• No results found

Symbols of life: invloede uit sogenaamde primitiewe kunstradisies

Hoofstuk 4: Metodologiese ontleding en interpretasie van die geselekteerde

4.3   ʼn Vergelykende ontleding en interpretasie van die geselekteerde

4.3.2   Identifisering en kontekstualisering van visuele elemente beïnvloed deur

4.3.2.1   Symbols of life: invloede uit sogenaamde primitiewe kunstradisies

Soos reeds in Hoofstuk 3.2.1 en 3.2.2 bespreek, is Battiss se kuns in besonder daarvoor bekend dat hy visuele vormgewende aspekte van Boesmankuns in sy werke gebruik. In Symbols of life is daar talle vorms wat, soos reeds genoem, nie met volkome sekerheid as uitsluitlik herkenbare entiteite uitgemaak kan word nie. Nogtans is daar sommige van hierdie vorms wat wel as menslike of dierlike voorstellings geïnterpreteer sou kan word (fig. 4.6).

Ongeag of hier te make is met figuratief abstrakte voorstellings van mense en diere en of hierdie bloot uitbeeldings is van saamgestelde figure met herkenbare figuratiewe elemente en ander abstrakte vorms, suggereer hierdie vorms in Symbols of life op invloede van twee uiteenlopende kunstradisies, naamlik Boesmankuns sowel as die beeldhoukuns en

kalligrafie van pre-Islamitiese kulture. Veral laasgenoemde word nie tradisioneel met Battiss se werk geassosieer nie en word in ʼn volgende deel van die bespreking uitgelig.

Eerstens, met betrekking tot die invloede uit Boesmankuns, is daar veral twee aspekte wat hier van toepassing is, naamlik die uitbeelding van teriantrope en skematiese voorstellings onderskeidelik wat beide geassosieer word met die spirituele domein en sjamanistiese aspekte van hul wêreldbeskouings (Hoofstuk 3.2.3.6 en 3.2.3.7). Talle van die hibridiese vorms in Symbols of life bevat inderdaad figuratiewe samestellings van beide menslike en dierlike figure en kwalifiseer dus as teriantropiese voorstellings (fig. 4.7).

Wat betref die abstrakte vorms waarvan daar nie menslike of dierlike figuratiewe elemente herkenbaar is nie, is daar wel stilistiese elemente wat herhaaldelik toegepas is. ʼn Voorbeeld hiervan is die herhaling van organiese lynwerk of verlengings wat spruit uit meer bonkige organiese vorms (fig. 4.8). Tesame daarmee dat die grootte van hierdie verskillende vorms nie buitensporig van mekaar wissel nie, skep dit die indruk dat hierdie vorms (en hierby ingesluit die teriantropiese voorstellings) karakters of simbole is uit ʼn piktorale skrifstelsel. Juis hierin berus die skakel met skematiese rotsgravures van Boesmankuns waarin verskeie bepaalde onuitkenbare simbole herhaaldelik op gegewe rotse aangebring is. Die kleur van die teriantropiese en skematiese voorstellings in Symbols of life dien ook verdere verwysing na die invloed van Boesmanrotstekeninge waarvan die algemeenste kleurgebruik skakerings van rou siënna was en wat verkry is vanuit die grondpigmente wat deur hierdie groep

gebruik is.

Tweedens, soos genoem, is daar aspekte van die beeldhoukuns en kalligrafie van pre- Islamitiese kulture wat deur Symbols of life opgeroep word. Battiss het verskeie reise onderneem na Noord-Afrika en in 1962 het hy ook die Midde-Ooste besoek (insluitend Bahrain, Irak, Iran en Saoedi-Arabië). Die ervarings hiervan het sy belangstelling in kalligrafie besonder geprikkel, veral met betrekking tot dié van pre-Islamitiese kulture (Schoonraad, 1974:132-133). Dit het in sy kuns uiting en aansluiting gevind met die skematiese gravures van Boesmankuns, soos in die geval van Symbols of life. Ander voorbeelde hiervan is veral te vinde onder sy syskermdrukke van die 1960s, soos byvoorbeeld Rock Artist (fig. 3.5)

Die oorsprong van Arabiese kalligrafie word volgens die Pakistanse kalligrafie-kunstenaar Aslam Kamal (geb. 1935) dikwels verkeerdelik gekoppel aan die ontstaan en verspreiding

