• No results found

Agtergrond en bespreking van die struktuur en werking van die Suid Afrikaanse Inkomstebelastingwetgewing

Hoofstuk 5: Oorweging en bespreking van die moontlike aftrekbaarheid van franchisefooie vir inkomstebelastingdoeleindes onder bestaande Suid-

5.2 Agtergrond en bespreking van die struktuur en werking van die Suid Afrikaanse Inkomstebelastingwetgewing

5.2.1 Agtergrond

In Suid-Afrika word inkomstebelasting ingevolge die bepalings van die Inkomste- belastingwet gehef wat uit 112 artikels en 10 bylaes bestaan. Inkomstebelastingwetgewing in Suid-Afrika is vir die eerste keer in 1914 in die vorm van die Inkomste-belastingwet No.28 van 1914 ingestel, wat sy oorsprong in die Australiese New South Wales Act van 1895 gehad het. Sedert die ingebruikneming daarvan in 1914, is daar verskeie wysigings aan en konsolidasies van die wet gemaak (Huxham & Haupt, 2010:6).

Die wet wat tans van krag is, is die Inkomstebelastingwet No.58 van 1962 (soos gewysig) (hierna genoem, “die Wet”) wat bepalings bevat om vyf verskillende tipes belasting te hef. Hierdie belastings is normale belasting, omsetbelasting, skenkingsbelasting, sekondêre belasting op maatskappye en terughoudingsbelasting (Huxham et al., 2010:6). Ten einde

die proses te verstaan waarvolgens die aftrekbaarheid van ʼn onkoste beoordeel word vir

normale belastingdoeleindes ingevolge die Wet, word die struktuur en werking van aftrekkings binne die bepalings van die Wet vervolgens bespreek.

5.2.2 Die struktuur en werking van aftrekkings binne die Suid-Afrikaanse Inkomstebelastingwet

Belastingpligtiges word in Suid-Afrika op hul belasbare inkomste belas. ʼn Stap tydens die

bepaling van ‘belasbare inkomste’ is om alle bedrae wat ingevolge die Wet as aftrekkings toegelaat word, van ‘inkomste’ (soos omskryf in artikel 1 van die Wet) af te trek. Die hoofartikels in die Wet wat met aftrekkings handel, is artikels 11 tot 19 en 23. Die meeste aftrekkings word ingevolge die sogenaamde algemene aftrekkingsformule toegelaat. Die formule bestaan uit:

• Artikel 11(a) wat bepaal wat afgetrek mag word (die sogenaamde ‘positiewe toets’);

en

• Artikel 23(g) wat bepaal wat nie afgetrek mag word nie (die sogenaamde

Geen aftrekkings mag egter ingevolge die algemene aftrekkingsformule geëis word tensy

die belastingpligtige ʼn bedryf beoefen nie (Stiglingh, Koekemoer, van Schalkwyk,

Wilcocks, de Swardt & Jordaan, 2010:110).

Die res van die artikels 11 tot 19, uitgesluit artikel 11(a), word in die algemeen na verwys as die spesiale aftrekkings. Die spesiale aftrekkings wat by artikels 11(bA) tot 11(x) en 11A, 11B, 11C en 11D ingesluit is, se bedoeling in die algemeen is om die algemene

aftrekkingsformule uit te brei, eerder as om dit te beperk. Daar is nietemin ʼn aantal

spesiale aftrekkings wat ʼn aftrekking beperk. Tensy spesifiek andersins bepaal, is die

spesiale aftrekkings ingevolge artikel 11 onderworpe aan die bedryfsvereiste in die

inleiding tot artikel 11 wat bepaal dat ʼn belastingpligtige ʼn bedryf moet beoefen alvorens ʼn

aftrekking onder artikel 11(a) oorweeg kan word (Huxham et al., 2010:131).

