• No results found

3.3. Die Franse feminisme

3.3.1. Sigmund Freud en die psigoanalise

Sigmund Freud (1856 – 1939), vader van die psigoanalise, is sekerlik een van die mees omstrede teoretici van sy tyd, maar weens sy denke oor die self kan sy teorieë as ’n keerpunt beskou word. Voor Freud is daar staatgemaak op Descartes se beskouing van die individu as rasioneel en outonoom. Freud beskou egter die psige as drieledig, bestaande uit ’n onbewuste (id), die bewuste persoonlikheid (ego) en simboliese beeld van die self (superego) (Braidotti in Retief, 2005:13). Hoewel Freud die eerste skrywer was wat hierdie komplekse subjektiwiteit teoreties omskryf het, was sy teorieë oor ’n meer komplekse, meerduidige self volgens Mansfield (2000:25) wel nie onverwags of ongewoon vir sy tyd nie. Reeds in die 19de eeu het onsekerheid oor die ‘struktuur’ van die self naamlik ontstaan en neerslag gevind in die letterkunde. Uiteenlopende werke deur skrywers soos Dostojevsky en Mary Shelley bied perspektiewe op die innerlike wroeging van karakters en verwoord ’n self wat beïnvloed word deur irrasionele impulse. Dit wil voorkom asof die seksualiteit van die self in dié tekste meer sielkundig van aard is en nie noodwendig gemotiveer word deur die instinktiewe begeerte tot voortplanting nie (Mansfield, 2000:25).

Freud het die term psigoanalise vir die eerste keer in 1896 gebruik om sy nuwe benadering tot terapie te omskryf, wat daarop gerig was om begeertes wat deur die pasiënt onderdruk, verwerp of ontken word, bloot te lê (Wright,

1984:145). In Freud se weergawe van subjektiwiteit bestaan daar by die self altyd ’n skeiding of stryd tussen die bewuste elemente van die psige (wat deur die sosiale en kulturele faktore beïnvloed word) en die begeertes of impulse van die onbewuste (Mansfield, 2000:30). Tydens psigoanalitiese terapie vind

’n proses van projeksie plaas. Pasiënte word gevra om oor hul kinderdae te praat en word só begelei om onbewuste trauma te herleef, omdat dié proses moontlik toegang kan bied tot hul psigiese probleme. In hierdie opset dien die analis as ’n skerm vir die pasiënt se projeksies. Kontraprojeksie kan egter plaasvind wanneer die onbewuste van die analis ook, soos dié van die pasiënt, gemobiliseer word. Dit kan dus gebeur dat beide pasiënt en analis tydens die terapie projekteer (Braidotti in Retief, 2005:14).

Die verhouding tussen psigoanalis en pasiënt kan tot ’n sekere mate vergelyk word met die verhouding tussen leser en teks. Psigoanalise het gevolglik nie net binne die spreekkamers van sielkundiges gebly nie. Vanweë die belangrike rol wat taal en narratief in die psigoanalise speel, het dit bruikbaar geblyk by die lees en analise van literatuur (Wright, 1984:150). Vanaf die vyftiger- en sestigerjare van die vorige eeu fokus psigoanalitiese benaderings tot die literatuur veral op die leser. Norman Holland (in Wright, 1984:149) wys daarop dat lesers juis plesier uit ’n teks put omdat hul onbewuste vrese en wense op ’n kultureel aanvaarbare wyse in ’n literêre teks gevind kan word. Die teks kan beskou word as ’n projeksie van die skrywer wat die leser moet interpreteer, maar die sukses van die teks is dikwels daarin geleë dat ʼn leser met die teks kan identifiseer. Psigoanalitici het die literatuur aanvanklik op drie maniere benader: Eerstens is ’n teks as ’n fantasie of simptoom van die skrywer beskou. Hierdie benadering het dus die fokus vanaf die teks na die skrywer verskuif. Tweedens is karakters as lewende subjekte met hul eie simptome beskou. Laastens is taalgebruik geanaliseer deur te fokus op simbole. Hierdie benadering het egter dikwels tot vulgêre analises gelei, aangesien vertikale objekte eenvoudig as manlike geslagsorgane gelees is en horisontale objekte as die moeder se liggaam (Wright, 1984:146). Daarenteen fokus psigoanalitiese literatuurbenaderings sedert die tagtigerjare van die vorige eeu op die sentrale rol van begeertes, gegrond op ’n nuwe definisie van die onbewuste (Wright, 1984:150).

