• No results found

4.3. Annerkant die longdrop as ‘vroulike’ Bildungsroman

4.3.1.3 Die Bildungsreise in Annerkant die longdrop

Met die lees van Annerkant die longdrop is dit sowel die reise wat die protagonis(te) meemaak as die verskillende verwysings na reise en reismotiewe wat opval. Eie aan die Bildungsroman as genre vorm beide die fisiese en psigologiese reis die kern, soos ook uitgelig deur resensente en

akademici. Malan (1999:14) wys byvoorbeeld op die psigologiese reis in die roman:

[Dit kan] beskryf word as ’n tipiese “outsider” se eeue oue soeke na die Sin van die Menslike Bestaan. Of iets wat lyk na die Jungiaanse begrip van ’n reis na die Self. Eenvoudiger gestel: die mens se strewe om ’n eie identiteit te vind in die morele en geestelik verarmde rommelhope van ons tyd.

Die Bildungsreise in Annerkant die longdrop toon ooreenkomste met dié van sowel die tradisionele Bildungsheld as die hedendaagse Bildungsheldin. Ginkelsnoek reis naamlik van die beperkte plattelandse ruimte van Namibië (die presiese geografiese area word nie aangedui nie) na meer kosmopolitiese ruimtes. Verder sluit Ginkelsnoek se Bildungsreise aan by die ‘vroulike’ Bildungsreise wat Bolaki (2011:40-41) en Kleinbord-Labovitz (1986:249) beskryf, deurdat sy veral ’n spirituele reis onderneem wat hoofsaaklik op die periferie, naamlik in die natuur, die wildernis of in niemandslandsones, plaasvind (Carstens, 2008:180). In plaas van groot Europese stede besoek sy Derdewêreldlande soos Meksiko, Malawi, Indië en Zambië (Von Meck, 1998:8, 11, 37, 125). Nie net in die natuur nie, maar deur die nuwe kulture en die ongewone mense met wie sy in aanraking kom, word sy wyser oor die wêreld en haarself. Op een van haar reise kom sy byvoorbeeld ’n lekefilosoof teë wat haar daarvan bewus maak dat ons liggame en bestaan nie werklik ons besit is nie en tydelik van aard is: “At best is ons maar net rentmeesters.” (Von Meck, 1998:2).

In Annerkant die longdrop word die fisiese en psigiese reise ook met ander tipes reise verbind:

Die reise waarop Ginkelsnoek, die jong hoofkarakter in hierdie onkonvensionele, aweregse boek die leser neem, loop deur verskeie afdraaipaadjies, oor kontinente deur die intiemste streke van die hart en herinnerings en sak soms af tot in die klowe van vertwyfeling en die desperaatheid van dwelmmisbruik (Wasserman, 1998:11).

Sowel Ginkelsnoek as SyWatDroom se gebruik van dwelms en drank kan in

karakters reis op verskillende maniere tydens hulle dwelm-‘trips’. Veral dié aspek van Annerkant die longdrop situeer die roman binne die kader van adolessenteliteratuur, onder meer weens die taboe-onderwerp wat uitgelig word. Ginkelsnoek word oor die algemeen as ’n soekende karakter geskets, wat hoofsaaklik op soek is na “HOM” – haar reis het ’n meer geestelike inslag (Van Rensburg, 1999:6). SyWatDroom, aan die ander kant, word veral met die liggaamlike aspekte geassosieer. Sy word as die mees seksuele suster uitgebeeld, en word vanweë haar swangerskap en aborsie met die (vroulike) liggaam geassosieer.

