• No results found

HOOFSTUK 2: KOS IN DIE HEDENDAAGSE SAMELEWING: ʼn KONTEKSTUELE

2.4 Gesonde kos en die voordeel vir die mens

Cathleen Crichton-Stuart motiveer mense om gesonde leefstyle aan te leer en te handhaaf deur ‘n psigologiese benadering te volg. Volgens Crichton-Stuart (2018:1) sluit ‘n gesonde dieet 'n wye verskeidenheid vrugte en groente in, asook volgraan kos en stysels, goeie vette, en proteïene. Om gesond te eet beteken ook volgens Crichton-Stewart (2018:1) om voedsel te vermy met hoë hoeveelhede bygevoegde sout en suiker. Gesonde eetgewoontes hou talle voordele vir die mens se holistiese gesondheid in (Crichton-Stuart 2018:1).

Volgens Crichton-Stuart (2018:1) kan ‘n gesonde dieet die risiko van chroniese toestande in individue verminder. As 'n persoon oorgewig of vetsugtig is, het hulle 'n hoër risiko om verskeie toestande te ontwikkel, soos hartsiektes, nie-insulien afhanklike diabetes mellitus, swak beendigtheid, en sommige kankers (Crichton-Stuart, 2018:1). Groente en vrugte is laer in kalorieë as die meeste verwerkte voedsel. Indien adolessente gewig wil verloor, moet hulle hul kalorie- inname beperk tot nie meer as wat hulle elke dag benodig nie.

Crichton-Stuart (2018:1) dui aan dat 'n ongesonde dieet ook lei tot vetsug, wat uiteindelik adolessente se risiko van kanker kan verhoog. In 2014 het die Amerikaanse Vereniging vir Kliniese Onkologie gerapporteer dat vetsug bygedra het tot 'n verswakte vooruitsig vir mense met kanker (Crichton-Stuart, 2018:1). Hulle het bewys dat diëte ryk aan vrugte en groente egter kan help om mense teen kanker te beskerm. In ‘n ander studie wat in 2014 gedoen is, het navorsers bevind dat 'n dieet ryk aan vrugte die risiko van kanker van die boonste spysverteringskanaal verminder (Crichton-Stuart, 2018:1). Hulle het ook bevind dat 'n dieet ryk aan groente, vrugte, en vesel die risiko van kolorektale kanker kan verlaag en dat 'n dieet ryk aan vesel die risiko van lewerkanker verminder.

Volgens Crichton-Stuart (2018:1) kan ‘n gesonde dieet adolessente met diabetes mellitus help om, indien nodig, gewig te verloor, hul bloedglukosevlakke te verminder, om hul bloeddruk en cholesterolvlakke te beheer, asook om komplikasies van diabetes te voorkom of vertraag. Dit is noodsaaklik vir jong mense met diabetes om hul inname van voedsel met toegevoegde suiker en sout te beperk. Crichton-Stuart (2018:1) beweer ook dat ‘n gesonde leefstyl jong mense se risiko verminder om hartaanvalle en beroertes te kry. Volgens die Hart en Beroerte Fondasie van Kanada kan tot 80% van hartsiekte en beroerte gevalle voorkom word deur leefstyl veranderinge te maak, soos om meer te oefen en gesond te eet.

Crichton-Stuart (2018:1) beweer verder dat gesonde eetgewoontes ook die gesondheid van die volgende generasie na ons kan bevorder. Kinders leer die meeste van hul gesondheidsverwante gedrag by die volwassenes om hulle. Ouers wat gesonde eet- en oefen-gewoontes vorm, is geneig om dit aan hul kinders oor te dra. Dit kan kinders ook help om by hul huise te eet. Volgens Crichton-Stuart (2018:1) het navorsers in 2018 bevind dat kinders wat gereeld etes by hul gesinne gehad het, meer groente en minder suiker-belaaide kos geëet het as hul eweknieë wat minder gereeld by die huis geëet het. Daarbenewens kan kinders wat aan tuinmaak en kook by die huis deelneem, meer geneig wees om gesonde kos- en leefstyl keuses te maak (Crichton-Stuart, 2018:1). Verdere gesondheid voordele wat gesonde eetgewoontes vir individue inhou is sterker tande en beendere, asook verbeterde geheue en slaappatrone.

