• No results found

HOOFSTUK 3: OPVOEDKUNDIGE ONDERSTEUNINGSDIENSTE BINNE INKLUSIEWE

3.3 Formele ondersteuningstrukture ter versterking en uitbreiding van

3.3.1 Ondersteuning op skoolvlak: SGOS

3.3.1.1 Die funksionele SGOS

Met ʼn groepsbenadering tot hulpverlening en ondersteuning in inklusiewe onderwys, dien die SGOS as steunstruktuur en ondersteuningsnetwerk aan leerders wat hindernisse tot leer ervaar en is hierdie ondersteuningspan binne die skool werksaam. Vanuit die sistemiese perspektief word die skool en samelewing gesien as stelsels wat op mekaar inwerk en daarom dien die SGOS operasioneel as skakel tussen die skool, ouers of versorgers, ander ondersteuningsdienste en ook die gemeenskap

(Du Toit et al., 2014:344). Die belangrikste funksies van die SGOS ten opsigte van doeltreffendheid, werkswyse en prosedures word opgesom in verskeie bronne (vgl. Departement van Onderwys, 2001:29, 48; Departement van Onderwys, 2009:22; Departement van Basiese Onderwys, 2014:30- 32; Fourie & Hooijer, 2018:15; Hay, 2013b:252; Johnson & Green, 2007:163; Landsberg, 2005:67; Motitswe, 2014:260; Nel, Nel & Lebeloane, 2013:56). Volgens hierdie bronne is die SGOS se funksie:  om toe te sien dat elke onderwyser inklusiewe praktyke in en buite die klaskamer

implementeer;

 om die onderrig-en-leerproses by die skool te ondersteun en te versterk;

 om die professionele kapasiteit van alle onderwysers te ontwikkel en hulle te bemagtig met vaardighede om die verskeie hindernisse waarvoor die leerders te staan kom, te interpreteer en daarvolgens hulpbronne wat nodig is om die leerders te ondersteun, te ontgin, te raadpleeg of te betrek;

 om, indien nodig, die inklusiewe benadering tot leer in die klaskamer aan die onderwysers te illustreer en te verduidelik sodat die onderwysers kan waarneem hoe dit in die praktyk uitgevoer behoort te word;

 om ondersteuning deur kollegas of maats aan te moedig;

 om hulpverlening deur die onderwyser en die impak daarvan te evalueer;  om toe te sien dat elke onderwyser die SIAS-beleid implementeer;

 om saam met die verwysende onderwyser ʼn leerderondersteuningsplan te ontwikkel en ouers te betrek om die werk wat by die skool gedoen is in te skerp; en

 om die voorgestelde leerderondersteuningsplan te moniteer en, indien nodig, die leerder na die DGOS of ʼn relevante rolspeler te verwys vir verdere hulpverlening, ondersteuning en assessering.

Die SGOS dien dus as relevante forum om die vaardighede en energie van onderwysers, ouers en gemeenskapslede te betrek en te fokus tot voordeel van alle leerders en die skool self (Hay, 2013b:253)

Sou die SGOS, as komponent van die breër ondersteuningsnetwerk, die voorgestelde funksies effektief by die meerderheid skole kon uitvoer, was die verwesenliking van die ideaal van inklusiewe onderwys toenemend binne bereik. Weens die dinamiese onderwyslandskap in Suid-Afrika het die SGOS ʼn deurslaggewende rol om te speel in die effektiewe voorkoming of hantering van leer- en ontwikkelingshindernisse wat in die pad van alle skoolgaande leerders staan om hul volle potensiaal te bereik (Du Toit et al., 2014:344).

Die skool en onderwysers bly daarvoor verantwoordelik om ʼn milieu te skep waarin alle leerders ʼn mate van sukses kan beleef. Daarom is dit noodsaaklik om bewus te wees van die feit dat alle leerders op een of ander manier ondersteuning en erkenning nodig het om te floreer (Departement van Basiese Onderwys, 2010:12). Dit stel die SGOS, in samewerking met die onderwysers, in ʼn unieke posisie om inklusiewe strategieë na gelang van elke leerder se behoeftes te ontwerp en te verfyn.

