• No results found

Moderatorveranderlikes in die stres en copingproses

DIE FORTIGENE PERSPEKTIEF OP MENSLIKE AANPASSING

Paneel 5 verteenwoordig die psigologiese welstand en gesondheid van die persoon as die

2.3 DIE HOOFKOMPONENTE VAN DIE STRES EN COPINGPROSES 1 Stressore

2.3.6 Moderatorveranderlikes in die stres en copingproses

Die insidensie van psigologiese distres en simptome varieer met faktore soos geslag, ras, huwelikstatus en inkomste (Pearlin, 1993). Sosio-ekonomiese variasies van distres dui aan dat die stressore wat mense vir psigologiese siektes vatbaar maak, deels gewortel is in die omstandighede wat verband hou met die rolle, posisies en status waaraan individue in die samelewing blootgestel word (Moos & Schaefer, 1993). Die volgende demografiese faktore word geïdentifiseer as moderatorveranderlikes in die stresproses:

2.3.6.1 Geslag

Volgens verskeie navorsers bestaan daar duidelike verskille tussen die geslagte wat betref die ervaring en hantering van stres, die ervaring van hulpbronne vir coping, asook wat betref die ervaring van positiewe houdings (Attie & Brooks-Gunn, 1987; Bush & Simmons, 1987; Hobfoll et al., 1996; Jenkins, 1991; Smith & Carlson, 1997). Volgens Bush en Simmons kom daar deurlopende, geslagspesifieke stressore by meisies en seuns in hulle adolessente jare voor.

Mans sal probeer om die stresvolle probleem te verander en is geneig om stressore as minder bedreigend te ervaar. Volgens Jenkins (1991) vertoon mans meer sosiale integrasie, maar fokus hulle hoofsaaklik op een bron van ondersteuning, naamlik die vrou/eggenote. Mans se psigologiese welstand varieer ook namate die kwaliteit van hul werksverhoudings varieer (Holahan & Moos, 1981).

Meisies ervaar stressore meer ernstig en bedreigend as seuns en sukkel ook meer om dit te hanteer (Boekaerts, 1996; Bush & Simmons, 1987). Vrouens sal eerder op die emosionele response van stres fokus en is geneig om meer blootgestel te word aan lewensgebeure en chroniese stres te ervaar. Attie en Brooks-Gunn (1987) postuleer dat vrouens formele en informele sosiale ondersteuning in tye van stres sal mobiliseer en dat hulle hoë tellings op die meting van kwaliteit van sosiale integrasie behaal.

Meer navorsing moet egter nog op die terrein van geslagsverskille en optimisme gedoen word en daar kan slegs uit bogenoemde gegewens afgelei word dat daar moontlike geslagsverskile tussen meisies en seuns bestaan.

2.3.6.2 Ras

Kultuur beïnvloed die aard van stressore waaraan mense blootgestel word, die aard en hoeveelheid van hulpbronne wat beskikbaar is, asook die ervaring van optimisme (Fowers & Richardson, 1996; Fuchs, 1979; Peterson, 2000). Swart jeugdiges ondervind volgens Bush en Simmons (1987) en Leon en Lea (1988) meer stressore soos aanpassings-, finansiële en materiële probleme as blanke tieners en hulle maak meer staat op hulle direkte en uitgebreide families vir ondersteuning. Daar bestaan wel universele stressore waaraan alle rasse blootgestel word soos omgewingstressore, sosiale en politieke veranderinge en die ouderdomsverwante stressore waaraan elke individu binne die verskillende lewenstadiums blootgestel word (Hobfoll, 1998).

Braungart en Braungart (1995) het bevind dat beide blanke en swart studente optimistiese houdings met betrekking tot die toekoms openbaar. Die meeste adolessente uit verskillende rassegroepe voel egter onseker oor die sosiale en politieke veranderinge wat die afgelope dekade in Suid-Afrika plaasgevind het (Smith & Stones, 1999). Faktore soos regstellende aksie en die gevolge van die postapartheidsera mag volgens Mittner (1996) blankes se ervaring van optimisme beïnvloed. Weinig navorsingsbevindinge oor spesifiek die Kleurling adolessent en Asiërs is in die literatuurondersoek gevind.

