• No results found

Hoofstuk 2: Verantwoordelike toetsontwerp: ʼn Teoretiese vertrekpunt

2. Die toegepaste linguistiek as ʼn dissipline van ontwerp

2.1 ʼn Definisie van die toegepaste linguistiek: Moderne en

Om die toegepaste linguistiek te definieer, behels ʼn poging om die aard van hierdie veld te verduidelik. Beide Simpson (2011:2) en Wei (2011:8) bestempel Christopher Brumfit se omskrywing van die toegepaste linguistiek as die mees algemeen aanvaarde definisie van hierdie dissipline. Hy beskryf die toegepaste linguistiek as “the theoretical and empirical investigation of real-world problems in which language is a central issue” (Brumfit, 1995:27). Simpson (2011:2) wys daarop dat Brumfit se definisie om veral twee redes nuttig is. In die eerste plek is dit breed genoeg om die groot verskeidenheid ondersoekgebiede wat tans onder die toegepaste linguistiek ressorteer, te akkommodeer en, verder, onderskei dit die toegepaste linguistiek van ander verwante terreine deur dit spesifiek probleemgerig te maak.

While language is, of course, fundamental to human life, and surrounds us, the problem orientation helps to delimit the field. That is, the motivation for applied linguistics lies not with an interest in autonomous or idealized language, as with understandings of linguistics which deal in linguistic universals: applied linguistics data is typically collected empirically in contexts of use. Nor is its concern with the entirety of ‘language in use’. It is demarcated by its interest in how language is implicated in real-world decision-making. (Simpson, 2011:2)

Trouens, die probleemgerigtheid van die toegepaste linguistiek neem ʼn belangrike plek in die meeste eietydse omskrywings van hierdie veld in. Davies en Elder (2004:1) dui byvoorbeeld ook aan dat “[a]pplied linguistics is often said to be concerned with solving or at least ameliorating social problems involving language”. Tipiese sosiale vraagstukke wat met taal verband hou, kan

26

byvoorbeeld wees hoe tale beter onderrig kan word, hoe die opleiding van vertalers en tolke verbeter kan word, hoe geldige taaleksamens of -toetse afgelê kan word, en so meer. Op soortgelyke wyse definieer Schmitt en Celce-Murcia (2010:1) die toegepaste linguistiek as “using what we know about (a) language, (b) how it is learned and (c) how it is used, in order to achieve some purpose or solve some problem in the real world”. In dieselfde trant skryf Hall, Smith en Wicaksono (2011:15-16) dat die toegepaste linguistiek sigself bemoei met “the role language and languages play in perceived problems of communication, social identity, education, health, economics, politics and justice, and in the development of ways to remediate or resolve these problems”.

Hoewel ʼn kort historiese oorsig van die verskillende tradisies of paradigmas binne die toegepaste linguistiek in die volgende afdeling aangebied word, is dit belangrik om vooraf daarop te wys dat die huidige opvattings omtrent die aard en omvang van die toegepaste linguistiek as studieterrein aansienlik verskil van die oorspronklike, modernistiese interpretasie daarvan. In ʼn poging om met wetenskaplik geloofwaardige oplossings vir taalprobleme vorendag te kom, is die toegepaste linguistiek aanvanklik sonder meer as ʼn verlengstuk van die linguistiek beskou. Weideman (2007a:593) verduidelik soos volg:

In the modernist perspective, science is not only the surest knowledge that we have, but the only guarantee of an authoritative solution to a problem. In order to maintain the ‘scientific’ authority of applied linguistics, it is characterised as being at one end of a continuum of theoretical endeavour.