Die twee susters se reise met dwelms vind in hierdie twee sfere plaas: Ginkelsnoek se ‘trip’ in Meksiko is ’n geestelike ervaring, terwyl SyWatDroom se ervaring van ’n oordosis dwelms ’n intense liggaamlike ervaring is (Von Meck, 1998:112-113, 150-152). In Meksiko raak Ginkelsnoek so dronk dat sy byna kaal in ’n boom klim en dan probeer om “die heelal in” te spring (Von Meck, 1998:113). Tydens haar dronkenskap ervaar Ginkelsnoek die teenwoordigheid van “hom” en sy sien haarself vir die eerste keer as ’n heel en perfekte vrou: “Daar was onuitspreeklike krag in haar. Sy was VROU. Verruklik mooi, gevorm in ’n geheime plek.” (Von Meck, 1998:113). Hierdie ervaring van ’n heel en “perfekte” self word eers weer in die laaste hoofstuk teëgekom wanneer Ginkelsnoek, na ’n oordosis dwelms en ’n geestelike ontwaking, haarself as “Dinkdroomdoen”, “die Perfekte Eva”, ervaar (Von Meck, 1998:159). InGinkelsnoek se bewustelose toestand reis sy terug na ou herinneringe, onder andere haar ouma se dood en haar ervaring in Meksiko (Von Meck, 1998:155). Waar Ginkelsnoek in Meksiko “die heelal in” wou spring, sien Sprankelsnoek haarself hier in haar bewustelose toestand as ’n figuur wat “in die ruimte sweef” (Von Meck, 1998:158).

SyWatDroom se reis tydens haar oordosis word hoofsaaklik in liggaamlike terme beskryf. Ondanks die beskrywings van haar liggaam wat ingee, is daar verskeie verwysings na die gebruik van dwelms as ’n tipe reis. Daar word byvoorbeeld verwys na “Surfing UFO” (Von Meck, 1998:150). Dit kan wys op die dwelmgebruiker se ervaring van dwelms as ’n reis na ’n planeet, of ’n reis wat hom- of haarself soos ’n vreemde vlieënde voorwerp laat voel. Wanneer

SyWatDroom besef dat sy nie meer in beheer is nie en dat die dwelms haar liggaam oorgeneem het, word haar magteloosheid in reisterme uitgedruk: “You can check out, but you can never leave.” (Von Meck, 1998:152).

Daar moet in ag geneem word dat die twee personas van SyWatDroom en Ginkelsnoek na die dwelm-oordosis met mekaar begin versmelt. Die verband tussen Ginkelsnoek en SyWatDroom word op bladsy 152 duidelik, wanneer die leser agterkom dat SyWatDroom ’n oordosis dwelms geneem het, maar dat Ginkelsnoek haarself ná die insident in die hospitaal bevind. In hierdie toestand van bewusteloosheid word die drie selwe met mekaar verenig. Só ervaar Sprankelsnoek (Ginkelsnoek, Dinkdroomdoen) die intense geluk en vrede op geestelike en liggaamlike (fisiese) vlak: “Ginkelsnoek voel sielsgelukkig. Ridiculously hêppy tot in haar DNA-rangskikking.” (Von Meck, 1998:155).

In haar gesprek met Rachelle Conradie (1999) wys Von Meck op “die mens se Soeke na sy Maker” as een van die belangrikste invalshoeke of “besprekingsaspekte” by die lees van Annerkant die longdrop. Dit slaan terug op ’n ouer vorm van die Bildungsroman. Spirituele Bildungsreise deur vroulike protagoniste kan naamlik as ’n onderdeel van die tradisionele

Bildungroman beskou word. Bolaki (2011:20) wys daarop dat die term Bildung

ook ’n Christelike betekenis het: “[...] Bildung has been used to refer to ‘God’s creation of human beings in His image (Bild)’.” Omdat vroulike karakters se geleenthede vir reis in die verlede dikwels as meer beperk uitgebeeld is, is spirituele reise ’n vorm van vooruitgang wat meermale in ‘vroulike’

Bildungsromane aangetref.