2.3.6.3 Sosio-ekonomiese status

Daar bestaan duidelike sosio-ekonomiese statusverskille in die ervaring van stres en blootstelling aan hulpbronne vir coping (Abrahamson, 1980; Bush & Simmons, 1987; Luthar, 1991). Navorsing word egter nog benodig oor die rol van sosio-ekonomiese status in die ervaring van optimisme.

Adolessente uit laer sosio-ekonomiese klasse ervaar hoër vlakke van stres, omrede faktore soos ekonomiese sekuriteit en sosiale aanpasbaarheid onvoldoende is (Howard & Scott,

1981; Luthar, 1991). Ouerlike beroepe met ’n lae status en ’n lae opvoedingspeil van die moeder verteenwoordig hoërisikofaktore. Swartes met lae inkomstes sal volgens Luthar meer stres ervaar as gevolg van armoede en rassisme vanweë hulle beknopte, oorlaaide en raserige lewensomstandighede.

Adolessente uit laer sosiale klasse het beperkte geleenthede en hulpbronne, omrede hulle ouers nie soseer naskoolse opleiding ondergaan het nie (Atwater, 1983). So ook is die hele skoolstelsel grootliks gemik op die middelklas skolier, met die gevolg dat daar nie regtig in die hulpbronne of behoeftes van die laer klas adolessent voldoen word nie. Tieners uit laer sosio-ekonomiese statusgroepe se stresvlakke is dus aansienlik hoër.

Kinders uit hoë sosio-ekonomiese klasse se ouers beklee gewoonlik professionele en besigheidsberoepe en hulle het vanselfsprekend meer toegang tot hulpbronne soos geld, geleenthede en houdings verwant aan positiewe ingesteldhede (Bush & Simmons, 1987). Ouers met ’n beter akademiese agtergrond kan ook kennis, ervaring en vaardighede met hul kinders deel. Navorsing toon dat ’n groter geneigdheid tot wanaanpassing voorkom by jeugdiges uit minderbevoorregte huislike omstandighede soos armoede in die familie en die afwesigheid van ’n moeder of ’n vader (DuBois et al., 1994). Sosio-ekonomiese status varieer dus met psigologiese welstand, maar heelwat navorsing word nog benodig oor die invloed daarvan op optimisme.

2.3.6.4 Huwelikstatus van ouers

Dit is ’n alombekende feit dat kinders uit gebroke huise meer geneig is tot ongelukkigheid, ontevredenheid en gepaardgaande emosionele probleme (Steinberg, 1993). Volgens DuBois

et al. (1994) word die afwesigheid van ’n moeder of ’n vader as ‘n kenmerkende stressor in

die adolessent se lewe beskou. Adolessente afkomstig uit gesinne waar ’n ouer afwesig is, mag moontlik meer psigologiese probleme ontwikkel aangesien ervaringe hulle negatief kan beïnvloed. Egskeiding beïnvloed kinders negatief en maak hulle vatbaar vir stres (Atwater,

1983; Louw et al., 1990). Die afleiding kan dus gemaak word dat adolessente wie se ouers getroud is, minder psigologiese probleme sal ontwikkel wat hulle vlakke van psigologiese welstand, asook uiteindelik optimisme, sal verhoog.

2.3.6.5 Samevatting

Blootstelling aan stressore kan positiewe en negatiewe gevolge meebring. Stres kan fisiese, kognitiewe, gedrags- en emosionele invloede tot gevolg hê, maar net so kan stres ook lei tot positiewe veranderinge en psigologiese groei binne die individu.

Uit bogenoemde literatuur kan dit afgelei word dat geslag, ras, sosio-ekonomiese status, asook huwelikstatus van ouers belangrike moderators in die stres- en copingproses is. Hierdie moderators het moontlik kenmerkende invloede op stressore, hulpbronne vir coping en asook optimisme wat verder ondersoek moet word. Vervolgens kan daar gefokus word op die konstruk optimisme.

2.4 OPTIMISME