• No results found

Hierdie hoofstuk het, soos die volgende, ten doel om die teoretiese toerusting of benaderingswyses vir die lees van die romans Annerkant die longdrop en

De vriendschap te selekteer en te omskryf. Daar is spesifiek gewys op die

genre-teorie en die grensverkeer tussen die genres, wat as raam vir die lees van die tekste gebruik kan word. In die ondersoek na definisies en afbakenings van die relevante geselekteerde literêre genres is gevind dat veral rondom die genre van die Bildungsroman ’n web van definisies met verloop van tyd ontstaan het, omdat heelwat teoretiese besprekings die genre wil herdefinieer. Daar is nogtans bevind dat hierdie problematiese genre as ’n belangrike en interessante studieveld beskou kan word wat heelwat

moontlikhede ontsluit. Deur die uitlig van kerndefinisies en die algemene kenmerke van die Bildungsroman kan die volgende funksionele definisie saamgestel word: Vir die doeleindes van hierdie ondersoek word die

Bildungsroman beskou as ’n roman wat die ontwikkeling van ’n karakter

verwoord, en wys op die wisselwerking tussen individu en omgewing in die ontwikkelingsproses.

Dit het geblyk dat die hedendaagse Bildungsroman dikwels definisie ontglip omdat dit as genre konstant verander en aanpas. Veral die vroulike herskrywings van die Bildungsroman steek die grense van genres en literêre tradisies blatant oor en daag hulle uit. Volgens McWilliams (2009:16, 28) is die ‘vroulike’ Bildungsroman een van die min genres wat rebelleer teen ’n tradisionele, patriargale genre, maar terselfdertyd die voortbestaan van daardie genre verseker deur dit opnuut te vul met kontemporêre en relevante inhoud. Ook die Bildungsroman as genre het ’n groot ontwikkeling ondergaan vanaf ’n mansgerigte tipe teks wat tuis is binne die tydperk van die Verligting tot ’n genre wat die grense van die postmodernisme en die feminisme oorskry. Die feit dat die ‘vroulike’ Bildungsroman aansluit by postmoderne en feministiese tradisies onderstreep die vernuwende en vloeibare aard van hierdie genre. Die oor-skryding van genre-grense in die uitbeelding van ontwikkelende vroulike seksualiteit kan byvoorbeeld in verband gebring word met tendense binne die postmodernisme en écriture féminine. Alhoewel die tekste onder bespreking hoofsaaklik as ‘vroulike’ Bildungsromane bespreek word, wys sowel hierdie hoofstuk as dié wat daarop volg op die grensverkeer en vloeibare saambestaan van genres op grond van die hedendaagse hibridiese literatuurbeskouings.

Alhoewel daar dikwels teenkanting is teen die lees van tekste as vroulik of feministies, word in hierdie hoofstuk uitgewys dat die Bildungsroman met vroulike protagonis wel meermale met ’n vroulike of feministiese bril gelees kan word. Soos in die geval van die tradisionele Bildungsroman draai die ‘vroulike’ Bildungsroman om die ontwikkeling en wording van die protagonis. Feministiese psigoanalitici soos Nancy Chodorow en Carol Gilligan wys egter daarop dat vroulike ontwikkeling verskil van dié van mans (Feng, 1997:7).

Hierdie verskille, wat dus ook die bestaan van ’n ‘vroulike’ Bildungsroman regverdig, word meer breedvoering bespreek in die volgende hoofstuk.

Hoofstuk 3

Die Feministiese teorie

3.1. Inleidend

[Feminist theory] provides a lens through which ideas and social practices can be analyzed (Cudd & Andreasen, 2005:2).

Die Feministiese teorie in die algemeen betrek diverse en teenstrydige teoretiese gebiede wat volgens Retief (2005:5) nogtans getuig van ’n vreemde verhouding van saambestaan en interaksie. Dit kan beskryf word as ’n versameling of korpus teoretiese en kritiese werke waarin daarna gestreef word om die ervarings van vroue te beskryf, te verduidelik en te analiseer (Kolmar & Bartkowski, 2005:2). Meer in die besonder kan feministiese teorie ook in verband gebring word met ’n bepaalde vroulike perspektief op of ingesteldheid teenoor die wêreld. Soos in bostaande aanhaling genoem, beskryf Cudd en Andreasen (2005:2) byvoorbeeld feministiese teorie as ’n lens waardeur na idees, teorieë, die samelewing en sosiale praktyke gekyk kan word. Hierdie ondersoek gebruik die feministiese teorie in aansluiting hierby as bril of raamwerk by die lees van die betrokke twee prosatekste, wat as ’t ware deur die lens van ’n feministiese literatuurbenadering of feministiese literatuurkritiek beskou word.

Hierdie hoofstuk sluit aan by die genre-teorie wat in die vorige hoofstuk ter sprake gekom het deur te fokus op die ‘vroulike’ aspekte van die ‘vroulike’

Bildungsroman. Die ‘vroulike’ Bildungsroman rebelleer teen die tradisioneel

patriargale genre van die Bildungsroman deur die vroulike liggaam en seksualiteit onder andere in die hedendaagse Bildungsroman in te skryf. Hier word aangevoer dat die ‘vroulike’ Bildungsroman se rebellie teen ’n tradisioneel patriargale genre en die gebruik van die vroulike liggaam, taal, en seksualiteit om die tradisionele genre te ondermyn, met écriture féminine in verband gebring kan word.

Ter inleiding tot die feministiese teorie wat in hierdie hoofstuk aan bod kom, word die feministiese literatuurkritiek vervolgens kortliks bespreek, met spesifieke aandag aan die Franse feminisme, as agtergrond vir die teorie van die écriture féminine. Hier dien die teorieë van Freud en Lacan as agtergrond vir die denke van Julia Kristeva, Luce Irigaray en Hélène Cixous, wat elkeen op hulle beurt ʼn bydrae tot die teorie van écriture féminine lewer. Die uiteensetting van écriture féminine as teoretiese invalshoek vir die lees van tekste is die belangrikste oogmerk van hierdie hoofstuk. Gevolglik word daar in die aanloop tot hierdie uiteensetting net kortliks na relevante fragmente en konsepte in die komplekse werke van Freud, Lacan, Kristeva, Irigaray en Cixous verwys.