Fig. 4.6 Walter Battiss, Voorbeelde van sommige vorms wat as menslike figure geïnterpreteer sou kon word in Symbols of life (1967), olie op doek

Fig. 4.7 Walter Battiss, Voorbeelde van sommige van die teriantropiese voorstellings in Symbols of life (1967), olie op doek

Fig. 4.8 Walter Battiss, Voorbeelde van die herhaling van organiese lynwerk in Symbols of life (1967), olie op doek

van Islam in die Midde-Ooste en Noord-Afrika, en dat dit reeds gevestig was as kunsvorm in hierdie streke voor die koms en verspreiding van Islam (Usman, 2014). Dit het aanvanklik ontwikkel uit die meer rigiede lynwerk van die verskeie streeksgebonde wigskrifstyle wat tradisioneel op harde oppervlaktes aangebring is soos kleitablette, tot ʼn meer vloeiende styl vanweë die vloeiende aard wat deur die nuwe medium daartoe verleen is (ink of ander vloeibare pigmentsamestellings op perkament). Ek sal wel wil byvoeg dat die kalligrafiese invloede op Symbols of life ook resoneer met die twintigste-eeuse toepassing daarvan binne Islamitiese kulture soos dié waarmee Battiss in aanraking sou gekom het gedurende sy reise na lande in Noord-Afrika asook met sy besoek aan die Midde-Ooste. Die Islamitiese

dekoratiewe kanon word dikwels in drie kategorieë verdeel, naamlik kalligrafie, geometriese ontwerpe, en arabeske patrone (Wade, 2006). Islamitiese kalligrafie omsluit uit talle style, en hoewel dit in verskillende mates beïnvloed is deur pre-Islamitiese kalligrafie, kan die

argument beslis ook gemaak word dat die herhaling van organiese lynwerk in Symbols of life soos beklemtoon in Figuur 4.8 eweneens dui op kalligrafiese invloede uit die betrokke

wêreldstreek, ongeag of dit voor of sedert die koms van Islam geskep is.

Wat betref die aspekte van beeldhoukuns uit die Midde-Ooste wat deur Symbols of life opgeroep word, herinner dit egter spesifiek aan pre-Islamitiese kulture, en in besonder die beeldhoukuns van die Elamiete. As ʼn Moslem enige persoon of ander entiteit (lewend of nie- lewend) groter ag as God, is hy of sy besig om afgodery te pleeg (shirk), die een groot onvergeeflike sonde in Islam. Islam se onwrikbare geloof in die heilige enkelheid van God (tawhid) is gereflekteer in die ontwikkeling van Islamitiese kuns, veral in die Arabiese wêreld. Assosiasie met enige herkenbare entiteit anders as God word vinnig veroordeel as afgodery. Dus, om hierdie sonde te vermy wat ontstaan as gevolg van die uitbeelding van die menslike vorm, word daar in Islamitiese kuns veral van kalligrafie, geometriese vorms en arabeske patrone as dekoratiewe elemente gebruik met die gevolg dat Islamitiese kuns dikwels abstrak eerder as visueel verteenwoordigend is (Espesito, 2010:42).

Die uitbeelding van figuratief-herkenbare vorms soos mense en diere was egter nie beskou as ʼn taboe in pre-Islamitiese kulture nie. Soos genoem is dit in besonder die beeldhoukuns van die Elamiete wat verband hou met sommige van die vormgewings in Symbols of life. Die Elamiete was ʼn beskawing wat tussen ongeveer 2400 v.C. tot en met 539 v.C. in die

westelike en suidwestelike gebiede van hedendaagse Iran asook in die suidelike dele van hedendaagse Irak bestaan het (Vallat, 2011).

Om die stilistiese invloed van Elamitiese beeldhoukuns op Symbols of life te illustreer, verskuif die fokus kortliks na twee bronsvoorbeelde. Die eenvoud en abstrakte vormgewing

van die voorgestelde bok met horings (fig. 4.9) verkorte bene, lang reguit liggaam en verhoogde abstraksie in die kopvorm, deel hierdie selfde eienskappe in ʼn soortgelyke styl met sommige van die hibridiese figure in Symbols of life. Die Elamitiese votiewe figuur (fig. 4.10) waarvan die arms diagonaal om hoog uitgestrek is en gevolglik ʼn Y-vormige

komposisie skep, is weer soortgelyk aan sommige van die figure in Symbols of life wat moontlik as menslike figure geïnterpreteer kan word (fig. 4.6).