ʼn Funksionele SGOS skep die geleentheid vir die vroeë identifisering van leerders met hindernisse tot leer en ontwikkeling. Sinvolle hulpverlening aan hierdie leerders op skoolvlak reduseer in ʼn mate die aantal vroeë skoolverlaters en verminder indirek die risiko’s waaraan leerders blootgestel word op verskeie terreine. In samewerking met die SGOS moet die onderwysers met behulp van die SIAS- proses leerders identifiseer wat in aanmerking kom vir hulpverlening en ondersteuning (Departement van Onderwys, 2009:15). Sodanige leerders is leerders wat:

 hindernisse tot leer en ontwikkeling ervaar;  op ʼn verrykingsprogram geplaas moet word;  straatkinders is of wees gelaat is;

 in konflik met die gereg is of was;  gereeld afwesig is;

 tekens van verwaarlosing of mishandeling toon;

 sosiale uitdagings ervaar weens honger, siekte of geweld;

 fisieke hindernisse ervaar, byvoorbeeld gehoor, visie of mobiliteit;

 nie na wense presteer of vorder nie omdat die taal van onderrig en leer nie sy of haar moedertaal is nie; of

 te oud is vir die graad of gedruip het.

Hall et al. (in Johnson & Green, 2007:163) wys uit dat dit nie die SGOS se verantwoordelikheid is om namens die verwysende onderwyser die leer- of ontwikkelingshindernis van ʼn leerder te hanteer nie, maar eerder om in samewerking met die onderwyser strategieë of ʼn oplossing te fasiliteer (Johnson & Green, 2007:163). Om inklusiewe onderwys haalbaar te maak, is dit kernbelangrik dat onderwysers met die nodige effektiwiteit en doeltreffendheid sal toetree tot die samewerkende vennootskap (Villa & Thousand, 2003). Dit is tot voordeel van inklusiewe onderwys en elke leerder as onderwysers hulself verbind tot lewenslange leer binne die onderwysprofessie en eienaarskap neem van hul nuwe verantwoordelikheid binne die opset van inklusiewe onderwys (Johnson & Green, 2007:164; Motitswe, 2014:263).

Du Toit et al. (2014:344-350) sowel as Nel, Nel en Lebeloane (2013:58) benadruk die feit dat die optimale funksionering van die SGOS by ʼn skool afhang van die mate waarin hierdie span hul sleutelrol as koördineerders van hulpverlening verstaan en uitvoer. ʼn Sterk of funksionele SGOS behoort, volgens Johnson en Green (2007:162-164), McCulloch (2012:2) en Du Toit et al. (2014:350), aan die volgende kwaliteite te voldoen:

 Goed opgeleide en gekwalifiseerde onderwysers.

 Voortgesette professionele ontwikkeling van onderwyspersoneel.

 Effektiewe hulpverlening en ondersteuning aan onderwysers, leerders en ouers of voogde.  Gereelde skakeling met ouers of voogde.

 Goeie samewerking tussen spanlede.

 Vroeë identifikasie van leerders met leer- of ontwikkelingshindernisse.

 Samewerking en skakeling met ander rolspelers vir professionele hulpverlening en ondersteuning, byvoorbeeld die DGOS, maatskaplike werker, skoolverpleegster, ensovoorts.  Praktiese implementering van inklusiewe onderwys by die skool en in die klaskamer.

 Sterk administratiewe leierskap.

Met toegewyde en gemotiveerde spanlede is dit vir ʼn SGOS moontlik om effektief as ʼn span te funksioneer. Positiewe interpersoonlike verhoudings tussen spanlede, respek vir mekaar se kennis en vaardighede en gelyke behandeling van spanlede dra gewoonlik by tot ʼn gevoel van samehorigheid in die span (Departement van Onderwys, 2009:14; Hay, 2013a:233-234). Du Toit et

al. (2014:355) noem dat indien SGOS-lede “nie oor die nodige kundigheid en ervaring beskik nie …

dit spanning, ʼn gevoel van ontoereikendheid en depressie by die betrokke lede meebring”. ’n Funksionele SGOS ondersteun en werk in vertroulikheid saam uit respek vir die menswaardigheid van die leerder en sy of haar ouers (Fourie & Hooijer, 2018:15).

