• No results found

HOOFSTUK 3: OPVOEDKUNDIGE ONDERSTEUNINGSDIENSTE BINNE INKLUSIEWE

3.2 Inklusiewe onderwys en opvoedkundige ondersteuning

3.2.2 Suid-Afrikaanse perspektief: Inklusiewe onderwys en ondersteuning

3.2.2.3 Beleid van inklusiewe onderwys: Onderwyswitskrif 6 oor

3.2.2.3.2 Skoolontwikkeling of verskillende tipes skole

Die Salamanca-dokument van 1994 bepleit ʼn holistiese benadering tot onderwys en opvoeding vir leerders wat hindernisse tot leer en ontwikkeling ervaar en promoveer gelyke geleenthede binne ʼn stelsel van inklusiewe onderwys. ʼn Beroep is vervolgens op regerings gedoen om eienaarskap te neem van die beginsels van inklusiewe onderwys en alle leerders, ongeag hindernisse, in gewone skole of die algemene onderwys te akkommodeer. Witskrif 6 gee gehoor aan die oproep tot ʼn holistiese benadering, en binne hierdie raamwerk van inklusiewe onderwys word ʼn aantal sleutelbeginsels ter uitvoering en ondersteuning vervat. Kern tot skoolontwikkeling en ondersteuning geld die volgende twee beginsels: dat alle leerders die potensiaal het om te leer en dat alle kinders geregtig is op ondersteuning in algemene onderwys (Schoeman, 2017:19). Binne die denkrigting van inklusiewe onderwys rapporteer Wolhuter (in Engelbrecht et al., 2016:523) dat die aantal ingeskrewe leerders by skole in Suid-Afrika die afgelope twintig jaar aansienlik verhoog het.

Die nasionale stelsel van onderwysvoorsiening, met groter toeganklikheid tot onderwys aan alle leerders ten doel, het hom tot die kategorisering van openbare skole gewend. Met die oog op ʼn voorkomende, ondersteunende en regstellende dimensie aan inklusiewe onderwys, het Witskrif 6 drie verskillende tipes openbare skole geïnisieer: spesiale, voldiens- en hoofstroomskole (Hodgson & Khumalo, 2016:7; Human Rights Watch, 2015:12; Ntombela & Raymond, 2013:9). Die selektiewe plasing van ʼn leerder in die mees relevante onderwysinstelling word bepaal deur die tipe en intensiteit van ondersteuning wat ʼn leerder benodig en nie volgens die hindernisse wat ʼn leerder ervaar nie. Die graad van hulpverlening en ondersteuning aan die leerder sal dus afhang van die hindernis tot leer en die onderwysinstelling van plasing (Bridge, 2014:4; Departement van Basiese Onderwys, 2014:13-17; Fourie & Hooijer, 2018:17; Nel, Nel & Lebeloane., 2013:59; R2ECWD, 2016:4).

Die verskillende tipes skole binne die stelsel van inklusiewe onderwys en die meegaande vlak of intensiteit van ondersteuning word in die onderstaande tabel geïllustreer.

Tabel 3.4: Onderwysinstelling teenoor vlak van ondersteuning (aangepas uit Departement van Basiese Onderwys, 2014:13-17, 63-64; Engelbrecht et al., 2015:2; Fourie & Hooijer, 2018:17; Human Rights Watch, 2015:13-14)

Tipe skool Vlak van ondersteuning

Hoofstroom Laag

Hoofstroom en voldiens Gemiddeld/matig

Voldiens en spesiaal Hoog/intensief

Gebaseer op die filosofie dat alle leerders kan leer, vorm hierdie drie tipes skole (hoofstroom, voldiens en spesiaal) ʼn inklusiewe stelsel met die doel om in die behoeftes van alle leerders in ʼn gemeenskap te voorsien en ekstrinsieke hindernisse te minimaliseer of uit die weg te ruim deur die relevante ondersteuning te bied (Ntombela & Raymond, 2013:9; Fourie & Hooijer, 2018:17). Alhoewel spesiale skole reeds deel was van die vorige onderwysbedeling (Hay, 2012:95; Fourie & Hooijer, 2018:12) het Witskrif 6 ten doel om spesiale skole op te gradeer as hulpbronsentrums wat die omliggende skole in ʼn gemeenskap van professionele ondersteuning bedien. Personeel met spesialiskennis en vaardighede verbonde aan die spesiale skole word aangemoedig om by ondersteuningsnetwerke en DGOS’e betrek te word ten einde kundigheid, kennis en vaardigheid oor die ondersteuning aan leerders wat hindernisse tot leer ervaar met leerders, ouers en onderwysers te deel (Fourie & Hooijer, 2018:18). Leerders met ’n behoefte aan intensiewe of ʼn hoë vlak van ondersteuning sal onderrig en ondersteuning in ʼn spesialeskoolopset mag ontvang, hetsy op ʼn permanente of tydelike basis. ʼn Voorbeeld ter illustrasie van tydelike ondersteuning deur ʼn spesiale skool is, byvoorbeeld, waar ʼn blinde leerder Braille geleer word in ʼn spesiale skool (vir blindes); sodra die leerder die vaardigheid bemeester het, kan die leerder teruggeplaas word in ʼn hoofstroom- of voldiensskool, afhangend van sy of haar ander behoeftes en die ondersteuning aldaar beskikbaar (Fourie & Hooijer, 2018:18).