Daar moet ook op gelet word dat artikel 23B bepaal dat waar ʼn bedrag vir ʼn aftrekking of

vermindering ingevolge meer as een bepaling van die Wet kwalifiseer, daar nie toegelaat sal word om daardie bedrag meer as een keer by die berekening van belasbare inkomste

in ag te neem nie (tensy die Wet uitdruklik ʼn dubbele aftrekking vereis). Die artikel bepaal

ook dat geen aftrekking ingevolge artikel 11(a) toegestaan sal word nie indien ʼn spesifieke

artikel oor die aftrekking handel, selfs al word die aftrekking ingevolge die spesifieke artikel

beperk, of indien die aftrekking ingevolge daardie artikel in ʼn ander jaar van aanslag

toegestaan word (Huxham et al., 2010:132).

Uit die bostaande word daar die afleiding gemaak dat wanneer die aftrekbaarheid van ʼn

onkoste oorweeg word, word daar per implikasie ʼn proses van eliminasie gevolg ten einde

die aftrekbaarheid van die onkoste te bepaal. ʼn Belastingpligtige moet dus deeglik bewus

wees van hierdie proses wat soos volg opgesom kan word:

• Oorweeg enige spesiale aftrekkings wat ʼn aftrekking bied vir die spesifieke onkoste;

• Indien geen spesiale aftrekkingsbepaling vir die spesifieke onkoste bestaan nie,

oorweeg die algemene aftrekkingsformule vervat in artikel 11(a);

• Laastens moet die bepalings van artikel 23 altyd in ag geneem word. Artikel 23 stel

dit duidelik dat ʼn aftrekking ten opsigte van sekere items nooit geëis mag word nie.

Selfs al is die onkoste ingevolge artikel 11(a) aftrekbaar, verbied artikel 23 sekere spesifieke aftrekkings.

5.2.3 Toepassing van die Suid-Afrikaanse Inkomstebelastingwet afdelings

Die aftrekbaarheid van franchisefooie binne ʼn Suid-Afrikaanse konteks word bepaal deur

die bogenoemde proses van eliminasie te volg, met ander woorde ondersoek moet

ingestel word of daar eerstens ʼn spesifieke aftrekking bestaan vir die onderskeie

franchisefooie, al dan nie. In die geval waar daar geen spesifieke aftrekkingsbepaling bestaan nie, moet die elemente of kenmerke van die onderskeie franchisefooie opgeweeg word teen die vereistes van die algemene aftrekkingsformule. Enige verbod op die aftrekbaarheid van franchisefooie moet gevolglik ook oorweeg word.

Na ʼn deeglike ondersoek van die Wet kon geen spesifieke aftrekkingsbepaling opgespoor

word wat uitsluitlik verwys na die term franchisefooie en voorsiening maak vir die aftrekking van enigeen van die twee soorte franchisefooie nie. Daar is egter bepalings

geïdentifiseer wat ʼn moontlike aftrekking kan bied, maar wat nie spesifiek na die term

“franchisefooi” verwys nie. Verwys na afdeling 5.2.5 vir bespreking van hierdie alternatiewe aftrekkingsmoontlikhede.

Kennis moet egter ook geneem word van die feit dat ʼn deeglike bestudering van die Wet

geen bepalings opgelewer het wat die aftrekbaarheid van franchisefooie eksplisiet verbied binne die konteks van hierdie studie nie. Die aftrekbaarheid van die verskillende soorte franchisefooie word vervolgens aan die hand van die algemene aftrekkingsformule bespreek. Vir doeleindes van hierdie ondersoek word die aftrekbaarheid van die aanvangsfranchisefooi ingevolge die algemene aftrekkingsformule eerstens bespreek, waarna die aftrekbaarheid van die herhalende franchisefooi bespreek word.

Beginsels voortspruitend uit toepaslike Suid-Afrikaanse regspraak word telkens aangehaal ten einde konsepte van die algemene aftrekkingsformule te omskryf of te verduidelik. Menings en interpretasies van prominente regslui, akademici en belastingpraktisyns word telkens gebruik om beginsels of kwessies te verduidelik of op te klaar.

5.2.3.1 Aftrekbaarheid van die aanvangsfranchisefooi ingevolge die algemene aftrekkingsformule

Die aftrekbaarheid van die aanvangsfranchisefooi word aan die hand van die positiewe en negatiewe toetse, soos vervat in artikels 11(a) en 23(g), van die algemene aftrekkingsformule beoordeel. Artikels 11(a) en 23(g) lees onderskeidelik verbatim as volg: