• No results found

Uit hierdie hoofstuk van die aangrensende wetenskappe het dit duidelik geblyk watter belangrike rol die mediese wetenskap (neurologie), psigiatrie, psigologie sowel as die

83

verpleegkunde in die begrip en kennis van die self-mutileerder vervul. Uit die mediese wetenskap het die geblyk dat daar ʼn belangrike verband tussen die brein en die liggaam bestaan. Verder het dit ook geblyk dat daar basiese bestanddele is wat persoonlikhede vorm deur onder andere voorveronderstellings wat ook weer deur ervarings vasgelê word.

Die gevolg van herhaalde verwerping, verwaarlosing en teleurstellings lei vervolgens na abnormale en destruktiewe gedrag. Verder met betrekking tot die funksionaliteit van die brein is gevind dat optimale benutting van die brein ʼn noodsaaklikheid vir enige welslae in die lewe is, veral gesien in dié van die self-mutileerder. Sonder optimale breinfunksionering kan verhoudinge en ook gevoelens skipbreuk lei wat na oneffektiwiteit en selfs na destruktiewe gedrag kan lei. Die manier waarop die brein funksioneer speel dus ʼn bepalende rol in terme van ʼn persoon se lewensblydskap en ook verhoudinge. Dit het ook geblyk dat die brein in areas opgedeel is wat elk verskillende funksies het en dat elke funksie ʼn rol vervul wat almal gesamentlik tot die funksionering van die brein werk.

Verder is gevind dat die funksie wat die senuweestelsel ten opsigte van emosionele ervaringe in die mens verrig van kardinale belang is. Daar is verder gevind dat die aktivering van sekere chemikalieë wat vrygestel word, met gedrag en emosionele honger verband hou en dat elke persoon verskil wat vir hom of haar tevredenheid verskaf maar almal word deur chemikalieë gemotiveer, nie net om gevoelens van goedheid en tevredenheid te ervaar nie maar om ook lewendig en gemotiveerd te bly. Wat die siklus van self-mutilerende gedrag en die brein betref het dit geblyk dat van die mens se vroegste lewensdae die vel van die liggaam as ʼn primêre bron dien van hoe die wêreld ervaar word en dat die vel van die liggaam ʼn betekenisvolle kommunikeerder na die brein is. Dit het ook na vore gekom dat wanneer daar byvoorbeeld pyn of plesier ervaar word, dit deur die liggaamsvel gekommunikeer word wat seine stuur wat die brein bereik.

Vanuit die psigiatrie en psigologie het dit ook aan die lig gekom dat self-mutilasie in die “Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders“ (DSM-5) ʼn simptoom van grenspersoonlikheidsversteuring en ander geestesongesteldhede kan wees, maar dat dit ook onafhanklik van hierdie versteurings kan voorkom. Die self-mutileerder kan met een of meer van die volgende meegaande probleme worstel: depressie, lae selfbeeld, eetversteurings, ouer/kind konflik, manipulasie en/of gewoonte leuenaar,

84

opposisionele uittarting, aggressiewe gedrag, selfmoordgedagtes, seksuele misbruik, post traumatiese stresversteuring, disassosiatiewe versteuring en ander neigings wat tot verslawing lei.

Dit het ook duidelik geword dat die adolessente jare in die algemeen as stormagtige jare van ontwikkeling beskryf kan word omdat dit een van die moeilikste lewensoorgangsfases by adolessente is. Normale ontwikkeling is dus krities vir die adolessent omdat gebroke ouer-kind verhoudinge, traumatiese gebeure, egskeiding, huishoudelike geweld en verkragting ʼn sneller kan wees wat self-mutilering kan aktiveer. Daar is ook gemerk dat die rol wat positiewe sielkunde in die adolessent se storms vervul ʼn groot invloed kan uitoefen omdat dit met die vraag na wat die lewe die moeite werd maak verband hou. In positiewe sielkunde word die fokus op positiewe ervarings, positiewe emosies, karakter en waardes geplaas wat weer bepaal wat werklik resultate lewer – dit bepaal dus wat is reg en wat lei tot ʼn verbetering by die individu.

