• No results found

Hoofstuk 2: Verantwoordelike toetsontwerp: ʼn Teoretiese vertrekpunt

4. Slot

Die ontwerpbeginsels in tabel 2.8 tesame met die skema in tabel 2.7 vorm die teoretiese ruggraat van hierdie studie deurdat dit, soos uit die daaropvolgende hoofstukke sal blyk, deurlopend as ontwerpmaatstaf geld, en die ontwerp van die betrokke Afrikaanse nagraadse toets van akademiese geletterdheid ten grondslag lê. Die doel van hierdie hoofstuk was immers om aan die hand van ’n verskeidenheid bronne oor die toegepaste linguistiek en taaltoetsing ʼn grondige teoretiese basis aan hierdie studie te verskaf. In ’n studie soos die een voorhande word dit noodsaaklik geag dat die ontwerp van ’n meetinstrument – ’n saak wat pertinent vanaf die volgende hoofstuk aan die orde kom – eers deur behoorlike teoretiese nadenke voorafgegaan moet word. Bachman (2004:4) konstateer in hierdie verband dat “applied linguistic theory [...] guides the design of assessment tasks, as we attempt to develop test tasks that will reflect language use outside of the test itself and that will engage the abilities we want to assess”.

Hierdie siening strook volkome met dié van Weideman (2007) wat, soos in die inleiding van hierdie hoofstuk vermeld, vertroudheid met die teoretiese grondbeginsels van die toegepaste linguistiek as ’n onmisbare voorvereiste vir verantwoordelike toetsontwerp stel. Die gemis aan ’n teorie van die toegepaste linguistiek kan dit wat Bachman (2004) hier voorstaan, belemmer, en die uiteensetting hierbo van Weideman (2012, 2017) se voorstel om aan so ’n teorie gestalte te begin gee, is dus ’n poging om een moontlike weergawe van so ’n teorie te beproef in die teoretiese en praktiese regverdiging van die ontwerp van een so ’n toegepaste linguistiese artefak, TAGNaS, wat die fokus van hierdie studie uitmaak.

64

Hoofstuk 3

Die ontwerp van ʼn nagraadse toets van akademiese geletterdheid in

Afrikaans

1. Inleiding

Hierdie hoofstuk, tesame met die daaropvolgende hoofstukke in hierdie studie, dokumenteer die ontwikkelingsverloop van die Toets van Akademiese Geletterdheid vir Nagraadse Studente (TAGNaS) vanaf die konseptualisering, ontwerp en loodstoetsing daarvan tot die ontleding van toetsresultate en die gepaardgaande evaluering van items vir moontlike implementering. Empiriese data wat tydens hierdie proses versamel is, word gebruik om bepaalde aannames en gevolgtrekkings omtrent die konseptoets te maak. Verder geskied die dokumentering van gegewens oor die ontwerp en verfyning van TAGNaS deurgaans met die inagneming van die raamwerk van ontwerpbeginsels vir verantwoordelike toetsontwerp wat in Hoofstuk 2 breedvoerig behandel is.

Die optekening en boekstaaf van die ontwikkelingsgang van so ’n meetinstrument vertel in die woorde van Shohamy (2001) “die storie van ’n toets” – ’n nosie van wat in noue verband staan met die regulatiewe ontwerpvoorwaardes van deursigtigheid en verantwoordbaarheid, twee analogiese momente wat voortvloei uit die skakeling van die leidende tegniese funksie van sulke ontwerpe met onderskeidelik die juridiese en etiese dimensies van die werklikheid. Op hierdie manier word inligting omtrent die onderhawige toets openbaar en toeganklik gemaak vir alle belanghebbendes en belangstellendes en dien dit as bewys daarvan dat waarde aan die kwaliteit van die ontwerpte items geheg word. Van der Slik en Weideman (2008:363) beskou sodanige onderneming as “a necessary first step in the process of becoming transparent, and subsequently, accountable as test developers”.

65

Meer spesifiek nog val die fokus in Hoofstuk 3 op die konstruk van akademiese geletterdheid waarop die ontwerp van TAGNaS gebaseer word. Een van die eerste belangrike stappe in die toetsontwerpsiklus (vgl. Fulcher, 2010:93-96) behels die vind van ’n gepaste konstruk wat as basis vir die ontwerp kan dien. Hierdie hoofstuk bied ’n beskrywing van die konstruk wat die teoretiese rasionaal vir dit wat in hierdie studie getoets word, verskaf. Die artikulasie van ’n teoretiese rasionaal is in die eerste plek ’n ontwerpvoorwaarde wat duidelik uit die analitiese funderingsfunksie van ’n linguistiese ontwerp resulteer. As een van ’n veelheid van bronne van bewyslewering maak hierdie artikulasie egter ook ’n waardevolle bydrae tot ’n geïntegreerde argument vir die konstrukgeldigheid van TAGNaS, waaruit die numeriese analogieë – van ’n tegniese eenheid en veelheid, asook die fisiese analogie van tegniese geldigheid – duidelik blyk. Verder gee dit ’n aanduiding van die beperkte metingsomvang van hierdie toets (’n ruimtelike analogie binne die tegniese sfeer), naamlik dat die konstruk wat gemeet word spesifiek een van akademiese geletterdheid is, en nie bv. taalvermoë in die algemeen nie. Davies, Brown, Elder, Hill, Lumley & McNamara (1999:207) definieer die konstrukgeldigheid van ’n taaltoets as “an indication of how representative it is of an underlying theory of language learning”. Konstrukvalidasie behels daarom ’n ondersoek na die kwaliteite wat deur ’n toets gemeet word om sodoende gronde vir die rasionaal daarvan te verskaf, en dit dan in ’n argument te kan integreer en aan te bied.

Die operasionalisering van die konstruk in die vorm van toetsspesifikasies en toepaslike taaktipes is die volgende aspek waaraan aandag gegee word. Hierdie hoofstuk bevat ’n volledige bespreking van die subtoetse wat vir TAGNaS beplan word, asook aanduidings van hoe hierdie subtoetse waarvan sommige gewysigde of nuwe subtoetse is, aansluiting vind by die toetskonstruk, en in die besonder ook by die analitiese karakter van akademiese diskoers wat, soos spoedig sal blyk, deur sommige as die wesenskenmerk van ’n konstruk van akademiese geletterdheid gereken word. Meer inligting word ook voorsien rakende die meerfasige toetsmodel wat potensieel vir TAGNaS in die vooruitsig

66

gestel word. Verdere ontwerpaspekte waarvoor motivering in hierdie hoofstuk verskaf word, sluit onder andere in: die gebruik van die veelkeuseformaat, die inkorporering van ’n akademiese skryftaak in die toetsontwerp, die keuse van ’n geskikte toetstema en leestekste, asook die basering van die woordeskatitems se ontwerp op die nuut ontwikkelde Akademiese Woordelys vir Afrikaans soos saamgestel deur Steyn (2013).

2. Die keuse van ’n toetskonstruk: ʼn Hersiene konstruk van akademiese