• No results found

Aleksandrynse, heterodokse bespiegelings (Pearson)

5. Vyf skakels tussen die Judaïsme en Gnostiek

5.2. Aleksandrynse, heterodokse bespiegelings (Pearson)

Pogings om die Joodse God as boos en bespotlik voor te stel, het soms in nie-Joodse gemeenskappe van die antieke wêreld opgeduik. Collins (1986:4-8) wys talle voorbeelde van anti-Joodse geskrifte uit die antieke wêreld, waaronder kritiese beskrywings van die Judaïsme deur Cicero, Horatius, Seneca, Persius, Petronius en Juvenalis. Dit is vererger deur die eksklusiewe aard van die Joodse godsdiens, gebaseer op tekste soos Levitikus 20:26, Esegiël 44:9 en Esra 9:2, wat dikwels deur nie-Jode as arrogansie ervaar is. Jode in die Hellenistiese wêreld is gevolglik dikwels met ’n dissonansie opgesaal: ’n tradisie wat hulle as kosbaar beskou het, maar wat deur hul bure verag is. Hierdie teenstrydigheid kon sekerlik die allegoriese en self-kritiese neigings in Joodse eksegese aangevuur het, soos wat Jode probeer het om hul tradisie op ’n manier voor te stel wat vir hul bure meer aanvaarbaar is. Collins noem Filo as ’n voorbeeld hiervan. Sommige Jode, veral in Diaspora-gemeenskappe soos Aleksandrië, kon dié tendens selfs verder geneem het, totdat hul herinterpretasies van die Joodse geskrifte nouliks van hul kritici se aanvalle onderskeibaar was, blyk uit die teorie van Birger Pearson (1990).

Pearson (1990:10-28) gaan haal sy studie van die verband tussen Judaïsme en Gnostiek by Moritz Friedländer se Der vorchristliche jüdische Gnosticismus

(Vandenhoeck & Ruprecht) wat in 1898 gepubliseer is. Friedländer het, soos die later Godsdiensgeskiedenisskool, gemeen dat die Gnostiek ouer as die Christendom was. Anders as die Godsdiensgeskiedenisskool het hy egter nie die pre-Christelike Gnostiek by die Irannese gaan soek nie, maar eerder by die Joodse gemeenskap van Aleksandrië. Dié teorie het hy gebaseer op motiewe wat hy in die werk van Filo raakgelees het. Die konteks was dié van die diaspora, spesifiek in Aleksandrië, waar Hellenistiese konsepte in Joodse taal omgesit is. Collins (2005:44) beskryf die Hellenistiese era as ’n “era van interpretasie” toe Joodse skrywers dikwels hul godsdienstige tekste herskryf en in ’n spel van eksegese en kreatiwiteit verbasend onortodokse mites geformuleer het. Griekse Jode is in Aleksandrië veral bekendgestel aan ’n allegoriese interpretasie van die Mosaïese wette en so het algaande ’n verdeling tussen die “behoudendes” en die “filosowe” ontstaan. Laasgenoemde was radikale wat die Wet allegories wou lees en so die

voorgangers van die Ofiete, Kaïniete en Setiane (met hul vrye herinterpretasie van die Ou Testament) gevorm het. Dié invloed van die Aleksandrynse heterodokse Judaïsme op die Gnostiek help verklaar ook hoekom Gnostiese mites en redders Ou Testamenties is, hoewel die tradisionele skurke soos die slang en Kaïn, wat in die Ou Testament buite-om die Wet beweeg. Teen die tyd van Jesus, só lui Pearson se teorie, het die Gnostiek al vanaf Aleksandrië tot in Palestina versprei, waar dit gelykgestel kan word aan die Minim wat in die Midrasj genoem word. Dit is insiggewend dat Filo in “De Posteritate Caini” verwys na radikale wat die Wet verwerp of omkeer (byvoorbeeld 52: The laws are, lawlessness, injustice, inequality, intemparence, boldness, folly, insolence, immoderate indulgence in pleasure, and innumerable appetites in despite of nature” - vertaling Yonge, 1993) en hulle dan in sy allegoriese ontleding van die Wet gelykstel aan die stede wat Kaïn gebou het. Hier bring die Aleksandrynse Filo Kaïn uitdruklik in verband met die verwerping van die Wet – iets wat volgens Friedländer en die latere Pearson daarop kan dui dat hy moontlik van Gnostici (minstens Kaïniete) bewus was.

In sy voortbouing op Friedländer se teorie, kyk Pearson (1990:29-38) na twee verse in Genesis:

Genesis 1:26: “Toe het God gesê: ‘Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.”

En:

Genesis 2:7: “Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens ’n lewende wese geword het.”