Al hierdie voordele van gesonde eetgewoontes lei uiteindelik tot ‘n verhoging in jong mense se algehele gemoedstoestand. Volgens Crichton-Stuart (2018:1), dui opkomende bewyse op ‘n noue verband tussen adolessente se dieet en gemoed. Gemoed verwys na mense se volgehoue emosie oor ‘n tydperk. In 2016 het navorsers bevind dat 'n dieet met 'n hoë glukemie inhoud verhoogde simptome van depressie en moegheid kan veroorsaak (Crichton-Stuart, 2018:1). ‘n Dieet met 'n hoë glukemie inhoud bevat baie geraffineerde koolhidrate, soos dié wat in koeldranke, koeke, witbrood, en koekies voorkom. Groente, heel vrugte, en volgraan het 'n laer glukemie lading.

Culbert, Racine en Klump (2015:1) identifiseer ʼn destruktiewe gemoedstoestand as 'n potensiële risikofaktor vir die ontwikkeling van eetversteurings. Daarbenewens dui Martyn-Nemeth et al. (2014:1) aan dat die veranderinge in dieet-patrone 'n gevolg van sielkundige nood kan wees. Strydom (2013:1) verklaar dat wanneer adolessente met eetverwante probleme soos diabetes

mellitus hulself spiritueel afkraak deur gedagtes van selfhaat, selfverwerping en bitterheid, hul

immuunstelsel opgelei word om sy eie liggaamsweefsel aan te val, terwyl die ware vyand, soos virusse en bakterieë, geïgnoreer word. ‘n Destruktiewe gemoedstoetsand onder adolessente met eet-verwante probleme is nie beperk tot die gevoel van oorweldiging nie, en behels ook dat hulle in die toekoms probleme kan ontwikkel as gevolg van hul siekte. Hulle ervaar dikwels gedagtes

van hulleself as mislukkings en wat uiteindelik kan lei tot gevoelens van woede en depressie (Martyn-Nemeth et al., 2014:1).

Om positief te wees of om meer positief as negatiewe gemoedstoestande en emosies te hê, het verskeie voordele. Daar word gesê dat ‘n positiewe gemoed 'n individu se eetgedrag sal verbeter in terme van hul voedingsinname, en daarom word dit geassosieer met objektiewe welstandsresultate (Kok et al., 2013:1). Kok et al. (2013:1) verduidelik verder dat positiewe gevoelens verband hou met konstruktiewe sosiale verhoudings. Vir mense met 'n chroniese siekte soos diabetes, is dit gevolglik voordelig om meer positiewe emosies te ervaar en positief met ander te verbind ten einde voordeel te trek uit 'n gesonde dieet en verhoogde vlakke van welsyn (Kok et al., 2013:1). Fisiese welsyn en meer spesifiek, om 'n gesonde leefstyl te hê, verhoog positiewe gemoed en emosies soos deur Kok et al. genoem (2013:1).

Alhoewel dieet verwante besluite rakende kos in die hedendaagse samelewing kompleks is, kan adolessente, deur kennis te hê van die voordele van ’n gesonde dieet en wat dit sou behels word, meer ingeligte en verantwoordelike keuses rakende gesonde eetgewoontes, leefstyle, en voedselpraktyke maak. Adolessente kan gevolglik minder verward wees oor wat hulle mag en nie mag eet nie. Wanneer adolessente die bogenoemde voordele, wat jong mense se holistiese gesondheid sal bevorder, in ag neem en inkorporeer in hul daaglikse lewensstyle, kan hul risiko om gesondheid-verwante probleme op te doen, verminder (Crichton-Stuart, 2018:1).