Uit die bogenoemde word dit duidelik dat ʼn sterk, gemotiveerde en doelgerigte SGOS noodsaaklik is vir die onderrig, leer en ondersteuning van alle leerders in die skoolopset. Verder wys Du Toit et al. (2014:344) uit dat die suksesvolle implementering van inklusiewe onderwys by ʼn skool grootliks afhang van die mate waarin die SGOS, ouers of versorgers en onderwysers bereid is om toe te tree tot en betrokke te raak by die ondersteuning van leerders wat hindernisse tot leer en ontwikkeling ervaar.

ʼn Voorgestelde interne ondersteuningsprosedure in lyn met beleid behoort deur elke SGOS by ʼn skool daargestel te word om die span se funksionaliteit te versterk en te verseker en alle onderwysers by die ondersteuningsproses te betrek. ʼn Ideale of basiese ondersteuningsprosedure of -plan binne die raamwerk van die SIAS-beleid word vervolgens skematies in tabel 3.7 geïllustreer.

Tabel 3.7: SGOS: Interne ondersteuningsprosedure (aangepas uit Departement van Basiese Onderwys, 2014:28-29; Fourie & Hooijer, 2018:16; IESA, 2016b:2) Stap 1  Onderwyser identifiseer die leerder met ʼn ondersteuningsbehoefte. Stap 2  Onderwyser win inligting in.

 Voer onderhoud met ouers of versorgers

 Voltooi SNA 1 en individuele ondersteuningsplan.

 Begin met ondersteuning en differensieer die kurrikulum.

INDIEN GEEN VERBETERING

Stap 3  Onderwyser bespreek ondersteuning aan leerder met kollegas tydens

graadvergadering.

 Beplan alternatiewe strategieë ter ondersteuning en intervensie.  Pas individuele ondersteuningsplan aan.

 Implementeer nuwe hulpverleningstrategieë

INDIEN GEEN VERBETERING

Stap 4  Werk SNA 1-vorm en individuele ondersteuningsplan by om leerder na SGOS

te verwys.

Stap 5  Vergader met SGOS om verdere ondersteuning en hulpverlening aan leerder

te bespreek.

 Pas individuele ondersteuningsplan aan.  Implementeer verdere hulpverleningstrategieë

INDIEN GEEN VERBETERING

Stap 6  SGOS voltooi die DBE 120-vorm om leerder na DGOS te verwys.

Vir die SGOS om funksioneel en effektief te wees, is dit van belang dat hulle toegang tot ondersteuning van die DGOS het (Engelbrecht & Swanepoel, 2013:30; Hay, 2013b:251; Motitswe, 2014:263; Stofile & Green, 2007:58). (Die DGOS as formele steunstruktuur word onder afdeling 3.3.1.1 van naderby bekyk.) In areas waar toegang tot die DGOS beperk is, is die effektiewe funksionering van die SGOS selfs meer kritiek aangesien die SGOS dan soms die enigste ondersteuningsdiens is waarheen die onderwyser hom- of haarself kan wend ter oplossing van hindernisse tot leer wat leerders mag ervaar (Hay, 2013b:253). Sou die SGOS funksioneel te werk gaan in skole, kan dit dus as ʼn ryk bron vir hulpverlening en ondersteuning dien (Hay, 2013b:260).

McCulloch (2012:1) gee die volgende raakvatbeskrywing van ʼn SGOS: “This team is formed to enhance a child’s learning process and development, or, in other words, to be the child’s ‘helping hands’, while also encouraging and assisting in his/her independence goals.”

Die funksionele SGOS maak met ander woorde inklusiewe onderwys ʼn haalbare moontlikheid op skoolvlak en daarom die klem op en ondersoek na die effektiwiteit en funksionaliteit van SGOS’e.