Die beginjare van die toegepaste linguistiek is daarom deur die onkritiese oordrag van taalteoretiese insigte op veral die toegepaste terrein van taalonderrig gekenmerk. Amerikaanse strukturaliste, soos Bloomfield en Lado, se benadering tot die studie van taal was streng beskrywend, aangesien hulle die linguistiek as

ʼn wetenskap wou ontwikkel. Vir hulle was die primêre taak van die linguis om

taaldata van moedertaalsprekers te versamel en dit dan te analiseer deur ʼn studie van die fonologiese en sintaktiese patrone te maak. In navolging van hierdie beskouing, sowel as die destyds heersende behavioristiese leerteorie van Skinner, het die oudiolinguale metode van taalonderrig ontstaan. Op hierdie

27

manier is taalonderrig nie net met linguistiese analise nie, maar ook met die herhalende inoefening en inkrementele bemeestering van strukturele taaleenhede vereenselwig. In die woorde van Rajagopalan (2004:408) “in its early stages applied linguistics flourished in the shadow of theoretical or general linguistics”. Om hierdie rede is een van die kenmerke van modernistiese definisies van die toegepaste linguistiek dat dit sonder kritiek op ʼn kontinuasie tussen die linguistiek en die toegepaste linguistiek aanspraak maak (Weideman, 2007a:593). In die 1980’s definieer Crystal (1987:412) byvoorbeeld die toegepaste linguistiek as “the application of linguistic theories, methods, and findings to the elucidation of language problems that have arisen in other domains”.

In kontras hiermee merk Wei (2011:8) tereg op dat die linguistiek ʼn baie klein rol in die hedendaagse konseptualisering van die toegepaste linguistiek speel. Weideman (2007a:594) voer die emansipasie van die toegepaste linguistiek as ʼn dissipline in eie reg terug na die ontstaan van die kommunikatiewe benadering tot taalonderrig (“communicative language teaching”). Hierdie ontwikkeling is volgens hom van historiese belang omdat dit die voortsetting van die toegepaste linguistiek as ʼn blote onderafdeling van die linguistiek verbreek het.

In the birth of communicative language teaching we find one of the clearest illustrations of the fact that, in designing solutions to language teaching problems, theory does not lead the way. Communicative language teaching was only belatedly justified in terms of second language acquisition research and constructivism. (Weideman, 2007a:594)

Wei (2011:8) wys immers daarop dat huidige kursusse in die toegepaste linguistiek skaars enige verwysing na die linguistiekteorieë van die afgelope twee dekades bevat. Hy skryf trouens dat, in die kontemporêre, postmoderne tradisie van hierdie veld, toegepaste linguiste “feel free to draw on almost any field of human knowledge, from psychological models [...], mathematical models [...] and early Soviet theories of child development such as Vygotsky, to French thinkers such as Foucault and Bourdieu, feminist philosophy, and post- modernism”. Hierdie opmerking van Wei strook grootliks met Weideman (2007a:595) se waarneming dat verskeie postmoderne definisies van die

28

toegepaste linguistiek die siening vooropstel dat hierdie studiegebied ʼn interdissiplinêre aktiwiteit is wat ʼn verskeidenheid perspektiewe in die oplossing van taalprobleme kan akkommodeer. In teenstelling met die eng strukturalistiese styl van moderne toegepaste linguistiek word daar dus in die postmodernistiese benadering nie op ʼn eenogige beskouing van akademiese navorsing en strewe staatgemaak nie (Weideman, 2013:4483). Gegewe die wantroue in teorieë en ideologieë waardeur dit gekenmerk word “postmodernist perspectives emphasise discontinuity, disaggregation, specificity, fragmentation, and a multiplicity of perspectives” (Weideman, 2007a:595).

Buiten die voorgenoemde, maar in aansluiting daarby, bestaan daar ook ’n tweede vertakking postmoderne definisies wat die sosiale en/of politieke dimensie van die toegepaste linguistiek beklemtoon, en sodoende verantwoordbaarheid (‘accountability’) as die deurslaggewende kenmerk van toegepaste linguistiese ontwerpe onderskei (Weideman, 2007a; Weideman, 2013). Wei (2011:10) beskryf hierdie uitvloeisel van die postmodernistiese sienswyse as ʼn poging om die toegepaste linguistiek as deel van die sosiale wetenskappe te herkonseptualiseer. Vanuit hierdie perspektief word taalkwessies soos taalonderrig, -beplanning en -toetsing as sosio-politiese praktyke bestempel wat potensieel korrup en uitbuitend kan wees (Wei, 2011:10, Weideman, 2013:4483). ʼn Belangrike gevolg van hierdie sosiale keerpunt is ʼn groeiende bewustheid onder toegepaste linguiste dat versuim om ʼn bepaalde standaard in byvoorbeeld tweede- of vreemdetaalonderrig of taaltoetsing te bereik, nie bloot net ʼn linguistiese aangeleentheid is nie, maar ook ʼn sosio-politiese een (Wei, 2011:10).

