• No results found
Hoofstuk 5 Proses en ontwikkeling
5.7 Tussenin – Evaluering en verfyning
Ná die positiewe terugvoer en insiggewende gesprekke het ek met ons terugkoms in Potchefstroom die derde prototipe van die koppelvlak ontwerp. Hierdie koppelvlak kan beskou word as ʼn verfyning van die ontwerpbeginsels en -elemente wat ek reeds in prototipe 2 toegepas het. Met Philip se terugvoer in gedagte, het ek seker gemaak dat ek genoeg konteks met die ARIA-etikette skep. Ek het probeer om elke aanname wat ek moontlik binne die koppelvlakontwerp kon maak, te identifiseer en te bevraagteken, en het tydens hierdie proses opnuut besef hoe moeilik dit is om vanuit ʼn ander perspektief ontwerp te beoefen. Ek het dit verder goed gedink om die mediakontroles (“speel”, “stop” en “herspeel”) te programmeer dat dit bo-aan die skerm bly. Die kontroles bly dan binne die gebruiker se bereik en die gebruiker hoef nie telkens weer al die pad te gaan om hierdie funksies te kan gebruik nie. Nog ʼn belangrike aanpassing was om voorsiening te maak vir die diverse inhoud en formaat van die twee projekte. Die Tuinverse bestaan uit verskeie weergawes van die gedigte (vertalings) en ʼn verskeidenheid media (teks, klank, video), terwyl die Pionierstories slegs een weergawe van ʼn storie bevat (teks en klank). In die geval van die Pionierstories is dit daarom onnodig dat die gebruiker eers na ʼn keuselys toe gaan om by die inhoud uit te kom. Ek het om dié rede besluit dat die QR-kode die gebruiker direk na die inhoud toe sal neem (tensy daar ander weergawes of vertalings bygevoeg sou word). Hiermee wou ek juis die hoeveelheid stappe in die navigasie minimaliseer sodat gebruikers makliker kan navigeer en die funksies van die stelsel kan herken (Shneiderman & Plaisant, 2005:75). Ons het besluit om ʼn skakel in die koppelvlak by te voeg vir toegang tot die skrywersinligting, om op hierdie wyse erkenning aan die skrywer van die betrokke teks te gee. Anders as wat die geval is met die inhoud wat vertolkend voorgelees is, en as klanklêers geluister word, word die skrywersinligting deur die skermleser gelees. Die modulêre aard van die koppelvlak maak dit wel moontlik om, indien nodig, met ʼn volgende fase van die projek voorlesings van die skrywersinligting by te voeg.
Voorbeeld van HTML met ARIA-etikette (Prototipe 3):
Opsielys:
Tuinverse
Klippepad: Franci Greyling
Kies 'n ervaring:
Hoëkontraskieslys en klankbaankontroles:
Nadat ek die ARIA-etikette opgedateer het en die koppelvlak se bruikbaarheid verbeter het, was ek baie gretig om terugvoer te kry. Ek en prof. Greyling het vir prof. Hans du Plessis genader, om te kyk of hy die koppelvlak kon gebruik. Prof. du Plessis, wat swaksiende is as gevolg van ʼn vorm van oorerflike makulêre degenerasie, was sedert die begin van die Byder- handprojek as skrywer en navorser by die projek betrokke. Ons het onder andere sy gedig, “Botaniesetuinsonnet”, vir die toets gebruik. Hierdie gedig, wat oorspronklik vir die NWU Botaniese Tuin geskryf is en ook deel van die versameling in die multisensoriese tuin is, het weergawes in vier tale (Afrikaans, Engels, Portugees, Setswana) asook ʼn musikale verwerking. Tydens die toetsgeleentheid het ek ook met prof. du Plessis gesels oor hoe hy sy slimfoon gebruik. Hy het hoofsaaklik gebruik gemaak van hoëkontras- en vergrote teks, en het die teks soveel vergroot dat slegs gedeeltes van woorde op die skerm vertoon het. Verder het hy gebruik gemaak van ʼn stilus om opsies te selekteer. Ek het tot op daardie stadium nog nie ʼn swaksiende persoon teëgekom wat met ʼn stilus werk nie. Dit het my weereens bewus gemaak dat daar soveel verskillende gebruikersvoorkeure is dat ʼn ontwerper nooit alles in ag sal kan neem nie. Prof. du Plessis het die koppelvlak bruikbaar gevind en kon maklik deur die inhoud navigeer. Ek wou hierdie prototipe (koppelvlak prototipe 3) so gou moontlik saam met die leerders van die skool toets. Ek moes egter wag tot die volgende besoek aan Worcester om terugvoer te ontvang, en het opnuut besef hoe moeilik dit is om ʼn plekspesifieke digitale literatuurprojek ver van die betrokke plek en die gebruikers te ontwikkel. Ons het ʼn hele paar keer deur platforms soos Skype en WhatsApp met spanlede in Worcester gekommunikeer, maar ons kon werklik eers probleme indiepte verstaan en oplos wanneer ons op die plek en saam met die deelnemers was.
5.7.2 Braille: Prototipe 2
Die brailleprototipes wat ons by dr. Verhoef agtergelaat het, is onder andere deur die skool se oriëntasie- en mobiliteitspesialis met leerders getoets om te bepaal of dit funksioneel kan wees. Die brailleborde is plat teen ʼn gangmuur in die skoolgebou aangebring en die leerders is gevra om dit te lees. Ons het terugvoer in die vorm van foto’s en video’s vanaf dr. Verhoef ontvang waarin die leerders die brailleprototipes lees. Uit die beeldmateriaal en die terugvoer van die oriëntasie- en mobiliteitspesialis en ander onderwysers was dit duidelik dat ons op die regte spoor was met hierdie prototipes.