• No results found

Hoofstuk 2: Verantwoordelike toetsontwerp: ʼn Teoretiese vertrekpunt

2. Die toegepaste linguistiek as ʼn dissipline van ontwerp

2.3 Ontwerp as die wesenskenmerk van die toegepaste linguistiek

Daar is reeds in die voorafgaande gedeelte uitgewys hoedat die toegepaste linguistiek in wese met die vind van oplossings vir taalprobleme gemoeid is. ʼn Oplossing word tipies in die vorm van ʼn ontwerp of plan, soos byvoorbeeld ʼn taalkursus, taaltoets of taalbeleid aangebied (Weideman, 2017:213). Met verwysing na die werk van Schuurman9 voer Weideman (2017:220) aan dat die

9. Volgens Weideman (2007b) spruit sy filosofiese raamwerk vir die toegepaste linguistiek hoofsaaklik voort uit die werk van Egbert Schuurman. Schuurman en sy promotor, Van Riessen, het Dooyeweerd

35

begrip ‘ontwerp’ as “giving shape to, planning, or forming” verstaan kan word – d.i. ʼn tegniese aktiwiteit waaruit ʼn tegnies-gestempelde, toegepaste linguistiese artefak of ontwerp te voorskyn kom. Volgens Weideman (2017:220) het tegniese ontwerpe twee terminale of definiërende funksies, naamlik ʼn funderings- of basisfunksie en ʼn kwalifiserende of leidende funksie, wat die eindpunte beskryf van waar die ontwerpe onderskeidelik begin (of op bou) en hulle aard vind, of eindig. Ooreenkomstig die ontwikkelingsgeskiedenis van die toegepaste linguistiek vind ʼn tegnies-gestempelde, toegepaste linguistiese ontwerp in die reël sy fundering in ʼn teoreties-wetenskaplike basis of onderbou, en omdat dit in die wetenskap om verdiepte en sistematiese denke gaan, kom hierdie funderingsfunksie derhalwe in die analitiese modaliteit van die werklikheid tot uiting. Weideman (2017:220) bied die volgende verklaring vir die analitiese funderingsfunksie van toegepaste linguistiese ontwerpe:

[A] course, test or policy cannot be designed if it is impossible to find some theoretical insight on which to base the design, enabling it to be defended in terms of an analytical perspective, or justified by theory. One might make all manner of plans to solve language problems, but in order to qualify as an applied linguistic plan, it must have made the detour into building a scientific foundation for the […] design of the artefact.

Omdat ʼn toegepaste linguistiese artefak, soos hierbo vermeld, as ’n mensgemaakte, bedinkte plan of oplossing (m.a.w. ʼn ontwerp) beskou kan word, is die kwalifiserende of leidende funksie daarvan – wat die aard van ʼn individuele saak aandui – logieserwys in die tegniese aspek van die werklikheid te vinde – ʼn modaliteit wat deur die tegniese vormingsfunksie van die mens getipeer word. Weideman (2017:225) wys trouens met nadruk daarop dat alle toegepaste linguistiese ontwerpe hulle oorsprong in die leidinggewende, tegniese verbeeldingskrag van die toegepaste linguis (eerder as in die analitiese funderingsfunksie van die artefakte) het – en die toegepaste linguistiek om hierdie rede by uitstek ʼn dissipline van ontwerp is. Figuur 2.1 is ʼn skematiese voorstelling van hierdie raamwerk wat oorgeneem is uit Weideman (2017:220):

en Vollenhoven se filosofiese visie van die modale struktuur van die kosmos (wat binne die Wysbegeerte van die Wetsidee ontwikkel is) vir die tegniese wetenskappe hersien en uitgebou.

36 Figuur 2.1 Terminale funksies van ’n toegepaste linguistiese ontwerp

Volgens hierdie interpretasie van die toegepaste linguistiek skryf die teoretiese basis dus nie die ontwerp voor en bepaal of lei dit nie, maar bied eerder ʼn (daaropvolgende) rasionaal of regverdiging daarvoor – wat in die geval van ʼn taaltoets spesifiek die vorm van ʼn toetskonstruk of teoreties-gedefinieerde taalvermoë sou aanneem (Weideman, 2006:72). Sodra die analitiese funderingsfunksie egter tot die tegniese kwalifiseringsfunksie herlei sou word en die teoretiese basis van ʼn ontwerp sodoende ten koste van sy tegniese wesensaard beklemtoon word (en andersom), ontstaan paradigmatiese vooroordele wat die ewewig versteur en verantwoordelike ontwerp verydel. Weideman (2017:226) verduidelik soos volg:

Where that [theoretical] justification is given too much prominence, as in the rational defence of audiolingualism, it is indicative of a modernist bias, and all of the contention that that design prejudice carries with it. And where the justification delivers a blind spot in the actual designs of applied linguistic artefacts, as in the case of the postmodernist contestation of modernist directions in our field, there is a comparable deficiency. Responsible design needs to overcome both biases, and it can do so through imaginatively conceived solutions that can be theoretically defended and refined.

