• No results found

Set, die derde kenmerkend Setiaanse figuur in die teks – naas die Onsigbare

Vader en Barbelo - word in dié vers bekend gestel. Pearson (1990:62-68) lig die Set-figuur uit as een van die vernaamste aanduidings dat die Gnostiek in die heterodokse Joodse kringe in Aleksandrië ontstaan het. In die Geheime Boek van Johannes is Set die

perfekte hemelse mens en word sy geboorte beskryf. In die Evangelie van die Egiptenare (nog ’n Nag Hammadi-teks) is Set ook die hemelse seun van die vlekkelose mens. Hy is aarde toe gestuur as ’n redder en neem die vorm van Jesus aan. Die “Evangelie van Judas” sluit by dié tema aan.

Wanneer die Setiane hulself as die “afstammelinge van Set” beskryf, meen Pearson dit is insiggewend dat sommige vorme van die Aleksandrynse Judaïsme, soos ons dit uit die werk van Filo leer ken, ook met die figuur van Set gemoeid was. In De Posteritate Caini 42 beskryf Filo Set as die voorganger van die regverdiges:

“They therefore who say that all thinking, and feeling, and speaking, are the free gifts of their own soul, utter an impious and ungodly opinion, and deserve to be classed among the race of Cain who, though he was not able to master himself, yet dared to assert that he had absolute possession of all other things; but as for those persons who do not claim all the things in creation as their own, but who ascribe them to the divine grace, being men really noble and sprung out of those who were rich long ago, but of those who love virtue and piety, they may be classed under Seth as the author of their race.” (Vertaling Yonge, 1993:149)

Set is die saad van menslike deug wat altyd by die mensdom bly, skryf Filo in De Posteritate Caini 173:

“On this account Abel, after having quited the mortal body, departed to the better nature, and took up his abode with that. But Seth, as being the seed of human virtue, will never quit the race of mankind. (Vertaling Yonge, 1993:149)

Set word vir sy deug geloof in De Posteritate Caini 170:

“Therefore the mind having generated the foundation of good . . . and the primary principle of virtue, namely Seth, or irrigation, boasts with an honourable and holy boasts, for she says: ‘God has raised up to me another seed, instead of Abel whom Cain slew . . .’” (Vertaling Yonge, 1993:149)

Wat veral interessant is, is dat die rol van Set in twee van die bogenoemde gevalle met Kaïn vergelyk word – Kaïn (en sy afstammelinge) word gebruik as ’n spieëlbeeld om

Set (en sy afstammelinge) te definieer. Die vraag kan gevra word of die rol wat Kaïn in denke oor Set gespeel het (en mens sal dus vermoed ook in die Setiaanse denke) ’n rol gespeel het in Irenaeus se gelykstelling van die Setiane en Kaïniete (hierbo vermeld).

Vir Pearson is ook Set se rol in die oordrag van kennis in sowel Joodse letterkunde en die Gnostiek belangrik. So begin die Gnostiese teks Die Apokalips van Adam

byvoorbeeld:

“The revelation which Adam taught his son Seth in the seven hundredth year, saying: ‘Listen to these words, my son Seth.” (Die Apokalips van Adam, V,5 1, Vertaling MacRae en Parrot, 1988)

Dié teks eindig ook met die volgende woorde:

“These are the revelations which Adam made known to Seth his son. And his son taught his seed about them.” (Die Apokalips van Adam, V,5 19-21 in Robinson, 1977)

Die insinuasie is dat diegene wat oor die kennis beskik die geestelike saad (geestelike nasate) van Set is.

Die tema van Set as die medium waardeur kennis oorgedra word, kom ook wyd in die Joodse Adam-literatuur voor. Adam en Eva 25:1 (aangehaal in Pearson, 1990:72) lui:

“Adam said to Seth, ‘Listen, Seth, my son, and I will pass on to you what I heard and saw. After your mother and I had been driven out of Paradise . . .”

Set word dus in Aleksandrynse Judaïsme en Joodse Adam-literatuur uitgebeeld as ’n figuur wat die uitverkorenes voorafgaan. Daarenteen word geen spesiale rol of kennis aan Set toegedig in die Christelike letterkunde nie, ’n sterk aanduiding dat die Setiaanse Gnostiek sterk deur die Aleksandrynse Judaïsme beïnvloed is.

Dit is insiggewend om te let op hoe die latere Genesis Rabbah in die Midrasj oor Set sou skryf. In die Genesis Rabbah 23:6 word opgemerk:

“[Why does Scripture enumerate] Adam, Seth, Enosh, and then become silent? ‘Hitherto they were created in the likeness and image [of God],’ he replied, ‘but from then onwards Centaurs were created.”

In die vroeë rabbynse denke is Set dus beskou as een van die laaste persone wat na die beeld van God geskape is. Ook in Gnostiese kosmologie (en weereens spesifiek in tekste wat as Setiaans beskou word) is daar ’n gemoeidheid met die mens se

geskapenheid na die beeld van God (byvoorbeeld die Geheime Boek van Johannes II,1,15:1-10). Die getuienis is nie sterk daarvoor nie, maar daar kan minstens bespiegel word dat dié belangstelling in die mens as afbeelding van God sou kon bydra tot Setiane se keuse om die laaste mense wat na God se beeld geskape is as geestelike stamvader aan te gryp. Dit sou egter by die Setiaanse Gnostici ’n vertroudheid met Joodse teologiese bespiegelings oor Set veronderstel.

Nogtans is die ander aanduidings van ’n Joodse oorsprong van die Set-motief oortuigend. Wanneer Set in die “Evangelie van Judas” opduik, is dit in ’n tradisie wat moeilik na ’n Christelike invloed teruggevoer kan word – ander Christelike letterkunde maak weinig of niks van Set. Veel eerder sal hier ’n invloed van Joodse denke (soos dié van Filo) op die evangelie (òf regstreeks òf via ouer Setiaanse denke) gesien kan word.