Die komplekse verhouding tussen psigoanalise en literatuur, wat dus reeds verandering en vernuwing ondergaan het, word verder gekompliseer wanneer die feminisme bykom. Daar is egter verskeie raakpunte wat hierdie drie velde met mekaar verbind. Flieger (1989:190) wys op die volgende vier: Eerstens is daar in al drie velde ’n belangstelling in subjektiwiteit, met aspekte soos subjektiwiteit, die vrou as subjek en die vrou as skrywer wat van belang is. Tweedens is daar ’n belangstelling in die onbewuste, wat onder andere beskou word as agent van sowel die menslike psige as van literêre tekste. Derdens is daar binne die drie velde ’n gemoeidheid met taal, wat gesien word as ’n meganisme van die patriargie en as struktuur van die onbewuste. Laastens is die psigoanalise, die feminisme én literatuur ingestel op simptome. Menslike aktiwiteite, kuns en letterkunde word almal as simptome van onderdrukking of repressie beskou – die kern van die hedendaagse psigoanalitiese leesbenadering. Volgens Hambidge (1989:94) “blyk repressie verantwoordelik te wees vir die vorming van metafore”. In Freud se werk is daar twee konsepte wat veral relevant is vir die studie van die letterkunde, spesifiek letterkunde gemoeid met vroulike karakters, naamlik die bestaan van ’n veelvoudige subjektiwiteit en sy teorieë oor die ontwikkeling van vroulike seksualiteit.

Freud het nie net baanbrekerswerk gedoen deur te wys op die fragmentasie van die subjek nie, maar ook deur in te gaan op die invloed van eksterne faktore op die vorming van subjektiwiteit. Hy voer naamlik aan dat subjektiwiteit beïnvloed word deur verhoudings binne en buite die gesin. Die konsep van die Oedipus-kompleks wys byvoorbeeld enersyds op die invloed van die verhouding tussen sowel moeder en kind as tussen vader en kind, maar andersyds op die rol van seksualiteit en gender in die vorming van identiteit (Mansfield, 2000:31). Veral die Oedipus-model en Freud se teorie oor die seksuele ontwikkeling van vroue is van belang binne die feministiese literatuurstudie.

Freud (1966:117) tref ’n duidelike onderskeid tussen manlike en vroulike ontwikkeling. Die skeiding tussen die twee vind volgens hom plaas tydens die

Oedipale-fase. Tydens die pre-Oedipale fase is beide seuns en dogters in ’n hegte verhouding betrokke met die moeder as die primêre versorger en