In die Gnostiese eksegese van dié tekste, kan gesien word hoe die Gnostiek (en in sy ontleding verwys Pearson na Setiaanse tekste) uit die Judaïsme van die

tussentestamentêre tydperk geput het. Veral die Setiaanse teks Die Geheime Boek van Johannes is vir Pearson van belang – dit is volgens hom “a running commentary on Genesis 1-8”. Uit die hoogste God, hier genaamd Anthropos, ontstaan verskeie wesens – en die laagste een, Sofia, bring nog lelike afstammelinge voort: Ialdabaoth, Saklas,

Samael. Ialdabaoth is onnosel en noem homself ’n “jaloerse god”. Wanneer Ialdabaoth die mens se weerkaatsing in die water opmerk, sê hy aan sy mede-engele die volgende (Die Geheime Boek van Johannes p107, II,1 15:1):

“And he said to the authorities which attend to him, ‘Come, let us create a man according to the image of God and according to our likeness, that his image may become a light for us.’ And they created by means of each other’s powers in correspondence with the indications which were given. And each authority supplied a characteristic by means of the form of the image which he had seen in its psychic (form). He created a being according to the likeness of the first, perfect Man. And they said, ‘Let us call him Adam, that his name may become a power of light for us.’” (Vertaling Wisse, 1988)

Dié teks is ’n duidelike eksegese van Genesis 1:26, asook van Genesis 1:27 se gebruik van die begrip “beeld” (“God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep.”). In die daaropvolgende verse van die Geheime Boek van Johannes (II,1 15:13-17:6) word in besonderhede beskryf hoe ’n magdom engele meewerk aan die skepping van die mens se onderskeie dele – selfs die tone en die onderarmholtes kry elk hul eie engel as skepper.

Die Geheime Boek van Johannes II,1: 19:24-33 doen ’n eksegese van Genesis 2: “And they said to Yaldabaoth: ‘Please blow into his face something of your spirit and his body will arise.’ And he blew into his face the spirit which is the power of his mother; he did not know (this), for he exists in ignorance. And the power of the mother went out of Yaldabaoth into the psychic soul which they had fashioned after the image of the One who exists from the beginning. The body moved and gained strength and it was luminous.” (vertaling Wisse, 1988)

Dat ons in hierdie teks met ’n gesamentlike eksegese van Genesis 1 en 2 te doen kry, is voor die hand liggend, maar Pearson meen verskeie ander (nie-Gnostiese) Joodse tradisies werk oor hier mee. Dit sluit in:

• die Hellenisties-Joodse (waarskynlik Aleksandrynse) tradisie dat God die engele afgevaardig het om die mens se stoflike aard te skep.

• die Hellenisties-Joodse (weereens waarskynlik Aleksandrynse) onderskeid, gebaseer op die LXX van Genesis 2:7, tussen die mens se hoër en laer siele, oftewel sy “psuche” en sy “pneuma”, en

• die Palestynse tradisie dat Adam as ’n vormlose massa geskape is, waarin God sy lewegewende asem geblaas het. Hier verwys Pearson na die Genesis Rabbah 14:8 wat leer God het die mens as lewelose massa ( ימלג) geskape wat van die aarde tot die hemel strek en toe ’n siel ( המשנ) daarin geblaas.

Dié Gnostiese sintese blyk dus op ’n Joodse herinterpretasie van die Skrif gebaseer te wees en skep ’n sterk indruk dat die Gnostiek (of minstens die Setiaanse tekste wat Pearson ontleed) in ’n Joodse omgewing ontstaan het as ’n uitdrukking van ’n groep Jode se vervreemding van die ortodoksie. Dié nuwe geloof is mettertyd aan ’n ander Joodse sekte, die Christendom, gekoppel, Christus is met die Redder geassosieer en so het onder meer die Geheime Boek van Johannes ontstaan.

King (2006:14-24) herinner egter dat die kreatiewe omgang met Joodse temas in

Aleksandrië allermins tot heterodokse Joodse kringe beperk was. Die Joodse gemeenskap van dié stad het ’n groot invloed op hul buurgemeenskappe (asook op intellektuele wat die Aleksandrynse biblioteek besoek het) gehad. “Gentile intellectuals in Alexandria had access to extensive Jewish materials. The translation of the Hebrew Scriptures into Greek . . . was most probably done in Alexandria, and it clearly furthered knowledge of these works. Jewish monotheism was widely admired, and Moses was treated as a distinguished lawgiver. Jewish authors writing in Greek in the first century CE, such as Josephus and Philo, promoted their tradition among the Greeks” (King, 2006:14).

Die Christendom, skryf King, het al vroeg in Egipte opgeduik. Twee van die vroegste bekende Christene van Aleksandrië was Basilides en Valentinus, albei Gnostici met ’n sterk belangstelling in Platonisme, kosmologie en soteriologie. Die Christendom en die Jodedom in Aleksandrië was aanvanklik nou verweefd. Daarbenewens het die nie-Joodse filosowe soms die Joodse Skepper in hul denke geïnkorporeer – ’n geestelike allegaartjie wat maklik tot Gnostiese geskrifte soos die Geheime Boek van Johannes – met Joodse, Platoniese en Christelike motiewe – aanleiding kon gee. In die Geheime Boek van Johannes is die Joodse Skeppergod byvoorbeeld met die Platoniese demiourgos vermeng

om tot die figuur van Ialdabaoth aanleiding te gee. Ialdabaoth word egter negatief voorgestel, deels vanuit ’n wrewel teenoor die Joodse God se eksklusiewe aanspraak op sy dienaars. “An Alexandrian setting would fit well with the Secret Revelation of John’s extensive knowledge of Jewish materials, coupled with its ridicule of the creator god of Genesis” (2006:16).

5.3 Die Christendom as draer van Joodse motiewe