• No results found

HOOFSTUK 2: KOS IN DIE HEDENDAAGSE SAMELEWING: ʼn KONTEKSTUELE

2.7 Stadige voedsel

Die konsep van stadige voedsel as ‘n beweging in die moderne samelewing en as ʼn teenvoeder van kitskos, is ‘n baie belangrike konsep wat in ag geneem moet word om die struikelblokke wat met die kompleksiteit van kos en eetverwante besluite gepaard gaan, te oorkom (Wirzba, 2011:27).

Daar is vroeër genoem (in hoofstuk een) dat stadige voedsel die teenoorgestelde van kitskos is, en dat die idee agter stadige voedsel is dat mense (insluitend adolessente) sal leer om kos te waardeer, deur om te gee vir die ekosisteem, diere, boerderye, en kook-kulture wat betrokke is in die produksie daarvan. Daar is ook genoem dat die idee van stadige voedsel ook is dat mense opsetlik tyd sal neem om te reflekteer en kennis te neem oor die groei, produksie, voorbereiding, en verbruik van kos (Wirzba, 2011:27). Stadige voedsel poog om jong mense aan te moedig om die skepping te waardeer en om te sien daarna, omdat die skepping ‘n geskenk is wat God aan die mens toegedien het. Dit is dus die mens se verantwoordelikheid om dit op te pas deur verantwoordelik met die skepping om te gaan (hierdie aspek van verantwoordelikheid, asook rentmeesterskap, gaan verder in hoofstuk drie bespreek word). Talle adolessente beskou vandag

kos egter nie uit hierdie Christelike spirituele oorweging nie, en eet dikwels net kos wat volgens hul portuurgroep en kulturele betekenis aanvaar word.

Buiten vir die feit dat moderne adolessente slegs eet om by hul portuurgroep of kulturele konteks in te pas, was kos nog nooit vantevore so goedkoop en vrylik beskikbaar nie (Wirzba, 2011:107). Wanneer mense by die vulstasie stop om brandstof aan te vul, is daar kos. Wanneer mense werk toe gaan, is daar kos. Daar is dikwels kos in mense se sitkamers, lessenaar laaie, op vliegtuie en ander vervoermiddels soos treine en bote, en selfs ook in konferensie kamers.

Deel van die probleem is dat wanneer adolessente kos orals rondom hulle sien en hoe ander mense eet, dit skielik normaal voel om kos te eet wat ander mense eet en soos ander mense dit eet (Naude, 2006:1). Die kos industrie maak sy bestaan uit die wyse waarop mense eet, en daarom stel hulle voor dat mense meer en meer moet eet. ‘n Voorbeeld hiervan is dat die werknemers in die moderne kos industrie dikwels beveel word om vir kliënte addisionele items aan te bied of aan te beveel, en in die moeilikheid kan kom indien hulle dit nie doen nie. Mense (adolessente ingesluit) is egter onder geen verpligting om iets te doen wat hulle nie wil nie, veral as dit by hul eetgewoontes kom.

Stadige voedsel behels gevolglik om bedag te wees teen die konstante aanmoediging om voortdurend ongesond te eet. Volgens Wirzba (2011:27) kan adolessente dit nie doen deur slegs selfbeheersing nie, maar moet hulle ten alle tye op God vertrou om hulle te help om op hul hoede te wees vir sulke versoekings. Om bedag te eet kan net so belangrik vir die mens se gesondheid en ʼn goeie lewe wees soos gesonde kosse is (Wirzba, 2011:27).

Die vraag kan egter gevra word: Wat is dit om bedag te eet? Volgens Meyer (2014:67) is dit eenvoudig om teenwoordig te wees wanneer daar geëet word, of adolessente besluit om iets te ete of iets te drinke in te neem. Dit beteken dat adolessente hulself moet afvra, “Is ek honger? Wil ek hierdie regtig graag hê? Het my liggaam hierdie voedsel nodig ten einde ‘n gesonde, gebalanseerde individu te wees?” Een van die vrae wat Meyer ook voorstel gevra moet word, is dat adolessente hulself moet afvra of die kos wat hulle eet, smaaklik is? Volgens Meyer (2014:67) kan adolessente makliker kies om gesonde voedsel te eet wanneer hulle mediteer op hierdie vrae. In die Bybel stel Rom. 13:14 voor dat die mens nie moet ingee vir die versoekings van die vlees nie, en ‘n einde moet maak aan die gedagtes wat tot verlustiging lei. Vir ʼn adolessent om die gewoonte te ontwikkel om op te hou eet die oomblik wat hulle vol is, kan ook hiermee help. Die teenoorgestelde is ook waar. Wanneer adolessente eet totdat hulle werklik vol is, sal hulle meer geneig wees om oorvol te voel teen die tyd wat al die kosse in hul liggame ingeneem word (Meyer, 2014:68). In Wirzba (2011:27) se boek Food and Faith: A theology of eating steun hy Meyer se argument oor wat dit is om bedag te eet, deur veral te fokus op die merkwaardigheid

van stadige voedsel. Hy stel dat die konsep van stadige voedsel dui op die waardering van voedsel deur te reflekteer op dit wat geëet word, soos die groei, afkoms, en die vervaardiging van die voedsel.

Meyer (2014:68) beweer dat dit soms vir mense moeilik is om “nee” te se vir ongesonde voedsel, omdat hulle van ‘n vroeë ouderdom af geleer is om nie met hul kos te mors nie. Adolessente moet besef dat hulle moet ophou om kos te eet net omdat dit beskikbaar is, en eerder fokus daarop om kos te eet wat voedingswaarde vir hul algehele welstand het, soos groente en vrugte. Naude (2006:31) steun hierdie stelling. Volgens Naude (2006:31) moet adolessente kos eet wat hul algehele groei en gesondheid sal bevorder.

Vir adolessente om bedag te wees op wat hulle eet, is ‘n vaardigheid wat bevorder gaan word hoe meer dit beoefen word (Meyer, 2014:68). Hoe meer hulle dit doen, hoe gesonder gaan hulle eet, maar daar sal altyd versoekings langs die pad wees. Soos adolessente meer bedag is op wat hulle eet en hoe gesond hulle eet, kan hulle minder geneig wees om ongesond te eet (Meyer, 2014:68). Wirzba (2011:27) steun hierdie stelling deur te beweer dat stadige voedsel mense sal leer om kos en alle faktore wat betrokke is in die produksie daarvan, te waardeer. Hieruit blyk dit ook dat stadige voedsel as die teenpool van kitskos dien, aangesien kitskos eerder gemaak word met die oog op ekonomiese doeltreffendheid en winsgewendheid, en nie om te reflekteer en kennis te neem oor die groei, produksie, voorbereiding, en verbruik van kos, soos in die geval van stadige voedsel, nie.

Dit is dus duidelik dat indien adolessente die konsep van stadige voedsel (om bedag te wees op wat hulle eet), in hulle alledaagse lewens ten einde hul holistiese welstand te bevorder integreer, dit ʼn positiewe effek op hulle dieet verwante besluitnemingsprosesse kan hê.