• No results found

Basisteoretiese perspektiewe uit die res van die Nuwe Testament vir

HOOFSTUK 2: BASISTEORETIESE PERSPEKTIEWE

2.5 DIE GROOT GEBOD: LIEFDE

2.5.3 Basisteoretiese perspektiewe uit die res van die Nuwe Testament vir

Daar is aangetoon dat die gebed om liefde ʼn sleutel is in die brief aan die Filippense. Daar sal nou kortliks na ander skrifgedeeltes verwys word om die progressiewe openbaring van die groot gebod in die res van die Nuwe Testament aan te toon.

2.5.3.1 Liefde as sleutel in 1 en 2 Petrus

In 1 en 2 Petrus word verskeie temas aangedui wat konflik in hierdie Christene veroorsaak (Pretorius 2003:133), die konflik het verskillende vorme aangeneem, soos:

 Kwaadpratery teen Christene

 Christenvroue wat vanweë hulle Christenskap konflik in die huwelik beleef  Christene wat kwaad met kwaad vergeld het

 Verder was daar in die gemeente ʼn gebrek aan eensgesindheid  Daar was ʼn gebrek aan gasvryheid en ʼn gekla

 Daar was konflik met ouderlinge wat baasgespeel het  Daar was veral konflik met dwaalleraars

In 1 Petrus 1:22-23 word die fokus duidelik op die Liefdesgebod gerig, en volgens Louw & Nida (1996 [13.55]) word hierdie openbaring duidelik aan die wedergeboorte gekoppel:

“Noudat julle in gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig het om mekaar as broers ongeveins lief te hê, moet julle mekaar dan ook van harte en vurig liefhê. Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God.”

2.5.3.2 Liefde as sleutel in 1 Tessalonisense 1:2-3

Liefde word hier ook as ʼn toenemende, progressiewe handeling beskryf met die woord “inspanning”, wat lei tot die fokus op Jesus Christus:

“Ons dank God altyd vir julle almal wanneer ons in ons gebede aan julle dink. Sonder ophou bring julle dan voor God ons Vader in herinnering die werk van

julle geloof, die inspanning van julle liefde en die volharding van julle hoop op ons Here Jesus Christus.”

2.5.3.3 Liefde as sleutel in 1 Tessalonisense 2:12

“En mag die Here julle liefde vir mekaar en vir alle mense laat groei en oorvloedig maak, net soos ons liefde vir julle.”

Die toenemende liefde en progressiewe openbaring van liefde word duidelik as versoek gerig. Die woord “groei” wys daarop dat die vergestalting van hierdie gebod nie, eenmalig afgehandel word nie, maar “meer” moet word. Die vertikale en horisontale beginsel word sigbaar aangebied, om hierdie sleutel vir die realisering van koinonia te bevestig.

2.5.3.4 Liefde as sleutel in Kolossense 2:2

“My doel daarmee is dat hulle bemoedig moet word. Hulle moet met liefde aan mekaar verbind wees en saam strewe na diep en volledige insig, sodat hulle God se geheimenis kan ken. Die geheimenis is Christus, en in Hom is al die verborge skatte van wysheid en kennis te vind.”Die sleutel vir die koinonia in hierdie gedeelte is die liefde wat gelowiges aan mekaar verbind. Die fokus op Jesus Christus, waarin wysheid en kennis te vinde is, word as basis en voorwaarde vir die verkryging van ‟n diep en volledige insig aangebied.

2.5.3.5 Liefde as sleutel in 1 Tessalonisense 2:11-12

“Mag God ons Vader self en ons Here Jesus ons pad na julle toe oopmaak! En mag die Here julle liefde vir mekaar en vir alle mense laat groei en oorvloedig maak, net soos ons liefde vir julle.”In bogenoemde Skrifgedeelte is die vertikale verhouding en die horisontale verhouding, soos hierbo bespeek, weereens die basiese raamwerk waarvolgens die Christelike geloof uitgeleef word en bedien word. Verder is dit duidelik dat dit bewerk word deur God self met die fokus op Jesus Christus. Niemand kan dus op hulself roem nie. Die liefde jeens mekaar, is “toenemend”, met ander woorde dit groei en is nie ʼn eenmalige afhandeling nie. Die tema “meer liefde” in hierdie bede, onderskryf die gebed in Filippense waar Paulus bid dat die liefde meer oorvloedig vir mekaar word.

2.5.3.6 Liefde as sleutel in 1 en 2 Johannes

In Johannes se geskrifte word Liefde as sleutel gegee, en is Liefde ʼn uitstaande kenmerk. Liefde is in die Johannes briewe ʼn baie praktiese saak wat in dade na vore moet kom.

Liefde tot God en tot die naaste, dus die vertikale en horisontale verhoudings, kom treffend na vore in:

2.5.3.7 Johannes 4:7-12.

“Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ʼn kind van God en ken God. Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde. Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes. Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê. Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.”Die kenmerke van kinders van God, is dat ons mekaar liefhet. Wanneer jy waarlik kennis het, sal die vrug van liefde in jou lewe sigbaar wees. Die keersy word gestel, dat wanneer jy liefdeloos optree, jy geen kennis van God het nie.

2.5.3.8 2 Johannes 5-7

“Dit is nie iets nuuts wat ek vir julle voorskrywe nie, maar ʼn gebod wat ons van die begin af gehad het: ons moet mekaar liefhê. En liefde beteken dat ons volgens die gebooie van God lewe. Soos julle van die begin af gehoor het, is dit sy gebod dat julle in die liefde moet lewe.

Daar het baie misleiers te voorskyn gekom in die wêreld. Hulle erken nie dat Jesus die Christus is wat mens geword het nie. Dit is wat ek met „die misleier‟, „die „antichris‟, bedoel.”

Die liefdesgebod is deur Jesus gegee en daarom is dit nie nuut nie. Dit rig ook die lewe van kinders van God. Volgens hierdie brief is die misleiers hulle wat nie Jesus Christus erken nie (nie die fokus op Jesus Christus het nie). In hierdie gedeelte is dit hulle wat dus ook nie Jesus Christus se gebod “Lewe in Liefde” onderhou nie.