Von Meck se uitspraak, Cas van Rensburg (1999:6) se resensie en heelwat romangegewens verbind hierdie roman met die tradisie van mistieke literatuur of mistisisme. Fanie Olivier (1992:311) omskryf mistiek in die literatuur as “die herkenning van en die ontmoeting en vereniging met ’n goddelike”. Die ver- houding en ontmoeting tussen die godheid en die mistikus word dikwels, soos in die geval van Annerkant die longdrop, as ’n besonder sensuele liefdesverhouding beskryf (Olivier, 1992:312). Bekende voorbeelde van

liefdesmistiek binne Christelik-Westerse verband is die werke van Bernardus Clairvoux (12e eeu), Hadewijch (13e eeu) en Juan de la Cruz (16e eeu) (Olivier, 1992:311).

Die roman se aansluiting by die liefdesmistiek word reeds in die motto gesuggereer. Die motto van die 1998-uitgawe van Annerkant die longdrop lees “For I am your husband, I will choose you. – Jeremiah 3:14”. Die 2009- uitgawe van die roman het ’n soortgelyke motto: “For your Maker is your husband. Isaiah 54: 5”. Daar kan gespekuleer word dat die motto van die 2009-uitgawe meer klem plaas op die nabye verhouding tussen die mens en sy Maker, terwyl die motto van die 1998 uitgawe daarop wys dat God sy kinders uitkies en hulle soek, waar hulle ook al in die wêreld is. Hy neem dus die leiding in die verhouding, terwyl die tweede motto ’n groter onus op die geliefde plaas. Volgens Happold (in Janse van Rensburg, 1995:25) verwoord die Christelik-Westerse liefdesmistiek inderdaad nie net die mens se soeke na God nie, maar ook God se soeke na die mens.

Soos die tradisionele mistikus is Ginkelsnoek ’n reisiger “onderweg na die vereniging met die godheid” (Olivier, 1992:311). Veral die eerste motto toon dat Ginkelsnoek se reis of jagtog na “Die Iets” of “Hom” parallel loop met ’n manlike figuur se soektog na ’n vrou, maar die hoofletters wys terselfdertyd dat dit nie noodwendig om ʼn konvensionele tipe verhouding gaan nie. Deur die loop van die roman word Ginkelsnoek se verhaal vergesel van skuinsgedrukte insetsels wat ’n manlike figuur se reis na ’n vrou verwoord. Soos wat Ginkelsnoek se reis ’n ‘einde’ nader, beweeg hierdie man al nader aan die vrou. Aanvanklik word hy voorgestel as in die hemelruim en ver van die vrou af. Hy sit op die punt van ’n asteroïde (Von Meck, 1998:66). Later word sy bewondering vir die vrouefiguur uitgespreek, maar eers in die derde skuinsgedrukte insetsel word ’n beweging na haar aangedui (Von Meck, 1998:91, 109). Die manlike figuur kom soms nader aan die vrou en wanneer haar teenwoordigheid weer vaer word, word sy “treë groter” en “[h]aastiger” (Von Meck, 1998:109). Met die motto in ag genome, kan aangevoer word dat

die manlike figuur God is en die vrouefiguur Ginkelsnoek of Dinkdroomdoen41. Hierdie interpretasie word versterk deur die laaste drie skuinsgedrukte insetsels (Von Meck, 1998:137, 146, 159). Wanneer Ginkelsnoek vir die eerste keer bewus word van die verandering wat in haar plaasvind en bewus word van die teenwoordigheid van die Gattoemaker verkeer die manlike figuur ook in die teenwoordigheid van die vrou wat hy soek (of jag):

Uiteindelik is hy naby. Naby genoeg om die musiek wat soet uit haar vloei, te hoor. Selfs te ruik. Orals om hom. Soos ’n lied wat om hom vleg. Bekend, tog nooit aangeraak nie. Sy hele wese druis van hunkering en haar erkenning. Hy wag rusteloos (Von Meck, 1998:137).