Die diagram hieronder (oorgeneem en vertaal uit Weideman, 2009a:244) wys hoedat in die praktyk van toegepaste linguistiese ontwerp dit weliswaar die tegniese verbeelding en kennis van die ontwerper is wat die ontwerpproses rig en kwalifiseer, terwyl die teoretiese regverdiging dikwels eers agterna of terugwerkend verskaf word. Tussen die leidende tegniese funksie en die analitiese funderingsfunksie kom ʼn wederkerige of onderlinge verhouding gevolglik tot stand.

That is, in the design of an applied linguistic instrument, the technical imagination of the designer leads the whole endeavour, but at some point in the design process the development of the artefact must open itself up to critical modification and even

37 correction by analytical and theoretical considerations and rational argument. (Weideman, 2009a:244)

Figuur 2.2 Vyf fases van toegepaste linguistiese ontwerpe

Die opvatting dat ʼn toegepaste linguistiese artefak ’n teoretiese rasionaal moet hê, is volgens Weideman (2017:220) ʼn analogiese, tegniese konsep of idee wat ontstaan sodra die leidende tegniese funksie van ʼn ontwerp met die analitiese dimensie van die werklikheid in verband gebring word. Met analogiese konsep word bedoel ʼn teoretiese konseptualisering van die verhouding tussen ʼn unieke modaliteit van die werklikheid – in hierdie geval die tegniese aspek – en ʼn ander unieke dimensie, soos die analitiese (Weideman, 2009a:243). Laasgenoemde is egter nie die enigste modale aspek waarmee die leidende tegniese funksie van ʼn toegepaste linguistiese ontwerp in wisselwerking tree nie. Later in hierdie hoofstuk word aangedui op watter manier die tegniese funksie ook met al die ander dimensies van die werklikheid (bv. die numeriese, ruimtelike, biotiese, en so meer) skakel. Hierdie verbindings is belangrik vanweë die reeds vermelde analogiese konsepte wat daaruit voortvloei, aangesien in elk van hierdie konsepte ʼn normatiewe ontwerpbeginsel opgesluit lê wat as voorwaardes vir verantwoordelike (toets)ontwerp geld (Weideman, 2017:224). Saam maak

1. Taalprobleem word geïdentifiseer 2. Tegniese kennis en verbeelding word toegepas 3. Voorlopige, verbeeldingryke oplossing 4. Teoretiese regverdiging 5. Teoretiese basis gefinaliseer

38

hierdie beginsels ʼn teoretiese raamwerk van konstitutiewe en regulatiewe ontwerpvoorwaardes uit wat weldra volledig in behandeling kom.

Dit is in hierdie stadium eers nodig om die fokus van die bespreking van hierdie meer algemene stellings oor die aard van die toegepaste taalkunde na taaltoetsing as ʼn spesifieke subdissipline van die toegepaste linguistiek te verskuif. Daar volg voorts ʼn kort historiese opgaaf van die belangrikste benaderings in die ontwikkelingsgang van taaltoetsing, wat, soos duidelik sal blyk, nou saamhang met die onderskeie strominge binne die toegepaste linguistiek wat reeds hierbo bespreek is. Verder word besondere aandag aan die kwessie van geldigheid in toetsontwerp gegee wat as een van die mees fundamentele konsepte in taaltoetsing beskou word en met verloop van tyd op verskeie maniere deur taaltoetsteoretici geïnterpreteer is (Van der Walt & Steyn, 2007:138; McNamara, 2011:353; O’Sullivan, 2011:260). Die teoretiese raamwerk wat vir hierdie studie gebruik word, gee juis ʼn eie, unieke vertolking aan geldigheid in die vorm van

ʼn reeks tegniese ontwerpbeginsels. Om Weideman (2017) se konsepsie van

geldigheid te kan verstaan en dit daarna betekenisvol te kan aanwend, is agtergrond omtrent die tradisionele en hedendaagse konseptualisering van hierdie begrip ʼn noodsaaklikheid, en daarom word sodanige oorsig verskaf alvorens die raamwerk in sy geheel aangebied word.