• No results found

ADOLESSENSIE, STRESSORE EN HULPBRONNE VIR COPING

3.2 STRESSORE WAARAAN ADOLESSENTE BLOOTGESTEL WORD

3.2.5 Sosio-ekonomiese stressore

Volgens Louw (1990) is dit makliker vir die adolessent om deur ’n groep aanvaar te word indien hy dieselfde sosio-ekonomiese agtergrond as die ander lede het. Kinders wie se huislike omstandighede gekenmerk word deur verskeie indikators van sosio-ekonomiese deprivasie soos armoede, laer vlakke van ouerlike opleiding en die afwesigheid van ’n vader of ’n moeder, is geneig om hoër vlakke van wanaanpassing te toon. Vervolgens sal daar gefokus word op die verskillende sosio-ekonomiese stressore wat adolessente ervaar.

3.2.5.1 Sosiodemografiese stressore

Sosiodemografiese stressore hou verband met die adolessent se ouderdom, geslag en sy ouers se opleiding. Volgens Timko et al. (1993) ervaar meisies meer interpersoonlike stressore met familielede en portuur, terwyl seuns meer probleme in hulle verhoudings met vriende ervaar. Hoër vlakke van opleiding reflekteer hoër sosio-ekonomiese status en

daarom sal adolessente wie se ouers meer en beter opleiding gehad het, minder chroniese stressore ervaar. Die ontwikkelingsfase wat met die ouderdomsgroep geassosieer word mag vir adolessente ’n bron van stres verteenwoordig in die sin dat daar van hulle verwag word om nie meer soos kinders op te tree nie, maar terselfdertyd is hulle ook nie onafhanklik genoeg om self besluite te neem en soos volwassenes op te tree nie (Louw, 1990).

3.2.5.2 Finansiële stressore

Dit is vir adolessente belangrik dat daar voldoende finansiële bronne is om in hulle en hul gesinne se noodsaaklike behoeftes te voorsien. ’n Gebrek aan fondse vir goeie mediese dienste, voldoende voeding en kleding, voldoende behuising, aktiwiteite en vermaak, asook vir ander noodsaaklike items, lei tot stres by die adolessent (Moos & Moos, 1994). Dit kan ook weer ’n negatiewe invloed op die adolessent se selfbeeld hê. Lae inkomste is kenmerkend van lae sosio-ekonomiese status en lei tot hoër vlakke van stres by adolessente (DuBois et al., 1994). Die tekort aan beroepsgeleenthede in Suid-Afrika en die hoë mate van werkloosheid lei volgens Mittner (1996) en Preece (1996) tot laer vlakke van sekuriteit by jongmense en verhoog hulle stresvlakke.

Jongmense wil graag hulle eie geld verdien en geniet dit om dit na hul wense te spandeer. Sommige tieners verdien wel salarisse, maar wetlike beperkinge op die vaste indiensneming van skoliere verhoed hulle om finansieel onafhanklik te raak. Die adolessent bly finansieel afhanklik van sy versorgers, alhoewel hulle daarna streef om ekonomies selfversorgend te wees (Heaven, 1994). Daar bestaan dus in die adolessent se lewe ’n verlengde periode van ekonomiese werkloosheid.

Kinders se deelname aan aktiwiteite soos sport, kan ook ingeperk word deur finansiële probleme. Groepsdruk ten opsigte van kleredrag en partytjies kan ook groot uitgawes meebring, wat sommige ouers nie kan bekostig nie (Louw, 1990). Gevolglik kan dit tot konflik

tussen ouers en kinders lei en uiteindelik bydra tot die stres wat die adolessent daagliks ervaar.

3.2.5.3 Werkloosheid

Jongmense vrees die toekoms en vooruitsigte wat betref die beroepsmark. (Mittner, 1996). Volgens Heaven (1994) het die werksgeleenthede vir die jeug in die afgelope jare drasties verander en kan dit al vir ’n geruime tyd nie aanvaar word dat ’n adolessent wat skool verlaat, outomaties ’n werk sal vind wat by sy vermoëns en belangstellings pas nie. Hierdie blyk ‘n probleem en groot bekommernis vir die jeug te wees en werkloosheid van adolessente se ouers gee ook aanleiding tot verhoogde stresvlakke (Mittner). Volgens Moos en Moos (1994) is dit vir die adolessent baie stresvol wanneer ’n ouer sy werk verloor, aangesien dit lei tot ekonomiese probleme en verdere persoonlike probleme.

3.2.5.4 Misdaad

Misdaad is vir die adolessent ’n groot bekommernis, want dit skep ’n samelewing waarbinne ’n mens onveilig en onseker voel. Moos en Moos (1994) postuleer dat aanranding, diefstal en inbrake spesifieke stressore in die adolessent se lewe verteenwoordig. Volgens Preece (1996) verteenwoordig misdaad vandag ’n groot bron van stres vir ouers, sowel as vir kinders. Misdaad beïnvloed nie slegs ‘n land se ekonomie en toekomspotensiaal nie, maar dit het ook ’n negatiewe invloed op die emosionele, asook sosiale funksionering, van die individu. Die blootstelling aan misdaad, veral waar die individu se hulpbronne nie toereikend is nie en die persoon die verwerking daarvan nie suksesvol hanteer nie, kan lei tot stres (Barlow & Durand, 1995). In uiterste gevalle kan dit tot sosiale onttrekking en eensaamheid lei (Barlow & Durand).

3.2.6 Samevatting

Soos wat uit bogenoemde literatuur afgelei kan word, kan stressore verdeel word in ontwikkelings-, sosiale, kontekstuele, interpersoonlike, asook sosio-ekonomiese stressore. Ontwikkelingstressore sluit stressore in wat verband hou met die liggaamlike, seksuele en psigologiese ontwikkeling van die adolessent. Sosiale stressore verwys na kwessies rondom sosiale aanpassing en sosiale gedrag, terwyl kontekstuele stressore beroepskeuse en skoolaangeleenthede insluit. Interpersoonlike stressore sluit stressore in wat gepaard gaan met die gesin, die uitgebreide gesin, vriende, portuur en liefdesverhoudings. Laastens verteenwoordig sosio-ekonomiese stressore kwessies in verband met sosiodemografiese faktore, finansiële aspekte, werkloosheid en misdaad. Vanuit al die genoemde stressore waaraan adolessente daagliks blootgestel word, wil dit voorkom asof seksuele stressore, die vorming van ’n identiteit, die keuse van ’n beroep, werkloosheid, asook ’n gebrek aan finansiële sekuriteit, die meeste bydra tot hedendaagse adolessente se stresvlakke.

Om hierdie stressore effektief te hanteer, benodig die adolessent toegang tot genoegsame hulpbronne vir coping. Vervolgens sal die hulpbronne vir coping wat die adolessent tot sy beskikking het, bespreek word.

3.3 HULPBRONNE VIR COPING WAARTOE DIE ADOLESSENT TOEGANG HET