• No results found

Hoofstuk 2: Taakgebaseerde benadering

3.5 Nadele van die gebruik en onderrig van letterkunde

Daar is nadele aan die gebruik en onderrig van letterkunde verbonde wat dit noodsaaklik maak dat die onderwyser aan sekere aspekte daarvan aandag moet gee.

Die KABV (2012: 91) spreek diversiteit in die klaskamer aan en hoe om dit te verstaan. Die onderwyser moet weet hoe om die verskille tussen die leerders te hanteer, stereotipering uit te skakel en benaderings en metodologieë voordurend aan te pas. Dit beteken dat die

letterkundige teks die geleentheid bied om alle leerders in die leerproses te help.

Volgens Khatib, Rezaei en Derakhshan (2011: 208) is die keuse van letterkundige tekste baie belangrik, aangesien dit ook ’n hindernis vir addisioneletaalaanleerders kan wees. Wat oorweeg moet word, is die leerders se taalvaardighede, ouderdom, geslag en hulle voorkeure. Die letterkundige tekste moet gepas wees sodat die leerders daarmee kan werk. Op skoolvlak is die geslag, ouderdom en taalvaardighede baie uiteenlopend in elke graad en dit kan die keuse van letterkundige tekste bemoeilik.

Om ’n gepaste teks te kies, moet daar in gedagte gehou word dat letterkundige werke met argaïese woorde en uitdrukkings, slengtaal en verwysings wat onbekend is aan die leerders nie dieselfde uitkomste sal bied as eenvoudiger werke nie. Nog ’n voorbeeld is soos byvoorbeeld tekste met baie lang sinne wat die leesbaarheid van die teks sal kompliseer. Volgens Floris (2004: 4) is die lengte asook kulturele faktore van die teks problematies. Dit is dus nodig om toepaslike letterkundige werke te kies wat bogenoemde probleme oplos.

Alhoewel die aanvaarding en verstaan van ander kulture ’n voordeel vir die gebruik van letterkunde as middel tot aanleer van ’n addisionele taal inhou, kan dit ook ’n nadeel wees.

Die onderwyser in die addisioneletaalklaskamer moet versigtig wees om die leerlinge te lei in die ontdekking en studie van die betrokke waardes wat elke leerder in die klas met hom saambring sodat niemand aanstoot neem nie (Kruger, 2001: 87-88). Veral in Suid-Afrika waar daar ʼn politieke stigma aan Afrikaans kleef, moet dit met ʼn deurdagte beplanning en ʼn gemotiveerde keuse van letterkundige tekste saamhang sodat die leermateriaal kultuursensitief is. Die voorgeskrewe verhale vir matriek word nie deur die onderwyser gekies nie en daarom moet elke verhaal met groot sensitiwiteit behandel word. In die laer grade kies die onderwyser die verhale, wat veroorsaak dat hierdie kultuursensitiwiteit nie ter sprake nie. Daar moet egter in gedagte gehou word dat die leerders ook vir persoonlike groei aan ander kulture en tye in die geskiedenis blootgestel behoort te word.

Opvoeders moet volgens Kruger (2001: 76) heeltyd konsentreer op die ontwikkeling van leerders se vermoë om kulturele en estetiese sensitiwiteit te openbaar in verskillende sosiale kontekste. Stereotipering (veral etniesgesentreerde stereotipering) in kultuur kan ’n probleem wees waarvan die opvoeder bewus moet wees, want dit kan ’n negatiewe impak

op die interpersoonlike kommunikasie toon, wat die onderrig van interkulturele begrip kan skaad (Kruger, 2001: 79). Dit word bevestig deur Floris (2004: 4), wat van mening is dat die probleem by die kulturele inhoud van letterkundige tekste lê. Mckay (1982: 532) het reeds in 1982 beweer dat kultuur ’n probleem by die onderrig en leer van letterkundige tekste is.

Floris (2004: 4) skryf: “Many EFL teachers and students see literature as a hindrance because the literary language is viewed as incomprehensible”. Hy is verder van mening dat die lengte van tekste ook ’n probleem kan wees: “For some, longer texts may appear more difficult, whereas for others, shorter texts present more difficulties” omdat korter tekste nie die kontekstuele ondersteuning en herhaling van langer tekste bied nie (Floris, 2004: 4).