Dit het ook verder geblyk dat die mees geskikte tyd vir self-mutilasie in die aand is omdat die mutilasie met spesifieke aktiwiteite te doen het wat gedurende die dag uitgevoer is wat baie stresvol of angswekkend was en “afkoeling” moet dus plaasvind. Vanuit die verpleegkunde kon ʼn omvattende, holistiese siening van die mens beskryf word, sowel as ʼn persepsie van gesondheid en siekte en ook die hantering van self- mutilerende gedrag. Daar is gevind binne die veld van verpleegkunde dat daar veral ʼn teoretiese begronding van die mens, siekte en gesondheid vir die hantering van die individu is wat self-mutilerende gedrag toon, byvoorbeeld die verpleegteorie vir mensheelheid, selfsorg en interpersoonlike verhoudings wat insig oor self-mutilerende gedrag gelewer het. Dit het ook aan die lig gekom dat die verpleegkundige dikwels een van die eerste multi-professionele spanlede is wat by die adolessente met self- mutilerende gedrag aanmeld, en ook dat die verpleegkunde ʼn belangrike bydrae in die verstaan van en hantering van hierdie adolessent en hul gesinne kan lewer. Verder is gevind dat die toepaslike verpleegteorieë, die rol van die verpleegkundige en die uitdagings binne verpleegkunde kardinale insig in die hantering van die fenomeen bied en ook dat die praktiese riglyne vanuit die neurologie, psigiatrie, psigologie en verpleegkunde gesamentlik waardevolle bydraes lewer om die self-mutileerder beter te verstaan en te hanteer.

85

Dit het ook geblyk dat binne die veld van verpleegkunde die adolessente wat self- mutilerende gedrag toon veral in die trauma-eenheid (ongevalle), psigiatriese eenhede, die gemeenskap, en selfs in tronke en plekke van veiligheid aangetref word. Dit het ook sterk aan die lig gekom dat self-mutilerende gedrag ʼn komplekse verskynsel is, en dat dit ʼn omvattende benadering deur die multi-professionele span noodsaak.

Uitdagings in verpleegkunde en ook dus die hantering van die adolessent met self- mutilerende gedrag, is dat die fenomeen van self-mutilasie die afgelope paar jaar ʼn geweldige probleem geword en dat dit ʼn uitdaging is waarmee elke gesondheids- werker, insluitende verpleegkundiges, te doen kry. Dit het ook geblyk dat psigiatriese verpleegkundiges ʼn beperkte of geen kennis en begrip met betrekking tot self- mutilasie het nie. Daar is gevind dat psigiatriese verpleegkundiges die fenomeen van self-mutilasie onder andere misverstaan en die self-mutileerder word as persone gesien wat ʼn persoonlikheidsversteuring het. Dit het geblyk dat die gesondheidwerker se gesindheid van kardinale belang is, veral wanneer ʼn pasiënt wat self-mutilasie toegepas het behandel en versorg moet word.

Verder is gevind dat dit krities vir die verpleegkundige is om nie net betrokke te raak by die slagoffer nie maar om ook ʼn verhouding van vertroue en omgee te kweek. Daar is ook gevind dat die onus op die verpleegkundige rus om ʼn omgewing van omgee vir die slagoffer te skep vanwaar ʼn verhouding gebou kan word. Daar is ook gevind dat verhoudings met luister gepaard gaan en dat die verpleegkundige die slagoffer met die perspektief van omgee moet benader deur te luister en sodoende ʼn verhouding skep wat weer ʼn gevoel van self waardigheid by die adolessent skep.

86

AFDELING D: DIE NORMATIEWE TAAK

HOOFSTUK 4

‘N PRINSIPIËLE BASIS VANUIT DIE SKRIF MET BETREKKING TOT

DIE PASTORALE BEGELEIDING VAN JONGMENSE WAT SELF-

MUTILERENDE GEDRAG TOEPAS

4.1 INLEIDING

Die praktiese teoloog, Richard Osmer, interpreteer Praktiese Teologie aan die hand van vier verskillende take (2008:4-29) waarna reeds in hoofstuk 1 verwys is. Die normatiewe taak het geblyk een van hierdie vier take te wees en dit gaan ook hand aan hand met basis-teoretiese perspektiewe. Volgens Osmer (2008:4) is die normatiewe fase die fase waarin daar van teologiese konsepte gebruik gemaak word om sekere episodes en situasies te interpreteer.

Met hierdie normatiewe taak in gedagte verwys Osmer (2008:8) verder na drie spesifieke elemente:

 ʼn Teologiese refleksiestyl waarbinne teologiese konsepte gebruik en interpreteer word volgens bepaalde episodes, situasies en kontekste in die lig van die vrae: Wat weet ons van God? Hoe mag God optree? Wat is die mens se reaksie-patroon?

 Die tweede element hou verband met die aanwesigheid van etiese beginsels, riglyne en reëls wat toepaslik tot hierdie situasie is en ook rigtinggewend vir strategieë en aksies kan wees.

 Derdens gaan dit om betrokkenheid by ondersoekte ervaringe van Christelike tradisies van die verlede en die hede wat eksegetiese rigting in die vorming van patrone van ʼn Christelike lewe gee.

87

en waardeur die weg gebaan word vir moontlike maniere van hoe Hy weer in die hede en die toekoms mag optree.