• No results found

HOOFSTUK 4 GEVOLGTREKKINGS

4.3 VERTELLERPATRONE EN DIE UITWERKING OP DIE

GEHOOR

Die vertellers van hierdie verhale is ook met mekaar vergelyk. Daar is bevind dat die oorgrote meerderheid van die vertellers van die manlike geslag is. Daar bestaan ‟n moontlike korrelasie hier met narratiewe praktyk in Afrika: trieksterverhale word gewoonlik deur mans vertel (omdat dit die politieke verhoudinge suggereer) en verhale oor huishoudelike verhoudinge word weer deur vroue vertel. Daar word ook heelwat spore gevind van vertellers wat die stories aangepas het by hul leefwêreld. Sommige vertellers brei meer uit oor die gebeure as ander. Sommige vertellers is baie ingestel op die gehoor vir wie die vertelling bedoel is en pas hulle vertellings aan deur middel van versagtende woorde asook die inlas van morele lesse. ‟n Meer dramatiese vertelteks (uitroepe, slim woordkeuses en baie dialoog) verseker ook die gehoor se aandag en veroorsaak dat die gehoor hulle kan inleef in die gebeure en die gebeure makliker kan visualiseer. Sommige vertellers gebruik ook die tegniek om die gehoor direk aan te spreek om sodoende hulle aandag te verseker.

Daar is ook bevind dat vertellers sporadies gebruik maak van vreemde sintaktiese vorme om die mondelinge verteltrant weer te gee. Dialoog kom voor in hierdie verhale, maar word op beperkte skaal, soos byvoorbeeld in vertellers 1, 2 en 3 se verhale. Die dialoog kom egter volop voor in vertellers 4 tot 8 se verhale.

Die vertellers se breë strukturering van die verhale is ook vergelyk. Die bou van die verhale lyk dan as volg:

Inleiding

In die algemene struktuur en funksie van die inleiding in hierdie verhale is die volgende waargeneem:

Soms gebruik die verteller die inleiding om nog van die gebeure van stories wat klaar vertel is, te betrek. Dié vertellers maak ‟n appèl op die gehoor se kennis van die stories wat reeds vertel is.

Die inleiding van die verhale kondig gewoonlik die helper (aktant) en ook die begunstigende aan wat die triek op Wolf gaan help voltrek. Soms gebeur dit dat die inleiding dialoog is. Die gehoor word dan dadelik betrek by die gebeure. Hierdie inleiding beslaan ook ‟n bietjie meer verteltyd. Die verteller gee hier aan die karakters die eerste woord, wat veroorsaak dat die storie dadelik karakter-gefokaliseerd is. Die effek wat hierdie vertelwyse het, is dat dit die gehoor se ervaring, siening en evaluering van die gebeure beïnvloed.

Soos reeds in 4.1.2.5 Fokalisasie en stem bespreek is, spreek die verteller die gehoor

direk aan. Dit dien ook as ‟n tegniek van die verteller om te verseker dat hy die gehoor se aandag het. Omdat hierdie verhale grootliks bedoel is vir kinders, is dit veral nodig om hulle aandag te behou omdat hulle gedagtes maklik dwaal. Dis ook ‟n bedekte waarskuwing dat die gehoor iets te wagte moet wees en daarom nou mooi moet luister. Die verteller betrek as‟t ware die gehoor met hierdie tegniek by die verhaal.

In sommige verhale is daar reeds in die inleiding sprake van wantroue en konflik tussen Jakkals en Wolf. Jakkals sal met ander woorde eers Wolf se wantroue in hom en sy planne hier moet oorkom. Dit dra ook by tot die vermensliking van die dierekarakters, omdat Wolf die emosie, soos ‟n mens, van wantroue beleef en Jakkals dit besef. Dit gee met ander woorde aan die verhaal meer psigologiese diepte. Omdat Jakkals eers Wolf se vertroue moet wen, neem die verhaalontwikkeling tot by die triek in hierdie betrokke verhaal ‟n bietjie langer.

Uit die besonderhede wat in die inleiding verstrek word, kon waargeneem word dat die gehoor meer inligting kry in verteller 5 se inleidings as in vertellers 1, 2 en 4 s‟n.

143

HOOFSTUK 4: Gevolgtrekkings Middel

In die middeldeel van die stories verduidelik Jakkals sy planne aan Wolf, en voer die twee karakters die planne uit. Die gevolg van die uitvoering van die plan word ook in hierdie deel aangetref. Hierdie gedeelte beslaan die meeste verteltyd van die storie.

Die middeldeel van die storie word ook gebruik deur die verteller om die triek bekend te maak maar die triek word nie dadelik ontbloot of aangekondig nie. Jakkals se plan word uiteengesit om agtergrond te skets en die gehoor, wat vir Jakkals en sy skelmstreke ken, word stelselmatig bewus van wat Jakkals in die mou voer. Hierdie middeldeel skakel met die aktualisering in Bremond se handelingslogika, omdat dit die handelingswyse is om die doel (van die triek) te bereik. Jakkals vind satisfaksie daarin om sy vernuf ten toon te stel ten koste van Wolf se domheid en hierdie tema word deurgaans in al die stories gevind.

Slot

Die Suid-Afrikaanse Jakkals-en-Wolfverhale se slot is kort en bondig en die ontknoping en slot volg mekaar vinnig op en bevestig daarom die strukturele eienskappe in die Suid- Afrikaanse volksverhale wat deur Lotz (1959:118-121) geïdentifiseer is. Sodra Jakkals vir Wolf getriek het, vind die ontknoping plaas. Jakkals los dan vir Wolf in die een of ander penarie en gaan roep dan vir Boer wat Wolf ongenadig kom straf. Jakkals triek vir Wolf en Wolf se behoefte aan kos word soms bevredig ten koste van homself en soms kom hy heeltemal bedroë daarvan af. Die spanning in die stories word tot ʼn hoogtepunt gevoer wanneer die gehoor agterkom dat Wolf weer toegelaat het dat hy in ʼn triek gelei word. Die uitwerking op die gehoor is dat die verhaal aan hulle geykte verwagtings voldoen. Die spanning het dus ‟n bevestigende funksie: die wêreld is nog soos hy is; Wolf sal weer gestraf word en Jakkals sal weer loskom. Soms lyk die slot effens anders as in die res van die verhale. Dan probeer die verteller ʼn les aan die gehoor oordra en is die slot met ander woorde, didakties en/of moralisties van aard.

Vertellers 1 tot 3 se verhale is korter en met minder besonderhede ingekleur as vertellers 4 tot 6 se verhale. Die episodes in vertellers 1 tot 3 is met ander woorde korter en meer kompak terwyl die episodes in vertellers 4 tot 6 langer en meer uitgebreid is. Die handelingslogika verskil met ander woorde van verteller tot verteller. Sommige vertellers se verhale is minder ingekleur en gebruik met ander woorde minder reekse om hul verhale te vertel. Vertellers 1 tot 3 is vertellers uit die mondelinge tradisie terwyl vertellers 4 tot 6 vertellers uit die geskrewe tradisie is. Vertellers 4 – 6 moet met ander woorde meer gebruik maak van beskrywende woorde en frases omdat vertellers van die geskrewe

tradisie die mondelinge tradisies se verteltegnieke van gesigsuitdrukkings, liggaamstaal en stemtoon moet vervang.