• No results found

Subskale van die meetinstrument en toekenning van tellings 1 Demografiese faktore

HOOFSTUK DRIE METODE

3.6 Subskale van die meetinstrument en toekenning van tellings 1 Demografiese faktore

Die vraelys vir die insameling van die demografiese inligting van die deelnemers het uit tien items bestaan. Hierdie vrae het gefokus op geslag, ouderdom, moedertaal, ras, opvoedingsvlak, studiejaar, kampus, fakulteit, indiensnemingstatus en inkomste. Aangesien die demografiese inligting slegs beskrywende inligting was, was tellings slegs aan die veranderlikes toegedien om die verskillende groepe van mekaar te onderskei.

3.6.2 Aanvaarding van RBT

Die subskaal aanvaarding het uit sewe items bestaan en het die afhanklike veranderlike

aanvaarding van RBT voorgestel. Weens die tekort aan reeds bestaande skale vir die meting van aanvaarding van RBT was alle items in hierdie subskaal nuut gekonstrueer op grond van

bestaande inligting uit die literatuur. ’n Voorbeeld van items wat in hierdie skaal gebruik was, is as volg: “Ek is ten gunste van roetine MIV berading en toetsing”. Die items van hierdie subskaal was op ’n vyfpunt Likert skaal beantwoord en tellings was op grond van die antwoorde toegeken. Tellings vir die antwoorde het gevarieer tussen 1 (ek stem hoegenaamd nie saam nie), 2 (ek stem nie saam nie), 3 (onseker), 4 (ek stem saam) en 5 (ek stem volkome saam). ’n Maksimum telling van 35 was bereikbaar vir die subskaal aanvaarding en hoër tellings het groter gunstigheid teenoor aanvaarding van RBT weerspieël.

3.6.3 Waargenome vatbaarheid

Die subskaal waargenome vatbaarheid het uit twaalf items bestaan. Die subskaal was saamgestel uit: (1) vier van die ses items van die subskaal waargenome vatbaarheid van die ‘Health Belief Model Scale’ (Lux & Petosa, 1994); (2) die vier items van die subskaal waargenome vatbaarheid van die ‘Sexual Risk Scale’ (DeHart & Birkimer, 1997); (3) en die vier items van die subskaal vatbaarheid van die ‘AIDS Health Belief Scale’ (Zagumny & Brady, 1998). ’n Voorbeeld van items wat in hierdie skaal gebruik was, is as volg: “Daar is 'n moontlikheid dat ek MIV/VIGS het”. Die items van hierdie subskaal was op ’n vyfpunt Likert skaal beantwoord en tellings was op grond van die antwoorde toegeken. Tellings vir die antwoorde het gevarieer tussen 1 (ek stem hoegenaamd nie saam nie), 2 (ek stem nie saam nie), 3 (onseker), 4 (ek stem saam) en 5 (ek stem volkome saam). Omgekeerde tellings was egter aan die eerste vyf items van die subskaal

waargenome vatbaarheid en hoër tellings het ’n hoër vlak van waargenome vatbaarheid vir MIV weerspieël.

3.6.4 Waargenome erns

Die subskaal waargenome erns het uit vyftien items bestaan. Die subskaal was saamgestel uit: (1) die vier items van die subskaal erns van die ‘AIDS Health Belief Scale’ (Zagumny & Brady, 1998); (2) en elf uit die twaalf items van die ‘Champion’s Health Belief Model Scale’

(Champion, 1984). In die laasgenoemde skaal was die woord borskanker vervang met

MIV/VIGS. ’n Voorbeeld van items wat in hierdie skaal gebruik was, is as volg: “Ek sal liewers enige ander terminale siekte hê as VIGS”. Die items van hierdie subskaal was op ’n vyfpunt Likert skaal beantwoord en tellings was op grond van die antwoorde toegeken. Tellings vir die antwoorde het gevarieer tussen 1 (ek stem hoegenaamd nie saam nie), 2 (ek stem nie saam nie), 3 (onseker), 4 (ek stem saam) en 5 (ek stem volkome saam). ’n Maksimum telling van 75 was bereikbaar vir die subskaal waargenome erns en hoër tellings het ’n hoër vlak van waargenome erns van MIV weerspieël.

3.6.5 Waargenome voordele

Die subskaal waargenome voordele het uit elf items bestaan. Weens die tekort aan reeds

bestaande items vir die meting van waargenome voordele was alle items in hierdie subskaal nuut gekonstrueer op grond van bestaande inligting in die literatuur. ’n Voorbeeld van items wat in hierdie skaal gebruik was, is as volg: “As ek weet wat my MIV status is sal dit vir my

gemoedsrus gee”. Die items van hierdie subskaal was op ’n vyf punt Likert skaal beantwoord en tellings was op grond van die antwoorde toegeken. Tellings vir die antwoorde het gevarieer tussen 1 (ek stem hoegenaamd nie saam nie), 2 (ek stem nie saam nie), 3 (onseker), 4 (ek stem saam) en 5 (ek stem volkome saam). ’n Maksimum telling van 55 was bereikbaar vir die

subskaal waargenome voordele en hoër tellings het ’n hoër vlak van waargenome voordele verbonde aan RBT weerspieël.

3.6.6 Waargenome hindernisse

Die subskaal waargenome hindernisse het uit twintig items bestaan. Die subskaal was

saamgestel uit: (1) vyftien van die twee en dertig items van die ‘Attitudes about HIVAnti-body Testing Scale’ (Boshamer & Bruce, 1999); (2) en vyf nuut gekonstrueerde items op grond van bestaande inligting in die literatuur. ’n Voorbeeld van items wat in hierdie subskaal gebruik was, is as volg: “As jy erken dat jy vir MIV getoets behoort te word beteken dit dat jy betrokke was by immorele gedrag”. Die items van hierdie subskaal was op ’n vyfpunt Likert skaal beantwoord en tellings was op grond van die antwoorde toegeken. Tellings vir die antwoorde het gevarieer tussen 1 (ek stem hoegenaamd nie saam nie), 2 (ek stem nie saam nie), 3 (onseker), 4 (ek stem saam) en 5 (ek stem volkome saam). ’n Maksimum telling van 100 was bereikbaar vir die subskaal waargenome hindernisse en laer tellings het ’n laer vlak van waargenome hindernisse verbonde aan RBT weerspieël.

3.6.7 Aanwysings tot aksie

Die subskaal aanwysings tot aksie het uit ses items bestaan. Weens die tekort aan bestaande items vir die meting van aanwysings tot aksie was al ses items nuut gekonstrueer op grond van bestaande inligting in die literatuur. ’n Voorbeeld van items wat in hierdie skaal gebruik was, is as volg: “Ek het onlangs ‘n advertensie gehoor/gelees oor hoe belangrik dit is om vir MIV getoets te word” Die items van hierdie subskaal was op ’n driepunt Likert skaal beantwoord en tellings was op grond van die antwoorde toegeken. Tellings vir die antwoorde het gevarieer tussen 1 (Nee), 2 (Onseker) en 3 (Ja). ’n Maksimum telling van 18 was bereikbaar vir die

subskaal aanwysings tot aksie en hoër tellings het die aanwesigheid van meer aanwysings tot aksie weerspieël.

3.7 Psigometriese eienskappe van die geraadpleegde meetinstrumente