• No results found

Subtema 3 Wyses waarop weerstand manifesteer:

2.3.4 Tema 4: Metodes om weerstand aan te spreek

Die vierde tema wat wat na vore gekom het, is Metodes om weerstand aan te spreek. Die drie subtemas van hierdie tema word in Tabel 2.5 weergegee, waarna dit bespreek sal word.

Tabel 2.5: Tema 4: Metodes om weerstand aan te spreek TEMA 4

Metodes om weerstand aan te spreek

34

Subtema 2 Die identifisering en hantering van onderliggende probleme

Subtema 3 Spelterapie

2.3.4.1 Die skep van vertroue tussen kliënt en maatskaplike werker

Vanuit die empiriese resultate het deelnemers dit beklemtoon dat die bou van vertroue bepalend is vir die hantering van weerstand. Een deelnemer noem dat die adolessent eers werklik sal praat oor onafgehandelde sake indien die terapeutiese verhouding gevestig is en daar onvoorwaardelike vertroue tussen die adolessent en maatskaplike werker bestaan. Ander aanhalings in hierdie verband:

“… weerstand by almal word mos maar afgebreek deur vertroue”

“… vertroue te bou en daai atmosfeer dat kliënte meer gemaklik voel en sal wil deelneem en voel dit is veilig …”

Perkinson (2012:203-205) noem dat die adolessente dwelmafhanklike wat vir terapeutiese behandeling aanmeld geneig is om weerstand te toon. Dit is dus belangrik dat die maatskaplike werker tydens die terapeutiese ingryping 'n vertrouensverhouding vestig. Kirst- Ashman (2012:448) sluit vervolgens hierby aan en noem dat die terapeutiese verhouding tussen die adolessente dwelmafhanklike en die maatskaplike werker kenmerkend moet wees van vertroue. Schoeman (2004:121-127) is van mening dat die bou van 'n terapeutiese verhouding met die adolessent as hoeksteen van die terapeutiese proses beskou kan word. Soos in die vorige paragraaf genoem, is vertroue tussen die adolessente dwelmafhanklike en die maatskaplike werker van onskatbare waarde in die hantering van weerstand. Een deelnemer noem dat hoewel hierdie verhouding reeds tydens die aanvang van terapie gevestig moet word, dit nie noodwendig tydens die aanvangsfase sal gebeur nie. Dit blyk dus dat daar deurlopend aan hierdie verhouding gewerk moet word.

35 2.3.4.2 Die identifisering en hantering van onderliggende probleme

Die meeste deelnemers het tydens die empiriese studie bekend gemaak dat weerstand suksesvol hanteer word indien die onderliggende probleme by die adolessent aangespreek word. Die volgende aanhalings bevestig hierdie subtema:

“Daar kan ander tipe van goed wees wat onderliggend is en as daaraan aandag gegee kan word, as daai goed aangespreek word dan mag hierdie kliënt meer sukses behaal ...”

“... want die weerstand kan ook baie keer [manifesteer] as gevolg van ander dinge wat gebeur met sy verlede ...”

“... hoe jy gaan help dat daai kliënt se ‘core’ probleem aangespreek word ...”

In hierdie verband identifiseer deelnemers die onderliggende probleme van die adolessent as gebeure wat in die verlede plaasgevind het en steeds as onafgehandelde sake ervaar word. Deelnemers is van mening dat indien hierdie onderliggende probleme of onafgehandelde sake aangespreek word, dit ook die weerstand by die adolessent sal verminder. Bronwen-Miller (in Mouton, 2005:110) beskryf die adolessent se onafgehandelde emosies volg: “Tangled in the

mesh of the addicted person’s unexpressed feelings is an elaborate denial system”. In aansluiting hierby definieer Joyce en Sills (2010:119) hierdie onafgehandelde sake (onvoltooidhede) as traumatiese of moeilike belewenisse in die adolessent se verlede wat nie afgehandel is nie. Hierdie onderliggende of agtergrondbehoeftes kan in die vorm van emosionele en kognitiewe blokkasies asook fisieke spanning voorkom, wat organiese selfregulering voorkom (Yontef & Fuhr, 2005:89). Die navorser is van mening dat laasgenoemde blokkasies as weerstand kan manifesteer tydens die terapeutiese proses en in die vorm van kwade gevoelens, woede, vyandigheid asook psigosomatiese siektetoestande kan presenteer.

2.3.4.3 Spelterapie

Spel en die benutting van spelterapie word as aangewese wyses vir die aanspreek van weerstand beskou. Gallo-Lopez en Schaefer (2005:5) bevestig die belangrikheid van spel, soos ook deur die volgende aanhalings geïllustreer word:

36

“Ek doen speletjies met hulle wat 'n mens eintlik met 'n laerskoolkind sal doen ... Dromme …

ek maak baie gebruik van musiek, dromme. Al is dit op 'n een tot een basis. Ek en hy sit en speel die dromme. Ons voel basies waar is die weerstand in my lyf ...”

“... spel ... is ... een van daai faktore wat 'n mens kan van gebruik maak of een van daai metodes wat jy kan gebruik om weerstand af te dinges ...”

“... sal ek gebruik maak van projeksies … Ons gebruik ‘collages’, tydskrifte, prentjies …

Selfs teken ...”

“... skryf vir my of teken vir my ... aktiwiteite fokus meestal op hoe sy voel. En ek probeer kyk hoe voel hy oor dit waaroor hy by my is …”

Aangesien spelterapie volgens Boyd Webb (2007:46) as interaksie vir die adolessent en die terapeut dien, bied dit ook geleenthede en ervaringe wat die adolessent kan help om traumatiese ervaringe te hanteer (Carmichael, 2006:2). Oaklander (1988:160) noem dat spel as die adolessent se taal gesien kan word omdat dit as plaasvervanger vir woorde dien. Blom (2006:51) is van mening dat adolessente deur middel van spelterapie gelei kan word tot selfondersteuning deur verantwoordelikheid vir hulself te aanvaar. Uit die resultate van die studie blyk dit dat die deelnemers van 'n verskeidenheid mediums en tegnieke gebruik maak om die adolessent wat weerstand toon, te voorsien van verskeie geleenthede om positiewe kontak te maak en sodoende met nuwe gedrag te eksperimenteer.

Uit die bogenoemde aanhalings blyk dit dat projeksies as deel van spelterapie spesifiek ook benut kan word in die hantering van weerstand. Clarkson (1989:53) is van mening dat projeksietegnieke positief gebruik kan word vir die fasilitering van emosionele uitdrukking. In aansluiting hierby meld Schoeman (1996:67-68) dat die benutting van projeksies die adolessent in staat te stel om sy probleem in die hier en nou te hanteer, en om selfstellings te maak en sodoende selfgroei te bevorder. Dit bied aan die adolessent die geleentheid om traumatiese gebeure in sy lewe en onvoltooidhede deur te werk en af te handel, soos ook by 2.3.4.2 bespreek. Op hierdie wyse word daar gepoog om aan die adolessent die geleentheid te bied om deur onafgehandelde sake te werk met die doel om weerstand te verminder ten einde aan die adolessent die geleentheid te gee om die terapeutiese program optimaal te benut.

37