Die organiese swart strook wat die komposisie van die kunswerk horisontaal verdeel, en wat omlyn en in organiese reghoekige vorms verdeel is met ʼn dik aaneenlopende grys lyn, se vormgewing en kleurgebruik dui nie in besonder op enige eksterne invloed nie. Die

argument kan wel gemaak word in terme van die kleurgebruik dat ʼn mens hier te make het met ʼn Islamitiese invloed aangesien die gebruik van ʼn swart agtergrond dikwels by moskees voorkom met kalligrafiese simbole wat in blink kleure soos goud of silwer daarop aangebring is. Bekende voorbeelde hiervan sluit in die Kaäba en die Hagia Sophia21.

Pre-Islamitiese en Islamitiese invloede op Symbols of life is hier bespreek onder die vaandel van sogenaamde primitiewe kunsvorms omrede (soos bespreek in Hoofstuk 2.1.1) dít wat as nie-Westers en anders geag is binne die konteks van Westerse modernistiese beskouings ook gekwalifiseer het as primitief, en om rede dit hier van toepassing is in die konteks van ʼn kunsgeskiedkundige studie oor aspekte van primitivistiese kuns.

In Symbols of life kombineer Battiss skynbaar kultuurgoedere en stileringsmetodes vanuit ander kunstradisies – kunstradisies van kulture wat gemarginaliseer en onderdruk is

gedurende die groter Westerse koloniale projek. As kunstenaar van Westerse herkoms kan dit Battiss in ʼn aanvegbare posisie plaas, naamlik dat hy deur die skep van die werk homself potensieel deel maak van die koloniale uitbuiting van die nie-Westerse.

In teenstelling met hierdie gesindheid, interpreteer ek eerder dat Battiss homself

gekwalifiseer het om elemente uit die kunstradisies van die betrokke kulture in sy werk te gebruik. Volgens my vermag die kunstenaar die bogenoemde op twee wyses. Eerstens doen hy dit deur sy toegewyde navorsing en reise wat hy onderneem het om die betrokke kulture beter te verstaan, en ook om insig te kry in die gebruike en die konteks van die                                                                                                                          

21

Die Kaäba is ʼn kuboïede struktuur wat die heilige fokuspunt vorm in die middel van die plein in die heiligste moskee in die Islamgeloof, naamlik die Al-Masjid Al-Harim in Mekka, Saoedi- Arabië. Wanneer die Kaäba oorspronklik opgerig is, bly ʼn punt van kontroversie en dispuut, maar dit dateer beslis terug tot diep in die pre-Islamitiese era waar afbeeldings van plaaslike stamgelowe gehuisves is. Die Hagia Sophia is oorspronklik gebou as ʼn Ortodokse katedraal met konstruksie wat volgens rekord begin het in die jaar 537. Vanaf 1453 tot 1931 was dit omskep in ʼn moskee waarvan die Christelike beelde en mosaïeke verwyder of deur pleister bedek, en is daar ook kalligrafie en geometriese patrone bo-oor aangebring, veral in ʼn mat goud op ʼn swart agtergrond.

kunselemente wat hy van hierdie kulture as invloede in sy kunswerke inkorporeer.

Tweedens, en meer spesifiek op Symbols of life gerig, is die inhoudelike konteks waarmee Battiss elemente uit Boesmankuns en pre-Islamitiese kuns in die werk laai, respekvol gehanteer en vanuit ʼn insigryke perspektief gedoen. Hierdie inhoudelike konteks behels in besonder dat die visuele elemente uit Boesmankuns, pre-Islamitiese kalligrafie en beeldhou asook Islamitiese kalligrafie wat hier uitgewys is as invloede, een wesenlike ooreenkoms deel, naamlik dat Battiss doelbewus ʼn kombinasie van simbole, kleurgebruik en

teriantropiese voorstellings ingespan het wat elemente van nie-Westerse spirituele heiligheid oproep.

Die inhoudelike implikasies van die teriantrope in beide Symbols of life en Aquel lugar del fin del mundo word in Hoofstuk 4.3.3 vergelykend verder ontleed en geïnterpreteer. Hier volg eers ʼn bespreking van die invloede uit sogenaamde primitiewe kunstradisies soos dit betrekking het op Aquel lugar del fin del mundo.