Van sy modernistiese begin tot sy postmodernistiese hede het die toegepaste linguistiek dus, soos wat Wei (2011:8) dit stel, merkbare vordering gemaak, van vroeëre pogings om taaloplossings in die strukturele linguistiek te vind tot breër sosiale kwessies wat met taal verband hou, asook ʼn kritiese ingesteldheid teenoor hierdie kwessies. Weideman (2007a:597) is nietemin van mening dat beide die

29

modernistiese en postmodernistiese opvattings omtrent die toegepaste linguistiek die dissipline verryk. Terwyl modernistiese definisies op die teoretiese, wetenskaplike onderbou van dié veld klem lê, bring postmodernistiese omskrywings (sosiale en politiese) verantwoordbaarheid op die voorgrond. Later in hierdie hoofstuk, wanneer die teoretiese raamwerk bespreek word wat die ontwerp van die onderhawige Afrikaanse nagraadse toets van akademiese geletterdheid ten grondslag lê, word aangetoon hoedat die bydraes van beide hierdie strominge tegelyk in die aanpak van taalverwante probleme erken en gehandhaaf kan word – eersgenoemde (d.i. die modernistiese denkwyse) oorwegend in die vorm van konstitutiewe ontwerpvoorwaardes en laasgenoemde (d.i. die postmodernistiese siening) meesal in die gedaante van regulatiewe ontwerpvoorwaardes. Om dit reg te kry, is dit nodig om aan die toegepaste linguistiek as ʼn dissipline van ontwerp te dink (Weideman, 2007a) –

ʼn idee wat later in hierdie hoofstuk in besonderhede toegelig word. Kortom kom

laasgenoemde daarop neer dat toegepaste linguiste hulle nie teen die oënskynlik mededingende definisies van hierdie terrein moet blind staar nie, maar ʼn perspektief moet behou wat tot die gemeenskaplike kern van die dissipline deurdring. Gerugsteun deur ʼn analise van verskeie modernistiese en postmodernistiese beskrywings van die veld, argumenteer Weideman (2007a) dat die ontwerpelement onderliggend en gemeenskaplik aan beide hierdie interpretasies is. Hy skryf dat “[f]or both modernist and postmodernist interpretations of the field, [applied linguistics] is an endeavour that allows professionals to conceive, plan, and develop designs that address language- related problems” (Weideman, 2013:4480). Hy is trouens van mening dat die “moment of design” die wesenskenmerk van die toegepaste linguistiek is (Weideman, 2007a:589).

Uit die bogenoemde behoort dit duidelik te wees dat om die verwysingsveld van die toegepaste linguistiek af te baken nie ʼn eenvoudige saak is nie, aangesien hierdie dissipline in sy ontwikkelingsgang, vanaf sy ontstaan in die 1940’s ná die Tweede Wêreldoorlog, verskillende gestaltes aangeneem het. Hoewel daar

30

in die voorgaande afdeling reeds aangetoon is hoedat die modernisme en postmodernisme twee tradisionele uiterstes binne die toegepaste linguistiek verteenwoordig, kan die geskiedkundige verloop van hierdie dissipline weliswaar oor sewe tradisies heen gevolg word. ʼn Kort oorsig van die verskillende paradigmas binne die toegepaste linguistiek word vervolgens aangebied. In gevalle waar, soos in die hierdie studie, ’n verantwoordelike kultivering van die dissipline aan die orde is, is só ʼn historiese terugblik van intrinsieke belang:

[W]here new entrants into the discipline remain unaware of what has preceded their work, they may either uncritically accept current (usually postmodernist) definitions of the field, or, equally uncritically, fall victim to some of the ideological baggage that has historically come with the use of the term ‘applied linguistics’. Both situations are undesirable, and restrict rather than open up and liberate any attempt at responsibly developing the discipline of applied linguistics. (Weideman, 2007a:589)