Landswye opgradering van hoofstroomskole na voldiensskole in elke distrik word jaarliks gedoen. Spesifieke kriteria waarteen moontlike voldiensskole gemeet word, word duidelik uiteengesit in die

Guidelines for Full-service or Inclusive Schools (Departement van Basiese Onderwys, 2010b:10-11).

Voldiensskole word toegerus en ondersteun om op ʼn wye verskeidenheid leerbehoeftes te reageer en veral leerders met gemiddelde of matige onderwysbehoeftes te akkommodeer en te ondersteun (Engelbrecht et al., 2015:2; Fourie & Hooijer, 2018:18; Nel et al., 2016:4; Ntombela & Raymond, 2013:9; WKOD, 2015c:1). Die veronderstelling met voldiensskole is die modellering van volledige inklusiewe onderwys in praktyk (Engelbrecht et al., 2016:522-523; Schaefer, 2002:16; Schoeman, 2017:28-30). Engelbrecht et al. (2016:524) rapporteer dat daar landwyd teen 2016 reeds 510 voldiensskole in plek was. Volgens beleid kwalifiseer ʼn voldiensskool vir ʼn voltydse

leerondersteuningsopvoeder (learning support educator) vir elke 500 leerders wat by die skool ingeskryf is (Departement van Basiese Onderwys, 2010b:23). ʼn Voldiensskool mag op ʼn tydelike basis ondersteuning aan leerders van nabygeleë skole bied (Fourie & Hooijer, 2018:19), maar daar moet gewaak word om van voldiensskole ʼn dumping site of ‘afsetgebied’ te maak vir leerders wat hindernisse tot leer ervaar. Soos aanbeveel word in die Guidelines for Full-service or Inclusive

Schools, behoort voldiensskole eerder die onderwysers van nabygeleë skole te bemagtig met kennis

en vaardighede om leerders met leerhindernisse te ondersteun (Departement van Basiese Onderwys, 2010b:18; Fourie & Hooijer, 2018:19). Ter versterking van praktyke van inklusiewe onderwys behoort daar noue en gereelde skakeling te wees tussen die voldiensskool, spesiale skool, hulpbronsentrum en die ondersteuningspan op distrikvlak (Fourie & Hooijer, 2018:19).

Witskrif 6 idealiseer ook die opgradering van hoofstroomskole deur middel van ʼn ondersteuningspakket wat die volgende aspekte behoort in te sluit: die voorsiening van differensiële leerprogramme, onderwysersopleiding, kundige ondersteuning, die aanpassing of verbetering van die geboue en terrein, die voorsiening van tegnologiese hulpmiddels, en so meer (Departement van Basiese Onderwys, 2014:8; Ntombela & Raymond, 2013:9; Schoeman, 2017:24; WKOD, 2015a:1). Alhoewel onderwysbeleid in Suid-Afrika voorsiening maak vir leerondersteuning in drie verskillende tipes skole, bly onderrig en ondersteuning aan leerders in ʼn hoofstroomskool vir sover moontlik die voorkeur (Capacity for Development, 2017:3; Hay, 2012:96; Fourie & Hooijer, 2018:13; Schoeman, 2017:29). Schaefer (2002:7) staaf die voorafgaande as hy sê: “Ondersteuningsdienste en leerondersteuning moet aan die leerder in die hoofstroom gebring word eerder as wat ʼn leerder uit die klas na onderwysspesialiste verwyder moet word.” In uitsonderlike gevalle waar dit absoluut noodsaaklik is, is dit wel toelaatbaar vir ʼn leerder om onderrig en ondersteuning te ontvang in ʼn afsonderlike opset (Hay & Beyers, 2011:242). Hierdie veronderstelling regverdig waarskynlik die plek vir spesiale skole in die onderwysopset. Met die kategorisering van onderwysinstellings in Suid-Afrika word die ideaal van ʼn ten volle geïntegreerde stelsel van inklusiewe onderwys, waar geen spesiale onderwys in ʼn aparte konteks gebeur nie (hoe realisties ook al), egter vertroebel.