en die inkomstebelastinghantering daarvan word vervolgens ondersoek.

3.3 Die moontlike skakeling tussen die rekeningkundige hantering van franchise-