• No results found

Basisteoretiese perspektiewe van die groot gebod

HOOFSTUK 2: BASISTEORETIESE PERSPEKTIEWE

2.5 DIE GROOT GEBOD: LIEFDE

2.5.1 Basisteoretiese perspektiewe van die groot gebod

Die hipotese wat in hierdie hoofstuk gestel word, is dat liefde die gesindheid beskryf waarmee die jeugbediening uitgevoer behoort te word. Die paradigma van hierdie studie volg ʼn inklusiewe benadering van jeugbediening, waar daar dus na ʼn gemeente verwys word, sluit dit die jeugbediening en jong volwassene in.

Die fokus op Christus gee aanleiding tot oorvloedige liefde by Paulus en hierdie oorvloedige liefde is die raamwerk waarbinne Paulus bedien (Pretorius, 2003:93).

ʼn Verdere hipotese wat ondersoek sal word in hierdie gedeelte van die basisteorie, is dat waar Jesus Christus aan jeug “bedien” word, dit binne dieselfde raamwerk van oorvloedige liefde gedoen moet word, om sodoende die boodskap van die Skrif na die jong gelowige in ʼn gemeente se jeugbediening oor te dra.

Pretorius (2003) se navorsing rakende die Groot Gebod: Meer Liefde, as ʼn Sleutel tot Gemeentebou sal in die basisteorie ondersoek word as sleutel tot jeugbediening en om verdere perspektiewe te verskaf vir gebruik in hierdie studie. Filippense 1:2-11 word vir hierdie basisteoretiese gedeelte gebruik, aangesien die gebed om toenemende liefde daarin vervat word.

2.5.1.2 Die groot gebod in Filippense 1:1-11

Die groot gebod word direk deur Jesus Christus self aangekondig, en vandaar volg die benaming dat Liefde die groot gebod is, volgens Markus 12:29-33:

“Jesus antwoord hom: Die eerste is: „Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here. Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel, en met jou hele verstand en met al jou krag.‟ Die tweede is: „Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.‟ Geen ander gebod is groter as die twee nie.” Keener (1999:531) beweer dat die liefdesgebod die hele etiese denksisteem saamgevat het en wys op Jesus se uitspraak en die gesaghebbende invloed daarvan in die uitlewing van geloof:

“The distinctive primacy that love plays in virtually all early Christian ethics would not have been possible had the Christians not derived this primacy from the mouth of the one Teacher who united them. Thence comes the early Christian “law of love” (cf. Rom. 13:8-10; Gal. 5:14; Joh. 13:34).”In die Filippense brief word die “groot opdrag” reeds aan die begin van die boek openbaar, en vervolgens word hierdie gebod progressief geopenbaar in die res van die Filippense. Die groot gebod gee ook die metode waarvolgens konflik onder gelowiges hanteer moet word, en dit bou voort op die groot fokus. (Pretorius, 2003:96)

2.5.1.3 Die groot gebod in Filippense vir toename in oorvloedige liefde

Agtergrond en tema van die brief aan Filippense

Filippi was ʼn Romeinse kolonie geleë in die noorde van Griekeland en destyds bekend as Masedonië. Filippi was ʼn florerende handelstad en ʼn belangrike stad (Handelinge 16:12), geleë op die grens van Europa en Asië. Paulus, Silas, Timoteus en Lukas het die Egeïese See omstreeks 50 na Christus van Klein-Asië af oorgesteek en by Filippi aan wal gegaan (Hand 16:11-40). Die gemeente in Filippi het hoofsaaklik uit nie-Jode bestaan (Van Rensburg, 1993:1838). Die meerderheid van Filippi se bevolking het uit Romeinse burgers en oud-soldate bestaan.

Paulus skryf hierdie brief vanuit die gevangenis na sy inhegtenisname in Rome en hy rig hierdie skrywe om te bevestig dat hy dankbaar is dat hy mag ly ter wille van die evangelie (Van Rensburg, 1993:1839).

Daar is groot verskille binne die retories-kritiese metode onder skrywers oor wat die eintlike sentrale tema van Filippense is. In dié verband bevestig Pretorius (2003:115) in sy navorsing dat die daadwerklike liefde tot God en tot mekaar, as die sentrale tema gesien kan word. Die aanname word gemaak dat Filippense die horisontale dimensie (mense tot mekaar) illustreer en koinonia deur sommige skrywers as die sentrale tema beskou word. Andere skrywers bring slegs die vertikale dimensie (God en mense tot mekaar) in berekening. Pretorius (2003:115) se navorsing toon dat beide hierdie dimensies waar is en beskou kan word as Jesus se gebod soos in Markus 12 beskryf naamlik “Liefde tot God en Liefde tot mekaar”.

2.5.1.4 Christus se oorvloedige liefde in Filippense

Filippense 1:3-11:

“Danksegging en gebed vir die gemeente.

Ek dank my God elke keer as ek aan julle dink. In al my gebede bid ek altyd met blydskap vir julle almal, omdat julle van die eerste dag af tot nou toe

saamgewerk het aan die verkondiging van die evangelie. Ek is veral ook

daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.

Dit is ook heeltemal reg dat ek so oor julle almal dink, omdat julle my na aan die hart lê. Julle deel immers almal saam met my in die genade wat God my gee, sowel in my gevangenskap as in my verdediging van die evangelie en die bevestiging van die waarheid daarvan. God is my getuie, Hy weet hoe ek na julle almal verlang met die liefde van Christus Jesus in my hart.

Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn

aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik

aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees, en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer.” (kursivering HvD)

Die sentrale tema in Filippense 1:3-8 is gemeenskap (koinonia). Hierdie meewerking aan die evangelie kweek eenheid binne die gemeenskap en het daarom intieme “fellowship” tot resultaat (Dreyer, 1998:38). Hierdie gemeenskap kom horisontaal (mens tot mens) en vertikaal (mens tot God) voor (O‟Brien, 1977:25).

Filippense 1:3-8 word ook deur Pretorius (2003:103) ondersoek aan die hand van die dink en bid terme, waar Paulus eerstens te kenne gee dat hy aan die gemeente dink, daarna dat hy voorbidding doen, maar eers die inhoud van die voorbidding terughou. Die voorbidding handel oor danksegging en hoe die gronde vir danksegging uitgebrei word, naamlik die gemeenskap aan die evangelie.

Die impak wat Jesus Christus se liefdesgemeenskap op Paulus het, word deur die begrippe in 1:3-8 onderstreep en daar word aangetoon dat die effek van Christus se liefde juis die voorbidding en blydskap laat realiseer (Pretorius, 2003:107).

Walvoort & Zack (1985) wys daarop dat hierdie liefde wat Paulus vir die gemeente het setel in die oorweldigende liefde wat hy van Christus self beleef:

“Paul called on God to witness to his feelings toward the Philippians. Paul was aware – as were his readers – that they could not know his heart. But God knew it perfectly. The affection Paul had for his readers was no mere human interest or attraction. It originated with the Lord Jesus Christ Himself. Christ‟s love had so overwhelmed Paul that His affection was Paul‟s very own. The fact that Paul told this to the Philippians demonstrates the reality and intensity of his praise for them.”

Filippense 1:3-8 toon ʼn progressiewe opbou na die gebed om toenemende liefde in 1:9-11 en hierdie gebed spruit voort uit Christus se oorvloedige liefde wat Paulus beleef (Heitink, 1999:99).