• No results found

2.3 BESPREKING VAN RESULTATE

Die resultate van die empiriese ondersoek word na aanleiding van vyf temas bespreek en aan die hand van toepaslike literatuur gekontroleer. Vir die doeleindes van hierdie bespreking verwys die begrip kliënt na die adolessente dwelmafhanklike. Vir die doel van 'n gemaklike skryfstyl sal daar van die manlike vorm in die teks gebruik gemaak word. In sommige literatuur word die term terapeut gebruik om te verwys na die maatskaplike werker wat in die konteks van dwelmafhanklikheid terapeutiese dienste lewer. Die temas en subtemas word vervolgens bespreek:

2.3.1 Tema 1: Faktore wat lei tot die voorkoms van weerstand

Die eerste tema wat wat na vore gekom het, is Faktore wat lei tot die voorkoms van

weerstand. Drie subtemas van hierdie tema word vervolgens in Tabel 2.2 weergegee, waarna dit bespreek sal word.

Tabel 2.2: Tema 1: Faktore wat lei tot die voorkoms van weerstand TEMA 1

Faktore wat lei tot die voorkoms van weerstand Subtema 1 Die belewenis van verwerping deur die kliënt

Subtema 2 Die betrokkenheid van ondersteuningspersoneel in die terapeutiese program

24

Subtema 3 Die verskil tussen ’n kliënt se kronologiese en verstandsouderdom

Die eerste subtema wat na vore gekom het uit die empiriese data was Die belewenis van

verwerping deur die kliënt.

2.3.1.1 Die belewenis van verwerping deur die kliënt

Die meerderheid van die deelnemers het aangedui dat kliënte se belewenis van verwerping tot weerstand lei. Die adolessent se belewenis van verwerping deur die ouers, gepaardgaande met gedwonge aanmelding vir terapeutiese behandeling, dra daartoe by dat hy weerstand kan toon tydens die terapeutiese proses. In hierdie verband meld deelnemers dat die adolessent intense gevoelens van verwerping deur die ouers ervaar:

“... *hy word uit die familie uitgeskuif ...”

“... voel ongelukkig, omdat ek [die adolessent] voel ek weggegooi word”

“... ervaar die verhouding met die ouer as negatief”

Siegal en Welsh (2011:413) is van mening dat adolessente se belewing van verwerping deur hul ouers verbind kan word met die voorkoms van dwelmafhanklikheid. Uit bogenoemde aanhalings blyk dit verder dat adolessente ervaar dat hulle “weggestuur” word en gedwing word om terapeutiese intervensie te ondergaan. Dit word duidelik deur die volgende stelling geïllustreer: “... hulle is kwaad vir hulle ouers wat hulle weggestuur het”. Vernon (2009:7) bevestig dat adolessente dikwels deur hul ouers gedwing word om terapeutiese intervensie te ondergaan. Dié gedwonge terapie beïnvloed die terapeutiese verhouding negatief en lei tot weerstand by die adolessent. Die adolessent is dikwels onkundig ten opsigte van die aard en proses van terapie.

*Vir die doel van gemaklike skryfstyl is daar van die manlike vorm in die teks gebruik en nie om diskriminerende geslagsredes.

25

Geldard en Geldard (2010:72-73; 2004:87) stem hiermee saam en noem dat die adolessent, wat deur sy ouers gedwing word om terapie te ondergaan, dikwels 'n onwilligheid toon om aan die terapeutiese program deel te neem, veral wanneer hy bewus word van pynlike aangeleenthede wat tydens die terapeutiese sessie geïdentifiseer word.

2.3.1.2 Die betrokkenheid van ondersteuningspersoneel in die terapeutiese program

Dit blyk uit die studie dat weerstand by die adolessent ontlok kan word as gevolg van ondersteuningspersoneel se hanteringswyses:

“... baie keer het ek nou al gehoor dan sal hulle [ondersteuningspersoneel] nou byvoorbeeld sê: Maar jy is mos ‘n ‘gangster’ of jy kom mos van die hof af, die hof het jou mos verwys, so jy was mos moeilik of daai tipe veralgemenings”

“... het 'n kliënt gehad ... hy het toe bed natgemaak ... dis ... van trauma en emosionele goed en dan het van die personeel ook gespot ...”

Uit bogenoemde aanhalings blyk dit dat ondersteuningspersoneel soms veralgemenings maak oor kliënte en ook spot oor gedrag wat uit trauma voortspruit. In hierdie verband is Perkinson (2012:207) van mening dat personeel by behandelingsentra in ag moet neem dat talle van hierdie adolessente vanuit disfunksionele gesinne kom en dan die terapeutiese hulpverleningsopset met weerstand betree. Die wyse waarop die adolessente hanteer word, kan dus soos ook in hierdie studie bevind, bydra tot weerstand wat deur hulle getoon word.

2.3.1.3 Die verskil tussen ’n adolessent se kronologiese en verstandsouderdom

Zeelie (in Mouton, 2005:3) is van mening dat die adolessente dwelmafhanklike se intelligensie kan stagneer vanaf die ouderdom waarop hy dwelms begin gebruik en dat daar gevolglik 'n verskil tussen die adolessent se kronologiese en sy verstandsouderdom kan wees. Drie deelnemers bevestig hierdie stelling deur te meld dat die adolessente met verstandsouderdomme wat wissel tussen nege en tien jaar vir behandeling aanmeld:

26 “Ons kinders wat hier kom is mos in die adolessente fase, maar hulle is emosioneel nog in die kinderjare”

“… ons werk eintlik met negejariges, sewejariges en wat vasgevang is in ‘n ‘body’ van …[‘n adolessent]”

Volgens die deelnemers vind dié adolessente dit uitdagend om emosies te identifiseer. Dit gee aanleiding tot weerstand in die vorm van ontwrigtende gedrag in die groepsessies. Sheff (2008:98) noem ter aansluiting dat die adolessente fase beskou word as die oorgangsfase tussen die kinderjare en volwassenheid, maar dat die adolessent as gevolg van dwelmafhanklikheid nie daarvoor gereed is nie. Hy stel dit as volg: “... they will

chronologically mature while remaining adolescents”. Volgens bogenoemde outeur kom die adolessente ontoereikend voor ten opsigte van die bemeestering van belangrike ontwikkelingstake soos die vestiging van 'n identiteit, die ontwikkeling van intellektuele vaardighede asook die ontwikkeling van selfbeheer. Hy is voorts van mening dat dwelmafhanklikheid radikale veranderinge meebring ten opsigte van die adolessent se breinontwikkeling en dat dit aanleiding gee tot 'n verdieping van die adolessent se emosionele probleme.

2.3.2 Tema 2: Manifestering van weerstand

Die tweede tema wat na vore gekom het, is Manifestering van weerstand. Drie subtemas van hierdie tema word vervolgens in Tabel 2.3 weergegee, waarna dit bespreek sal word.

Tabel 2.3: Tema 2: Manifestering van weerstand TEMA 2

Manifestering van weerstand

Subtema 1 Bykans alle kliënte toon weerstand

Subtema 2 Weerstand manifesteer tydens die aanvangsfase van terapie