Met Ginkelsnoek of Dinkdroomdoen se uiteindelike geestelike (en fisiese) ontwaking na die oordosis dwelms word ’n euforiese blydskap uitgedruk in die laaste skuinsgedrukte gedeelte oor ’n vereniging tussen twee geliefdes wat as die slot van die roman dien. Dit gaan gepaard met feesvieringe wat die ganse heelal insluit – “’n Duisendmiljoen sterre verskiet met sy jubelende kreet” (Von Meck, 1998:159). Baie opvallend is die sterk seksuele ondertoon van hierdie ontmoeting of vereniging: “Saggies, met onuitspreekbare teerheid kom hy in

haar in.” (Von Meck, 1998:159). Volgens Hirsch (in Bolaki, 2011:42) is die

dood meermale die eindbestemming vir vrouekarakters wat ’n spirituele reis onderneem. In haar bewustelose toestand is Ginkelsnoek ook naby aan die dood, maar die meerduidige slot bied die moontlikheid dat slegs haar ou, gefragmenteerde self afgesterf het óf dat sy haarself in die hiernamaals bevind.

Ginkelsnoek se geestelike reis en die manier waarop dit as ’n romantiese soektog of ‘quest’ uitgebeeld word, herinner eerstens (soos genoem) aan die Middeleeuse mistiek, waar Christus as minnaar se fisiese teenwoordigheid deur sommige vroue aangevoel is. Tweedens speel dit in op die eerste romans wat vroulike ontwikkeling verwoord het. Met verdere ondersoek blyk egter dat Annerkant die longdrop ook teen laasgenoemde tradisie inskryf. In hierdie romans het vrouekarakters naamlik ontwikkel tot en met hulle

41 Van Rensburg (1999:6) se resensie, die motto’s van die roman en Von Meck se opmerking dat sy ’n “rowwe Christen-boek” (Herbert, 2000:7) wou skryf, dien myns insiens as genoegsame bewyse dat die Gatestopper wel as Christelik-Westerse God beskou kan word.

huwelike. Volgens Pratt (1981:45) word die goue ring, die simbool van nimmereindigende liefde, in hierdie romans ’n simbool van beperking of ingeperktheid. Hierdie beperking word egter eerstens glad nie in Annerkant

die longdrop verwoord nie, soos blyk uit die ekstaties-liriese toon wanneer die

twee figure Dinkdroomdoen en die Gattoemaker mekaar ten slotte ontmoet en verenig raak. Die mans in hierdie vroeë ontwikkelingsromans herinner tweedens dikwels aan gotiese booswigte wat hulle vroue (of skatte) toegesluit wil hou (Pratt, 1981:45). In Annerkant die longdrop het die leser daarenteen te doen met ’n opperwese wat die rol van ’n huweliksmaat aanneem. Dit is nog

’n aspek wat sterk in kontras is met die vroeë romans oor vroulike ontwikkeling. In die ‘vroulike’ ontwikkelingsromans uit die 19de eeu word die promiskue vrou of vrou wat voor die huwelik promisku opgetree het, derdens sterk veroordeel. Vroue met seksuele ervaring word geminag en het minder waarde in die huweliksmark (Pratt, 1981:73). Weereens is dit nie die geval in

Annerkant die longdrop nie. Sowel Ginkelsnoek as haar twee susters of ander

selwe kan as seksueel ervare beskou word, maar tog word Dinkdroomdoen as “die Perfekte Eva” beskryf en sy word as offer vir die groot Gattoemaker aanvaar (Von Meck, 1998:159).

Ondanks die feit dat Annerkant die longdrop in heelwat opsigte nie met die konserwatiewe ontwikkelingsromans van die vroeë 19de eeu ooreenstem nie, kritiseer Carstens (2007:41) die slot van die roman, omdat dit die “paradigma van die patriargale ridder op die wit perd bevestig”. Indien Ginkelsnoek se verhaal wel as liefdesmistiek beskou word, is Carstens se kritiek teen die slot van die roman egter minder relevant.