liefdesobjek11. Hierdie noue verbintenis met die moeder het tot gevolg dat die seun sy moeder wil besit en seksuele omgang met haar wil hê. Wanneer hierdie begeerte by hom ontstaan, beweeg hy na die Oedipale fase. Hy moet egter sy teenstander – sy vader – vermoor indien hy sy moeder wil besit. Freud (in Tong, 1989:140) meen dat die seun se vrees vir sy vader hom verhoed om hierdie begeertes te bevredig. Die seun merk dat vroue nie penisse besit nie en vermoed dat hulle deur sy vader gekastreer is. As gevolg van sy vrees vir kastrasie onderdruk die seun sy begeertes en liefde vir sy moeder, en ontwikkel die superego tydens hierdie proses (Tong, 1989:140). Freud (1966:117) meen dat vroulike ontwikkeling ’n moeiliker proses is. Na die dogter se gehegtheid aan die eerste gemeenskaplike liefdesobjek (haar moeder) verwerp sy die moeder tydens die Oedipale fase en neem haar vader as liefdesobjek aan (Freud 1966:118), omdat sy (as sy die geslagsorgaan van die teenoorgestelde geslag sien) haar moeder blameer en verantwoordelik hou vir vroue se gebrek aan ’n penis12 (Freud, 1966:124). Die dogter beweeg vervolgens nader aan die vader in die hoop dat hy vir haar ’n penis sal kan gee. Hierdie wens vir ’n penis word egter vervang deur die begeerte om ’n baba te kry. Hierdeur verkry die dogter dus ’n Oedipus- kompleks, en beskou haar moeder as teenstander met betrekking tot haar vader se liefde en aandag (Freud 1966:128).

Freud se teorieë oor vroulike ontwikkeling en vroulike seksualiteit is sekerlik van sy mees omstrede werk en word dikwels deur feministiese teoretici gedissekteer en gekritiseer. Alhoewel verskeie feministiese teoretici Freud se teorie as biologies deterministies (Chodorow, 1999:214) beskou, is hulle dit egter eens dat sy bevindings nie sonder meer van die hand gewys kan word nie. Waar Freud van mening is dat manlike en vroulike ontwikkeling eers tydens die Oedipale fase van mekaar verskil, wys feministiese teoretici wel daarop dat verskille reeds tydens die pre-Oedipale fase bestaan. Hulle stem meestal saam met Freud dat die moeder beide seuns en dogters se eerste

11

Freud verwys na die moeder én vader as “love object” (Freud, 1966:118). 12 Hierdie verskynsel word penis-envy of penisnyd genoem.

liefdesobjek is, maar teoretici soos Helene Deutsch (in Chodorow, 1999:96)

vind dat die band tussen moeder en dogter van ’n ander aard is as die verbintenis tussen moeder en seun. Chodorow (in Tong, 1989:154) beskryf die pre-Oedipale verhouding tussen die moeder en die dogter as “narcissistic over-identification”. Omdat moeder en dogter dieselfde geslag is, is sowel die dogter se sin van self as haar gender verbind aan dié van haar moeder.

Feministiese teoretici is dit meestal met Freud eens dat die dogter tydens die Oedipale fase haar vader as liefdesobjek benader, maar beskou penisnyd nie as die enigste motivering vir hierdie skuif nie – ook die dogter se verhouding met haar moeder is hierby belangrik. Volgens Chodorow (in Tong, 1989:154) bestaan daar wel penisnyd by die dogter omdat die dogter die manlike geslagsorgaan met mag assosieer, maar ook omdat dit klaarblyklik haar moeder bevredig. Freud sien die dogter as haar moeder se mededinger in die stryd om haar vader se liefde en aandag, maar Chodorow (1999:126) verbind die dogter se toenadering tot die vader ook met die feit dat die dogter sterk met haar moeder identifiseer en haar liefde wil wen. Sy bly dus steeds bewus en afhanklik van en verbind aan haar moeder op verskeie vlakke, eerder as wat die verbintenis tot die vader tydens die Oedipale fase eksklusief is. Deur die gevoelens teenoor die vader wat bykom, ontstaan ’n tipe liefdesdriehoek (Chodorow, 1999:128-129).

Ondanks die kritiek teen hom het Freud se teorieë ’n beduidende bydrae gelewer tot die sielkunde en ander velde. Met Freud se denke as agtergrond wys Lacan byvoorbeeld op die rol van taal in subjekvorming. Op sy beurt stel Lacan met sy teorieë weer feministiese teoretici daartoe in staat om hul eie teorieë rondom vroulike subjektiwiteit en ‘vroulike’ taal13 te formuleer.