Derhalwe kan addisioneletaalaanleerders letterkunde as kompleks en ontoeganklik beleef en dit kan 'n negatiewe gevoel veroorsaak. Die oplossing vir hierdie probleme of nadele is dat daar vereis word dat die letterkundige tekste behoorlik gekies moet word, sodat dit effektief toegepas kan word.

McKay (1982: 529) beweer dat die strukturele kompleksiteit en die unieke taalgebruik in letterkunde nie eintlik bydra tot die aanleer en verwerwing van ’n addisionele taal nie – veral wanneer grammatikae (taal) onderrig word. Savvidou (2004) verwys daarna dat addisioneletaalaanleerders se houding teenoor die letterkundige tekste negatief is, omdat die taal te kompleks is. Die kreatiewe taal in letterkunde wyk af van die standaardtaal wat leerders meestal hoor. Die gevolg is dat dit moeiliker is om op letterkundige tekste te konsentreer – leerders skakel dikwels net af, sonder om te probeer. Die oorsaak is dat sommige leerders se kennis en woordeskat nog op die vlak van die basiese gebruik van die taal is.

Bagherkazemi en Alemi (2010: 1) noem ook dat die letterkundige tekste se struktuur ingewikkeld en uniek is en dat niestandaardtaal soms gebruik word. Dit veroorsaak dat die letterkundige tekste ’n probleem kan wees. In die geval van moeiliker tekste is dit die onderwyser wat die probleem moet aanspreek. By “Agter ’n baard” en “Uhuru” is dit definitief nodig dat die onderwyser van die taalgebruik moet verduidelik.

Afrikaans is dat dit geen rol in hulle akademiese en/of beroepsdoelwitte speel nie. Dit word onder andere veroorsaak as gevolg van die gebruik en invloed van Engels in werkplekke en as wêreldtaal. Die omstredenheid oor Engels as voertaal aan universiteite, wat in 2015 en 2016 in die koerante en die nuus is, help nie om ’n positiewe houding teenoor Afrikaans te kweek nie.

Daar word in die nuwe kritisisme ook volgens Van (2009: 3) beweer dat letterkunde niks het om aan te bied vir die doelwit van die addisioneletaalonderrig nie. Die rede hiervoor is myns insiens die leestraagheid wat by die meeste leerders voorkom. Hierdie leestraagheid is deur eie ondervinding by Afrikaans Huistaalleerders gevind; maar nog meer by tweedetaalleerders.

Alhoewel hierdie probleme wel bestaan, kan dit opgelos word deur die keuse van letterkundige tekste en die ommeswaai van kulturele verskille tot die uitbreiding van interkulturele begrip en aanvaarding. Die keuse vir die letterkundige tekste lê nie by die onderwyser self nie, want dit word provinsiaal voorgeskryf. Uit ondervinding het ek bevind dat leerders byvoorbeeld geensins bewus was van die grensoorlog (“Agter ’n baard” deur Hennie Aucamp) nie. Hulle het dit interessant gevind het en die verhaal was vir hulle persoonlike groei omdat hulle iets nuuts geleer het.

Die gebruik van lirieke, dramas, kabaret en TV-programme kan voordelig vir die aanleer van ’n addisionele taal wees, maar nie noodwendig vir skoliere nie, aangesien daar spesifieke voorgeskrewe werke is wat bespreek moet word en daar is nie juis tyd vir die ander genres nie.

Swanepoel (2012: 45) skryf: “Ons sit met ’n Catch 22-situasie. Ons wil ons leerders help om in Afrikaans (Addisionele Taal) te presteer; daarom gebruik ons Engels om Afrikaans te verduidelik.” Indien leerlinge nie op laerskoolvlak Afrikaans gevolg het nie, is daar 'n agterstand met die kennis van Afrikaans. Hierdie situasie word onder meer bepaal deur die ligging van die skool. Van die onderwysers se moedertaal is ook nie Afrikaans nie, wat die gevolg mag hê dat die outentieke gebruik van Afrikaans nie oorgedra word nie.

Wat volgende bespreek word, is die kontekstualisering van die onderrig van Afrikaans as tweede taal, wat met behulp van die KABV se vereistes makliker gemaak word.