• No results found

Aquel lugar del fin del mundo: invloede uit sogenaamde primitiewe kunstradisies

Hoofstuk 4: Metodologiese ontleding en interpretasie van die geselekteerde

4.3   ʼn Vergelykende ontleding en interpretasie van die geselekteerde

4.3.2   Identifisering en kontekstualisering van visuele elemente beïnvloed deur

4.3.2.2   Aquel lugar del fin del mundo: invloede uit sogenaamde primitiewe kunstradisies

kunstradisies

Soos reeds in Hoofstuk 3.3.1 en 3.3.2 bespreek, is Bedia se kuns in besonder daarvoor bekend dat hy visuele vorms wat ontleen is aan primitiewe kunstradisies as visuele elemente in sy kunswerke inspan. Hierdie invloede strek oor baie kreatiewe dissiplines vanuit

wyduiteenlopende kulture en geografiese areas. Dit sluit onder andere in rotskuns van Noord- en Sentraal-Amerika asook van Suider-Afrika, volksverhale uit Sentraal-Amerikaanse kulture, visuele elemente wat wys op invloede uit die natuur, visuele en inhoudelike

elemente uit verskeie sjamanistiese kulture, asook elemente uit verskeie religieuse en spirituele visuele tradisies afkomstig uit Noord- en Sentraal-Amerika sowel as Sentraal- Afrika wat insluit die palomonte waarvan Bedia self ʼn toegewyde priester is (Feldman, 1999:106-107).

Vir die volgende bespreking oor die invloede uit sogenaamde primitiewe kunstradisies op Aquel lugar del fin del mundo is hierdie invloede in twee groepe verdeel, naamlik generiese invloede en die Cimarron.

Die generiese invloede uit sogenaamde primitiewe kunstradisies op Aquel lugar del fin del mundo sluit ʼn aantal herkenbare aspekte in. Hier kan die vereenvoudigde stilering van die ronde heuwels of berge wat op die horison voorkom genoem word, sowel as die rantjies wat

Fig. 4.11 José Bedia, Voorbeelde van die vereenvoudigde stilering van mensagtige gesigte in Aquel lugar del fin del mundo (1999), akriel op doek

strek vanaf die voorgestelde agtergrond tot die voorgrond van die landskap; die

vereenvoudigde stilering van die plantaardige motiewe asook die plantaardige lynfiguur aan die linkerkant van die komposisie; die abstrakte figuratiewe voorstellings wat menslike elemente bevat, insluitend die lynfigure aan die linkerkant van die komposisie asook die elemente van menslike figure wat deel vorm van die monolitiese rots asook die landskap aan die regterkant van die komposisie; die silhoeëtte geskep deur lynwerk asook die silhoeëtte wat voorgestel word deur die platvlakkige voorstelling van twee menslike figure bo-op die monolitiesagtige rots; en, laastens maar veral, die gebruik van oorwegend aardse kleure waarvan rou siënna die meeste gebruik is. Om op te som, die generiese invloede uit sogenaamde primitiewe kunstradisies op Aquel lugar del fin del mundo behels grootliks die vereenvoudigde stilering van figuratief-herkenbare vorms, asook die kleurgebruik wat herinner aan die pigmente wat tipies aangebring is in rotskunsvoorbeelde van regoor die wêreld.

In kontras met die generiese invloede bied die teenwoordigheid van die enkele uitgebeelde Cimarron in Aquel lugar del fin del mundo (fig. 4.12) ʼn bepaalde invloed uit Sentraal-

Amerikaanse volksverhale wat ʼn baie spesifieke narratiewe oproep met talle kruisverwysings in Bedia se oeuvre as kunstenaar (fig. 3.23, 3.28, 3.29, 3.30, 3.31, 3.32, 3.33 & 3.34). In sy kuns verbeeld Bedia die Cimarron deurlopend as ʼn teriantropiese figuur waarvan die visuele samestelling hoofsaaklik bestaan uit die lyf van ʼn mens met die kop van ʼn dier. Dit is slegs by uitsondering dat hy van ʼn tweede samestelling gebruik maak wat die lyf van ʼn dier met die kop van ʼn mens behels. In Aquel lugar del fin del mundo is dit juis hierdie seldsame samestelling wat gebruik is. Die rede vir hierdie keuse sal bespreek word in Hoofstuk 4.3.3 as deel van die ondersoek na die totemistiese aspekte van die dierlike en hibridiese

elemente uitgebeeld in die betrokke kunswerke as deel van die onderlinge visuele narratiewe.

Soos bespreek in Hoofstuk 3.3.3 dien die Cimarron as die verpersoonliking van ʼn wilde dier wat gevang is, makgemaak is, ontsnap het en weer in vryheid in die natuur voortleef. Hierdie dier dien as metafoor vir die slaaf in die koloniale sogenaamde Nuwe Wêreld wat ontsnap het uit gebondenheid en onderdrukking, en in vryheid ʼn voortbestaan voer. Dit is ʼn

psigologiese konstruk wat as sosiohistoriese ideefiguur inherent deel vorm van elke

Sentraal-Amerikaanse kreool se identiteitsvorming (Hernández, 2007:17) en met betrekking tot Bedia as kunstenaar is dit ʼn konstruk waarmee hy homself in ʼn historiese, mitiese en eksistensiële hoedanigheid identifiseer (Power, 2007:47). Die inhoudelike implikasies van die Cimarron en teriantrope in beide Symbols of life en Aquel lugar del fin del mundo word in Hoofstuk 4.3.3 vergelykend verder ontleed en geïnterpreteer.

Ter afsluiting van die identifisering en kontekstualisering van visuele elemente in Aquel lugar del fin del mundo wat beïnvloed is deur primitiewe kunstradisies moet hier ook melding gemaak word van die wyse waarop die voertuig in die pad uitgebeeld is. Die vormgewing van die voertuig toon ʼn oorvereenvoudigde lynskets waarvan die bakwerk die parallelle perspektiewe lyne van die pad en die landskap naboots. Die uitbeelding van die voertuig is egter geensins geskoei op perseptuele akkuraatheid nie. Die wyse waarop die motorbande langs die sye van die voertuig sigbaar is, die voorstelling van ʼn bestuurder deur die lyn wat die profiel van ʼn mensgesig skep, die wyse waarop die hoeke van die bakwerk geensins rondings bevat nie en oorbeklemtoonde harde geometriese hoeke vorm, en die wyse waarop die voorverkorting van die voertuig dit as vorm langwerpig uitrek en ook die illusie van beweging en spoed bewerkstellig, skep die indruk dat dit eerder dien as ʼn simboliese vergestalting van ʼn indringende voorwerp wat nie in die landskap hoort nie. In samehang hiermee skep dit ook ʼn algehele indruk dat die toneel wat plaasvind aanskou word deur die oë van ʼn entiteit wat homself met al die visuele elemente in die landskap vereenselwig met die uitsondering van die voertuig – met ander woorde, asof die voertuig se vorms nie werklik waargeneem kan word vir wat dit is nie, maar eerder as iets onvolledigs, iets verwarrends. Vervolgens word ʼn vergelykende samevatting gebied in terme van die primitiewe invloede in Symbols of life en Aquel lugar del fin del mundo.