• No results found

Hoofstuk 4: Voorbeelde van taakgebaseerde lesse

4.2 Voorbeelde van taakgebaseerde lesplanne

4.2.3 Voorbeeld 3: “Mutsuku” deur Izak de Vries

A Pretaak

In die pretaakfase wat oor een periode plaasvind, word tyd afgestaan aan 'n gesprek oor troeteldiere en wat hulle vir 'n mens beteken; asook wat dit van 'n mens vereis word indien hy 'n troeteldier het. Dit maak deel uit van die mondelinge take of die leerders voer debat hieroor in die klaskamer.

Die leerders doen daarna ’n probleemoplossingstaak oor wat gebeur wanneer pensioen- betalings gestaak word. As agtergrondinligting word berigte aan die leerders gegee oor ’n spesifieke gebeurtenis in Limpopo in 1997 toe pensioenbetalings gestaak is as gevolg van die onbevoegdheid van die plaaslike regering. Leerders maak gevolgtrekkings oor die gevolge van so 'n gebeurtenis en deel dit met hulle klasmaats.

Die verhaal word daarna in die taakfase gelees en die onderwyser verduidelik sekere woorde sodat woordeskat aangevul word en die verhaal verstaan kan word of die leerders doen ’n woordeboekoefening. Die volgende woorde is voorbeelde: “dumpie”, “kaia”, “buitepasiënte”, “skim”, “protes”, “ritueel”, “wik en weeg”, “etter” en “rigor mortis”.

Verdere meningsuitruilingstake in verband met die gebeure en die slot van die verhaal word in die taakfase gedoen sodat leerders hulle daarmee kan vereenselwig.

In die geval van hierdie verhaal pas 'n luisteroefening in die posttaakfase om die leerders met die inhoud vertroud te maak, voordat na die hooftaak oorgegaan word.

B Hooftaak/tydens lees

Die titel

Die titelnaam “Mutsuku” word eerstens bespreek en wat daaruit afgelei kan word deur gebruik te maak van ’n dinkskrum en feitebepalings uit die verhaal uit. Mutsuku is Ndou se hond se naam en die titel bewys dat die hond die belangrikste “karakter” in Ndou se lewe was.

Die milieu van die verhaal

Daar word vir die leerders gevra of hulle hul kan vereenselwig met die omstandighede. Die doel is om deur middel van ’n verbindingstaak te kyk of en waar hulle met Ndou kan identifiseer. Indien wel, kan hulle hulle ervarings met die klas deel.

Karakterisering

Die volgende vrae word aan die leerders gevra: Wie is die hoofkarakter en die tweede belangrikste karakter? Die leerders werk twee-twee saam om die vraag te beantwoord. Daarna vind 'n kort bespreking van die verhaal plaas oor die karakterisering van Ndou: hoe hy aan die leser bekendgestel word en die konflik in die verhaal.

Intrige

Daar word gebruik gemaak van sortering- en ordeningstake deurdat die leerders bepaalde vrae twee-twee moet beantwoord. Voorbeelde van die vrae is:

1. Watter rol speel die feit dat die pensioene nie uitbetaal is nie? 2. Watter gebeure het plaasgevind nadat Ndou meel gekry het? 3. Watter gevolge het die inbraak by Ndou se kaia gehad?

Konflik

Die leerders moet ook kyk na watter tipe konflik die meeste in die verhaal voorkom en wat dit van die hoofkarakter sê.

Die einde

Die leerders moet gesels oor wat met Ndou gebeur het.

Die voorafgaande take wat deel is van die hooftaak, is voorbeelde van rangskikking- en sorteringstake sodat die leerders die opeenvolging van gebeure aan die einde van die verhaal kan begryp. Hierdie fase geskied oor twee periodes.

C Posttaak/postlees

In hierdie fase word hoofsaaklik op grammatika gefokus.

Spelreëls:

Die leerders moet die spelreëls aflei van die volgende woorde as hersieningsoefening: 1. avokado's 2. taxi's 3. spieël 4. sinkkaia (dubbel-k) 5. môre 6. hoë 7. geëet 8. krukke 9. maer/maar

10. hooflettergebruik in maande en name

Homonieme:

Daar word gebruik gemaak van ʼn taalspeletjie om homonieme te toets. Die klas verdeel in twee groepe en hou ’n vasvrakompetisie om te kyk wie die meeste homonieme korrek het.

1. lysie 2. meer 3. pap 4. goed 5. tou 6. blaaie 7. hoop 8. brand

Met die baie dialoog in die kortverhaal, oefen ek direkte en indirekte redes van maklike tot moeiliker voorbeelde:

1. “Jy is baie maerder,” sê die jong doktertjie by die kliniek vir hom. “Drink jy jou pille?”

Die jong doktertjie by die kliniek sê dat hy baie maerder is en vra hom of hy sy pille drink.

2. “Môre sal ek weer 'n bietjie versigtiger wees met my deel,” sê hy vir Mutsuku. “Maar dié sak sal darem 'n rukkie kan hou vir jou. Dalk skenk hulle weer.”

Hy sê vir Mutsuku dat hy die volgende dag 'n bietjie versigtiger sal wees met sy deel, maar dat daardie sak 'n rukkie vir hom sal hou en dat hulle dalk weer sal skenk.

Eintlik is daar veel meer voorbeelde van taalgebaseerde take in elke kortverhaal. Voorsetsels en woordsoorte kom oral voor, so ook leestekens, antonieme en sinonieme.

In die geval van hierdie verhaal word as posttaak 'n opsomming gegee. Ek verduidleik eerstens aan die leerders watter gegewens die belangrikste is en hoe hulle hierdie belangrike feite moet vind om ʼn opsomming te kan doen. Hierdie taak WORD deur die onderwyser geassesseer om leerders te wys watter feite en gebeure die belangrikste is. Die opsomming dien ook as oefening of bewys van die korrekte gebruik van Afrikaans. Dus vorm die posttaak ’n voorbeeld van projekte en kreatiewe take.

'n Ander posttaak is waar die leerders 'n opstel skryf waarin hulle meneer Ndou se onvoorwaardelike liefde vir sy hond as sy beste en enigste vriend beskryf.

Leerders spreek ook hulle oordeel oor die verhaal uit en motiveer dit deur die gebruik van ’n meningsgapingstaak. Dit vind skriftelik plaas in ’n resensie oor die verhaal.

Met 'n lesing tydens 'n slypskool van die ATKV te Nelspruit op 1 Augustus 2015 het Olga Channing, outeur van 23 opvoedkundige publikasies, gepraat oor geïntegreerde taaloefeninge tydens letterkunde-onderrig. Dit bevestig die idee dat taal gedurende die lees van poësie, prosa en drama ingeprent word as die onderwyser die leerders herhaaldelik op sekere taalaspekte wys. Sy het gesê dat indien ’n mens ’n teks lees en daar kom spesifieke voorbeelde van spelling voor, jy dit aan die leerders moet uitwys, sodat dit leer deur herhaling word. Later sien die leerders self die voorbeelde raak, sonder dat dit formeel geleer word.